Читать книгу Tou - Piet Steyn - Страница 6
2
ОглавлениеDis soos in ’n fliek, die dwarrelende grys mis en die donker landskap wat by die motor se venster verbyflits. Dit het ’n hipnotiese uitwerking op hom, laat sy gedagtes lui assosiasies maak, ook omdat hy te lank laas geslaap het. Daarby is die getrommel van die motor se bande op die grondpad en die sagte gesuis van die radio agtergrondmusiek wat hom wegvoer na ’n wêreld sonder misdaad, sonder pyn en bloed.
Die motor hik oor ’n laagwaterbrug en die skielike val laat sy maag hol saamtrek. Laer af in die spruit is ’n treurwilger, sien hy, en toe die boomskadu lankal uit sig is, bly die swart hangende takke steeds by hom. Netjies uitgekam grond toe, dink hy, soos klein Nina se hare voordat dit gevleg word. En dan draal ’n liedjie sy gedagtes binne. I taught the weeping willow how to cry, cry, cry … Johnny Cash. Hy volg die melodie ’n ruk. Telefoonpale, lae struike en losstaande bome flits verby. Sy kop knik, kantel skuins na agter met sy voorkop teen die ruit. Hy is nou in laatmiddagson tussen pluim- en tamariskbosse aan die voet van ’n hoë wal … ’n wolk gonsende brommers … ’n swart kors bloed … die tone van wat eens ’n fraai meisievoet was, is wyd gesper. Hy ruk sy kop op, dwing sy oë oop, probeer sy gedagtes op iets anders fokus.
Hy sit ’n ruk weer by die venster en uitstaar. Soek na iets in die donkerte wat sy gedagtes kan vasvang. Maar dan dring die verminkte lyk van die meisie onder die slikdam se wal weer sy gedagtes binne. Ook ander gesigte, foto’s in ’n dossier, ’n blonde poniestert, ’n wye glimlag, kleurbaadjie met erekleurebalkies … Is daar ’n verband tussen hierdie lyk en al die verdwynings? Daar is nou al twee wat dié maand net weg is … die vyfde een die jaar. Almal jong dogters … mooi dogters … Fok!
’n Murasie langs ’n afgetakelde boord vrugtebome skuif by die half-toegemiste venster verby, die oorblyfsels van ’n gesin se aspirasies. Die familiebegraafplaas met sy klipmuur is teen die pad. Waar de hel het hulle die klippe in hierdie sandwêreld gekry? Vergete grafstene steek kop uit bokant die rooigras en kakiebos wat die verwaarloosde akker ingeneem het, ’n koplose wit engel met net een vlerk klou verbete aan ’n voetstuk. Selfs daardie grafsteen lyk nou meer lewend as die kind tussen die struike.
Wat is dit? ’n Moordenaar met ’n siek beheptheid vir jong skooldogters? En waarom is haar lyk dáár gelos? Dit is nie die eerste keer dat hy daar met lyke gekonfronteer is nie. Sal hy ooit die Merriespruitramp van 1994 vergeet, toe daardie selfde slikdam se wal een nag gebreek het en die woonbuurt omskep is in ’n rivier van verswelgende giftige modder? Sewentien lyke is die volgende dae uit daardie stinkende grys gemors getrek. En nou is die kind daar weggegooi, so asof dit sedertdien die stortingsterrein vir lyke geword het.
Sy moeë verstand stoei nog ’n ruk lank met die gedagte dat dit dalk juis die modderramp was wat die moordenaar geïnspireer het, maar gee dan die stryd teen die vaak gewonne. Sy ken sak op sy bors, beelde en gedagtes word uitgedoof.
’n Steekpyn in sy linkerknie laat hom weer regop sit. Hy maak sy been reguit. Niks. As die verdomde ding net ’n slag wil klap!
