Читать книгу Tou - Piet Steyn - Страница 11

7

Оглавление

Pine voel aan die Keyser se kop in sy sak, haal diep asem en draai sy rug op die drie stil figure. Hy stap verby die stoele voor die TV, die tafel met die pizzabokse en bierbottels na ’n venster aan die voorkant van die vertrek. Hy trek die oranje gordyn effens oop en staar uit oor die oorblyfsels van ’n tuin, ’n vervalle heining, die afskilferende muur van ’n buurhuis, ’n geroeste geut waaruit die smeltende ryp stadig drup. Twee olyflysters draai vlerkslepend op die doodgerypte grasperk om mekaar. Dis die lewe, dink hy. Hier binne is drie mense doodgewurg; daar buite dink dié twee aan nuwe lewe, die komende lente. Dis wat ’n mens moet kan regkry, om soos daardie voëls te wees, veral as jy elke dag gekonfronteer word met mense wat geskiet is, gesteek is, met klippe doodgegooi en selfs doodgebrand is met ’n buiteband om die nek. Soms moet jy self ’n lewe neem. Die ding is om net nie daaraan gewoond te raak nie, om altyd te weet dat die seisoen sal draai.

Die een lyster vlieg op en gaan sit op die nek van die afkopkabouter.

Pine draai terug na waar die forensiese mense stil besig is om foto’s te neem en met kwassies te soek na vingerafdrukke of ander leidrade. Almal probeer die swaaiende lyke nie raaksien nie; wil so gou moontlik wegkom uit die gruwelkamer wat stink na urine en ontlasting en die vloerpolitoerdeksel vol dooie sigaretstompies wat omgekeer langs die glasbladtafel lê, en bo-oor alles die reuk van die dood wat almal toevou in kille angs.

Jerome kyk op van die werksaamhede van die forensiese span, merk dat hy weer op Pine se aandag aanspraak kan maak en kom aangestap met ’n plastieksakkie in sy hand. “Sup, check net ’n bietjie hier.”

Pine sit sy leesbril op en bekyk die koevert met die A4-bladsy daarin, loer dan vraend oor die halfmaanlense na die speurder.

“Dit was op een se bors vasgespeld,” verduidelik Williams.

Kat kom loer oor sy skouer. Aan die een kant is daar ’n skets van ’n brandende kers in ’n houer wat soos ’n bak met vloeistof lyk. Bokant die skets staan: Hof onder die Kruis, en daaronder: Levitikus 24:17.

“Wat de donner beteken dit?” grom Kat.

Pine draai die koevert om. Agterop is ’n lys misdade en datums, meestal gewapende roof met verswarende omstandighede, ook ’n moord of twee. Ooglopend misdade waarby dié slagoffer betrokke was, en hierdie stuk papier is dus ’n soort klagstaat.

“Hel,” grom Kat weer. “As dit alles waar is, was hulle drie groot skarminkels. Ek dink die donners het gekry wat hulle verdien.”

“Die een of ander godsdienskultus?” Pine kyk vraend na Annie de Villiers wat hulle uit ’n hurkende posisie dophou. “Enige idee wat in Levitikus 24:17 staan? Of wat Hof onder die Kruis beteken?”

Sy kom regop, vee ’n paar swart hare met ’n wit rubberhandskoen van haar voorkop, skud haar kop en trek haar skouers vierkantig. “Ons is amper klaar hier, kan ons hulle maar lossny?” vra sy en beduie na die lyke.

Kat se hand gaan halfpad na sy snor, maar Annie se blik was so vlugtig op hom dat hy dit laat vaar.

Pine knik en gee die koevert terug aan haar, laas week se gesprek met Jan Doep nou weer in sy gedagtes. “Ja, sny maar af. Kom, kêrels.” Hy wink Kat en Jerome saam. “Kom ons kry ons ry.”

Buite druk hy ’n nommer op sy selfoon en stap elmboog in die wind met die foon teen sy oor ’n ent weg. “Hallo, Jan, dis Pine van Jo’burg.”

“Yes, Pine. Hoesit daar in die groot stad?”

“Vrek koud.” Pine is nie lus vir gemeenplase nie. “Jan, ek staan hier by ’n misdaadtoneel, kan nie baie praat nie. Luister ’n bietjie hierna en sê my of dit bekend klink.” Hy loop ’n draai oor die dooie grasperk, selfoon teen die oor, terwyl sy ander arm in die lug beduie soos hy die misdaadtoneel vir Jan beskryf.

