Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 83
Оглавление15 Maart – Is swaarkry God se straf?
15 MAART
Lees: Johannes 9:1–7
Is swaarkry God se straf?
Sy dissipels vra Hom toe: “Rabbi, deur wie se sonde is dit dat hierdie man blind gebore is: sy eie of sy ouers s’n?” En Jesus antwoord: “Dit is nie deur sy eie sonde nie en ook nie deur sy ouers s’n nie, maar hy is blind sodat die werke wat God doen, in hom gesien sal kan word.” – Johannes 9:2–3
As die dissipels ’n man sien wat van sy geboorte af blind is, wil hulle van Jesus weet of dit deur sy eie of sy ouers se sonde is dat hy blind gebore is. Jesus antwoord hulle dat hy blind is sodat die wonders wat God doen, in sy lewe gesien sal kan word. Hierop spoeg Hy op die grond en maak met die spoeg ’n bietjie klei aan. Toe smeer Hy die klei aan die man se oë en vra hom om hom in die bad van Siloam te gaan was. Die man het dit gedoen, en toe hy terugkom, kon hy sien.
Sommige mense meen steeds dat siekte en swaarkry God se straf vir sonde is. In die Ou Testament het dit wel soms gebeur, maar nie meer nie. Jesus het God se straf vir ons sonde eens en vir altyd in ons plek met sy kruisdood betaal. Jy moet net in gedagte hou dat alhoewel Jesus die volledige prys vir jou sonde aan die kruis betaal het, God steeds dieselfde heilige God bly as in die Ou Testament. Hy kan net jou sonde vergewe as jy dit bely en dit laat staan.
Here Jesus, baie dankie dat U God se straf op my sonde aan die kruis vereffen het. Vergewe asseblief my sonde en help my om dit te laat staan. Amen.