Читать книгу Tou - Piet Steyn - Страница 8
4
ОглавлениеJan wag totdat die tante klaar koffie geskink het, lekker sterk uit ’n groot ketel met ’n sak wat op die Aga-koolstoof staan en prut.
Dis waar hulle die twee ou mense gekry het: voor die Aga in die kombuis, knus om ’n houttafel met ’n witgeskropte blad en op Globestoele wat kreun en kraak met elke beweging, terwyl hulle die eerste beker koffie stadig proe teen die koue daar buite. Twee groot rooi boerboele wat saam met hulle ingestap het, het hulle tuisgemaak op streepsakke voor die stoof. Toe hy hulle sien, het Jan onmiddellik gedink aan die sak vergiftigde vleis tussen die hoop wapens in die bloekombos. Hulle sal seker nooit weet hoe gelukkig hulle was nie.
Oom Gys en tant Babie Cilliers. Hulle wou niks weet van dié gekombuissittery met gaste nie en wou opsluit oorskuif na die “voorhuis”. Op die speurders se aandrang het die kombuis gewen.
Op ’n kleiner tafeltjie langs die Aga staan ’n groen nerfaf erdeskottel, toegebind met ’n wit doek – hulle kan die ingesuurde deeg vir die dag se broodbakkery ruik. Op die stoof self staan ’n swart pot met poetoepap en jy kan ook ruik dat daar reeds ’n stuk vleis in die oond is. Jan sluk swaar. Die geur wat uit daardie oond kom, laat ook die boele op die streepsakke lê en kwyl. Daar was nie vanoggend tyd vir koffie of ontbyt nie, dit was nog donker toe hy by die slikdam weg is om Mac en Boeries in Welkom te gaan oplaai.
“Julle gaan sekerlik ontbyt eet voordat julle ry, Sersant,” sê die tante. “Nog koffie?”
“Nee dankie, Mevrou.” Hy sit sy koppie neer. Komende van die tannie met die vriendelike gesig klink selfs “Sersant” reg. “Ons moet terugkom by die stasie.”
“Nonsens, ou seun! Ek het klaar pap gemaak en die ribbetjie is feitlik reg.”
Jan loer onderlangs na die ander twee speurders. Hulle gesigte sê net een ding: Hou jou bek! Moenie te hard probeer om ordentlik te wees nie. Poetoepap en skaapribbetjie!
Verbeel hy hom of kwyl Boeries meer as die twee rooi boerboele?
“Dan is dit maar reg, Mevrou. Baie dankie, dit ruik lekker.”
“Ou seun, noem my sommer tant Babie.” Sy druk selfbewus aan die stywe grys bolla op haar kop. “Hier by ons op die vlakte voel ons nie baie vir titels en daai klas van dinge nie.”
Jan knik en kyk na die man met die bruingebrande gesig, die spierwit voorkop en bles waar die son nooit kom nie. ’n Vaal hoed met ’n swartverkleurde sweetband lê langs ’n kromsteelpyp en vuurhoutjies. Langs die broodblik lê ’n leesbril op ’n Bybel wat met bruinpapier oorgetrek is, die rugkant vuil gevat deur baie gebruik. Hy sit met sy elmboë op die tafel, groot vereelte hande gevou om ’n beker waaruit die stoom stadig opkrul. Sy oë kyk nikssiende na ’n kombuiskas met bottels ingelegde perskes, terwyl hy saggies slurp aan die beker warm koffie.
Jan staar na die Bybel en wonder oor Levitikus 24:17. Miskien is dit nie die regte tyd om te vra nie, maar … “Meneer Cilliers …”
“Sommer oom Gys, Superintendent. Jy hoor mos wat sê die tante.”
“Oom Gys,” begin hy weer, “hier was amper laas nag lelike dinge. Jy en die tante is seker baie dankbaar vir wat daar in die bos gebeur het.”
Die ou man sug en sit die beker neer. Hy maak sy pyp brand, skud die vlam van die vuurhoutjie dood en gooi dit in die kolekas langs die stoof. “Ja, ou seun,” sê hy met ’n sug. “Ek weet nog nie so mooi wat gebeur het nie, maar ons is die Here dankbaar dat Hy ons behoede het. Ek verstaan van die polisieman hier buite dat dit maar ’n morsige affêre was, daar in die bos.”
Jan knik. “Die vraag is nou net wie is verantwoordelik vir die slagting in die bos. Het Oom enige idee? Plaaswag, kommando-lede, of enige bure wat tot so iets in staat is.”
“Die ander poliesman het my ook gevra, maar ek het g’n idee nie. Ek wens ek het geweet, want ek sal hulle graag wil bedank. Ons is ons lewens en wie weet wat nog alles aan hulle verskuldig.”
