Читать книгу Tou - Piet Steyn - Страница 10
6
Оглавление’n Mens moet twee keer kyk om hom raak te sien, die man wat so stil teen die kant van ’n ou bushalte in die son sit en bak. Net die wit rook van ’n selfgedraaide sigaret wat uit die kant van sy mond hang, beweeg. Die rook kruip teen sy vuil baard op, irriteer sy regteroog en hang bokant hom in die windlose koue voor die flenters van wat ’n Omo-advertensie was. Die ou grys jas wat hy styf om sy maer lyf vou, die bos grys hare wat onder ’n vuil gebreide mus uitsteek en die welige baard laat hom byna volmaak met die omgewing saamsmelt, maak hom deel van die sypaadjie en die vaalgrys en verwaarloosde wintertuin van die huis agter hom.
Vir die onoplettende verbyganger sal dit bes moontlik lyk asof die verwaarloosde ou man wat langbeen op ’n stuk karton sit, net nóg ’n hawelose is wat hier teen die genadelose koue van die Goudstad se strate skuil.
Maar as jy goed kyk, is daar benewens die rook ook ander tekens van lewe: Die witblou waterige oë kyk stip oor die groot rooi neus en die vingerpunte met die swart naels wat by ’n paar gebreide moffies uitsteek vervat kort-kort aan ’n dik voosgevatte boek wat hy op sy skoot vashou. Sy blik is gerig op die bedrywighede by ’n huis reg oorkant die straat, en wanneer daar nog ’n polisievoertuig stilhou, vertrek sy mond in ’n effense glimlag wat gelerige hier-en-daar-tande ontbloot. Twee groot speurders klim uit en sy oë volg elke beweging. Die een is ’n dik kêrel sonder nek en met ’n kromsteelpyp in die mond, die ander ou is lank met ’n swart krulkop en welige snor. Die man langs die bushalte het oënskynlik genoeg gesien. Hy sukkel moeisaam regop, styf van die lang sit in die koue, gooi ’n vuil toksak oor sy skouer en skuifel in die straat af.
***
Pine klim uit die motor en strek sy nek heen en weer – ’n motorkar is nie juis die gemaklikste plek om ’n uiltjie te knip nie. Kat het agter die bussie van die forensiese eenheid stilgehou. In die oprit staan ’n ambulans en ’n voertuig van die blitspatrollie. Die straat self is byna verlate en dit is net ’n boemelaar wat oorkant van sy rusplek opgestaan het en nou wegskuifel. Pine kyk die verwaarloosde figuur nadenkend agterna.
“En nou?” vra Kat.
“Nee, niks, ek dog ek sien ’n spook. Kom ons gaan in.”
Kat kyk fronsend rond om te probeer vasstel wat Pine bedoel, maar volg dan gedwee toe Pine sy deur toeklap en begin aanstryk.
“Lyk my na ’n groot paartie,” brom Pine, klop sy pyp teen die skewe hekpaal uit en stoot die skewe ysterhek verder oop.
Die huis dateer opsigtelik van die middel-1930’s, vierkantig en met sierstene tot vensterbankhoogte, van daar witgeverfde pleister tot dakhoogte. Die rooi sinkdak skilfer erg af en plek-plek wys die geel onderlaag. ’n Verwaarloosde huis met ’n verwaarloosde tuin, heeltemal in harmonie met die res van die straat.
Pine en Kat word op die reguit sementpaadjie wat plek-plek deur oranje opslagblommetjies omsoom word deur speurder-inspekteur Jerome Williams tegemoet gestap. Sy hande is diep in ’n blou parka se sakke, sy nek weggetrek in die opgeslane kraag, ’n bofbalpet laag oor sy donker oë.
Pine loop stadiger en wag hom dan in. “Yes, Jerome,” sê hy, “hoe lyk dit daar binne?”
Die jong man knik. “Nee, hel, Sup, julle moet maar self loop kyk wat dáárbinne aan die happen is. Dis meer violent as die Americans se gangfights oppie Cape Flats.”
Wanneer Jerome oorslaan na sy Kaapse dialek is hy óf moedswillig óf ontsteld. Pine kan in sy oë sien hy is nie nou moedswillig nie. “Wat het gebeur?” vra hy.
Jerome draai hom skuins in die huis se rigting, haal sy pet af en beduie. “Dáá …” hy bly ’n oomblik stil asof hy dit nog nie kan glo nie, “dáá binne hang drie lanies aan hulle se nekke met sukke funny tickets op hulle se borse gepin. Soos ’ie djuts allyd sê: ‘Aan djulle nekke tot djulle vrek is’.” Hy sit sy pet terug op ’n kaalgeskeerde kop wat blink in die oggendson, daar is nie ’n teken van sy normale geestigheid op sy gesig nie. “En vrek ís hulle, Sup! Gelynch soos in mob justice. Noose ommie nek, broeke nat gepis, die lot. Surely en bleddie slowly.”
Pine ken die speurder met die maer, seningtaaie lyf al ’n hele ruk, hy weet hy is nie ’n man wat maklik skrik nie. Hy het in sy kleintyd saam met die bendes op die Kaapse Vlakte geloop, voordat hy “religion” gekry het.
“Toe maar, Jeromepie, moenie worry nie,” troos Kat hom met ’n hand op die skouer, “niemand sal dit met jou kan doen nie. Jou kop is te klein en glad, dit sal nie in die noose bly nie. Wie het dit aangemeld?”
