Читать книгу Tou - Piet Steyn - Страница 7
3
Оглавление“Wanneer sny jy hulle af?” Jan draai weg van die toneel wat met ’n geel lint afgekamp is, sy gesig in afgryse op ’n knop getrek. Hy wag nie op Grundlingh se antwoord nie, hink tussen die ylerige bome aan die rand van die bos deur, rem sy windjekker met sy hande in die sakke af oor sy skouers.
Die plaasdam langs die bloekombos se oppervlak is ’n grys spieël waaraan rafels mis bly kleef. ’n Klomp wit bosluisvoëls vlieg in V-formasie oor die glinsterende vlak in die rigting van die son, rakelings oor die volmaakte spieëlbeeld van hul vlug. ’n Makou raas van bo-op die damwal, klap sy groot vlerke.
Jan draai terug. In die bos is daar nog net hier en daar kolle waar die mis rondhang tussen skurwe swart stamme en laag-hangende takke. Die grond is nat van die water wat van die blare afdrup. Die honde-eenheid is besig om in die bos rond te snuffel en twee van Koos se kollegas neem grondmonsters onder die drie lyke wat steeds aan wit goiingtoue van takke hang. Hy sien Mac ook daar hurk; van Boeries is daar g’n teken nie.
Jan skop-skop in die koue, klam grond. ’n Wyle is dit nie die grusaamheid voor hom in die bos wat in sy borskas woel nie, maar die beeld van ’n ander jong man aan ’n stuk blou nylontou. Hy onthou die ruwe knoop aan ’n balk van ’n buitekamer, die dienspistool op ’n netjies opgevoude blou uniform, die brief aan sy vrou en een aan sy bevelvoerder, asof die dikgat bliksem Afrikaans sou verstaan …
Bliksem! Jan pluk sy kop op na waar die son nou ’n bleek-silwerige bal in die grysheid is.
“… wil eers die grondondersoek afhandel,” kom Grundlingh se stem van tussen die bome na hom aangedryf, en dan kom hy self uit die skadu’s te voorskyn, jaskraag teen die wind opgeslaan, aktetas in die hand. “Is jy orraait?” vra hy. “Ek het jou gewaarsku dis nie mooi nie.”
Jan wil vir hom sê dis nie die drie aan die bome nie. Hy wil hom vra of hy al probeer het om met ’n stomp knipmes deur ’n blou nylontou te saag, terwyl jy met die een hand klou aan jou broer se skoppende voete en bid dat jy betyds sal wees … sy lewe dalk kan red … Hy spoeg windaf en vee oor sy gesig, voel die sweet ondanks die koue.
Tou afsaag sal vir hierdie drie ook nie meer help nie, lankal nie meer nie. Hulle hang amper roerloos, beweeg net effens in die ysige windjie wat oor die vlaktes tussen die bome indruk. Hulle hande is agter die rug vasgebind, en die wit goiingtoue wat met ’n glyknoop om elkeen se nek vas is, loop oor dik bloekomtakke na waar die ander punt iewers aan ’n boomstam vasgemaak is.
Jan kug. “Hoekom lyk hulle so sleg?” vra hy, sy stem kraak en hy kyk vinnig af, skop-skop weer in die grond.
“Hulle is nie opgehang soos in ’n skielike nekbreek nie, soos in die valdeur wat oopruk of in die L’Amour-boeke met ’n hou op die perd se gat nie. Hulle is stadig opgetrek. Hulle moes kon voel hoe die lewe …”
Of soos om van ’n buitekamer se tafel af te spring …
’n Bloukorhaan vlieg skielik op uit die gras. Kraaak! Kraaak! versplinter hy die helder oggendlug. Die speurders se koppe ruk op, hy hang ’n oomblik lank stil hoog in die lug voordat hy wegswenk om in ’n swartgebrande stuk veld te gaan neerplons.
“Koos, los jou stront!” Jan spoeg weer windaf. “Is dit nou verdomp nodig om so dramaties te raak?” Maar hy kan sien wat sy kollega bedoel. Die lyke se flenters gebyte tonge hang lank by hulle grynsende monde uit. Hulle oë peul uit, witstarend in die halflig – na niks. Die broekspype is nog deurweek van die onbeheerste urine. “Wat is die verskil?” vra hy, hoewel hy reeds weet wat die antwoord is. Maar dit is asof hy by Grundlingh na ’n sekerheid soek, iets wat sal sin bring na hierdie waansinnige toneel van die mens se onbegrypbare wreedheid.
