Читать книгу Tou - Piet Steyn - Страница 9
5
ОглавлениеPine was tot eenuur die oggend aan diens sodat Ann ook ’n slaapkans kan kry. ’n Vuil doek en twee leë bottels getuig van sy toewyding. Hy is behoorlik vaak, dit is eers ná ’n geklop en ’n gevryf en gebid vir ’n wind, in enige rigting – boontoe of ondertoe – dat hy Tiaan uiteindelik aan Ann kon oorgee en hom terugtrek na die spaarkamer sodat sy gesnork hulle nie pla nie. Vir ’n paar uur baie nodige slaap. Maar toe pla die stoeplig hom, en die bure se brak aan daardie kant van die huis blaf heelnag vir sy gat! En toe hy uiteindelik sy oë toemaak en die slaap hom wegvoer … toe kom die donner met die een been weer.
Die maanlig val in silwer bane deur die donkerte. Die bome se blare is uit silwer foelie gesny en dit skitter en ritsel as die wind pla. Selfs die stamme van die bome glinster silwer en saam met die ligte geritsel bring dit ’n helder rustigheid. Maar dan die donker gedaante met oë wat heldergeel skyn en die silwer verdring. Die wind begin ruk en maal, blare word opgeswiep, takke met harde knalle afgeruk. Uit die kop van die swart gedaante skiet vuurtonge, soos uit ’n vulkaan. Die rooi lawa skiet by die tandelose bek uit, voer ’n figuur met die gesig van ’n mens mee. Die mens spring op net een been in die kokende stroom rond en word dan in die grond in weggesleur, sy mond ’n gapende gat waaruit ’n klanklose kreet skeur …
Pine ruk regop, hy is natgesweet en sy asem jaag. Hy is heeltemal gedisoriënteer, en dit duur ’n ruk voordat hy die mure herken, die stoeplig agter die gordyne … Tiaan huil by Ann in die slaapkamer. Hy kantel die Timex aan sy pols na die dowwe gloed wat deur die gordyne val. Sesuur. Amper tyd om op te staan. Hy vat ’n sluk water uit die glas op die kassie voor die bed en lê terug op die kussing. Watse helse droom was dit al weer? Weer die man met die een been! Wie de donner is hy?
Pine Pienaar swaai sy bene van die enkelbed met die knopperige matras. ’n Oomblik sit hy so met sy gesig in sy hande en probeer die dag in perspektief kry, staan dan op en loop sleepvoetend kombuis toe. Hy vat die Spar-sak met die vorige dag se vuil doeke, roep die worshond wat ingewurm onder sy kombers in sy kassie lê en maak die agterdeur oop. Die dag is besig om te breek. In die ooste skeur die son hom los van die swart horison, gooi ’n oranje streep teen vlieswolke.
“Toe, Vlooi! Plassie, dis bleddie koud hier buite.” Die hond verken met sy neus teen die grond die hele agtertuin; besluit dan in elk geval om sy been teen die witstinkhout se stam te lig – soos elke oggend.
Pine gooi die sak in die asblik, haal ’n hand vol mieliegruis uit ’n plastiekemmer onder die afdak en skiet dit oor die stukkie grasperk – vir die bosduiwe en die tortelduiwe en enigiets anders wat mielies wil vreet. Dis sy stukkie boerdery, al wat oorgebly het van sy kinderjare op die familieplaas in die Vrystaat. Hy loer weer na die Timex. Dit is omtrent hierdie tyd soggens dat sy pa altyd die primus met brandspiritus geprime het en dan begin pomp het. Die son sal ook nou begin om reguit blink strepe deur die misbank tussen Pramkop en Kanonkop te trek en die rots bo-op Vingerberg in goud verander. Hel, hy mis die plek!
Behalwe ’n tiptol wat in die koraalboom ’n paar huiwerige fluite gee en die brak langsaan wat steeds staan en lug hap, is dit nog stil in die woonbuurt. Dit is asof die Goudstad asem ophou voordat die swart kombers van die nag luidrugtig weggeruk word sodat die lig kan skyn op die oorblyfsels van die nag se kwaad. Die sirenes begin gewoonlik min of meer dié tyd weer met mening skree; as die sonstrale in die donker stegies begin rondkrap.
Pine en die worshond stap terug deur die agterdeur, die hond draf stertswaaiend na die kas in die hoek vir die Marie-beskuitjie wat hy soggens kry. “Jy’s bleddie bederf,” brom Pine wanneer hy die koekie in die hond se bek sit.
