Читать книгу Katvoet - Riana Scheepers - Страница 8
Martiens Langasem
ОглавлениеAs dit nie was dat die windpomp gebreek het nie, sou ons nooit vir Martiens leer ken het nie. As die windpomp aangehou het met goed wees en water gooi, sou die stomme mens reddeloos verlate en vergete in sy graf bly lê en heeltemal grond geword het. Nou is die man waarvan ek praat weer ’n mens, hy loop hiller oordag hier tussen ons rond op die plaas en ons roep hom op sy naam. Martiens.
Al kan ons hom nie sien nie.
Ons koop ’n stuk Karoogrond op die grens van die Ceres-Karoo en die Tankwa. Dit is die mooiste, beneukste stuk klipgrond op die aardbol. Want daar waar jy dorings en klip verwag, daar sien jy op ’n dag varings en ’n plaat veldorgideë wat jou in jou spore stuit. Daar waar jy ’n sagte skaaplam verwag, daar spring ’n rooikat jou om en kronkel koperkapel om jou voorarm. Daar waar jy dink jy sien droogte en niks, daar staan die balderja in ’n groen geurigheid en roep kelkiewyn jou vir ’n kelkie wyn.
Soos dit woort, breek die windpomp kort nadat ons die plaas oorvat. Die wind waai dat dit bars, die windpomp se vlerke waai dat dit ’n vaste sirkel maak, maar die water bly onder die aarde en roggel weg in die dieptes. Ons, wat niks van windpomp weet nie, nie tóé nie, soek hot en haar na iemand wat die regte goed het om ons te kom help met die windpomp wat roggel. Maar in die Tankwa is die plase wyd en ver. Die meeste is onbewoon. Wintertyd, ja, dan ja die boere die skaaptroppe af van die eskarp sodat die diere ’n genadiger winter op die vlak kan deurbring. Wintertyd is daar op elke plaas lewe en doenigheid, die mense kuier oor en weer en dra nuus heen en weer, maar kom die eerste lentegroen, dan gaan die skaap weer vort die berg op, én die mense wat saam met die skaap loop.
In dié tyd van ’n windpomp sonder pomp kom Frikjan Losper met sy ou bakkie by ons aan, hy soek weiding vir sy paar skaap vir die somer.
Ons sê nee, hierie stuk klipplaas is darem te verwaarloos en sleg bewei deur die vorige mensdom, ons wil drie jaar laat rus. Maar intussen is die windpomp stukkend, en weet Frikjan Losper nie dalk van ’n mens wat windpomp kan werk nie?
Ja, sê hy, meneer sal dit nou nie glo nie, maar hy is daardie mens, ja, hy sal die werk doen, maar dan in ruil vir sy paar skaap se weiding vir die somer.
So erg verwaarloos is die veld nou ook nie.
Frikjan kom naweke en werk aan die windpomp.
Dit is ’n moerse gedoente, dit is nie net vir een twee drie pype uittrek en suiers regmaak nie. Die werk begin die een naweek, gaan oor na die volgende naweek. En nog naweke daarna. Elke keer bring ons nuwe pyp en suiers en wassers vir wat stukkend en weg en heeltemal vrot verroes in dieptes ingeval het. Die derde naweek gooi die windpomp ’n paar slukke droë water, maar sluk ’n uur later weer alles terug in sy lang gorrel af, die aarde in.
Terwyl die mans om die gat staan en ghriesnippels smeer en moere losdraai en weer vasdraai, loop ek die veld in. En ek sien die stawel klip, so ’n entjie weg, dit lê mooi in die dun geraamte van die windpomp se skadewee. Eers dag ek net dis ’n stawel klip. Die tweede naweek terwyl ek weer daar rondkyk, weet ek dit is nie ’n stawel klip nie, dis ’n graf. Die plat klippe wat die graf plat moet hou, is deur die stormreëns skeef gegooi, die grond is sloot gespoel, maar graf is dit graf. Veral toe ek die groot klip aan die een ent van die stawel optel van waar dit omgetuimel het, en duidelik sien dit is nie net ’n klip nie, dis ’n kopklip.
As Frikjan Losper van windpomp weet, dan weet hy seker ook van die graf?
Nee, hy weet nie.
Maar die volgende naweek, die windpomp met sy nuwe binnegoed al hygend aan die water spoeg, weet hy wel. Terwyl die manne vir oulaas moere vasdraai, sit ek die graf se klippe netjies terug op hul plek. Die scholtzbos en die kraalbos wat daarop begin groei het, trek ek uit. Die kopklip staan regop. Die graf is weer ordentlik.
Is Martiens Langasem. Hy het gehoor by sy antie Maria.
Nou wie was dié Martiens?
Mevrou sal dit nou seker nie glo nie, maar Martiens was ’n man wat water gewerk het. Op al die plase in hierdie omtes het hý die windpompe gewerk. Met ’n donkiekar waarop sy gereedskap was, het hy van plaas tot plaas gery en windpomp se pype opgetrek en reggemaak. Maar sy eintlike talent was water wys. Daar is nie ’n boorgat in die Tankwa wat Martiens Langasem nie aangewys het nie. Hy sal nie te verbaas wees as Martiens einste hierdie boorgat se plek aangewys het nie.
Hoekom was sy naam Martiens Langasem?
Mevrou sal dit nou seker nie glo nie, maar dit was ’n lang man, Martiens, oorie ses voet. Nou sal mevrou seker weet onse mense groei nie eintlik so hoog nie, sy asem moes ’n lang pad gaan voordat dit uiteindelik by hom uitgekom het.
Wat het met die arme Martiens Langasem gebeur? Hoekom lê hy hiér begrawe?
Van einste hierdie windpomp afgeval, het antie Maria gesê, mens kan dit eintlik nie glo nie. Morsdood tot onder op die grond. Al was hy ’n man vir hoogtes en vasstaan, het dit eendag gebeur dat Martiens Langasem sy voete verloor het daar in die hoogte en afgekom het. Dit was somer, die mense van hier het nie kans gesien om die lyk vier dae se ry met die donkiekar Middelpos toe na sy mense te stuur nie.
Ek kan nou die storie aandik en sê dat daar met maanligaande ’n vaal skadewee bewerig oor die graf val, ’n skadewee wat bietjie lyk soos ’n windpomp, of soos ’n lang, maer man met uitgestrekte arms. Ek kan ook loop en sê dat die windpomp in nagte sonder wind ewe skielik begin draai en ’n droewige geluid uitkerm. Of dat mens soms ’n skreeu hoor, nie soos ’n jakkals onder die maan nie, maar ’n geluid soos van iemand wat van ’n ver hoogte val.
Al glo jy my nie, sal dit alles waar wees.
Maar dit is nie die belangrikste van Martiens Langasem nie. Belangrikste is dat ons ’n mens teruggekry het. Sonder sy naam, sy lewe, sy dood, sou daardie klipstawel net ’n klipstawel gewees het. Nou is dit nié.
As ons nou skemeraand by die graf verbyloop, dan sê ek: “Naand, Martiens Langasem.” En soggens sê ek: “Môre, oom Martiens.”
En deesdae sê ek ook: “Dankie, oom Martiens, jou windpomp gooi soet water.”