Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 75

Оглавление

7 Maart – Kyk na God

7 MAART

Lees: Psalm 25:12–22

Kyk na God

My oë is altyd op die Here gerig, want dit is Hy wat my voete uit die vangnet sal hou. – Psalm 25:15

Daar is ’n mooi storie van Sandy Walker, wie se man die opsiener van die vuurtoring by Robbins Reef in Amerika was. Toe haar man op ’n baie jong ouderdom oorlede is, het Sandy steeds na die vuurtoring omgesien. Van die vuurtoring af kon sy haar man se graf teen ’n berg-helling daar naby sien. Sy het elke oggend deur die patryspoort van die vuurtoring na sy graf gekyk. In ’n gesprek met ’n verslaggewer getuig sy dat sy só elke keer persoonlike inspirasie kry. Daarsonder sou sy nie so alleen met haar lewe kon aangaan nie.

Die psalmdigter getuig in vandag se kernteks dat sy oë altyd op die Here gerig is. Ook die skrywer van die Hebreërbrief skryf: “Hou Hom voor oë … Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie” (Hebreërs 12:3). As ons ons oë op God gerig hou, na die ware Lig kyk wanneer daar ’n traumatiese gebeurtenis in ons lewe is, sal Hy ook vir ons elke keer die krag gee om uit te hou en aan te hou. Dis baie goeie raad om te volg as daar ’n traumatiese gebeurtenis in jou eie lewe is. Kyk na God, hou jou oë op Jesus. Hy sal vir jou die nodige krag gee om elke krisis in jou lewe te kan hanteer; saam met Hom is jy altyd méér as ’n oorwinnaar, met sy krag is jy tot alles in staat.

Here, dankie dat ek na U mag kyk wanneer daar krisisse in my eie lewe opduik met die wete dat U vir my die krag sal voorsien wat ek nodig het. Amen.

'n Uur van lig

Подняться наверх