Читать книгу Katvoet - Riana Scheepers - Страница 2

Amulet teen die koue

Оглавление

En omdat die vrou so eensaam is, so oorstelpend eensaam en verlate, besluit sy om nié die vakansie by haar familie deur te bring nie. Sy het buitendien nog nooit van familiebyeenkomste gehou nie. Veral nie van Kersfeeste nie. Selfs nie eens toe sy ’n kind was, het sy van Kersfees gehou nie, persente of te nie.

In haar kindertyd was Kersfeeste dié dae waarop sy nie kon gaan Swem nie (donker gediertes sou juis op dié dag stadig uit die slap modder tussen die palmiete opwelf en haar Gryp); waarop sy haar oom op sy slopperige mond moes Soen (koes of nie, hy het van die geleentheid gebruik gemaak en almal Beslobber); waarop sy ’n Rok moes dra (kort voor lank was dit onherstelbaar Vuil); is sy aangesê om manierlik met ’n swetterjoel niggies neefs tantes en hul talle en vele vervelige aanhangsels te Gesels (sy het dit nooit gedoen nie en altyd stilletjies en alleen en ongeskik in die koel, stil rietbos Verdwyn).

Toe sy later uit die huis is, was Kersfeeste ewe onaardig. Sy het nie gehou van families wat saamtros nie. Jong moeders, die geil vroue van haar drie vooruitstrewende broers, wat borsvoedend en koerend om huilende kinders die huishouding ontwrig om hul werpsels gelukkig te hou, het haar nog nooit aangestaan nie. En hoe groter die familie, hoe groter die ontwrigting: jillende kinders, so onstuitbaar soos ’n trop wolwe, op ’n spoor van avontuur en verwoesting deur hul ouma se huis. Kortom, sy sorg al jare lank dat sy tydens Kersfees weg is van die gelukkige familie, hulle kan gerus maar haar slaapkamer in gebruik neem en bevolk met doeke en stootwaentjies en speelgoed en melkbottels en slapende kinnertjies, sy is weg. Maar terselfdertyd sit sy dan daardie hele goddelike dag, waar sy ook al is, haarself en verknies. Sy verláng na die gelag van ’n swetterjoel kinnertjies en die familie en die geur van skaapboud en doekpoeding.

Wanneer tróú jy? treiter die familie haar, hopende dat sy sal inskakel by die familierumoer as sy ook ’n man en kinders het.

Nee, sy trou nie.

Nie meer nie.

Kersfees in ’n verre en vreemde land is die beste plek vir haar.

Deur die bemiddeling van ’n buitelandse kollega kry sy ’n uitnodiging om ’n reeks lesings te gee by ’n Poolse universiteit. Voor en ná haar klasse kan sy reis, dit ís immers ’n fassinerende land, ’n opwindende wêreld van oudheid en misterie waar soveel dinge verander het, en steeds dieselfde bly.

In ’n blakende somer pak sy haar warmste winterklere, ’n jas wat Siberiese temperature moet trotseer, wolkouse en stewels, musse en handskoene en serpe, klim op die vliegtuig en reis oornag die winter in, via Amsterdam, van daar per trein na Frankfurt. En verder oos, na Warskou.

Dit is verblindend koud.

Of miskien is dit net omdat sy alleen is dat die koue so meedoënloos deur haar sny?

Sy reis deur ’n asemrowend mooi sneeuland. Sy ken niemand nie en kan nie die mense se taal van slepende, soepel klanke praat óf verstaan nie. Met handgebare en ’n paar woorde Duits, wat die Pole met argwaan na haar laat kyk, en haar selfs eendag op ’n stasie ’n venynige skouerstamp laat kry, vuil Duitser!, kom sy oor die weg. Sy word gereduseer tot die klanke en gebare van ’n doofstom mens, ’n idioot op ’n markplein. Met niemand kan sy ’n gesofistikeerde gesprek voer nie.

Behalwe met haarself.

Sy leer om in haarself te kruip vir warmte en geselskap.

Maar ek is te min vir myself, dink sy in ’n kelderrestaurantjie in Wroçlav, haar hande bibberend om ’n koppie koffie, ’n mens wat met ’n stukkende hart rondloop, is te min om warm te word.

Buite is die temperatuur minus twintig grade, en steeds word dit kouer.