Dis nou asof die horison al gryserig word. Terwyl hy sy knie vryf, sien hy ’n groot ingangshek met wit pilare by die venster verbyskiet, rooi en geel weerkaatsers teen die wit pilare wat ’n oomblik lank in die Toyota se ligte verhelder. Hy probeer die naam op die hek ontsyfer, maar te laat, en weer word hy gelaat met ’n herinnering: rooi en geel ligte, die groot vensters van die Dagbreek Supermark. Plakkate met specials soos Omo en Colgate en Diet Coke op die glas geplak … Sy ken sak vas op sy bors … Die swartbord langs die deur adverteer Plate R15, Pap en Vlys R16, Samoesas R5 each, Fresh Pies eweryday R8, Fish ’n Tjips R20 … Tony-die-bleddie-Griek kon nog nooit spel nie. Maar hel, Tony het ’n Xhosa wat die pap maak, poetoepap, lekker krummelrig met ’n dik sjieba van uie en tamaties. Bliksem, wat sal hy nie nou dáárvoor gee nie! Hoekom is die take away-toonbank leeg? Hy sien dit onmiddellik toe hy by die groot glasdeure instorm met die Z88 ’n verlenging van sy uitgestrekte arms. Maar benewens die verlate toonbank is die supermark ook leeg. Hy is ’n oomblik gedisoriënteer. Hy ruik die varsgebakte brood van die bakkery agter in die winkel en die olie van die vis-en-tjips in die hoek. Waar de hel is die bliksems?
Dan sien hy hulle: Die drie staan by die kasregisters, rooi balaklawas oor hulle gesigte getrek. Dit maak dit net makliker as hulle so in ’n bondel staan.
Elkeen het ’n wapen in die hand wat hulle gerig hou op die kassiere en ’n paar klante wat op die grond lê.
“Police! Hands up! Throw down your weapons! Polisie, los dit nou!” skree hy en klem die Z88 stywer vas. Sy bene is gebuig, die pistool vas in albei hande.
Rooi spookgesigte met wit oë ruk op, ’n rewolwer se loop ook.
“Nee, los dit! Polisie!” skree hy weer, maar dan draai die wapen se drom en die loop spoeg vuur. Die koeël slaan vas in die deur van die Coca-Cola-yskas langs hom, glasstukke spat en koeldrank spuit. Hy trek die sneller twee keer en sien die rooi blertse op die man se bors waar die 9 mm-koeëls vasslaan, sien hoe hy terugsteier oor ’n rak met Simba-skyfies. Hy swaai sy pistool na die ander twee rooi spoke, maar hulle wapens lê reeds op die grond en hulle staan met hulle hande in die lug, kyk by hom verby na iets agter hom.
Wat de fok is die probleem? Waarna kyk hulle?
Iewers lui ’n selfoon. ’n Selfoon! Daar was nie …
Iets is nie reg nie. Dis te maklik. Hoekom kyk hulle nie na hóm nie? Demmit! Hy is die een met die fokken pistool!
Die drie skote links van hom klink byna soos een. Hy voel weer glas in sy gesig spat en dan word sy linkerbeen onder hom uitgeruk en hy val met sy nek skeef teen die roomyskas. Hy gryp sy been vas; die pistool kletter op die vloer en skuif onder ’n rak met blikkieskos in. Is daar dan ’n vierde bliksem? Daar is veronderstel om net drie te wees!
Hy rol om, probeer hom agter die roomyskas inwikkel, sukkel om die lewelose been agter hom aan te sleep. Daar’s nie pyn nie. Nog nie. Net ’n bloederige streep op die grys Marley-teëls tussen blikkies spaghetti-in-tamatiesous en rooiboontjies wat agter hom aanrol. Waar de hel is sy backup?
Dan knal nog skote … dit moet nou hulle wees.
“Super! Jan Doep!”
Superintendent Jan du Plessis maak sy oë oop. Hy kyk ’n oomblik verward rond. Hy is dan in ’n motor en buite is dit nag. “Hû?” Sy linkerhand is soos ’n klou krampagtig om sy knie geklem.
“Wat’s fout? Slaap jy?”
Hy kyk verleë na Mac wat met ’n geamuseerde glimlag oor die rugleuning van die voorste passasiersitplek na hom loer. Hy hét geslaap, maar verdomp of hy dit gaan erken aan hierdie maergat wat hom so smalend aankyk. “Nee, Mac, ek slaap snags,” brom hy. “Dis hierdie verdomde koue en die nattigheid wat my knie weer hel gee.”
“Jy sal moet gaan dat hulle ’n nuwe, blinke insit, jy kan nie so aanneuk nie,” sê speurder-inspekteur Mac Stevens, sy blou oë steeds ondersoekend op die kort, stewige man met die bruin borselkop en die stekelrige borselsnor wat in die hoek van die motor vir die koue probeer wegkruip. Sy hande nou diep in sy windbaadjie se sakke, sy nek soos ’n skilpad in die opgeslane kraag weggetrek.
