Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 84
Оглавление16 Maart – Deur God gedra
16 MAART
Lees: Psalm 145
Deur God gedra
Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is. – Psalm 145:14
Ons kleinkinders val gereeld – veral as hulle nog onstewig op hul bene is. Gewoonlik gaan die vallery gepaard met ’n keelopsit – dit is nou tot hulle opgetel, getroos en hul trane afgedroog word. Dan is die val sommer gou vergete, en indien daar ’n skrapie in die proses opgedoen is, word die “eina” vir almal gewys en vir ouma gehou om gesond te soen. As ’n mens ouer word, begin jy weer val soos toe jy leer loop het! Ek het onlangs oor ’n los steen in ons kompleks gestruikel en my elmboog lelik seergemaak – ongelukkig was my man nie eens by om my op te tel nie!
God beloof sy volk in Jesaja 46:3–4: “Luister na My … julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra. Ek het julle gemaak en Ek sal julle vashou, julle dra en julle red.” Almal van ons struikel en val by tye – figuurlik gesproke. Dan is dit goed om te weet dat God jou sal help en dat Hy onderneem om jou te dra van jou geboorte af tot jy oud is. As jy in ’n verhouding met Hom is, hoef jy nooit vir ’n valslag bang te wees nie: jy weet mos dat Hy altyd by jou is om jou op te help en te ondersteun vir die duur van jou lewe op aarde.
Hemelse Vader, dis wonderlik om te weet dat U onderneem om my vas te hou en te dra so lank ek lewe, dat U my sal ophelp elke keer as ek geval het. Amen.