Читать книгу Tou - Piet Steyn - Страница 14
10
ОглавлениеKris Freislich ry versigtig met die rooi Ford Big Six in die enkelmotorhuis in. “Ek gaan nog die kar krap met Stien se stront wat die plek so vol staan,” brom hy vies. “Kan sy nie haar rubbish op ’n ander plek bêre nie?”
Die Ford is vir Kris belangrik, dit was die eerste kar wat hy nuut gekoop het – en hulle het saam oud geword.
Hy klim steunend uit, trek sy maag in om tussen die motor en sy vrou se bokse deur te skuur en sy groen kossak uit die Ford se bak te kry. Voordat hy die groen garagedeure toemaak, bekyk hy eers weer die kar: Uit die boks vir R2 500 cash en kontant in ’72. Sy het nog nie ’n dag se moeilikheid gegee nie, gebruik nie ’n druppel olie nie en haar exhaust brand nog spierwit. Jy moet net wegbly van unleaded af. “En jy kan haar maar floor, ou Pavement,” sê hy vir die bruin Afrikahond wat om sy bene kom draai het. “Ou Whitey van die paintershop met sy Alfa se moer. Hierdie yster spin nog op teer, tot in derde rat.”
Hy vee ’n denkbeeldige stoffie van die motor se rooi modderskerm af en laat sy oë waarderend oor die voertuig gaan. Hy gee haar ’n kloppie op die dak. “Glad nie sleg vir ’n ou lady van byna veertig jaar nie.”
Sy oë vang sy beeld in die spieël van die deur van ’n stukkende hangkas wat voor die Ford teen die muur staan, die grys borselkop, die uitgesakte gesig. Vroeër dae het hy sy hare agteroor gekam in ’n blink ducktail, veral Saterdagaande wanneer hulle met die motorbikes na die session by Swallows is – om die sheilas te tjaaf en vir ’n lekker fight of twee met die gangs van Odendaalsrus of Welkom. Al wat oorgebly het van daardie agteroorgekamde golwende goue kuif is ’n paar yl stokkieshare wat sukkel om plat te lê. Die plooie in sy gesig en nek en sy verbleikte hangsnor probeer hy miskyk. Hy draai hom dwars en beskou die boepie wat vinnig besig is om ’n pens te word. Hy trek sy maag in en bekyk sy beeld krities.
“Nie sleg nie,” sê hy vir sy spieëlbeeld. “As ek net van hierdie bleddie pens ontslae kan raak.”
“Kris, wat staan jy hier soos ’n simpel ding waarvan die broek wil afval met jouself en gesels?”
Hy swaai om. “Demmit, Stien, moet my nie so bekruip nie, vrou! Daar is te veel gehijackery in driveways deesdae.”
Stien bekyk die twee gebarste betonstroke wat van die motorhuis na die skeefhangende draadhek loop. “Gmf! Nou nie juis ’n driveway hierdie nie. Ek sien nie die buurvrou nie, so, wat se gepensintrekkery is dit? Daai is ’n bierpens, en niks help nie, jy sal moet minder suip.”
Kris bekyk die vrou van hom wat weier om grys te word. Haar hare is nou wel elke maand ’n ander kleur, maar nooit grys nie. Sy staan met ’n pakkie Lexingtons en ’n boksie vuurhoutjies tussen duim en ringvinger vasgeknyp, ’n brandende sigaret tussen die middel- en wysvinger van dieselfde hand. Om te sê sy het heelwat gewig aangesit sedert die Swallows se dae sou gevaarlik wees, maar sy sal wragtig nie meer op ’n Harley se agtersitplek pas nie!
Kris sit sy een arm om haar skouers en beduie met sy hand. “Stien, ou lief,” sê hy, “ek staan so en kyk na al hierdie rubbish van jou. Dit staan die hele bleddie garage vol, netnou krap ek die Ford se verfwerk.”
“Dis g’n my rubbish nie,” sê Stien ontstoke. “As jy daardie hangkas se deur regmaak, wat jý des dinges geval het, kan ons dit teruggee vir Mike-hulle.”
“Ja, wel, nes ek tyd kry.” Hy trek die pakkie sigarette en vuurhoutjies tussen haar vingers uit en steek een op. “Was bietjie besig gewees die afgelope tyd.”
“Waarmee nogal? Visvang saam met Kassie?”
“Ek het baie werksdruk, Stien, moet jy nie ook nog neuk nie. ’n Skofbaas se werk is nie maklik nie.”
