Читать книгу Katvoet - Riana Scheepers - Страница 9

Ek op pad. En ’n hond

Оглавление

wat sal doodgaan as ek nie nóú ry nie!” sê ek en vat die sleutels by my man en sit die bewerige skaaphondjie op ’n kombers aan die passasierskant van die bakkie neer en klim aan die ander kant in en los my man met die sagte oë en ons verlore vakansie in die Tankwa-Karoo net daar en rý. My man maak die plaashek agter my toe, ek hoor nie eens hoe hy vir my sê pasop vir die draai en die sloep by Bizansgat nie, want ek weet ek moet versigtig by die bedrieglike draai en die glipperige sloep van Bizansgat.

Ek vat die grondpad terug Kaap toe.

Na ’n veearts toe.

Ek, wat nie eens van honde hou nie. Huil so ver soos ek ry. Oor my man wat agterbly tussen die koel klowe onderkant Gousbloemhoogte en oor die hond wat nou al vir dae lank nie eet nie en koorsig is en besig is om onder my hande dood te gaan en oor die Tankwa-Karoo met sy doringbome vol blomme wat soos ’n omhelsing om my vou en waaruit ek verskriklik wegry.

Ek op pad. Terug. En ’n skaaphond met die naam Tankwa. ’n Skaaphond wat in die Tankwa gebore is en hier in die Tankwa bly en skape oppas. ’n Hond wat van vreugde blaf en rondhol elke keer dat hy my maar net sien. ’n Hond wat lag met ’n bek vol liefde, vir my, ek wat nie van honde hou nie.

Ek ry weg van die lieflike klipkoppe van Klipkraal en die groen rivierlope van die Koup waar dit ’n paar maande gelede eers 82 mm en toe weer 50 mm gereën het. Weg uit ’n skitterende landskap. Ek daal af van die winderige hoogtes van Bizansgat en sy omgooi-draai na die lae, bloedstil hitte van die Bokkeveldvlakte, Hangklip se bobbejaanberg ’n vasgebrande baken op die vlak. Ek ry by Windheuwel en Droëloop verby, af na Kareekolk.

En stop. Om die hond wat rukkerig en vol koorsige asemstote langs my lê ’n bietjie water te gee. Wat hy nie wil hê nie.

Ek klim uit die bakkie, in die hitte in wat soos ’n golf oor my spoel.

Moenie doodgaan nie, hond, sê ek vir die hond wat smekend in my oë kyk en vir my sê hy wil liewer doodgaan, dit sal makliker, genadiger wees as

Néé, sê ek, néé. Jy fluister nié in my oë en sê vir my dit wat jy nou sê nie, ek ry nie verniet hierdie helse alleenpad op ’n godverlate vlakte met jou nie, weg van my man wat vir ons kamp opgeslaan het onder die bloeiende soetdoringbome in ’n koel rivierloop.

Om my lê die Bokkeveld se helse verlate vlaktes, die Sederberge ’n blou oerdier in die noordweste.

As jy hier op my doodgaan, hond, vergewe ek jou nooit, moet nie dat alles waarin ek glo vandag sy asem hier uitblaas nie, onder die soetdorings het my man vir ons ’n bed staan gemaak met koel linnelakens. En ’n melkbankie aan mý kant vir ’n glas water in die nag. Vannag brand hy ’n houtvuur in ons huis sonder dak. Vannag slaap hy alleen onder sterre en doringbome, vannag lê die Skerpioen oor hom.

Lag liewer vir my, Tankwa, hol soos ’n mal ding rond en spring my vol modderspore, my klere vir die res van die dag vuil, moet net nie doodgaan nie, moenie

Ek ry ’n alleenpad, daar is nie ’n siel, nie ’n motor, nie ’n donkie of ’n skaap of ’n slang in sig nie. Nie vir ’n duisend kilometer om my heen nie.

Deur die Karoopoort tot op die teerpad. Agter my lê ’n stofspoor wat swaar en dik in die lug bly hang. Ek ry langs die langste vyelaning in die hele wêreld, ’n groenheid sonder weerga.

My hond lê met sy kop plat teen die vloer van die bakkie. Sy lyf ruk nie meer nie.

Jy doen dit nie aan my nie, Tankwa, my hond tussen bossieveld en skaaplammers

Deur Ceres ry ek, nurkse klipkoppe en Bo-Swaarmoed se appels appelkose appelliefies, deur die stil dorp, tussen bergskeure vol uitbundige bobbejane sekelstert oor die pad, draai suid af en ry deur die bebliksemde pas wat deur mensehande uit klip gekap is

Groen berghange en varings met druppende syferwater uit die harde klip.

In die Tankwa staan die rivierlope vol soetgeurende doringbome, die veld vol wilde roosmaryn

Hou net uit, Tankwa uit die Tankwa-Karoo, hou net uit . . .

Ek vergeet van die man onder die bloeiende bome, sy hoed sweterig teen sy kop

ek vergeet van die son wat nou begin sak en Keteltjieberg se silhoeët teen die horison laat gloei

ek vergeet van skape wat aangetou kom krippe toe, water toe, kraal toe, sonder hulle hond

ek vergeet van kelkiewyne in hul verbyvlug

die plaas lê so soos ’n vrouebors in sagte deinings en koeltes, die geur van water uit ’n windpompdam

ek vergeet van ’n donkermaan en die duiseling van sterre

want ek ry deur die stil hoofstraat van my dorp reguit na die dierehospitaal wat sowaar in hierdie ongoddelike uur van kleindorpse verlatenheid oop is.

Jy is hier, sê ek vir Tankwa die skaaphond, my hond, my hond, jy is hier, jy vrek nié op my nie.

En ek dra hom binnetoe en sit hom in die arms van ’n lieflike vrou wat sê my jinne, my hondjie, kom ons kyk wat gaan hier aan.

Ek slaap alleen in ons huis onder akkerbome, my lyf koud en sonder die koestering van my man se hande, luisterend na die uile en wagtend op ’n telefoonoproep van die veearts met die mooi oë.

Wat eers die volgende oggend vir my sê: Ons opereer.

Ek ry terug Tankwa-Karoo toe. Met Tankwa wat agterbly in die hospitaal, wat nog vir ’n ruk daar sal wees, die vier skerp Karooklippe wat hy gevreet het en sy maag flenters gesny het, heelpad vasgeklem in my natgeswete hand.

Katvoet

Подняться наверх