Vir twee weke lank gee sy lesings vir ’n klas van elf studente in ’n taal wat hul derde taal is. Hulle is ’n vrolike klompie jongmense, die lewe lê voor, die wêreld is oop, wat is wonderliker as ’n Poolse sneeuwinter in ’n tyd van politieke bevryding en dekadensie?

Pas voor die kort Kersvakansie het hulle ’n raserige klasparty om die jaar mee af te sluit. Hulle deel lekkergoed aan mekaar uit en drink Coke. Een van die studente bring szernik, ’n boerse kaaskoek wat haar ouma gebak het, en sy sny groot stukke heerlikheid en deel uit aan almal wat bakhand nader staan. ’n Meisie met helderblou oë soos yswater vra haar: en wat doen jý vir Kersfees?

Niks, niks spesifieks nie, sy sal miskien na ’n hotel êrens in die berge gaan en ’n wroegende Poolse roman in Engelse vertaling lees.

Maar kom na ons, nooi Beate gul, haar oë skitterend en vriendelik en sonder ’n enkele greintjie van jammerte. Ongelukkig kan jy nie by ons oorslaap nie, sê sy, maar as jy in die stad is en nie ander planne het nie, moet jy beslis Oukersaand saam met ons gesin deurbring. Die Kersete, lag Beate, is ’n uitgebreide gedoente met die hele familie om die tafel, en daarna die Middernagmis in die katedraal. Kom!

Is dit nie inbreuk op ’n private familiebyeenkoms nie?

Nee, natuurlik nie!

En eers baie later leer die vrou dat daar in Pole gesê word dat dit geluk bring – die innooi van die vreemdeling, of die idioot van die dorp – na jou huis en jou etenstafel op Oukersaand.

Wat was sý? wonder sy toe sy daarvan hoor. Die vreemdeling? Of die idioot? Of albei?

En het die vreemdeling-idioot vir hulle geluk gebring? Soos hulle vir haar?

Vir nog ’n week reis sy deur die land met sy afgetrokke berge en geslote dorpe. Die son skyn nooit nie. Met goeie weer bly die dae mistig en grys, teen vieruur die middag is dit reeds donker. Met slegte weer skif die sneeu onophoudelik neer, soos ’n tafereel uit ’n Russiese roman van droefnis en romantiek. Sy reis per trein van Krakau in die suide na Gdansk in die noorde en kyk uit oor ’n landskap van wit – in hoeveel skakerings daarvan kan die wêreld gebleik word? Sy sien sigeuners in die sneeu, ploeterend met ’n wa en perde deur die dik, krakende ys. Sy sien die sneeubedekte vorms van berge en dennebome en boerderye en kerke, alles, alles in wit. Hier en daar die dak van ’n ou skuur tussen bome, onverwags, die kleur van bitter lemoene.

Sy lees, sy skryf.

Sy luister stip na die ritme van haar hart.

Kort voor Kersfees gaan sy terug na die hoofstad.

Vroeg op Oukersaand, maar reeds donker, klop sy ietwat verleë aan by die adres wat sy gekry het. Dit is ’n grys, vervalle woonstelblok, een van dié waar honderde families ’n leefhokkie het, ’n struktuur wat spreek van kommunisme en armoede en menslike ontreddering.

Sou sý kon leef in so ’n plek?

Beate maak die deur oop en trek haar laggend by die voordeur in. Sy stap in, en besef oombliklik waarom sy nie genooi is om hier oor te slaap nie. Beate se broer slaap in die klein voorportaal, sy slaapruimte agter ’n gordyn verskans. Hulle skuur verby sy bed, verby nóg ’n slaapkamer, na die woongedeelte. Beate deel die kamer met haar ouers, ook haar bed is agter ’n gordyn toegetrek. Die woonvertrek is klein, en oorvol met meubels. Daar is nie ’n badkamer nie, dié is ’n vertrek ’n paar deure verder af in die woonstelgang en word gedeel deur vyf gesinne.

Beate laat haar aansit by die gedekte tafel waar die res van die familie, by gebrek aan ’n sitvertrek, reeds plaasgeneem het.

Dit is my dosent, en dit is my ma, my pa, my broer Andreij, my tante Louisa . . . In Pools glimlag hulle haar toe, heet haar hartlik welkom.

Hulle sit op pragtige, antieke stoele van rooshout. Kyk, wys Beate se pa trots na die stoele, dit is tydens ’n bomaanval in die oorlog flenters geskiet, maar ek het dit weer reggemaak.