“Ja, dit klink na dieselfde lot wat by Wesselsbron was,” sê Jan Doep ná Pine se beskrywing. “Die kleredrag, die klagstaat, die lot, alles klink dieselfde.”

“Dit lyk nie goed nie.”

“Nee, en dit lyk ook nie of dit gaan ophou nie.”

“Dis waarom ek jou bel. ’n Ooggetuie sê die een slagoffer het onder druk vir die aanvallers vertel hulle werk vir ’n kaping-sindikaat daar in jou wêreld. Hy het name genoem ook. Die leier is ene Doepie of Deppie, so iets. Ek weet nie of jy dit kan gebruik nie.”

“Dippie, soos in Dippenaar, moet dit wees” sê die speurder van Welkom dadelik.

“Ag nee, demmit!” Pine speel met ’n bos sleutels in sy sak. “Iets sê vir my jy weet meer as ek.”

“Ek kom nou net van ’n ou mynstoor af by die St. Helenamyn. Dippie en vier van sy pelle daar gekry.”

“Wat van hulle?”

“Hulle swaai, my ou pel! Opgehang soos die eerste spul by Wesselsbron, klagstaat op die bors, die lot.”

Daar is ’n lang stilte.

“Pine! Pine is jy nog daar?”

“Doep, as julle klaar is met die ondersoek, stuur vir my die besonderhede. Kommissaris Mkhize sal ’n span moet taak om aan dié sake te werk, ons kan nie so elkeen op ons eie aandonner nie. As ek reg tel, is daar nou al elf moorde in ’n kort tyd deur hierdie hof-spul gepleeg.”

“Ek stem saam.”

“Goed, ek sal met hom praat.” Voor Pine aflui, vra hy: “Hoe gaan dit met die knie?”

“Vol stront, veral as dit koud is, gee hy my hel.”

“Jy moet die ding laat vervang. Hulle haal die oue uit en sit vir jou ’n mooi, blink gechroomde een in. Onthou net die greasenipple, anders …”

“Ag, voertsek jy! Gaan vang kroeks, man! Jy klink net soos daai Boeries.”

“Wie?”

“Boeries!”

“Is dit ’n mens?”

“Jy wil nie weet nie. Cheers.”

Pine klap die foon toe en kom met ’n breë glimlag teruggestap na die ander twee wat op die stoepmuur sit en rook.

“Kom kyk eers hier agter in die jaart, Sup,” sê Jerome en stuur hulle terug by die deur in, die gang af. Hulle stap deur ’n kombuis met wit nerfaf staalkaste en ’n tafel met ’n blou Panelite-blad, tot op ’n groot erf agter die huis. ’n Paar verwaarloosde vrugtebome staan met dooie swart takke tussen lang gras en hope rooigeroeste ysters.

Dwars op die erf is ’n groot stoor met kaal gepleisterde mure en twee sinkskuifdeure. Langs die huis loop ’n oprit van twee ewewydige, gebarste sementstroke tot by ’n enkelmotorhuis waarin ’n rooi BMW deur oop skeefhangende houtdeure gesien kan word.

Jerome druk sy skouer teen een van die stoor se deure en skuif dit met ’n geknars verder oop. Soos die onwillige deur van die skuur op die plaas waar sy pa die Massey-Fergusen gebêre het, dink Pine. Binne staan ’n donkerblou Audi A5 en ’n wit Toyota Hi-Lux-dubbelkajuit met ’n kappie op. Al twee voertuie lyk nuut. Die Audi se venster aan die bestuurderskant is gebreek, glasstukke en bloed lê op die sitplek. Op die agtersitplek is ’n babastoeltjie met ’n rooi fopspeen daarin wat met ’n wit plastiekketting aan ’n doek geheg is.

Weer verstar Pine se blik. Tiaan! ’n Oomblik lank sien Pine hóm in daardie stoeltjie. En hy kan nie daardie beeld losmaak van die harde swart bloedkors op die voorste wit leersitplek nie. Pine vryf letterlik die beeld uit sy oë en stap verder die stoor in.

Stukke motorenjins staan op die olierige sementvloer rond. Teen die verste muur val die lig uit ’n hoë staalvenster op ’n werkbank met gasbottels en ander gereedskap.

’n Lenige jong man met ’n grys chinobroek, blou hemp en rooi das is besig om foto’s van die voertuie te neem. Pine herken die jongeling se ma se swart hare en sy pa se blou oë. Ook nie meer so klein nie, dink Pine. As hy hom aan Kat meet, moet die mannetjie seker minstens ses voet vier wees.

