Читать книгу 'n Uur van lig - Nina Smit - Страница 82
Оглавление14 Maart – Is jy dalk self die oorsaak?
14 MAART
Lees: Galasiërs 6:1–8
Is jy dalk self die oorsaak?
Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat ’n mens saai, dit sal hy ook oes. – Galasiërs 6:7
Gister het ons vasgestel dat ons nooit die ellende wat ons op aarde mag ervaar aan God kan toeskryf nie. Baie keer is ons egter sélf die oorsaak van hierdie ellende. “Sy eie dwaasheid bring ’n mens op die verkeerde pad en dan is hy kwaad vir die Here,” staan daar in Spreuke 19:3. In vandag se kernverse waarsku Paulus die gemeente van Galasië dat hulle hulself nie moet mislei nie. Wat ’n mens saai, dit sal jy ook oes. As jy op die akker van jou sondige natuur saai, gáán jy die dood “oes”, maar as jy op die akker van die Gees saai, sal jy van Hom die ewige lewe ontvang. Alhoewel God altyd bereid is om jou sonde te vergewe, het alle sondige praktyke uiteindelik negatiewe gevolge.
God gee jou die vryheid om te kies. Indien jy kies om verkeerd te doen, mag jy Hom nie blameer vir jou negatiewe omstandighede nie. Indien jy jou man verkul, moet jy nie verbaas wees as jou huwelik op die rotse loop nie; as jy nie jou kinders dissiplineer nie, moet jy nie verwag dat hulle gehoorsaam sal wees nie; as jy te veel eet, gaan jy gewig aansit; as jy net vet vleis eet, is ’n hartaanval jou voorland. Hou dit dus altyd in gedagte dat jou dade gevolge gaan hê – en lewe in die vervolg soos die Bybel van jou vra, dan kan jy nie verkeerd gaan nie.
Here, ek is jammer dat ek al so dikwels fouteer het en dan vir U kwaad was. Vergewe my en help my om te lewe soos u Woord van my vra. Amen.