Читать книгу Katvoet - Riana Scheepers - Страница 11

Die braamsloot

Оглавление

“Die ounôi vra of die kleinmies water wil hê.”

Sy moes nie opgekyk het nie. Sy moes net blindelings gereageer en gesê het ja, asseblief tog, bring vir my water, dan sou daar dalk iets wonderliks met haar gebeur het.

Sy kon ’n engel gesien het.

Of ’n spook.

Of dit waarna sy juis op daardie oomblik gesmag het, kon gebeur het. ’n Erdekan met helder, koel water wat vir haar aangedra word. ’n Kruik wat sy kon oplig en oor haar oop mond laat tuimel om te sluk totdat sy genoeg gehad het, en nóg water uit die koel dieptes daarvan laat uitloop het, oor haar gesig, in haar nek af tot in die holtes van haar sleutelbene en af oor haar lyf in hierdie helse hitte.

Maar nee, toe luister sy na die vrou se woorde, na al die anachronismes en die ouderwetse hoflikheid en afgedwingde rassismes in die een enkele sin, en sy vererg haar vreeslik en kyk op, reg om te sê: “Ek is nie jou kleinmies nie. Niemand op hierdie plaas noem my kleinmies nie. En waffer ounôi wil vir my water gee!”

Toe is daar niks. Nie ’n mens nie, nie ’n engel nie, nie ’n spook nie. Nie ’n kruik vol koue water nie, nie eens ’n plastiekbottel vol louerige kraanwater nie. Niks. Net die stem wat sy baie, baie duidelik gehoor het. Met presies dié woorde: “Die ounôi vra of die kleinmies water wil hê.”

Toe sy ná maande en weke se gekerm en kla en mooivra en soebat by haar man en die werksmense steeds niemand kry om die werk te doen nie, omdat daar régtig elke keer noodsaakliker dinge is om te doen, toe vervies sy haar en klim self in die braamsloot in.

Die sugvoor is aan die oostekant van die opstal. Te oordeel na die woesteny en chaos wat geil en groen daar woeker, is dit dekades lank nie skoongemaak nie. Raas het sy geraas, met al die werksmense wat skuldig of onskuldig was, al die mense wat vóór haar koms op die plaas reeds daar gebly en gewerk het.

“Dit is die mooiste deel van die plaas wat julle toegelaat het om só te verwilder!” het sy kwaai vir oom Jantjies gesê. “Ek is nou drie jaar op hierdie plaas, en al wat ons vir drie jaar lank doen, is skoonmaak en regmaak!”

Oom Jantjies is die oudste man op die plaas. Hy, wat altyd ’n woord terug te gooi het, kon nie eintlik iets vind om te sê vir die knaende vrou nie, maar stilbly kon hy darem ook nie.

“Die wingerd en die klipstene op hierdie plaas het al ons tyd gevat, ons kon nie nog die sloot ook skoonmaak nie,” het hy haar teruggesê. Maar sonder veel oortuiging.

“Nie sóveel tyd dat die brame moes kans kry om alles oor te vat nie,” het sy gekap.

Albei het geweet dat hulle na woorde hap, die braamsloot was die vorige eienaars se nalaat. Die vorige eienaars en hul mense.

Natuurlik het sy geweet dit gaan hel wees, maar toe sy besluit om die sloot te vat, gaan sy voorbereid vir die taak. In die hitte van die hoogsomer trek sy ’n langbroek en stewels aan, smeer ’n dik laag handeroom oor haar hande en trek tuinhandskoene aan. Sy gaan met ’n stewige snoeiskêr en ’n knipper met lang handvatsels wat ver en sterk kan sny. En ’n handsagie en ’n hark en ’n kapmes en ’n bottel yskaswater, alles op ’n kruiwa gelaai.