“Ja, Oom, ’n mens voel om elkeen ’n medalje te gee, maar jy kan nie die reg in eie hande neem nie. Wat hulle gedoen het, wie dit ook al is, maak van hulle kriminele, nie helde nie.”
“Jy is seker reg, maar as dit nie vir hulle was nie …” Die ou man se waterige, sonverbleikte blou oë soek op Jan se gesig rond asof hy daar antwoorde sal kry.
“Dit is die SAPD se werk om sulke mense te vang, oom Gys. As ons vigilante-optrede toelaat, sal die land in chaos verval.”
Jan sê dit, want hy weet hy moet. Hy is ’n geregsdienaar en dit word van hom verwag om dit te sê. Hy weet in beginsel dat dit wat in die bos gebeur het nie reg is nie, maar … Hy maak sy been met ’n gesukkel reguit onder die tafel. Klik-klak!
“Ou seun, jy moet met daardie been nader aan die stoof skuif, die hitte sal help,” sê die tante besorg. “Jy moet rou ertappelskywe opsit saans, dit trek die gif uit.”
Jan glimlag, dit klink vir hom na ’n beter raat as Boeries se ghriesnippel-storie. “Nee wat, Tante, hy’s orraait, aartappels is nou te duur.”
“Gys, jy moet vir die manne ’n paar sakkies ertappels saamgee.”
Die ou man knik ingedagte, en vra dan die vraag wat Jan geweet het hy gaan vra: “En waar was die SAPD laas nag, ou seun? Of twee weke terug toe hulle die mense op Bloupan vermink en verkrag het soos ’n spul mal honde? Hulle het arme ou Willie se vingers afgesaag, net om uit te vind van die kluis se sleutel, voordat hulle ook …”
Jan skuif ongemaklik rond, maak sy knie reguit. Klik-klak! Dis verdomp beter, die stoof se hitte help tog. Hy laat die ou man se vraag onbeantwoord in die lug hang.
Buite kerm ’n windpomp se wiel in ’n wind wat saam met die son sterker geword het. Hy kan tog nie hier in hierdie warm, geurige kombuis vertel van ’n blonde sestienjarige meisie se vernielde liggaam onder ’n vaal tamariskbos in die koue veld nie? Hoe kan hy dit in elk geval vertel? Maar dís waar hy was toe die bliksems met hulle klapmusse en gewere en gif op hierdie onskuldige ou mense wou toesak. Of moet hy hulle liewer vertel van die tekort aan mannekrag wat ontstaan het omdat mense gedink het misdaad sal ná vier-en-negentig vanself ophou; van die hordes goeie polisiemanne wat die Diens verlaat het omdat dit onmoontlik geword het om met ’n pistool in ’n toegeknipte holster misdaad te bekamp, of van die manne wat uit frustrasie en oorwerkte stres hulle eie lewe geneem het …
“Het … het Oom-hulle die afgelope tyd probleme met werkers gehad?” vra Mac en onderbreek sy gedagtegang.
“Nee, glad nie. Ek is nie meer vandag se kind nie en het my boerderybedrywighede baie afgeskaal, verhuur die lande aan Hannes Vosloo, my buurman. Eintlik hou ons net ’n paar melkkoeie en ’n slagding of twee vir ons eie gebruik aan. En die groentetuin, natuurlik. Ons het net ’n paar ouerige werkers oor, wat al jare by ons is.”
“Enige vreemdelinge, of enige iets verdags gesien die afgelope paar weke?” vra Boeries.
“Nee.” Die ou man suig ingedagte aan die pyp, sy amperse grys oë op skrefies getrek in die rook wat teen sy gesig optrek. “Nie wat ek van weet nie.”
“Gys, vertel hom van die oproep,” sê die tante wat besig is om porseleinborde met ’n blommetjiesmotief voor hulle neer te sit. Boeries staan op en vat ’n hand vol messe en vurke by haar. Die messe se beenhewwe donker verkleur van die ouderdom, die lemme dun geslyp van jare se gebruik.
“Watter …?” Gys Cilliers kyk vraend na sy vrou, onthou dan skielik. “O, ja. Ek het al daarvan vergeet. So ’n maand gelede het ek ’n snaakse oproep gehad.”
“En?” por Jan toe die ou man stilbly.
Die ou boer krap met sy pypsteel in die yl grys hare aan die kant van sy kop. “Ek probeer nou om te onthou wat hy alles gesê het.”
“Wit of swart man?”
“Nee, hy was wit. O ja, hy het gesê hy is van die Vrystaatse Landbou-unie se veiligheidsafdeling. Hulle was glo besig met ’n opname op die plase, en het min of meer dieselfde vrae as julle gevra.”
