Читать книгу Katvoet - Riana Scheepers - Страница 7
Wonderwerk
ОглавлениеHieroor sal ek met niemand kan praat nie, selfs al het my tong reggelê vir woorde. Wie sal my in elk geval glo as ek hul vertel?
Die wonderwerk, dít is wat met my gebeur. Dit waarvoor ek al jare wag, dit waarvoor ek nagte lank op my knieë gestaan en gesmeek en geglo het, met ’n brandende hart geglo het, dit gebeur nóú.
Ek het eers laat in my lewe die woord leer ken wat my toestand beskryf: doofstom. Vir my was dit nooit ’n probleem nie. Hoekom sou dit, ek het niks anders geken nie.
My pa en my ma, hulle het swaargekry. Veral my ma, sy wat soveel ure gesukkel het om my te leer praat. Ek het haar mond sien beweeg, ek kon die ligstraaltjies in dartelende patroontjies uit haar geronde, getuite, vertrekte mond sien kom, dit het geluide gemaak wat ek nie kon hoor nie, maar ek kon dit sién. Ek het probeer, regtig, ek het my mond gerond en getuit en vertrek en my asem deur my keel gestoot, maar dit wat ek kon uitkry, het my ma se gesig laat verstar.
Sy het moedeloos geword, ná ’n ruk het sy opgehou om my gesig in haar hande te neem om my te leer geluide maak.
Waarom moes ek praat? Van kleintyd het ek geweet wat om my aangaan. Ek kon nog altyd vir mense laat weet wat ek wil hê, wat ek dink. Praat is nie die enigste manier om iets te sê nie.
Mens leer ook hoe om te luister. Jy kyk na die ligstrale wat uit mense se monde kom. Soms is daar sagte golwe, soms dans en dartel die vlokkies lig, soms is daar harde ontploffings wat uit ’n gapende mond sketter. Ek weet wat mense sê.
Ook wanneer hulle lieg. Onfeilbaar sien ek dit, daar kom ’n troebel, spoegende stroom woorde uit hul monde. Die monde lag, die oë gryns.
My wonderwerk het begin toe die mense van die tent op ons dorp aangekom het. Dit is my bejaarde ma wat my saamgesleep het. Kerkdienste, musiek, mense wat hul hande opsteek na God en verlossing.
Sy het gesmeek dat God my sal red uit die hel van stilte. ’n Man met ’n skraal gesig het sy bewende hande om my gesig gevou en sy oë opgehef.
“Here,” het hy gebid, “skenk in u genade aan hierdie man die wonderwerk van gehoor.”
Die helder stroom lig uit sy mond het reguit na bowe gestyg, wierook en mirre, ’n lieflike offergawe was sy versoek. En ek het skielik die brandende begeerte gehad: Here, open my ore.
Hy het afgekyk na my en gevra: “Glo jy?”
Ja, ek het geglo.
En lank nadat die tent afgeslaan is, en die mense verdwyn het, het ek steeds geglo. Dat God my ore sal oopmaak sodat ek kan hoor hoe dit klink as mense lag en praat. En skel en vloek en sing en neurie en troetel en bid. Op my knieë het ek gestaan en gebid en geglo.
En niks gehoor nie.
Totdat ek op ’n dag geweet het dat ek ’n teken moet gee, dat ek vir God moet wys dat ek glo. En daarom het ek my geld gespaar, elke sent wat ek kon, sodat ek by ’n winkel kon instap en ’n radio koop.
Die radio was stom. Vir jare lank, niks. Net die donkerte van eeue as ek die knoppies gedraai het.
Tot skielik, vanaand.
Ek het die radio aangeskakel. En daar was klank.
Effata, het die stem gesê, soet soos heuning, voordat ek verblindend opgeneem is in sagte arms.
Markus 7:34