“Jaa, Kris Freislich, al wat jou deesdae nog druk, is jou belt.”
“En daardie ou stukkende wasmasjien? En die grassnyers? Die goed is moer toe, Stien. Een van die dae krap ek die Ford regtig en dan is daar moeilikheid.”
“Moet my nou nie die hel in maak nie,” sê Stien en beduie met die sigaret. “Ek lek jou agterent al vir ’n jaar om Kassie se bakkie te kry en al die gemors weg te ry ashoop toe. Maar jy,” sy druk ’n wysvinger teen Kris se bors, “wou eers die goed se motors uithaal om go-carts te bou vir die myn se Krismispaartie.”
“Ja, wel, ek het nog net nie sover gekom nie. Vandat ek skofbaas is …”
“Man, te hel met die skofbaas-storie! Dit was drie jaar terug se Krismis.”
Hy maak die houtdeure toe en druk die groot slot deur die skuifknip, sit sy arm om Stien se skouers. “Aag, ou lief, kom ons stap huis toe. Net môre haal ek die motors uit en smyt die gemors weg. Is daar Klippies?” vra hy toe hulle die kombuis instap.
“Ja, gooi vir my ook maar een, met Coke.” Sy stap stoof toe en gooi ’n koppie bruinerige poeier – haar “geheimenisse” – in ’n pot boontjiesop. “Kris, julle moet die Trippel-S se enjin nou regkry. Ek loop my gat af so sonder ’n ryding. Jy weet hoe ver is alles van hier af.”
Hy haal ’n klomp sweisstawe saam met die leë koffiebottel en kosblik uit die groen kossak en sit dit bo-op die yskas neer.
“En dit?” vra sy oor haar skouer terwyl sy die sop roer.
“By ou Keppies by die boilershop gekry vir die raam van die go-cart. Is die kinders hier?”
“Boeries is in die bad en Baby is nog by die hokkie.”
“Nou vir wat bad Boeries hierdie tyd van die dag?” Kris loer in die soppot. “Die mannetjie moet my kom help dat ons maar begin met die Trippel-S. Die enjin sal moet uit en die ding moet geboor word voordat ek die ringe insit. Die top moet seker geskiem word ook.”
“Kan jy nie solank net die bonnet toemaak en die block-en-tackle van die boomtak afhaal nie? Dit lyk so common, en ek meen, jy is darem nou ’n skofbaas. Die hoenders broei al op die ding se agterste seat.”
“Block-en-tackle? Ek dog die ding is gesteel!”
“Nee, hy hang aan die populier se tak. Van lankal af.”
“Boeries!” roep Kris in die gang af. “Boeries!”
“Ja, Pa?” kom ’n stem gedemp van agter die badkamerdeur.
“Kom hier, ek wil met jou praat.”
“Ek is nou daar, Pa.”
Kris gee Stien se dop vir haar aan. “Stien, moet nie worry nie,” sê hy, “ek moet nou net eers daai enjintjie uittrek, dan fix ek dit baie vinnig.”
Boeries kom in die gang af met ’n handdoek om sy middel gedraai. Hy hou die handdoek met die een hand vas en vryf met die ander deur sy swart hare.
Kris dink aan die beeld van sy verweerde self in die spieël, betrag sy seun uit die hoogte. Dit is soos hy gelyk het, honderd jaar en honderd kaste bier gelede: breë skouers, smal heupe en die enigste teken van bier die six-pack op sy pens. “Boeries, demmit,” sê hy en steek ’n glimlag van genoegdoening agter ’n vuis weg, “gaan trek jou aan. Jy kan nie so voor jou ma rondloop nie.”
Maar die ma gee haar seun ’n drukkie. “Kris, jy’s net jaloers. Wat, dink jy, het ek nog nie gesien nie?”
“Jy stink soos ’n hoer op ’n dans,” brom Kris. “Waarheen is jy op pad?”
“Ek gaan kuier, Pa.” Boeries knoop die handdoek om sy lyf vas en gaan sit op die rand van die kombuistafel.
“Luister, laaitie, ek en jy moet die Trippel-S se enjin uittrek. Ek kan die mountings nie alleen losmaak nie.”
“Ek kan nie nou nie, Pa. Ek en Celeste gaan dans.”
“Wat van môre?”
“Werk. Ek en Jan Doep gaan Bothaville toe, polisiebesigheid.”