Sy kyk verstom na die fyn krakeel van die hout. Meubelstukke wat tot mosaïekstukkies en splinters roos en hout verniel is, maar met pynlike noukeurigheid weer aanmekaargelym en gelas is.

Dit moes jare geduur het om dit só te herstel!

Ja, sê hy deur Beate wat die gesprek al tolkend lei, dit hét. Daar was oorspronklik ’n tafel, die een waarby hulle nou sit, en sestien stoele, alles in trotse, glimmende hout, maar van alles kon hy net die tafel en die helfte van die stoele red. Die res was onherstelbaar verpulp en versplinter.

Was hulle in die gebou toe die bomaanval gebeur het? vra sy angstig. Hoe het hul familie dit oorleef?

Beate hoor die vraag, maar sy antwoord nie, vertaal ook nie die vraag aan haar familie nie. Is sy gereed om te eet? Dan gaan sy gou haar moeder help om die eerste gereg in te bring.

Dit is ’n Kersmaal wat reeds weke gelede beplan en voorberei is, kom sy tydens die ete agter. ’n Maaltyd met tien gange wat begin met borsjt, bloedrooi genade van Christus in die Kerstyd, en opgevolg word deur klein geregte vleis en slaai. Die hoofgereg is karp. Dit het dieselfde oggend nog rondgeswem, verseker tante Louisa haar trots. Die lang maaltyd word afgesluit met koffie en szernik, ’n kaaskoek so veerlig en geurig dat sy doodseker is dit het met engelevlerke uit die hemel neergedaal.

Ná die ete deel hulle geskenke uit. Andreij kry ’n pynappel, o, eksotiese verrukking uit ’n warm suiderland; Beate ’n serp die kleur van haar oë; haar ma ’n potlood; haar pa ’n paar sokkies. Tante Louise kry ’n koppie en ’n piering waaruit sy voortaan haar tee gaan drink. Die duurste geskenk van die aand gaan na haar, die besoeker wat nie kan praat nie, maar met verwondering na alles luister: ’n CD van Marek Grechuta, ’n Poolse sanger met ’n stem waarin amber gloei. Die klein geskenkies wat sy aan hulle gee, hoofsaaklik kralewerk uit Afrika wat sy saamgebring het, boekmerke en armbande en halsversierings, word met bewondering na die lig gehou en bestudeer. Só iets het hulle nog nooit gesien nie, dis wonderlik.

Maar dit is nie al wat hulle as geskenk kry nie. Net voordat hulle in die vallende sneeu na die katedraal vir die Middernagmis loop, gee tante Louisa vir elkeen om die tafel nóg ’n geskenkie. Die vrou kyk verwonderd na dit wat in haar handpalm toegevou word, ’n skub van die karp wat hulle vroeër die aand so feestelik verorber het.

“Dit moet jy in jou beursie dra,” verduidelik Beate aan haar, “solank as wat jy dié skub by jou het, sal jy nooit geld nodig hê nie.”

Die vrou besluit om haar besoek aan Pole vroeër af te sluit. Oukersaand was ’n hoogtepunt, sy wil nie langer op ’n plek wees waar almal behalwe sy aan mekaar behoort nie. Sy is stom van te veel dae wat sy met niemand kon praat nie, nie ’n koerant gelees het nie, nie menslike kontak gehad het nie. Sy gaan terug Nederland toe, waar sy kan práát, en ten minste op die trein kan luister na wat die Hollandse mevroue vir mekaar sê.

In Nederland is dit ook bitter koud, die mense skaats vir die eerste keer in jare weer op veryste vywers en mere. Sy is nog steeds bitter eensaam, en aan die einde van haar reis ook bitter arm. Sy bekyk die note in haar beursie, maak ’n paar desperate somme. Impulsief besluit sy om die laaste drie dae voor haar vertrek huis toe na die stad van haar hart, Brugge, te gaan.

Brugge in die sneeu is mooier as wat sy haar kan herinner. Sy onthou ’n brief van ’n vriend, ’n skilder, wat vir haar uit hierdie einste stad geskryf het: Hier is het heel erg koud en ’s morgens ligt Brugge onder een dun laagje ijskristallen, net Brugse kant. Met vriendelijke groeten, Robert. Nee, sy gaan nie moeite doen om hom op te soek nie, sy is slegte geselskap. Deur die straatjies en stegies loop sy, ontdek nuwe aangesigte, bekyk ou Vlaamse skilderye, luister na die katedrale se klokkespel, verswelg haarself in Middeleeuse skoonheid en verdriet. Bedags eet sy brood en sop by growwe houttafels in klein boerse restaurantjies, gesels met kelners en die kundige assistente in boekwinkels, maar sy het te min geld oor om selfs ’n enkele boek te koop. Snags slaap sy in ’n trappiesgewelhuis in ’n bed sag soos veredons.