“Ja, ja,” sê Jan en sug. “Jy klink soos my vrou. Ek het op M-Net gesien hoe doen hulle dit. Dis erger as beesslag.”
Die jong man agter die stuurwiel lig sy pet met sy een hand, krap sy kortgesnyde swart hare en loer met ’n ondeunde glimlag in die truspieël na Jan. “Sup, hulle sê jy moet net sorg dat hulle nie die ghriesnippel vergeet nie. Hulle sê partykeer squeak die ding soos ’n geroeste skarnier, dan gee hulle jou net ’n oil-check en ’n ghries en dan is jy weer oukei.”
“Boeries, het jy ’n ghriesnippel in jou bek?” sê Jan en sien hoe die jong oë in die truspieël vinnig weer die pad opsoek.
“Nee, Sup. Hoekom?”
“Dis omtrent al van jou wat permanent beweeg, of ghries jy dit sommer so met al die stront wat jy praat?”
Die voorste twee glimlag vir mekaar, en dan is dit, benewens die grondpadgeruis en die sporadiese klop van ’n klip wat teen die onderstel opspat, ’n ruk lank stil in die motor.
“Die lyk, gisternag by Merriespruit?” vra Mac sonder om weer om te kyk na sy kollega op die agtersitplek, en toe Jan net ’n steungeluid laat hoor, sê hy: “Moenie worry nie, ons sal die bliksem kry.”
“Wat maak jou so seker?”
Mac lig sy regterhand met ’n selfoon daarin. “Sakkie het gebel,” sê hy. “Sy’s gistermiddag saam met ’n ghrieskop by die Swallows weg. In ’n blou Jetta.”
Jan knik. “Ek hoop so!”
Stilte.
“Daai is een baie siek blikskottel,” brom Mac.
“Hoe ver nog?” verander Jan die onderwerp, sy oë stilstarend op die mistroostige winterlandskap. Hy het vir eers genoeg gehad van gisteraand se dinge. Dalk is die probleem waarheen hulle nou onderweg is ’n mooi skoon moord met lekker baie leidrade wat môre al opgelos kan word.
Mac gooi ’n stuk kougom in die asbak, suig lug deur sy kiestande. “Die eerste crime scene is nog so tien k’s verder op hierdie pad.”
Jan kyk na die skraal agterkop met die slierte blonde hare wat onder ’n pet uitsteek. “En die tweede een?” vra hy toe Mac nie gou genoeg na sy sin voortgaan nie.
“So twee kilo’s verder op ’n tweespoor-plaaspad wat afdraai van dié een.”
Jan sit weer terug teen die kussing en kyk hoe die motorligte aanskuif oor witgerypte velde en gestroopte mielielande. ’n Stroper staan verlate aan die kant van ’n lap grys mielies, sy kake grynsend gerig op bleek mieliekoppe wat koponderstebo aan dooie plante hang. Die mielievretende rooi monster is toegegooi met ’n glinsterende wit rypkombers. Die flou winterson begin nou kol-kol deur die mistigheid breek. Donker groepe bloekoms word soms sigbaar om dan net weer te verdwyn, soms ook die swart gedaantes van vee wat kop omlaag met hulle agterente na die wind staan en herkou.
Dis koud, vrek koud! Die ryp lê soos kapok en glinster in die kolle waar die son deur die mis breek. Jan wikkel dieper in die sitplek in. “Is die heater aan, Boeries. Ek vrek hier agter.”
Die jong man stel aan die truspieël. “Ja, Sup, full blast.”
“Dit help ook fokkol,” brom Jan en trek sy windbreker stywer om hom vas. Hy vryf met hernude ywer oor die litteken wat hy deur sy langbroek aan die binnekant van sy knie kan voel, probeer die been reguit maak. As die knie net ’n slag wil klap, demmit!
“Verdomde koue,” brom hy weer en vee ongeduldig met die agterkant van sy hand die nat koue uit sy snor en dan die wasem van die kantruit af.
“Ontspan, Jan, ons is nou daar.” Mac haal ’n pakkie Gunston uit sy hemp se sak. “Wil jy rook?”
Jan leun vorentoe en vat ’n sigaret uit die pakkie wat Mac oor sy skouer uithou, bly dan vooroorgeleun wag totdat die aansteker se vlam uit die speurder se vuis spring.
“Ta,” sê hy en blaas die rook na die kajuit se dak. Hy begin hoes, so erg dat hy begin hyg. Hel! Daar was laas nag te veel sulke siegrets uit te veel verskillende pakkies.
