Читать книгу Katvoet - Riana Scheepers - Страница 3
Die skoolhoof luister
Оглавление“Meneer,” sê die stem aan die ander kant van die foon, “ek is mevrou X. En daar is iets wat ek dringend onder u aandag moet bring.”
“Ek luister, mevrou,” sê die skoolhoof geduldig.
“Ek hoop nie u neem my kwalik nie. Ek wil nie my neus in ander mense se sake steek nie, maar ek sal my plig skromelik versuim as ek u nie in kennis stel van ’n ernstige misstap deur iemand in u skool nie.”
Die skoolhoof laat sak sy kop vermoeid. “Gaan gerus voort, mevrou.”
“Ek wil nie hê dat u my naam in die saak moet noem nie . . .”
“Glad nie, mevrou.”
“Soos u natuurlik weet, het ek nie sélf ’n kind in u skool nie, maar . . .”
“Wat is die probleem, mevrou?”
“Ek wil u laat weet dat ’n onderwyseres . . . hoe sal ek nou sê . . . ’n onfatsoenlike verhouding het met ’n skoolseun, en dit nogal in die openbaar waar almal dit kan sien . . . U sal met my saamstem dat dit tog absoluut onaanvaarbaar is!”
“Iemand van hierdie skool, mevrou? Oor wie het u dit?”
“Dit is mevrou Y.”
“Ja,” sê die skoolhoof, “sy is op ons personeel. Maar wat bedoel u as u sê dat hulle ‘onfatsoenlik’ optree, in die openbaar?”
“Wel, hulle het saam koffie gedrink . . . en toe het die onderwyseres die skoolseun gesoen! Oop en bloot, vir almal om te sien. Ek dink nie dit is veroorloof nie! Om die waarheid te sê, dis skokkend. Ons moet almal saamstaan om hierdie soort . . .”
“Het u dit self gesien, mevrou?”
“O, nee . . . dit was ’n vriendin, maar sy sou nie vir my gelieg het nie, ons ken mekaar al jare. Sy het net oorvertel wat sy met haar eie oë gesien het.”
“Dit is ’n ernstige aantyging, mevrou,” sê die skoolhoof. “Kan u vir my dalk sê wié die seun is?”
“Dit weet ek nie, maar dit was ’n matriekleerling met erekleure vir akademie en rugby. Die balkies was op sy baadjie. Ek is seker dat u met ’n bietjie navraag sal uitvind wie dit is.”
Die skoolhoof laat sak vermoeid sy kop.
“Ons gemeenskap sal nie sulke dinge toelaat nie, meneer! In die stad is dit seker aanvaarbaar, maar hier by ons sal ons nog baklei teen dit wat ’n gruwel is . . .”
“Mevrou,” sê die skoolhoof, “ek waardeer u belangstelling. Maar ek dink u maak wel ’n fout . . .”
Dit is laatmiddag toe hulle mekaar in die koffiewinkel kry. Sy wag alreeds ’n rukkie op hom. Verteder kyk sy toe terwyl hy met sy pakkies tussen die tafeltjies deurvleg na haar. Hy het die afgelope tyd breed in die skouers geword; hy is nie meer ’n seun nie. Hy kom sit langs haar. Die kelnerin neem sy bestelling.
“Het jy gekry waarna jy gesoek het?” vra sy.
Sy buk nader en kyk in die winkelsak langs hom. Die hemp en das binne-in is presies die regte kleurkombinasie en sal pragtig pas by die aandpak wat hy vir die matriekafskeid gaan dra.
Hulle drink koffie. Die gemoedelikheid vou soos ’n karos om hulle.
Toe hulle opstaan om te gaan, slaan sy in ’n impulsiewe gebaar van toegeneentheid haar hand om sy lyf. Hy buk af en soen haar.
“Dankie, ” sê hy, “dankie vir die koffie én die klere, Mamma!”