Sy het nog nooit ’n plek gesien waar die brame só groei dat die stingels met amper haar polsdikte in die olienhoutbome opklim nie. Die braambosse wat sy al in die tuine van haar lewe aangepak het, was makkerig vergeleke hiermee, dit kon met knip en sny en doodspuit gewen word. Hier was gifspuit uit die kwessie, daar was te veel ander plante wat in die proses sou vrek; die olienhoute wat op die wal gegroei het en honderde jare oud was, hul stamme grys en kromgetrek en pragtig, die plate aronskelke, watsonias, bloublomsalie en alles wat mens maar net in die woesteny kon vermoed, want die braam het oral ingetrek en alles toegemaak. Dit was nie net vir spuit en klaar nie, hierdie werk sou outyds en deeglik gedoen moes word. En dit moet nóú gedoen word. Sy kon sien hoe die brame aan die punte van die stingels in gloeiende, rooi trossies juweeltjies gehang het. Binnekort sou dit swartryp en sag word, reg vir saad afgooi en vir die voëls om te vreet en die viriele, vrugbare pitjies uit te tjorts om nóg meer braambosse en werk vir volgende jaar te maak.

Die inkom in die sloot is nie so moeilik nie, deur die jare het die werksmense die klein klipbrug oor die sloot en die gebied reg rondom die bruggie skoon gehou. So ver soos mens met een handreikte vanaf die brug kon skoonsny, ten minste.

Sy klim af teen die skuinste van die wal en bevind haar oombliklik in ’n koel oerwoud, die molm van modder en plantmateriaal klam en sponserig onder haar voete, ’n prieel van bome en braambessies in al die skakerings van karmosyn bo haar. Voor haar is ’n takkerige boskasie, brame en blare en takke.

Sy begin sonder plan en metode sny, knip net ’n beweegruimte voor haar oop. Vir die spul knippers en harke en kapmesse wat sy saamgesleep het, is daar nie plek nie, kom sy gou agter, daar is net ruimte vir haar en die snoeiskêr.

Sy vorder stadig. Elke stuk braamloot wat bokant haar kop afgesny word, moet versigtig aarde toe gebring word; die dorings haak aan alles vas, skeur die aronskelke wat op die bodem van sloot groei se breë blare, haak aan haar klere, haar handskoene. Sy kom agter dat dit beter werk om kort stukkies van die dik lote af te sny eerder as om die lang slierte los te trek.

Die handskoene help, maar dit help ook maar niks, die brame se winkelhakies steek dwarsdeur die bedekking, krap haar hande dat dit soos vuur brand. Vir ’n kort wyle bly sy staan, pluk versigtig ’n paar swart brame af en prop dit in haar mond. Sy oorweeg om die werk maar te los, te wag tot daar wel iemand beskikbaar is om hier in te klim, maar toe vat sy duiwel. “Bliksem, néé!”

Die hele middag lank werk sy in die sloot, onsigbaar vir iemand wat dalk buite verbyloop, sy vorder tree vir tree vorentoe. Die grond onder haar voete kry ’n groen bedekking van stukkies doringtak en blaar, sy is dankbaar vir haar stewels. Sodra sy ’n stuk mosaïek van doringstingel en droë hout losgesny het, skoongesny het tot op die bodem, kry sy dit wel reg om die braamlote teen die grond af te knip. Later, as die nuwe spruite weer uitloop, sal dit maklik met ’n handpomp gespuit kan word; die volgende man wat hier inkom, gaan nie probleme hê om finaal op te ruim en skoon te maak nie.

Teen die einde van die eerste middag, toe sy terugloop op haar spoor van verwoesting en redding, kan sy sien dat sy tóg vordering gemaak het. Maar daar lê nog baie ure voor. Sy kan nie die hele dag in die sloot staan terwyl daar ook ander werk is nie.

Sy sal smiddae werk, besluit sy, en sy sal skoonmaak totdat sy by die twee palmbome in die kromming van die sloot uitkom, dan sal sy stop, dan kan iemand anders oorneem. Die hemelhoë palmbome in die sloot se elmboog is ’n baken op die plaas, dit troon meters bo die ander bome uit. Oud is hulle, minstens twee eeue oud, het iemand wat iets van dié soort ding weet op ’n keer gesê. Niemand weet waarom iemand juis dáár twee palmbome sou geplant het nie, dit is ’n deel van die plaas wat onbewerk en wild staan.