“Sup, my oupa het net so gehoes voordat ons hom ingespit het,” soek Boeries weer van voor af skoor. Hy ken superintendent Jan du Plessis al baie jare; het feitlik voor hom grootgeword. Jan en sy pa was in ’n stadium visvangpelle, toe Jan en sy broer At nog saam konstabels in Virginia se kantoor was.
“Kak grappie, Boeries Freislich. Ek weet ek moet die verdomde goed los. Dis net dat hierdie koue …”
“Waarheen gaan hierdie grondpad nou eintlik?” vra Mac aan Boeries.
“Wesselsbron se rigting, maar die crime scene is nie naby die dorp nie. Lyk my dáár voor is nou iets.” Boeries beduie met sy kop na waar blou ligte vaagweg deur die mis gesien kan word.
Jan leun vorentoe. Stadig kom die toneel in sig. Twee polisievoertuie met flitsende ligte en ’n groot ou swart 280 SE Mercedes met oop deure staan langs die pad. “Hou so naby moontlik stil. My knie is te vol stront om ver te loop,” brom hy.
Hy sukkel uit die motor toe Boeries die handrem vastrek en hink oor die los klippe en gruis-sinkplaat na die gebied wat toegespan is met ’n geel lint. Lede van die misdaadondersoekeenheid is by die Mercedes besig.
“Koos!” roep Jan van ver af, wink toe die polisiemanne na hom omkyk.
Kaptein Koos Grundlingh kom nader gestap met ’n weermagjas styf om sy lyf gevou, ’n glimlag op sy breë gesig trek sy oë op skrefies onder sy pet se rand. “Jan Doep, my ou maat! En vir wat is my gunsteling-poot vanoggend weer op so ’n stywe been? Ek het jou lankal gesê jy moet daardie knie ’n nuwe skarnier laat insit.”
“Ja, ek weet,” antwoord Jan binnensmond. “Jy sê so, my vrou sê so, én Mac, én Boeries …” hy skud die bevelvoerder van die ondersoekgroep se hand, “… én om die waarheid te sê elke dom donner wat al van die operasie gehoor het sê so. Wat het hier gebeur?”
“Plaasaanval,” sê Grundlingh en draai weer om na die Mercedes, “of liewer, ’n mislukte plaasaanval. Dit was veronderstel om die getaway te wees dié. Die drywer was die gelukkige een.”
“Die gelukkige een? Nou wat maak hom so gelukkig?”
“Hy leef nog, maar ook maar net.”
“Ek lei af dat daar ongelukkiges ook is?”
“Ja,” antwoord Koos oor sy skouer terwyl hy ’n ent wegstap, sukkelend met sy gulp en die dik swaar jas se pante.
“Fok, Koos!” sê Jan vies, hink stywe been agter hom aan. “Ek weet dit is moeilik vir jou om met ons gewone platpote te kommunikeer, maar sê vir my net so min of meer wat gebeur het. Ek belowe jou, die res sal ek self probeer uitvind.”
“Daar was vier,” beduie Koos met die een hand in die lug terwyl ’n geel straal stoom laat opslaan uit die gerypte gras langs die grondpad. “Die drywer en nog drie. Die afdraai na die teikenplaas is so honderd meter verder. Tussen die afdraai en die opstal is die ander drie in ’n bloekombos voorgelê. Die drywer moes hier gewag het. Volgens die spore het iemand hom hier kom haal en ook bos toe gevat.”
“Bos toe gevat? Wat het in die bos gebeur?”
Koos grynslag terwyl hy stywebeen aangestap kom en sy gulp toetrek. “Gaan kyk maar self, as jy dit kan vat. Die bos is so ’n kilo verder, nie ver van die opstal af nie, maar ek waarsku jou dis nie mooi nie.”
“Ag hel, Koos, ek het al alles gesien. Wat het daar gebeur?”
Koos sit sy hand op die speurder se skouer, buk vlugtig vooroor asof hy wil seker maak dat iemand nie agter Jan wegkruip nie, en kyk sy kollega dan vierkant en gemaak besorg in die oë. “Kom ek stel dit so, Jan, ou seun, ek hoop nie jy het ’n duur Wimpy-ontbyt gehad nie, want jy gaan dit aflaai daar in die bos.” Hy gryns vermakerig. “As jy vir my ’n lift het, ry ek saam en gaan wys jou.”