“Môre, Superintendent,” sê die jong man met die kamera en kom met ’n uitgestrekte arm aangestap. “Julle kan maar rondkyk, moet net nie vat nie. Ons moet nog vingerafdrukke kry.” Hy beduie na ’n kollega wat besig is om afdrukke van die motors te lig.

“My hel, Henkie,” sê Pine verbaas. “Laas toe ek van jou gehoor het, was jy nog in die polisiekollege. Wat maak jy hier?”

“Ek is vir eers ingedeel by die forensiese laboratorium in Silverton, Sup. Ek moet ondervinding kry om B.Tech. Forensies by Unisa te gaan swot.”

“Dis goeie nuus,” sê Pine, vat die seun aan sy skouers vas en hou hom op armlengte. “Hel, maar jy hét groot geword!”

Henk lag verleë, diep kuiltjies in sy wange – nog iets van sy ma geërf. “Ja, Sup …” stamel hy verleë.

“Los maar die superintendent, Henkie.” Pine skud die seun se hand. “Dit was nog altyd oom Pine. Wat’s jy nou so formeel?”

Pine voel die krag in die hand, sien die dik nek op die jong man se skouers en hoe die spiere op sy voorarms speel. Hy sal hom wragtig nie meer kan optel en in klowe afdra nie!

“Wat het jy hier, Henk?” vra Kat toe hy die seun se verleentheid oor Pine se aandag en blydskap sien.

Henk beduie met die kamera in die een hand. “Albei hierdie voertuie is die afgelope week in die Goudveld ge-hijack,” sê hy en trek uit pure ongemak sy mou oor sy neus. “Die bestuurders is op die toneel geskiet.” Hy knik in die rigting van die babastoeltjie. “Die kleinman was gelukkig nie in die motor nie, sy ma het hom juis by die crèche gaan aflaai en toe sy terugkom by die huis, toe skiet die kapers haar vir haar selfoon en die motor se sleutels.”

Pine steek sy hande in sy broeksakke, vroetel senuagtig aan die Keyser se kop, kyk weg. Hoeveel van hulle is daar nog daar buite? Hoeveel sit nie in die tronke en wag net op parool nie? Is dit wat dáár in die huis gebeur het nie dalk die oplossing nie?

“Ek sê hang ’m high ’n handsome,” grom Kat terwyl hy sy snor hel gee.

Pine kyk skerp na sy kollega, maar Kat maak asof hy Pine se ergernis nie sien nie, buk vooroor en krap aan sy kuit. Ja, dink Pine terwyl hy na Kat se geboë rug staar, ja … maar dis nie wat die wet sê nie. En hulle is polisiemanne, wat net aan één kant van die wet kan wees. Maar omdat hulle polisiemanne is, weet hulle ook beter as enigiemand dat die wet hulle net vir ’n kort rukkie van die strate af vat en dan is hulle maar net weer aan die gang.

Kat kom regop en Pine kyk weg. Henk lei hulle verder die stoor in. “Hier in die hoek is ’n ou Ford Escort en ’n Volksie, klaar gestrip vir parte.”

“Alles die drie daar binne aan die balke se werk?” vra Kat.

Henk knik. “Ou motorkapers, Inspekteur. Dié drietjies is egter net die oortjies van die seekoei.” Hy merk Kat se ingenome verbasing oor sy uitdrukking en lag verleë saam voordat hy voortgaan. “Hulle is deel van ’n groter sindikaat; steel voertuie in die Goudveld en aan die Oos-Rand en verkwansel dit in Mosambiek en Botswana. Direkteur Piet Vermaak is lankal op hulle spoor en ek het verstaan hy was op die punt gewees om arrestasies te maak.”

Dié keer beantwoord Kat Pine se skerp blik met die aanhoor van Piet se naam.

“Was Piet Vermaak al hier?” vra Pine.

“Ja, Sup, vroeg al. Hy’s weer haastig hier uit.”

Jerome skop teen ’n skeef afgeloopte buiteband met ’n swart velling. “Wat sukkel hulle met al die scrap? Hoekom al die risk vat vir ou crankshafts en pistons en tyres waarvan die drade uitsteek?”

“Jy sal verbaas wees,” sê Henk. “Kom ek wys jou.”