Iemand ánders het weer gesê: Gaan kyk maar, as daar twee palmbome staan, is daar ’n huis. Of daar wás, gaan soek na die oorblyfsels of fondasies, jy sal dit kry. Want die ou mense het ’n huis gebou en dan sommer dadelik twee palmbome geplant, netjies simmetries weerskante van die voordeur. Liefde en Hoop is die bome genoem, in hoop op liefde en genade. Palmbome was Victoriaans en deftig en groot mode, niemand het tóé gedink aan inheems en eie nie. Die inheems en die eie het buitendien geil genoeg oral rondgestaan, waarom nóg van dieselfde soort aanplant?

’n Huis dáár? het sy gedink. So weg van alles? Van die oorblyfsels van ’n huis was hier nie sprake nie. Of as dit daar was, wie sou weet, die brame het dit welig en deeglik toegegroei.

Dit is teen die tweede dag dat sy die goed in die sloot begin ontdek. Goed, allerhande goed, al die vergrype en verneuke van die verlede wat ’n laaste rusplek, wegsteekplek in die sloot gekry het.

Eerste, en met gereelde tussenposes, die gesteelde drankbottels uit die wynkelder, nou leeg gedrink en vaal van jare se modder en stof en aanpaksel. Die meeste bottels se etikette is reeds af, verweer deur water en wind, maar sommige met nog steeds flardes taai papier teen die glas vasgeplak. Plek-plek kan sy sien watter wyn in die bottel was, selfs die jaartal en die variëteit. Hoe dieper sy in die sloot indring, hoe ouer word die bottels. Ook ander bottels word opgediep, die stukkende glasflesse uit ’n gaanderij waarin daar eens groenvye en kwepers was, medisynebottels, asynbottels, ronde flessies vir salf en smeergoed van lank gelede. Ook plastieksakke wat bros verkrummel die oomblik dat sy dit optel, besoedeling wat in ’n duisend onoptelbare stukkies breek, ou waterpype en bakstene, selfs ’n verweerde goiingsak styf toegebind met ’n stuk bloudraad. Dié tel sy op uit die slik, dit maak ’n suiggeluid toe sy dit uit die modder trek, asof die aarde weier om dit wat aan hom toevertrou is, terug te gee. Sy is te bang om dit oop te maak, skielik doodseker wat sy daarin sal vind: die bros, yl gebeentetjies van ’n pasgebore baba, of ’n fetussie se fyn skelet.

Gek, sê sy vir haarself . . . jy word gek.

Sy trek die sak effe opsy. Nee, sy sal dit nié oopmaak nie, laat dit maar sy morsige geheim daarbinne hou. Sy dra dit ook nie aan die einde van die dag, toe sy moeg en haar hande en voorams branderig gekrap is, weg saam met die ander rommel wat sy opdiep nie, maar los dit net daar, die baken wat die einde van haar dag se arbeid aandui.

Die derde dag loop sy gemaklik tot by die goiingsak, trap versigtig daaroor, bang om met haar stewel daaraan te raak, en begin van nuuts af sny aan die oerwoud om haar. In twee dae het sy ’n tonnel oopgesny, die sloot word weer ’n sloot, dit kan selfs binnekort mooi wees.

Sy kom agter dat sy elke dag, haar eie gedagtes as enigste geselskap, in ’n ander metafoor dink. Die eerste dag, toe die oerwoud van groendorings en braamliaan nog dig en misterieus om haar gehang het, was dit die romantiese, arkadiese beelde van die landbouers uit die Middeleeue wat in haar kop gedraai het. Tóé was die braamstruike niks anders as klein konfytflessies vol diepdonker wildebessiekonfyt nie, of braamlikeur in lang flesse wat in ’n vensterbank staan en die purper van eeue weerkaats. Toe was sy ’n vrou wat in die laatsomer haar mandjies vul om die duister van die winter met wilde vrugte te besweer, die herinnering en die noodsaak van ’n oorvloedige somer. ’n Somer gevul met arbeid op ’n landery, dans en musiek en menslike kontak in ’n milddadige son.

