Читать книгу Tou - Piet Steyn - Страница 5
1
ОглавлениеNet ’n gedrup kan gehoor word. Die geritsel en sporadiese klapklanke van reënwater wat van die bome se blare val as die ligte yswindjie hul toppe roer. En dan ook iets anders, iets wat meer gedemp val en ook nie wegsypel nie, maar ’n donker vlek laat.
Verder niks.
Die voëls het lankal die nag ingevlieg – toe die gille begin het.
Nou is daar net die dwalende mis en die donker figure wat stadig aan krakende wit toue in die wind ronddraai. Net die beweging onderskei hulle van die bome se stil swart stamme.
Een van die figure se kop is agteroor gekantel, sy ken teen die tou wat snaarstyf na bo span. Hy behoort te hoor hoe die ander toue oor die takke skuur. Weldra sal die winterson diep genoeg deur die blare en die mis gedring het sodat hy die ander figure ook kan sien. Maar hy sal hulle kwalik nog kan herken. Hulle oë is wyd oopgesper en hul tonge hang grotesk by vertrekte monde uit. Dit is asof hulle maskers uit die hel opgesit het om hom skrik te maak, weg te jaag uit hierdie nat swart bos wat so probeer klou aan sy grys miskombers, asof dit die afgryse van die nag daarmee wil bedek.
Bes moontlik voel hy nie eens meer die koue nie. Is dit ’n gebed wat sy lippe roer of die laaste onwillekeurige spiertrillings? Hy sal dit in elk geval nie lank meer kan uithou nie. Voordat die laaste mis voor die gryswit son wyk, sal die krampe in sy bene hom oorlaat aan die genade van die tou wat al hoe stywer om sy nek span en in sy nekvleis begin insny.