Читать книгу Tou - Piet Steyn - Страница 13

9

Оглавление

Met sy voete op ’n lessenaarlaai en hande agter die kop, sit Jan Doep met ’n oop Bybel op sy skoot. Hy het pas ’n vers rooi onderstreep en sit nou ingedagte die nuwe dag deur die venster en aanskou. As dit nie vir die wind was nie, was dit nou ’n lekker helder wintersoggend in Welkom. Die son het vroeg al van die ryp ontslae geraak, maar toe kom dié koue suidewind, vol kunsmis en bogrond van die plase na Wesselsbron en Hoopstad se kant af, en trek soos ’n stuk growwe skuurpapier oor alles – jy vóél hom as jy dit buite waag. Kyk hoe staan die span werkers wat gestuur is om die polisiekantore se erf te kom skoffel, styf teen die muur om uit die wind te kom, hande diep in die sakke en voete stamp. ’n Vuurtjie van kasplankies en leë sementsakke help darem ook om die koue uit die vingers te trek. Dié dikbek wind kry sy byt in die Suid-Vrystaat. Hy wil nie weet hoe dit dáár geryp het nie, dalk selfs gesneeu.

Jan Doep ril, maar dis nie net weens die koue nie; sy kop is ook met die Bybelvers besig, Levitikus 24:17: Iemand wat moord pleeg, moet die doodstraf kry. Moord met ’n religieuse ondertoon, dís waarmee hulle hier te make het. En gewoonlik hou dit nie op voordat baie mense gesterf het nie – dink maar aan die Charles Manson-moorde in Amerika in die laat jare sestig. ’n Leier, so mal soos ’n kolhaas, begeester ’n aantal mense met sy “profetiese visie”, en dan buit hy hierdie mense se passie vir die saak uit. Dis ’n wonder jy sien nie meer sulke dinge hier in Suid-Afrika nie. Met die eskalering van geweldsmisdade en die voortdurende oproepe om die doodstraf terug te bring, kan ’n sekte op grond van Levitikus 24:17 so onstuitbaar word soos ’n brand wat deur ’n sterk wind in lang wintergras voortgedryf word – ’n wind soos wat vandag waai.

Jan lê terug in die stoel en tel die Bybel op. Of gaan haal hy nou die bobbejaan agter die bult? Dis tog nie Amerika dié nie.

Met ’n ge-brrr en ’n geblaas op hulle hande kom Mac en Boeries by die deur ingewaai en gaan staan weerskante van die asbesverwarmer voor die lessenaar. “Fokkit, hierdie wind is te koud vir kroeks vang,” kla Mac, sy wange rooi geblaas deur die wind. Hy het ’n ligblou gebreide mus met ’n donkerblou rand laag oor sy oë pleks van die pet wat hy gewoonlik dra.

Jan skuif terug in die stoel, maak sy been reguit. Klak! Dis beter. Die verwarmer is ’n seën. ’n Skielike rukwind laat die vensterraam ratel; jaag plastieksakke, dooie grassnysels en ’n rolbos in ’n stofvlaag in die teerstraat af. Jan knik in die venster se rigting. “Jy kan altyd gaan spit, dan kan jy ook teen ’n lekker warm muur in die son gaan staan en bak. Wat’s julle so opgewonde?”

“Ons kom nou net van die bestuurder van die Mercedes af,” sê Mac, “en jy sal nooit raai nie.”

Jan beduie na die deurmekaar lessenaar voor hom. “Mac, sien jy hierdie papiere? Ek is besig, wat is jou storie?”

Mac gee ’n hoesie in sy vuis, beduie na die deurmekaar lessenaar. “Ons moet vir Boeries leer skryf,” sê hy, “dan kan hy die papierwerk doen en ek en jy kan die land se misdaad uitroei.”

“Mac, dit help nie hy kan net skryf nie. As jy hier sit, moet jy kan skryf én lees én dink ook nog.” Jan stoot die dossiere eenkant toe. “Kom sit, kêrels.” Hy beduie na die twee stoele voor die lessenaar. “Het julle darem met die bestuurder van die voertuig gepraat gekry?”