Die tweede dag was haar kop gevul met die idilliese Edenbestaan van ’n oerwese in ’n geurige woud vol skakerings van groen en water. Sou die oermens hom in hierdie braamsloot ingedring het, honger en op soek na die geurige, soet bessies om sy dieet van wortel en knol af te wissel? Het sy harige vel hom beskerm teen die dorings, of het hulle buite gebly? Wat het die oermens gemaak in ’n seisoen sonder vrugte? Hoe het hulle oorleef? Aan mammoete take het sy gedink, die dreunsang van ’n hoërskoolonderwyser wat hulle aanmoedig om vas te byt:

Hoe eet mens ’n olifant op? Stukkie vir stukkie; jy begin en jy eet olifant, elke dag ’n stukkie . . . Hoe sny mens ’n braamsloot skoon, het sy saamgedreun, stukkie vir stukkie, elke dag ’n stukkie . . .

Dit is die derde dag, die dag toe sy vergeet om ’n bottel water saam te vat, dat sy begin dink aan braam-mense. Mense wat braambosse is, flambojant en kwasterig en onaantasbaar, en hoe weerloos hulle eintlik is. As jy die moed het om ’n braam en ’n braam-mens aan te val en te sny, dan kom jy agter hoe sag die lote is, jy sny hom tot in sy murg, tot daar van dorings en bravade baie min oorbly. Sy kén sulke mense.

Sy dink ook aan die mense wat voor haar op hierdie plaas gebly het, reeds drie eeue voor haar binnetrede op dié stuk grond. Die pioniers wat braamstruik en wildernis en Boesman en leeu en olifant aangedurf het om ’n blyplek oop te kap en te boer. Wat die onheil agter ringmuur en kleimuur probeer hokslaan het, die kwasterige karakters van hierdie plaas, wat sy in die geskiedskrywing leer ken het: Van Rostok, Van Rooijen, die vurige Anna Lategaan . . .

Dit is warm buite, sy is ontsettend dors. Omdat sy nie meer die hark en die knipper en die ander goed met die kruiwa aanpiekel nie, het sy ook vergeet om water saam te bring. Dis te ver om huis toe te gaan net vir ’n glas water, as sy nou loop, kom sy nie weer terug nie. Sy eet ’n paar brame, probeer vergeet van dors.

Vir die eerste keer sedert sy in die sloot begin werk het, tel sy ’n parfuumbotteltjie op. Aanvanklik het sy geen idee wat dit is nie, dit is eers toe sy dit versigtig teen haar broekspyp begin vryf dat die sierlike klein flessie met sy elegante hals en slank rondings onder die kors aangepakte modder uitkom. En toe tel sy nóg een op, feitlik op dieselfde plek waar die eerste een was. ’n Ander flessie, ronder van buik, maar ewe swierig.

Ek tel nou ander goed op, besef sy, dis ’n ander era se rommel dié. Voor haar in die sloot doem die stamme van die twee palmbome op. Haar eindpunt, sy is besig om deur te breek.

En dit is tóé dat sy dit hoor. Helder en duidelik die stem van ’n vrou wat bo-op die wal staan en vir haar sê: “Die ounôi vra of die kleinmies water wil hê.”

Dit kon Katryntjie gewees het, Katryntjie wat in die huis werk. Of Nicci of Sabiena of Lena, enigeen van die vroue wat parstyd in die wingerd werk.

Maar dit is nie een van dié vroue nie, want niemand praat só nie.

En sy vervies haar vreeslik vir die mens wat met ’n taal praat asof daar nie ’n nuwe, ander tydperk aangebreek het nie.

En sy kyk op.

En daar is niemand nie.

En sy is heeltemal verstom, want sy het haar dit nié verbeel nie.

Sy loop nie terug in die helse sloot wat sy oopgesny het nie, sy klouter teen die skuinste van die sloot op, tot bo-op die wal, sodat sy kan kyk waar die vrou is wat met haar gepraat het en water wou aandra.

En dit is toe sy afkyk, bietjie bewerig van skok en hitte en hallusinasie, dat sy dit sien: die ruwe konstruksie van klip en rousteen, in ’n lengte van agt tree by ses, reg op die plek waar sy staan.

Katvoet

Подняться наверх