Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 81
Оглавление13 Maart – God maak die onmoontlike moontlik
13 MAART
Lees: 2 Konings 7:1–17
God maak die onmoontlike moontlik
Die adjudant, wat die vertroueling van die koning was, het vir die man van God gesê: “Dit is onmoontlik selfs al maak die Here vensters in die hemel sodat dit nou reën.” Elisa het geantwoord: “Toe maar, jy sal dit met jou eie oë sien …” – 2 Konings 7:2
As Elisa vir die leiers die boodskap bring dat dinge drasties gaan verbeter, weier die koning se adjudant om hom te glo. Hy is baie seker van sy saak: Dit kán nie gebeur nie, sê hy vir Elisa. Selfs nie al sou die Here vensters in die hemel maak nie. Elisa bly onverstoord – hy sal dit met sy eie oë sien, vertel hy die adjudant. Wat Elisa voorspel het, gebeur inderdaad. Vier melaatses tref die Arameërs se kamp verlate aan en gaan vertel die koning daarvan. Die omstandighede in Israel verander soos handomkeer en die volgende dag is daar vir almal oorgenoeg kos om te eet. Die ongelowige adjudant word aangesê om die mense by die stadspoort te beheer, maar hy word deur die skare doodgetrap.
Die woorde “absoluut onmoontlik” bestaan nie in God se woordeboek nie. God kan die onmoontlike moontlik maak. In Jeremia 32:27 is God Self aan die woord: “Ek is die Here die God van al die mense. Is iets vir My onmoontlik?” wil Hy weet. Die antwoord op hierdie vraag is natuurlik: “Nee!” Jou omstandighede kan nooit so hopeloos wees dat God nie uitkoms kan gee nie. Hy kan énige omstandighede tot jou beswil omkeer. Onthou dit wanneer jy in die toekoms weer dink dat iets nie gedoen kan word nie!
Hemelse Vader, ek aanbid U as die God wat alles kan doen, dié God vir Wie heeltemal niks onmoontlik is nie. Dankie vir al die kere dat U wonders in my eie lewe gedoen het. Amen.