Hy gaap terwyl hy die ketel vol water maak, krap onder die ou verbleikte Transvaal-rugbytrui wat nou as slaaphemp gebruik word die litteken van ’n ou skrapnelwond op sy bors. Miskien moet hy ook ’n primus kry, for old times’ sake. Hy wonder of ’n mens die goed nog kry? Miskien by ou Wazar se deurmekaar winkeltjie in Fordsburg. Gedagtes bly deur sy moeë verstand tuimel terwyl hy wag vir die elektriese ketel om sy deuntjie te sing.
Koffie is al wat nou sal help om hom uit die newels van te min slaap te ruk – sterk en pikswart, vol van daardie heerlike, skadelike goed wat die slim mense kafeïen noem. Hy gaap weer lank en tydsaam en vryf die stuk pens wat tussen die trui en die verbleikte oefenbroek uitsteek, pluk dan die broek hoër op en loer na die horlosie bokant die yskas.
Dit gaan ’n lang dag wees. In die slaapkamer protesteer die klein mannetjie en Ann sus en fluit om hom te kalmeer. Pine vee oor sy dik, rooi, slaaphonger oë en stoppelbaardwange. Hy sal moet skeer ook, direkteur Lucky Boy bleddie Khumalo met die blink suit beskyt homself as hy so by die stasie opdaag!
Tiaan wou van die begin nie aan sy ma drink nie en Ann sukkel om vir hom die regte formule te kry. Die klein stront! Wat dít betref aard hy beslis nie na sy pa nie. Die oumas noem hom ’n koliekbaba, maar die slim pediater sê hy het net krampies. Wat ever dit is, hy wat Pine is, kry verdomp nie geslaap nie. Nie met Tiaan se geskrou en die afbeenbliksem wat nie wil vrek en klaar kry nie.
Hy steek die kromsteel op. “Buite of in die kombuis,” was Ann se orders, “ek wil die stink ding nie naby Tiaan hê nie!”
“Ja, ou Vlooi, dis maar die opofferings wat ’n man moet maak vir ’n warm bord kos elke dag,” sê hy met ’n diep sug aan die worshond wat weer in sy kassie langs die stoof onder sy kombers ingevroetel het, met net ’n swart neus en een wit oog wat uitsteek. Soos die kromsteel is hy ook uit die slaapkamer verban kombuis toe; moes die dubbelbed en Pine se warm rug verruil vir ’n Pick n Pay-kassie en ’n hondekombers. “Maar dit bly ’n bargain, of hoe?”
Die hond ignoreer hom, neem nie aan die gesprek deel nie. Sy houding sê onomwonde: Jy’t haar hier aangebring, moenie nou moan nie. Hy steun weer ’n slag en wriemel hom dieper onder sy kooigoed in.
“Pine!” roep Ann uit die slaapkamer. “Sit die Nuk-bottel met die melk in die mikrogolf en bring dit saam, asseblief!”
Die groot speurder kyk in die kombuis rond, loer in die yskas. “Waar is dit?” roep hy terug.
“Bo-op die yskas!”
“It’s not inside, it’s onnnn … top!” Hy sit die bottel in die mikrogolf, stel die knop op dertig sekondes.
Pine se sel vibreer op die kombuistafel. Kat Harmse, lees hy op die skermpie.
“Yes, Kat.” Hy staan bakarm met die selfoon teen sy oor terwyl hy kookwater in twee bekers gooi. “Nee, dis reg. Gee my ’n halfuur. Oukei, sien jou netnou.” Hy klap die instrument toe.
Die mikrogolf sê tieng!
Met die bottel, twee koffiebekers en ’n paar stukke beskuit stap Pine kamer toe. Sy insteekpantoffels se hakke sleep-sleep op die gangmat.
Ann staan en wieg ’n protesterende Tiaan in haar arms. “Sj-sj-sj … sj-sj-sj …” sis-fluit sy ’n eentonige deuntjie deur haar tande. Van die nag se gespook val haar rooi hare deurmekaar oor haar voorkop, haar oë is dik van te min slaap. Sy glimlag flouerig wanneer hy die bekers en beskuit langs haar op die bedkassie neersit. Sy vat die bottel, gaan sit in die wiegstoel langs die bed en druk die skreeuende Tiaan teen haar bors vas. Toe hy die warm tiet van die bottel in sy mond voel, is dit soos ’n kraan wat jy toedraai.
“Dankie fokken tog,” prewel Pine.
“Het jy darem geslaap gekry?” vra sy heserig.
“Ja, lekker,” lieg hy ter wille van haar. Hy soen haar op die voorkop en vryf saggies oor Tiaan se swart haartjies.
Sy gryp sy groot harige hand en druk dit ’n oomblik teen haar wang vas. “Wie’t gebel?”