“Hoe bedoel Oom?”
“Wou ook weet van die werkers op die plaas, hoeveel ons het, waar hulle bly, sulke tipe van dinge.”
“En van ou Jantjie se seun,” val die tante hom in die rede. Sy haal die swart pot se deksel met ’n vadoek af en roer die pap met ’n houtlepel. Die krummelpap se effens aangebrande geur vul die kombuis.
“Hû? O ja! Hy wou weet wat het van ons trekkerdrywer, Jantjie, se seun geword.”
“En wat hét van hom geword?” vra Jan.
“Ek het nie meer werk vir hom gehad nie, en moes hom laat gaan.”
“Wat is sy naam?”
“Elliot … Elliot Mabaso.”
Jan kyk na Mac wat in ’n sakboekie aantekeninge maak. Hy wag totdat die speurder klaar geskryf het en vra: “Het Oom probleme met hom gehad?”
“Nee wat, nie juis nie. Hy was in elk geval nie meer lus vir boer nie. Wou Welkom toe, op die myne gaan werk. Sover ek weet, is dit dan ook waarheen hy is.”
“Is dit al wat die man wou weet?” vra Mac met sy een oog op ’n vet skaaprib wat Boeries op ’n houtbord uitmekaar sny. Die tante is besig om in ’n pan met sissende botter eiers te breek.
“Ja, ek het nie daardie tyd gedink daar is iets verkeerd nie.”
“En sy pa? Jantjie.”
“Ek en hy het op Driefontein saam grootgeword. Saam kaalgat geswem in die dam, saam kleiosse gebou en kleilat gegooi.” Hy glimlag dromerig. “Saam slae ook gekry, van sy ouers én van myne.”
“Is hy nog steeds op die plaas?”
Die ou man kyk in die venster se rigting van waar die son nou ’n stofbespikkelde streep oor die plankvloer begin gooi. “Ja, Superintendent. Hulle sal ons ook eendag saam hier op Driefontein moet begrawe, dáár by die langbome op die rif. Waar die ander almal ook lê.” Hy bly ’n oomblik stil, selfs die kromsteel vergete in sy krom vingers. “Hy sal nou-nou die melkemmers bring, dan kan julle self met hom praat.”
“So, Oom-hulle oorweeg dit nie om maar dorp toe te trek nie?” vra Jan.
Die ou man trek sy skouers reguit. “Daar is nie ’n manier nie,” sê hy beslis. “Ek en die tante het dit al lankal uitgepraat. Hierdie plaas is al drie geslagte in ons familie, die een wat ons hier wil afhê, moet ons maar hier kom afhaal.”
“Dis veiliger op die dorp, Oom. Het julle kinders? Kan julle nie by hulle gaan bly nie?”
“Net twee. Die dogter is in die Kaap en die seun werk in Kanada. Albei is getroud, met hulle eie lewens. Sien hulle maar min.”
Die koeie roep by die kraal na hul kalwers. Seker die einste Jantjie wat nou klaar gemelk het en hulle nou uitjaag veld toe, dink Jan.
“Hulle sal nie kom boer nie,” verbreek die ou man die stilte, sy stem nou sag met ’n effense kraak, sy oë vogtig.
“Los dit nou maar, Gys. Kom ons eet eers, die kos is reg,” sê die tante terwyl sy die pap van die Aga na die tafel verskuif. “Gaan roep een van julle die arme man hier buite, foei tog. Hy is seker al dood van die honger.”
Die speurders staan al drie gelyk op, kyk na mekaar, en dan loop Boeries na buite en Jan en Mac gaan sit weer.
“Beteken die woorde ‘Hof onder die Kruis’ vir Oom-hulle iets?” vra Jan.
Die ou man kyk vraend na hom, dan na sy vrou wat haar kop skud. “Nee, daar was jare terug ’n Kerk onder die Kruis, Oos-Vrystaat se wêreld,” sê hy. “Is dit belangrik?”
“Nee wat. Oom Gys, ek sal dalk later weer met jou moet praat. Laat julle gedagtes maar ’n bietjie gaan. Vir nou is dit egter genoeg.”
“Ja, dis reg, kom ons ogies nou eers,” sê hy toe Boeries en die konstabel in uniform hul stoele raserig oor die plankvloer inskuif. Die ou man laat sak sy kop op sy bors, die tante se hand in syne. Hy bid ’n algemene tafelgebed, maar net voordat hy “amen” sê, huiwer hy en voeg ’n bykomende sinnetjie by: “Dankie dat U oor ons gewaak het in hierdie nag …”