“’n Lady of the night wat die drie rustlers daarbinne gehad het. Die cowboys wat die lynchwerk gedoen het, het haar nie geharm nie, net vasgebind. Toe sy loskom toe bel sy met haar sel.”
“Waar is sy nou?” vra Pine. Hulle stap met die reguit sementpaadjie na die voordeur met die brandglasvenstertjies.
“Sup, sy is onder guard met ’n ambulans hier weg, lekker deur die dinges geskrik.”
“Het jy met haar gepraat?”
“Ja.” Hy glimlag. “Maar sy’s nie lekker in haar kop nie, scheme van vier spoke met swart kussingslope oor hulle se koppe wat maak of hulle judges is.”
Swart maskers! Pine steek vas waar die tuinpaadjie verdeel om rondom ’n afgetakelde visdammetjie met ’n afkopkabouter daarin te loop voordat dit weer reguit na die trappe by die voordeur lei. Swart maskers … Maar het superintendent Jan Doep van Welkom dan nie net die ander dag so iets oor die telefoon kwytgeraak nie? Dalk is hierdie vrou nie so bedinges nie. “Wat sê sy nog?” vra Pine dringend.
Jerome frons. “Hel, Sup, ek het nie vreeslik geluister nie, sy’t so geramble … Ek het gedink om later ’n genuine statement by haar te kry.”
“Dink, Jerome. Dit kan belangrik wees,” por Pine.
“Hel, Sup …” Jerome knyp sy een oog toe, frons, dink ’n rukkie. “Sy’t gesê die judge van die Black Pillowcases, or wat ever, het baie vrae gevra. Wou weet van ander hijacking syndicates, veral innie Goldfields. Dis nou ná hy hulle ge-sentence het.
“Ge-sentence? Maar wag, gaan aan?”
“Die een het glo voor sy nek finally gesnêp het, gesê hulle werk vir ’n …” hy dink weer ’n oomblik, “… ’n Deppie of ’n Doepie of so iets, wat ’n gangleader in Welkom is … sy is self nie seker nie. Verder is sy ’n blênk. Ek sal môre weer met haar gaan chat.”
“Is Krappies hier?” vra Pine toe hulle teen die trappe opstap.
“Nee, Sup, hy het daai seksie assistent van hom gestuur. Ek scheme die ou raak nou oud, kom nie meer so baie by die crime scenes uit nie. Henk is ook hier.”
Pine steek vas. “Henk? Watter Henk?”
“Daai De Beer-laaitie. Die een wat ons so gesoek het toe daai mad ou met sy snoeiskêr sy duime wou afsny.”
“Hel, is hy al só groot?” Pine sien ’n oomblik weer die verskrikte bebloede bondeltjie mens wat hy in daardie donker kloof vir sy ma gegee het. Hoe lank terug is dit al? Hy raak oud!
Die voordeur gaan oop voordat hulle dit bereik, en ’n lang swartkopvrou met ’n wit jas verskyn en vee ’n haarsliert wat oor haar gesig val weg. Dr. Annie de Villiers, forensiese patoloog, assistent van die eksentrieke Krappies Nothnagel, die hoof van die SAPD se forensiese afdeling in Silverton, is nie onbekend aan die speurders van die eenheid teen georganiseerde misdaad nie. Mooi Annie, het Kat haar gedoop nadat hy die eerste keer in haar donker oë agter die swartraambril gekyk het. Maar dit sê hy net agter haar rug. Vóór haar kom hy nie verder as om sy snorpunte uit sy mondhoeke te vee nie. Dít is sy beste “move” en is gewaarborg om enige vroumens se bene lam te maak. Eers links, dan regs met die handrug, terwyl hy smeulend met sy donker oë loer. Tot dusver was dit nie baie suksesvol met háár nie. Maar wag, die dag sal kom dat sy daardie bolla op haar kop losmaak, die blinkswart hare losskud en die bril afhaal … Kat ril opsigtelik.
“Julle kan maar inkom,” sê sy met ’n donker, heserige stem. Kat reik onwillekeurig na sy snor. “Moet net nie aan iets raak nie.”
“Kom, Kat,” sê Pine.
Hulle stap agter haar in ’n korterige gang af. Jerome se tekkies maak skreegeluide op die gladde teëls. Sy beduie na die eerste deur regs en staan terug sodat hulle kan instap.
“Bliksem!” Pine steek vas.
Die kamer is karig gemeubileer. ’n Paar ou gemakstoele en ’n bank uit verskillende eras staan ongeërg voor ’n televisiestel met ’n skewe haasoor-antenna. Tussen TV en stoele is ’n rottang-koffietafel met ’n glasblad, daarop ’n paar plat pizzabokse met stukke pizza daarin en ’n paar leë bierbottels. ’n Staanlamp en ’n regop kombuisstoel lê omgekeer – bes moontlik die gevolg van ’n struweling. Die wit mure is kaal, sonder enige versierings, die oranje gordyne is sonverbleik en toiingrig.
Dit is egter die toneel teen die muur verste van die TV wat die aandag aangryp: Drie mans wat aan toue van die plafon hang. Pine ruk sy blik vinnig weg van die gesigte wat in die laaste spasma van verskriklike pyn en doodsangs gestol het, tong op die ken, oë wit en wyd gesper, nie die geringste beweging nie. Hy dwing sy blik na die stukke gipsplafon op die vloer, na die goiingtoue wat aan ’n vensterraam vasgemaak is. Sy oë volg die styfgespande toue op na waar hulle oor ’n ontblote dakkap lei, af na die grusame gewigte wat dit gespanne hou, en dan vinnig verder na die drie donker vlekke op die mat.