“Sien jy, Stien?” Kris beduie met sy glas. “Ek kry nie helpers nie.” Hy gaan sit steunend by die tafel. “Wie is die meisie, ken ons haar?”
“Ek glo nie, Pa. Hulle is nog nie lank op die dorp nie.”
“Het sy darem ’n naam, demmit?”
“Celeste, Pa. Ek het mos gesê. Celeste Kirk.”
“Wat doen haar pa, ken ons hom?”
“Kris, los die kind,” vermaan Stien. “Hy is al groot genoeg …”
“Hy is die nuwe ondergrondbestuurder,” sê Boeries, hy ken sy pa se nuuskierigheid.
Kris kyk lank na hom. Dan val iets van die viswatergesprek met Kassie hom by. “Het hy ’n boot?” vra hy agterdogtig.
“’n Watseding?” Boeries kyk sy pa verbaas aan.
“’n Boot met ’n outboard.”
“Nee, jis, Pa, hoe moet ek weet? Ons ken mekaar nog nie so lank nie. Is dit belangrik?”
“Ag, hel,” sê Kris moedeloos. “Ek ken die verskil tussen modder en stront, en hierdie is nie modder nie.” Kris gooi sy dop in sy keel af en staan op.
“Wat is dit nou met jou, Kris?” vra Stien. “Jy kan nie net hier staan en swets nie. Wat’s jou storie?”
Kris vee oor sy yl hare. “Boeries, skink vir my nog ’n dop voordat jy loop. Ek het skielik ’n behoefte. Maak dit maar ’n dubbel, net vir in case.”
“Wat is fout, Pa? Celeste is rêrig oulik, ek hou van haar.”
“Nee, laaitie, daar is niks fout nie. Stien, onthou dat ek môre ’n rol vyftigpond-breekkrag-vislyn koop.”
“Wat?” vra Stien verbaas, “wil jy gaan haaie vang?”
“Jy kan maar so sê. Bring die dop sitkamer toe, Boeries. Ek is skielik moeg, ek wil gaan sit en TV kyk.”
“Waar sê jy is Baby?” vra Kris toe hy op sy stoel in die sitkamer neersak en die afstandbeheerder optel.
“Sy is nog by die skool.”
Boeries kom van die kombuis af ingestap met ’n glas waarin ysblokkies klingel. Kris vat dit by hom en proe. “Dankie. Toe, loop trek jou aan.” Hy teug weer aan die dop. “Hoe kom sy by die huis?” vra hy, sy oë bekommerd op Stien wat in die La-Z-Boy langs hom neergesak het.
“Ek weet nie,” sê Stien verontwaardig.
“Hel, Stien! Sy kan nie loop nie. Nie met daardie mal donners wat die kinders ontvoer nie.”
“Sy sal wel ’n lift kry by een van haar maats se ouers.”
“Stien, dis nie goed genoeg nie! Is jy nie ook bekommerd nie? Wil jy nou wragtig hê sy moet weer deur daardie selfde vlei loop …”
“Verdomp, Kris Freislich! Natuurlik bekommer ek my ook vrek.” Haar stem styg skerp en sy druk die sigaret vererg dood in ’n Firestone-asbak waarvan die glasbakkie lankal gebreek het en vervang is deur die deksel van ’n blikkie Nugget-skoenpolitoer. “Waarom dink jy lek ek jou agterent elke dag blink om die Trippel-S reg te maak? As jy dít doen, kan ék haar gaan haal!” Sy snork en haal nog ’n Lexington uit. “Jy wil mos nie hê dat ek daardie heilige Ford van jou gebruik nie.”
“Stien, ek is bekommerd oor daardie meisiekind.” Kris volg ’n ruk stil die sekondewyser van die horlosie in die pens van die koperolifant teen die muur, ’n diep frons op sy voorkop. “Die Goudveld het skielik ’n siek plek geword vir jong meisies soos sy.” Hy staan steunend op. “Ek hoor Jan Doep-hulle het darem die vent gevang wat die meisie hier agter tussen die tamariskbosse vermoor het.” Hy sug. “Ek … ek sal met Kassie gaan praat dat hy kom help dat ons die enjin uitkry. Dè, hier’s die Ford se sleutels, gaan haal die kind.” Hy sit die sleutels langs die Firestone-asbak neer en gee sy vrou ’n waarskuwende kyk. “Moet hom net nie stamp nie,” brom hy en stap deur toe, sy dop vergete op die tafeltjie langs die La-Z-Boy.