Читать книгу Katvoet - Riana Scheepers - Страница 6

My lief vlieg

Оглавление

Die vrou wat by die see woon, lê in haar bed en luister na die nag. Die donkerte begin nét buite die ligkring van die kers wat langs haar bed op die greinhoutkis staan. Branders hoor sy, en die wind, en soms, as die miswolke laag oor die see en oor die duineveld aankruip, die mishoring wat mistroostig roep.

Bokant die stuk wilde seestrand waar die vrou woon, is daar ’n dik, vrugbare osoonlaag. Die lug ruik altyd na water wat oor klip spoel.

Met die koms van die lente ruik sy nie net die see en branders nie, maar ook die groen kruiegeur van die Weskus se bossieveld.

In die dag loop die vrou al langs die nat strook sand. Soos ’n ou, antieke onderrok se kantstrook lyk die water waarlangs sy loop; die dik, skuimerige borduurkant van ’n jonkvrou se ondergoed.

Die vrou kyk op in die lug en tel die voëls wat sy om haar sien.

Daar is baie soorte, sy ken nie almal nie. Die tobies is swart op die rotse en pik met rooi snawels tussen die rotsgleuwe in op soek na die skulpvis en weekdiertjies wat die laagwater oopgemaak het. Sterretjies flits met haastige beentjies oor die sand. Seemeeue kom sit krysend op haar huis se skoorsteen en krap met hul gewebde naels teen die dak.

In die duineveld langs die see is daar valke. In die nag is daar uile.

Met die eerste lentedag sien sy ook ’n wou wat laag oor haar kom sirkel om vir haar te sê dat hy terug is, terug is, terug is.

Dit is in dié tyd dat daar een aand laat ’n klop aan haar deur is. Dit is donker buite, haar vuurherd brand reeds met die gloed van ou kole en dowwe as.

Sy verwag niemand nie, maar maak tog die bodeur oop.

Voor haar staan ’n man. Hy het ’n galjoen in sy hande wat hy uithou na haar.

“Goeienaand,” sê hy en lag.

Die vrou tree terug, trek die onderste deur ook oop en staan verder tru. Sy laat hom inkom in haar warm kombuis, want dit is reg so.

Die man kom sit langs haar tafel, draai sy lyf na die gloed van die vuur.

Die vrou sit die galjoen in die wasbak neer, kom oorkant hom sit. Sy wonder nie wie hy is nie, want sy ken hom alreeds eeue lank. Hoe mooi is sy skouers, sien sy.

Lank sit hulle so, sonder om te praat. Later skink sy vir hulle bossietee, wat teen dié tyd donkerbruin geborrel in die ketel oor die vuur hang. En kaas. En ’n sny brood met botter.

Hy vertel haar van ’n lang reis, van sy verlange na die Weskus, die vreugde om weer terug te wees.

Toe die Suiderkruis en die Skerpioen skeef teen die horison van water hang, groet hy haar en stap die nag in.

Die vrou klim tussen die koel linnelakens van haar houtbed in. Sy luister na die nag. Sy luister of sy die man se voetstappe oor die klipbank kan hoor, maar sy hoor niks, net die branders wat in die nag se laaggety sy asem intrek en ophou.

Die hele lente en somer is hy by haar. As die water met die draai van die gety stil word, swem hulle uit tussen die rotse, duik af in die skoon, ysblou water. Bamboes wieg in skaduwees om hulle, hulle sien die glip van visse, soms die skugter spriet van ’n kreef wat wegtrek as hy van hulle bewus word.

Toe hulle liggame bruin is van die somer en die nagte snags ligblou is in die gloed van die melkweg, bly hy by haar sonder om weg te gaan.

Hulle leef stil, sonder baie woorde.

Snags eet hulle vis en drink wyn.

Hulle sit om die kerse op die tafel totdat die was oor die blakers drup en flakkerend doodsmoor.

Hy vat met sy vingerpunte aan haar mond.

Dit is met die koms van die herfs dat die vrou in die oggendlig iets vreemds opmerk. Sy trek haar hand, wat deur die nag op die man se skouer gelê het, saggies weg.

Onder die ronding van haar hand kry sy dit. Die ragfyn web-patroon van ’n veer. En toe hy slaapwarm omrol en met sy rug en heupe teen haar maag nestel, sien sy. Dat sy skouers lieflik en bruin is.

En vlerk word.

En toe sy ’n paar dae later teen daglig wakker word met vlerkgeruis om haar heen, weet sy dat sy weer alleen sal wees in haar klein vissershuis.

Tot die eerste dag van die lente.

Volgende jaar.

Katvoet

Подняться наверх