Die speurders loop deur die stoor terwyl Henk verduidelik. “Die nuwes verkoop hulle en die oues stroop hulle om skaars onderdele in die hande te kry. Kyk byvoorbeeld hierna.” Hy beduie na ’n olie-en-ghriesbesmeerde enjin en ratkas op houtblokke. “Dis ’n ou Peugot 404-enjin uit die sestigerjare. Lyk nie nou na veel nie, maar vir ’n eienaar van een van daardie vierkantige broodbokse is dit ’n stuk goud dié.”

“Oukei, Henk,” sê Pine ná ’n ruk, “laat jy aangaan hier. Ek sal die verslag by Krappies kry. Sê groete vir jou ma-hulle.”

Hulle stap om die huis na die straat, die winterson skerp in hulle oë ná die skemerte van die stoor.

Jerome gaan by die agterdeur in. “Laat ek maar loop check wat daar binne aangaan.”

’n Wit Opel Astra hou in die straat stil en ’n vrou met lang swart hare in ’n poniestert gebind, klim uit. Sy het ’n swart langbroek en baadjie aan, ’n wit bloes se kraag steek bokant die baadjie uit. In haar hand hou sy ’n kamerasak vas.

’n Polisieman in uniform keer haar by die hek voor, en hulle kan sien hoe sy met haar arms beduie en met hom redekawel. Dan sien sy die twee speurders op die stoep en waai vir hulle.

“Patricia de Beer,” sê Pine met ’n kreun. “Die pers is al wat ek nou nog nodig het.”

“Hel,” sê Kat en onderstreep sy waardering met ’n snorveeg. “Daardie Charl is ’n gelukkige man. ’n Mens sou nie sê sy het twee kinders gehad nie, en kyk watse lummel is dié Henkie-kind van haar. Hoe de hel kom sy in any case so gou hier?”

“Ek weet nie, maar jy ken haar. Daardie wipneusie van haar ruik nuus op ’n afstand. Henk sou definitief nie uitgepraat het nie. Kom ons gaan praat met haar, los sal sy ons tog nie.”

Die twee stap oor die grasperk en buk onder die geel SAPD-band deur.

“Hallo, Pat,” groet hulle.

“Dag julle twee sexy goed! Hierdie man is snaaks met my, hy sê ek mag nie ingaan nie!”

“Hoe kom jy so vinnig hier, Pat?” vra Pine.

“Die koerant het ’n oproep gehad. ’n Groep wat sê hulle is die Hof onder die Kruis en werk vir geregtigheid. Hulle het verantwoordelikheid aanvaar. Wat presies het hier gebeur?”

“Ek wil nie nou ’n verklaring maak nie. Die ondersoek is in wat ons noem ’n sensitiewe stadium,” sê Pine en kyk haar ge-amuseerd aan.

“Eintlik weet ek reeds,” sê sy. “Die man het vertel. Ek wil net weet of hy die waarheid gepraat het.”

“Wat weet jy?”

“Drie dood. Lede van ’n kapingsbende. Reg sover?”

“Ja, soos altyd.”

“Hoe is hulle vermoor? Mag ek foto’s neem?” Sy gee een van dáárdie glimlaggies van haar, glo klaarblyklik daaraan soos wat Kat aan sy snor-maneuver glo.

Kat gryns. “As jy jou lesers wil naar maak.”

“Jy kan foto’s neem van die huis en so aan, maar nie binne nie,” sê Pine. “Ons is nog besig. Daar is ’n ooggetuie, maar ter wille van haar veiligheid wil ons haar naam nie nou al bekend maak nie. Daar kan nog lede van die groep daar buite wees.”

“So, dis ’n sy?”

“Pat, jy ken die reëls. Ons sal later ’n persverklaring uitreik.”

“Reg, reg! ’n Mens kan mos maar probeer.”

Sy haal die kamera uit en neem ’n paar foto’s van die huis en die rooi BMW in die motorhuis.

“Jy sal my laat weet van die persverklaring?” vra sy vir Pine.

“Ja, Pat, hoe sal ek jou nou nie laat weet nie? Wat doen Charl deesdae?”

Eintlik is hulle ou vriende, maar sien mekaar deesdae selde. Charl was lank in die weermag en toe in die sekerheidsbedryf – dit was destyds die oorsaak van hulle egskeiding. Ná die Duime-saak, waarin sy en Henk vasgevang geraak het, het dinge tussen haar en Charl weer reggekom en hulle het intussen ook ’n dogtertjie ryker geword.

“Steeds in sekerheid. Hulle kan nie voorbly nie, daar is so baie misdaad. Maar wat …” Sy haal haar skouers op.

“En die kleinding?”

“Jani? Ag, sy is te pragtig, sy is darem ook nie meer so klein nie, hoor!”