“Ja, en hy is niemand anders as onse eige Elliot Mabaso nie.”

“Elliot wié?” Jan se voorkop trek plooie. “Waarvan praat jy tog nou, Maccie?”

“Man, die plaaswerker wat oom Gys laat gaan het, sy trekkerbestuurder se seun, onthou jy?”

Jan Doep wys ongeduldig met ’n oop hand dat Mac moet voortgaan.

“Hy kon blykbaar nie werk op die myne kry nie, toe vat hy maar die job as drywer vir die plaasaanvallers.”

“Wat het hom dan daardie nag so skrikgemaak?”

“Jis, Jan, ja, dis ’n snaakse spul hierdie. As wat hy sê waar is, het ons met ’n soort Ku Klux Klan te doen. Kussingslope oor die kop, die lot.” Maar dan het die Levitikus-ding tog sin! dink Jan. ’n Sekte-moord is dalk nie so vergesog nie.

“Vertel, Mac, demmit!” snou Jan ongeduldig. “Wat sê hy?”

“Volgens hom het hy eintlik niks met die hele aanval te doen gehad nie.”

“Maar my magtag, dink hy ons is ’n klomp dom ape?” Jan steek ’n sigaret aan en hoes die rook uit. “Die spore, die vingerafdrukke in die bleddie Mercedes, alles verbind hom met die drie wat geswaai het.”

“Hy reken hy het nie geweet waarmee hulle besig was nie; het net die kar bestuur.”

Jan word deur ’n hoesbui oorval; kom rooi in die gesig regop, hyg.

“Super, my oupa …”

“Fok, Boeries, ken jy nie ander grappe nie?” knip Jan die jong polisieman kort. “Hierdie is ernstige sake.”

“Eintlik praat ek van my ander oupa. Hy het die taaisis gehad.”

“Dis oukei, solank dit net nie Aids was nie,” sê Jan, beduie dan ergerlik met die sigaret na Mac. “Mac, gaan aan. Wat sê hy?”

“Volgens hom het hy net daar gesit toe twee mans in swart klere hom uit die kar gepluk het en na die bos gesleep het.”

“Wit of swart mense?”

“Hy het nie ’n clue nie.” Mac sit met sy enkel op sy knie en speel met sy skoenveter. “Hulle het iets soos swart kussingslope oor hulle koppe gehad met gate om deur te sien. O ja, hy sê hulle het elkeen ook ’n riem om die nek gehad met ’n kruis aan.”

Jan se wenkbroue maak vraagtekens. “Kruise?”

“Ja, houtkruise.”

“Mmm … die Hof onder die Kruis. Kon hy nie iets van hulle pratery aflei nie?”

“Hy sê hulle het nie juis gedurende die hele episode gepraat nie. Nie een van die twee wat hom uitgepluk het, of die ander twee in die bos nie. Net een het gepraat, seker die leier.”

“So, daar wás vier van hulle. En toe?”

“Soos ek gesê het, hulle het hom bos toe gesleep waar die ander drie reeds vasgemaak en met toue om hulle nekke gestaan het.”

“Klaar gehang?”

“Aikona, dit moes nog begin! Hy is staan gemaak soos die uniformtak hom gekry het, met die tou om sy nek. Toe het hulle ’n soort van ’n hofsaak gehou, die ander drie die doodstraf gegee en toe een vir een opgetrek.”

Jan vee met sy hand oor sy gesig. “Blikskottel! G’n wonder hy het koekoes geword nie. Seker gedink sy beurt kom nog.”

“Die vraag is, hoekom het hulle hom nie ook gehang nie,” merk Boeries op.

“Miskien om die boodskap uit te dra, ek weet nie,” sê Mac. “Vrees is sulke mense se beste wapen, maar ek het ook ’n ander teorie.”

“Mac reken die ouens is dalk onderbreek,” sê Boeries. “Miskien het iemand in die pad verbygekom en moes hulle spore maak.”

