Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 80
Оглавление12 Maart – Hoekom wag op die Here?
12 MAART
Lees: 2 Konings 6:17–33
Hoekom wag op die Here?
Terwyl Elisa besig was om dit te sê, kom die boodskapper daar aan met die boodskap: “Die koning sê: Die Here het al hierdie ellendes oor ons gebring! Hoekom moet ek nog langer vir die Here wag?” – 2 Konings 6:33 (Nuwe Lewende Vertaling)
Tydens die Aramese beleg van Samaria was daar ’n groot honger-snood in Israel. Dit was so erg dat ’n donkiekop ’n kilogram silwer en ’n skep duiwemis 57 gram silwer gekos het. Mense het selfs hul kinders geëet om aan die lewe te bly. Die verbitterde koning van Israel gee die Here die skuld vir die ellende waarin die volk verkeer. “Die Hére het al hierdie ellendes oor ons gebring! Hoekom moet ek nog op die Here wag?” wil hy weet. Hy neem ’n eed om die profeet Elisa te vermoor. Maar Elisa weet presies wat die koning beplan en sê vir die leiers dat hulle die deur moet sluit en die boodskapper van die koning buite moet hou.
God bring nie ellendes oor sy kinders nie. Daarvoor het Hy ons te lief. Maar dát ons ellendes hier op die wêreld gaan ervaar, is ’n feit. Ons lewe immers nog in ’n onvolmaakte, sondige wêreld, waar die duiwel steeds onberekenbare skade kan aanrig. Soms blameer ons Gód vir die ellendes wat ons te beurt val. As dit weer baie sleg met jou gaan en jy God daarvoor wil blameer, weet dat Hy jou liefhet en net die goeie vir jou beplan. Wag eerder op Hom – Hy belowe om elke keer weer vir jou uitkoms te bewerk, mits jy op Hom vertrou.
Here, baie dankie vir die versekering dat U nooit ellendes oor u kinders bring nie, maar dat U my altyd van oplossings vir hierdie ellendes sal voorsien. Amen.