Hy vryf sag met die agterkant van sy wysvinger oor haar wang. “Kat kom my oplaai, ek sal moet gou maak.”
“Ons kom nie meer bymekaar uit nie, ou grote … Jy moet versigtig wees.”
“Moenie worrie nie, ou girl. Ek is te bang om dapper te wees,” probeer hy haar gerusstel, maar sy maag maak ’n draai as hy dink aan die implikasies van haar woorde. Hy is deesdae, met Ann en Tiaan in die huis, baie meer bewus daarvan dat die statistieke van polisiemanne wat aan diens geskiet word teen hom moet tel. Soos ou Giel altyd gesê het: “’n Man se beurt is jou beurt …” En toe kom sy ou vriend se beurt daar in daardie verskriklike dennebos in Mpumalanga. Bliksem! Sal daardie beelde hom dan nooit los nie. Hy staar nikssiende in sy koffiebeker. Is dit waaroor sy droom gaan? Hy gryp vererg sy handdoek van die stoel se leuning af, sit die koppie op die bedkassie neer en stap badkamer toe.
“Jou koffie!” roep Ann agter hom aan.
“Laat dit maar eers bietjie koud word!”
In die storthokkie draai hy net die koue kraan oop en die yskoue water is soos naalde op sy vel. Hy snak na sy asem, woel die seep in sy oksels en sien hoe die skuim oor sy maag en teen sy bene afloop. Sy gedagtes tas weer na die nag wat verby is, na Tiaan se seswaaipie-doeke, na die bure se stoeplig en sy droom. Dis nie Giel se bos nie, dink hy. Dis nie die bos met swart stamme en skerp blaarnaalde en ’n man sonder duime teen ’n boom nie. Hierdie bos is kalm en rustig, die stamme van die bome is wit en die blare skitter en vonkel silwer as die wind daardeur gaan. Maar dan daardie monster!
Pine pluk sy kop heen en weer, asof hy die gedagtes saam met die water wil afskud, draai die kraan toe. Bog. Dis die bangmaakstories van ’n kind! Hy stamp die stortdeur oop, reik na die handdoek.
Maar die man met die een been … Wie is daardie donner? En laas nag was dit die derde keer dat hy natgesweet wakker geskrik het nadat daardie ou in sy kop rond gehinkepink het.
***
“Jy lyk maar lekker kak, ou pel,” sê Kat toe Pine langs hom inskuif.
Pine gaap. “Mmm,” brom hy terwyl hy die twak in die Keyser se kop met sy duim vasdruk.
Kat hou die man met die breë brandewynbottelskouers en die ylerige swart borselkop uit die hoek van sy oog dop. Iets pla sy ou pel. Die blou denim en bruin windjekker wat hy aanhet, lyk of hy daarin geslaap het. Dalk is daar fout met Tiaan. “Hoe gaan dit met die laaitie?” vra hy.
“Goed,” sê Pine kortaf. Hy krap in ’n vuurhoutjieboks rond na een wat nog ’n kop het.
“Slaap julle al deur?” Kat probeer hard om ’n glimlag te ontlok, maar Pine beskou dit ooglopend as ’n simpel vraag wat nie ’n antwoord werd is nie.
“Eintlik mag jy nie in die kar rook nie, dis staatseiendom,” sê Kat skoorsoekerig toe Pine die vuurhoutjie oor die boksie se swaelkant laat kras.
“Gaan skyt, Kat,” grom hy tussen blou rookwolke deur. “Jy’s nie Ann nie. Verwag jy, of het jy dalk ’n baby op die agterste sitplek?”
Kat sit sy donkerbril op. Hy vee ’n slag sy welige swart snor met die agterkant van sy hand uit sy mondhoeke, eers links, dan regs, voordat hy die Toyota met die geel en blou strepe in rat druk en vinnig wegtrek.
Beddings oranje Namakwalandse madeliefies en plate geel affodille in die tuine langs die straat flits verby. Die grasperke se bleek wintergras en rypkolle weerkaats die son verblindend en Pine skuif sy donkerbril van sy voorkop na sy oë. Hy skuif die Z88 gemakliker op sy heup. “Waarheen is ons nou eintlik op pad?” vra hy met die kromsteel vasgeknyp tussen sy tande.
“Vrededorp. Daar hang ’n paar perde aan hul nekke.”
“Ag hel.” Pine sug en lê terug in die sitplek. “Ek aanvaar hulle is van die tweebeensoort, anders was dit ’n joppie vir die SPCA.”
“Slaap jy, ek sal jou roer as ons daar kom.”