Jan druk die halfgerookte sigaret dood, haal weer die pakkie sigarette uit sy hemp se sak, besluit daarteen en gooi dit op die lessenaar neer. “Dit is ’n moontlikheid, maar ek dink nie hierdie perde skrik sommer nie.” Hy krap tussen die papiere rond en haal ’n forensiese verslag uit en gee dit vir die twee speurders aan. “Die ballistiese toetse van die plaasaanvallers se wapens het gekom. Dit is dieselfde wapens wat gebruik is in die ander aanvalle wat in die gebied plaasgevind het.”

Mac blaai deur die verslag. “Daar is drie mense dood in daardie aanvalle.” Hy gee die verslag aan vir Boeries. “So, wat dink jy het gebeur?” vra hy vir Jan.

“Dié Elliot-kêrel, die ou wat die kar bestuur het, hy het nie, soos die ander, een van daardie klagstate by die manne met die kruise gekry nie. Ek dink dit beteken ons kan hom glo dat hy nog nie gemoor het nie, dat dit sy eerste keer was. Die pêre het ’n simpel sin vir regverdigheid en hulle maak hom toe net skrik.”

“Hel, Jan, as dit so is, het ons hier met ’n soort boendoehof te make.” Mac haal sy voet van sy knie af, sit vooroor en vryf opgewonde oor sy dye, kyk eers na Boeries en dan na Jan terwyl hy praat. “Lyk my dis ’n klomp selfaangestelde laksmanne wat hulle slagoffers eers verhoor, vonnis en dan ophang. ’n Ou kan maar sê ’n vigilantebende met klas. ’n Oog vir ’n oog, daai tipe ding.”

“In hierdie stadium kan dit enigiets wees,” sê Jan met min uiterlike tekens dat hy Mac se opgewondenheid deel. “Miskien is dit net botsende belange tussen twee bendes …”

“Ma …”

“Maar ek twyfel.” Jan laat Boeries gapend sy woorde sluk. “Die woord ‘Levitikus’ maak vir my ’n verskil. Ek het ’n nare voorgevoel hieroor.”

“Jy bedoel jy like nie die idee dat daar ouens is wat hierdie helsems op hulle moer gee nie?”

“Mac,” sê Jan skerp, “kom ons veronderstel hierdie is ’n groep wat, soos jy daar sê, ter wille van reg en geregtigheid misdadigers uithaal. Punt nommer een: Ons praat hier van misdadigers wat die polisie self nie kon opspoor nie. So, die Kruis-spul is nie onnosel nie. Weet jy hoe donners moeilik gaan dit wees om húlle vas te trek? Punt nommer twee: Met plaasmoorde is jy outomaties tot by jou ore in die politiek in. Hierdie storie gaan dadelik as ’n swart-wit-ding gesien word.”

“Ja, oukei, Jan, natuurlik.” Mac kyk vlugtig na Boeries, interpreteer sy jong kollega se grootoog-staar as ondersteuning, en rig hom weer met oorgawe tot Jan. “Maar ten minste het ons hier te make met mense wat nie roof en moor om hul eie gatte te verryk nie. Hier het ons vir ’n slag ’n bietjie van ’n ander spin op die bôl.” Die troebel blik waarmee Jan na hom luister, laat Mac effens stoom verloor. “Oukei, oukei, vang moet ons hulle vang,” sê hy, en vervolg met heelwat minder bravade: “Ek meen, wat hulle doen, is onwettig …”

“Dis die punt, Mac!” Jan speel weer besluiteloos met die sigaretboksie, haal dan een uit en steek aan. “Dis die punt. Wat hulle doen, is onwettig. En omdat daar ’n moerse klomp mense is wat soos jy daaroor dink, gaan ons die vark in die verhaal wees wanneer ons hulle vang.”

Mac sak afgehaal terug in sy stoel, loer van onder sy mus se rand na Jan. “Jy weet darem hoe om op iemand se bêterie te pie,” mompel hy. “Maar dis mos nou nie iets wat ek daar buite sal loop staan en rondvertel nie.”