“As ’n man gewoonweg gehang word, word sy nek vinnig gebreek. Die longe ontvang nie meer neuronboodskappe van die brein af nie en hou op werk. Dit lei na versmoring, ensovoorts, ensovoorts. Hierdie ding was baie stadiger en pynliker. Meer soos ’n verwurging.”
“Iemand wóú hulle dus stadig doodmaak,” mompel Jan en vou die baadjie stywer om sy lyf. “Wraak? Vergelding?”
“Wel, dis jou afdeling daai. Al wat ek weet, is dat dit ’n rukkie gevat het en die slagoffers was lank by hulle positiewe. Miskien wou die aanvallers inligting gehad het, ek weet nie.”
Jan kyk die speurder met die groot jas ingedagte aan, en asof iets hom skielik byval, sê hy ongeduldig: “Koos, julle moet klaarkry dat hulle kan afkom daar.”
“Ons is amper klaar. Sal maar moet kyk wat die lab verder oplewer. Ek dink jy moet hierna ook kyk.” Grundlingh lig sy regterknie om sy aktetas daarop oop te maak. Hy haal ’n plastiekkoevert met ’n stuk papier daarin uit.
“Wat is dit?”
“Elkeen het so ’n ‘visitekaartjie’ op sy bors vasgespeld gehad. Hierdie een moes losgekom het. Dit het op die grond gelê, onder nommer twee.” Grundlingh beduie met sy kop na die middelste lyk.
Jan hou die koevert in die sonlig. Aan die een kant van die kaartjie is ’n skets van wat lyk soos ’n brandende kers in ’n bak vloeistof. Bokant die skets, in sierskrif, staan: Hof onder die Kruis, en daaronder: Levitikus 24:17.
“Kyk agterop,” sê Koos.
Jan draai die koevert om. Op die ander kant van die kaartjie is ’n lys waarvan elke inskrywing een of meer name, ’n plaasnaam en ’n datum bevat. Van die name herken Jan en hy maak vinnig die afleiding dat dit plaasaanvalle en moorde is waaraan die man aan die tou deur hierdie sogenaamde Hof onder die Kruis skuldig bevind is. “Wat se stront is dit die?” vra Jan verbaas. “Enige idees?”
“Nee, hel, ou Jan. Al wat ek weet is dat Levitikus ’n boek in die Bybel is.”
Jan draai die koevert met die kaartjie in die rondte. “Het die ander dieselfde skets en teksvers?”
“Dit lyk so, net die klagstaat verskil.”
“En die skets? Enige idees?”
“Nie in hierdie stadium nie.”
Jan merk op dat Mac en Boeries intussen by hulle aangesluit het en nou oor sy skouer loer. Vir ’n wonder is Boeries stil. Jan kan hoor hoe hy sluk; hy kyk op en sien hoe bleek die jong man is. ’n Mens kan nou sien dat hy nog nie lank deel van die eenheid teen georganiseerde misdaad is nie.
Jan gee die plastiekkoevert aan hulle. “Koos,” sê hy met sy arms wyd in ’n vraende gebaar, “in hierdie stadium verstaan ek bokkerol van hierdie spul. Wat sou jy sê het hier gebeur?”
“Dit was ’n plaasaanval wat gefnuik is, dit weet ons. Iemand moes snuf in die neus gekry het. ’n Groep van vier het die aanvallers hier voorgelê, ’n boendoehof gehou en hulle gehang.”
“Is dit wat die spoorsnyers sê?”
“Ja. Die plaasaanvallers het van die Mercedes af te voet tot hier gekom, op pad na die plaas toe.” Koos beduie in die tweespoorpad af.
“En die vier wat hulle hier voorgelê het?”
“Die honde het hulle spoor gevolg tot waar hulle ’n ent verder in die een of ander voertuig met groot tyres geklim het, moontlik ’n viertrek.” Koos vat hom aan die arm. “Kom, hier is nog iets wat jy moet sien.” Hy stuur hom na ’n klomp wapens wat teen ’n boomstam gestapel lê. “Dit moet die plaasaanvallers se wapens wees. As die boendoehof-ouens dít kon agterlaat, moet hulle self genoeg van hulle eie hê!”
Jan druk op sy knie en hurk steunend by die hoop. “Pistole, messe, breekysters. Hulle was sekerlik nie op pad om iewers te gaan bier suip nie.” Hy ruik aan ’n plastieksak met stukke rou vleis. “Gif. Two-step, vir die plaas se honde.” Jan vat die hand wat Koos na hom uithou en beur regop. “En die mense by die opstal?”