Pine buk, tel ’n duif se veer op en trek dit deur die Kayser se steel. “Ja, die tyd gaan ook so vinnig verby.” Hy blaas pypolie windaf deur die steel.

Pat staan met ’n vies uitdrukking en kyk na die stink swart gemors wat uit die pyp kom. “Hoe lyk dit met jou en die getroude lewe?”

“Goed, jy weet mos Ann is ’n engel.” Hy gooi die swart geoliede veer tussen die pers blomme van die vygie langs die hekkie in. “Klein Tiaan slaap net nie baie nie, koliek of winde of so iets.”

“Sê vir Ann sy moet my bel, ek het met Jani ’n wonderlike nuwe krampwater ontdek.” Dan draai sy na Kat. “En jy, nog nie sulke planne nie?”

“Nee, wat. Ek is gelukkig, net soos wat ek is. Hoekom dit weer gaan opneuk met ’n getrouery?”

Haar lag klink klokhelder in die oggendlug. “Ag nee, kom nou, dit is nie so erg nie, Kat! Hoor hier,” sê sy skielik haastig, “julle moet kom kuier, ons sien mekaar te min. Ek sal ’n braai of ding reël, dan kom julle oor.”

Sy kyk skalks na Pine terwyl sy om die motor stap. “Die HOK-bende, sal die naam jou pas?” vra sy. “Of verkies jy die Kruis-bende?”

Pine kreun. “Ag, nee hel, Pat, moenie nou al daarmee neuk nie, asseblief. Jy weet mos as die pers eers ’n naam het, raak hulle erger as gatvlieë.”

Kat maak die motor se deur vir haar oop. Terwyl sy agter die stuurwiel inskuif, glimlag sy. “Dit hou julle op julle tone. Baai!” Sy trek vinnig weg.

Terwyl hulle haar agternakyk, lui Pine se selfoon.

“Môre, Kommissaris,” sê Pine en bestudeer oopmond die ylblou lug. “Ja, daar is drie lyke. Dit lyk na lede van ’n kapingsbende. Ja, Piet Vermaak was blykbaar al hier, maar is weer weg.”

Pine vorm die woorde “kommissaris Mkhize” met sy lippe vir Kat en luister ’n ruk in stilte. “Ja, goed, ek sal verslag kom doen sodra die ondersoekeenheid klaar is. Totsiens, Kommissaris.” Hy klap die foon toe.

“En nou, as jy so staan, wil jy die Astra by haar koop?” vra hy aan Kat wat steeds staan en staar na waar Patricia by ’n stopstraat gestop het.

“Intelligent én sexy,” sê Kat. “Hû?”

“Elana sal jou moer! Jy soek moeilikheid. Daardie swartkop los jou so wragtig vir ’n ou met ’n stetoskoop.”

Elana is ’n fisioterapeut wat Kat in die hospitaal ontmoet het toe hy aangesterk het ná ’n ronde met ’n spul uitsmyters van die nagklub The Ambush.

“Daar is nie meer ’n Elana nie.”

“Ag, nee hel, Kat! Sorry, ou pel.” Pine bedoel dit. Die groot speurder se eerste huwelik het nie gewerk nie. Rohan, sy seun, bly by sy ma. Kat sien hom een naweek in ’n maand.

“Ag hel, dis nie so erg nie,” brom Kat. “Soos ek sê, ons is nog pelle. Dis net vir nou dat elkeen vir eers sy eie paadjie loop.”

“En Mooi Annie?” vra Pine moedswillig.

“Nee, ou pel, ek weet darem nie, sy’s te ghrênd vir my.”

“Jy sal verbaas wees. Vroumense se koppe werk anders.”

Ambulansmanne kom met twee draagbare uit die huis gestap, sukkel teen die trappies af.

Kat hou die prosessie met skrefiesoë dop. “Hulle behoort vir daardie vigilantes medaljes te gee,” brom hy.

“Jy kan nie so sê nie, demmit, Kat,” berispe Pine hom, maar hy doen dit halfhartig, sy stemtoon vertroulik eerder as skerp.

“Hoekom nie?”

“Omdat jy ’n polisieman is, dis hoekom.”

’n Ruk lank staan hulle in stilte en kyk hoe die drie lyke in die ambulanse gestoot word.

“Het jy al gedink dat daardie A5 joune kon gewees het met Tiaan en Ann …”

“Ja, verdomp, ek het,” sê Pine kortaf. “Kom ons ry.”

Tou

Подняться наверх