Jan Doep vat ’n diep teug aan sy sigaret en blaas die rook ingedagte na die plafon. Boeries skuif tot op die punt van sy stoel, sy hande op die punte van die armleunings. Hy kyk afwagtend na Mac, dan na Jan, en toe geeneen van hulle blyke gee dat hulle op hom ag slaan nie, staan hy op. Dis moeilik om die jongste te wees! Hy stap met die verslag teen sy ken na ’n kennisgewingbord met foto’s, verslae en sketskaarte van misdaadtonele. Hy buk effens om een van die foto’s te ondersoek, die liggaam tussen vaal wintergras, half onder ’n lae tamariskbos. Hy weet waarna hy kyk – die lyk van die meisie wat onder die Merriespruit-slikdam gekry is. Sy moes min of meer so oud soos sy suster, Baby, gewees het. Fokkit, Baby met haar lyf wat nou so uitskiet en daardie oordosis hormone. “As daardie Kruis-ouens eerder hierdie etter wil bykom …” Hy druk met ’n wysvinger op die foto, draai om na Jan en Mac, maar bedink hom dan. Hy staan nog ’n paar tellings na die foto en kyk. “Hof onder die Kruis klink soos die Aryan Brotherhood,” sê hy dan.

Jan druk die halfgerookte sigaret tot ’n vraagteken in die asbak, tussen ’n hoop ander vraagtekens. Hy staan stram op en hink om die lessenaar om langs Boeries te gaan staan. Hy sit ’n hand op sy skouer. “Ou seun,” sê hy vaderlik, “daardie skarminkels waarvan jy praat, is ’n tronkbende. Hierdie spul is baie meer gesofistikeerd en met ander doelstellings en metodes. En hulle maak bitter min foute.” Hy vat die verslag by Boeries. “Kyk hier,” hy blaai deur die verslag en tik dan met sy vinger op ’n bladsy. “Volgens die voetspore is selfs hulle skoene dieselfde. Hi-Tec-stapstewels wat jy in enige winkel kan koop. Die kar se bande is standaard Firestones vir ’n vier-by-vier, niks snaaks nie. Dalk ís dit nie eers ’n vier-by-vier nie.”

“En die klagstate op die bors?” vra Boeries.

“Dis van gewone karton wat jy in enige boekwinkel koop. Die ink is Penguin Indelible, swart. Geen vingerafdrukke nie.” Jan gaan sit, haal weer ’n Gunston uit die pakkie op die lessenaar en sit dit onaangesteek in sy mond. “Kon die drywer vir ons ten minste ’n beskrywing van hulle klere gee? Behalwe dat dit swart was?”

Mac tel sy voet op sy knie. “Hy sê nog steeds nie veel nie,” sê hy. “Ek glo nie hy kan onthou wat hy self aangehad het nie.”

“Watse wapens het hulle gehad?”

“Hy weet nie baie van skietgoed nie,” sê Mac, “maar uit wat hy beskryf, moes dit semi-outomatiese aanvalsgewere gewees het, hè, Boeries?” Hy draai om om met Boeries oogkontak te maak, swaai dan weer terug. “Uzi’s of so iets. Volgens hom het elkeen ’n pistool en ’n mes ook gehad.”

Jan haal die sigaret uit sy mond en tik met die agterkant op die lessenaarblad. “Kêrels, hierdie is nie sommer net ’n gang nie. Wat julle beskryf, klink na iets uit ’n FBI-fliek, ’n soort Swat-span of so iets.”

Die ander twee sê niks, hou net Jan se tikkende sigaret dop.

“Is die ander drie slagoffers al geïdentifiseer?” vra Jan.

“Nog nie,” sê Mac, “maar hulle is beslis onwettige immigrante.”

“Twee Zimbabwiërs en een Mosambieker,” sê Boeries, bly vir die geleentheid om ’n bydrae te maak.

“Ons is in kontak met Buitelandse Sake,” sê Mac. “Hulle kyk of hulle meer kan uitvind.”

“Ai.” Jan vee met sy hand oor sy gesig. Hy draai skuins in sy stoel sodat hy by die venster kan uitkyk, sy oë op die spits dak van die Oppenheimer-teater se baksteen-kloktoring wat tussen die ander geboue in Welkom se sakesentrum uitsteek. “Ai.” Hy tik met die sigaretfilter op die lessenaarblad. “Agter hulle sit ook iewers weer ’n klomp gesiglose bliksems wat alles organiseer. Ek dink nie hierdie drie kon alles self beplan het nie.”