“Twee liewe, goeie ou mense,” sê Koos. “Hulle het van die spul niks geweet totdat ons hulle vanoggend wakker gemaak en daarvan vertel het nie. Daar is ’n man van die uniformtak nóú by hulle.”
“Wat het van die Mercedes se bestuurder geword?”
“Hy is agter in die poliesvan. Wil jy met hom praat?”
“Ja, aan jou bakkies kan ek sien dáár is ook ’n storie,” sê Jan moeg. “Sê maar …”
“Kyk, daardie vent het spook gevang! Jy kan try, maar ek weet nie of jy iets uit hom gaan kry nie. Behalwe as jy miskien slobbertaal verstaan.”
“Hoe’t hy losgekom? Tou gebreek?”
Koos glimlag, sy rokerstande laat dit lyk of sy mond vol vroeg-oggendson is. “Ons het hom vanmôre hier kom kry. Vasgebind met die tou om die nek, net styf genoeg sodat hy op sy tone kon staan. Ek het nog nie ’n boef gesien wat so bly was om ’n poot te sien nie.”
“Nou vir wat sou die spul dit doen?” Jan trek aan die borsel-punte van sy snor wat soos ’n nat gordyn oor sy bolip hang. “Either jy hang ’n bliksem, óf jy hang hom nie. Jy los hom nie om vanself biltong te word nie.”
Koos haal sy skouers op, trek sy oranje pet laer oor sy oë en steek sy hande in die grys jas se sakke. “Hy moes seker kyk, ek weet nie. Dalk moes hy die boodskap uitdra. Miskien wou die moordenaars hom net vasmaak, seker maak dat hy nie weghol nie.”
“Ek gaan in elk geval probeer om met hom te praat. Kom julle twee,” sê hy vir Mac en Boeries oor sy skouer.
Mac stamp aan sy jong kollega. “Die baas roep, hou nou op om die honde kos te gee. Jy beneuk hulle reuksin.”
Boeries sluk weer aan ’n lastige klewerigheid in sy keel. “Jis, Mac, hierdie is erger as op die TV!”
By die vangwa knik Jan vir die uniformman wat by die deur staan. Die konstabel maak die deur oop en die speurder se eerste indruk is dat die wa leeg is. Dan sien hy die man met hand- en voetboeie wat in die een hoek wegkruip. ’n Vaal kombers is oor sy kop en skouers getrek en hy loer witoog deur ’n opening. Hy het sy geboeide hande oor sy knieë gehaak. Sy hele lyf ruk en ’n stroom onverstaanbare woorde borrel by sy mond uit.
“Hoekom die voet- en handboeie?” vra Jan aan die konstabel.
“Sup, toe ons hom van die boom lossny, was hy soos ’n mal mens. Hy het so woes tekere gegaan dat ons hom moes boei om hom teen homself te beskerm.”
“Sal dit help om hom te ondervra? Ek meen, hy moet seker vol antwoorde wees.”
Die konstabel lag, vat aan die blou polisiepet se sonskerm. “Nie nou nie, Super. Koos Grundlingh sê hy is kwaai opgeneuk en moet eers by ’n dokter uitkom.”
“Het hy niks gesê nie of brabbel hy net heeltyd?”
“Toe ons hom gekry het, het hy die hele tyd iets van black ghosts gesê, maar niks verder nie.”
Jan maak die deur van die vangwa toe en gaan sit op die voertuig se agtertrap. Vryf sy knie. “Sal later met hom gesels.” Hy buig die gepynigde been en maak dit dan skielik reguit. Die knie maak ’n harde klik-geluid en Jan kom met verligting op sy gesig regop. “Hoe het julle geweet van hierdie gemors?” vra hy.
“Ons het ’n oproep gehad wat gesê het ons moet kom kyk.”
“Wie het gebel?” vra Mac.
Die man haal sy skouers op. “Een of ander organisasie, noem hulleself iets van ’n hof en ’n kruis, of so iets. Hulle het verantwoordelikheid aanvaar. Ek weet nie meer as dit nie.”
“Waar is die opstal?”
Die konstabel beduie na die tweespoorpad wat teen die bos verbyloop. “So ’n kilometer verder. Die pad loop tot by die huis.”
Jan beduie met sy kop vir Mac en Boeries. “Kom ons gaan praat met die ou mense.”