Boeries kom sit weer en hou sy hande na die verwarmer uit. “En die vyf by die St. Helena-myn?” vra hy en kyk skuins op na Jan.

“Dit is dieselfde spul wat dit gedoen het, geen twyfel nie. Daardie plek is so verlate,” Jan wikkel sy skouers, “dat niemand iets gesien het nie.” Hy haal ’n groen Bic-aansteker uit sy hemp se bo-sak en beduie daarmee na sy twee kollegas. “Dieselfde met die moorde in Jo’burg, dieselfde spul.” Hy laat die vlammetjie opspring, beduie na die Gunston in sy mond. “Boeries, ek wil niks van jou oupas se siektes hoor nie, dis my longe dié.” Hy steek aan en blaas die rook na die plafon, dié keer sonder om te hoes.

Buite huil die suidewind. Al drie polisiemanne kyk ’n rukkie deur die venster na die vlae rooi sand en tuimelende papiere in die straat. Dan draai Jan terug en kyk na Boeries. “Wat het in any case van hom geword?” vra hy.

Boeries kom agter Jan praat met hom. “Van wie?” vra hy verward.

“Jou oupa, Boeries, die een met die taaisis. Het hy hom ook doodgerook soos die ander een?”

Die jong man se gesig verhelder. “Nee, Super, hy het nie gerook nie,” sê hy stroperig. “’n Bus het hom getrap.”

Jan loer deur die rook na hom. “Nou wat de hel het dit met my rokery te doen? Of was jy net lus vir kak praat?”

“Nee, niks nie, Super. Dis net dat die busbestuurder besig was om ’n sigaret aan te steek en toe sien hy nie my oupa wat oor die pad geloop het nie.”

Sonder om sy blik van Boeries te laat wyk, haal Jan die sigaret uit sy mond en tik met die filter op die lessenaarblad. “Mac,” sê hy dan gedrae, “vat hierdie mannetjie hier uit, voordat ek hom moer.”

Die twee speurders skop hul stoele met groot gebaar agteruit en maak asof hulle vreesbevange uit die kantoor wil storm.

“Wag!” roep Jan hulle terug. “Mac, ek dink jy moet weer uitry na oom Gys se plaas. Vertel hulle van Elliot, dis nou te sê as hulle nog nie weet nie. Maar hulle het intussen dalk aan nog iets gedink.”

“Dalk kry ek weer ribbetjie, of skaapboud met rys en aartappels.”

“As jy nou ’n slim poot wil wees, bel en maak ’n afspraak vir môre net voor middagete. Jou kanse vir skaapboud is dan goed.”

“Ek moet seker saamgaan?” vra Boeries hoopvol.

“Jy, mannetjie, gaan saam met my,” sê Jan. “Ons gaan ook na ’n plaas toe, net ’n ander een.”

“Nee, maar dis maar reg so, Sup,” sê Boeries gemaak gedienstig. “My pa is mos ’n skatryk myner; ons eet elke Sondag skaap-boud. Waarheen gaan ons?”

“Ek het ’n afspraak gemaak met die voorsitter van die Vrystaatse Landbou-unie se veiligheidsafdeling.” Jan krap op sy lessenaar rond, die sigaret skeef in sy mondhoek, die rook lastig in sy linkeroog. “Ag, hel, waar is dit?” sê hy geïrriteerd, haal ’n stuk papier onder die asbak uit. “Hy is ’n meneer Danie Ferreira en sy plaas is …” hy hou sy leesbril los voor sy oë, “Magdalena, anderkant Bothaville.”

“Boer hy met skape?” vra Boeries.

“Hoe moet ek weet? In daardie wêreld is jou kanse beter vir kaboemielies.”

“Wat is dit?”

“As jy nie weet wat dít is nie, lyk dit vir my jou pa is wragtig ’n ryk myner! Ons ry môreoggend agtuur.” Jan staan op en haak sy windbaadjie van die stoel se leuning af. “Kom eers kantoor toe en dan ry ons van hier. Soek vir ons ’n kar uit, een met ’n heater wat werk.”

Tou

Подняться наверх