Haar hart klop vinniger, haar oë is soggens as sy in die spieël kyk nie meer heeltemal so verwese nie.

My lief, my lief, waer bestu bleven . . .

Met die laaste geld in haar beursie koop sy ’n treinkaartjie na Schiphol, na die vliegtuig wat haar huis toe sal neem, na Kaapstad waar die son in ’n gloed oor die see en die wingerde brand.

Sy verlang huis toe, besef sy, rillend van die koue, sy wil in haar eie huis wees, haar eie plek, al is dit ’n leë plek, ’n huis sonder die asem van ’n ander mens.

Op Brugge se stasie daal die temperatuur stadig, maar met mening. Teen die tyd dat haar trein moet vertrek, is dit stikdonker, sy sit bibberend en wag. Toe die luidsprekers krakerig aankondig dat die trein na Amsterdam weens die een of ander tegniese fout met ’n uur vertraag is, vlug sy na die klein stasierestaurant. Warm koffie, om die koue uit haar hande te kry. Sy staan voor die toonbank om haar bestelling te plaas, gooi die laaste paar geldstukke wat in haar beursie is op haar handpalm uit. Die karpskub lê gryserig tussen die paar munte. Sy het nie genoeg geld nie, besef sy tot haar ontsteltenis, nie eens vir één koppie stasiekoffie nie.

Het sy so gewoond geraak om met haarself te praat dat sy hardop iets gesê het? Het sy dalk ’n woord gesê wat nét in Afrikaans gesê kan word? ’n Verwensing? ’n Vrou wat ’n entjie van haar af alleen by ’n tafeltjie sit, praat met haar: “Komt u uit Zuid-Afrika?”

Sy kyk verras op.

“Wilt u een muntje van mij?”

Sy is vuurrooi van verleentheid, maar aanvaar die vriendelike aanbod. Die vrou nooi haar om by haar aan te sluit. Agnes. Sy is ’n Nederlander, sy beplan om ’n paar dae in Brugge oor te bly.

Reis u alleen? vra sy aan haar weldoener.

Daar trek ’n sluier oor die vrou se gesig. Ja, sy reis alleen. Dit is nou ’n tyd in haar lewe waar sy die behoefte het om op haar eie te wees. Maar sy moet nog verblyf gaan soek, nou, as sy klaar koffie gedrink het. Sy sien op daarteen, dit is reeds donker, en koud . . . sy sit hier en skraap moed bymekaar . . .

Sy kyk skerper na die vrou voor haar. Sy sien die hartseer, grys oë.

U kan dalk tuisgaan in die hotel waar ek gebly het? Stap net voor die stasie oor die kanaalbrug, ’n entjie verder af na links is die Breughel-herberg. Vyf minute se stap? Dit is klein en beskeie, maar skoon en netjies . . . Nie ver daarvandaan nie is ’n restaurantjie met nét vyf tafels wat ’n heerlike stoofpot bedien . . .

Dit is ’n hele paar uur daarna, die gejaag om betyds in te weeg, vliegkaartjie, paspoort, doeane agter die rug, dat sy agterkom haar karpskub is weg. Het sy dit op Brugge se stasie verloor? Het sy dit saam met haar handvol munte, en Agnes se bykomende geld, as betaling vir die koppie koffie gegee? Sy weet nie. Wat sy wel weet, is dat tante Louisa reg was. Sy het genoeg geld gehad. Nie te veel nie, genoeg. Haar Poolse karpskub was ’n amulet teen die koue, teen verdrietigheid en totale ontreddering. Die skub het Agnes na haar gebring. ’n Vriendin in ’n verre en vreemde plek.

Sy stoot die skinkbord weg, drink die botteltjie slegte vliegtuigwyn klaar. Moeg en ontspanne sak sy terug in haar stoel. Dit is net voordat sy aan die slaap raak dat sy skielik helder weet hóé dit gebeur het. Sy het ’n paar sente kleingeld gekry nadat sy die koppie koffie op die stasie gekoop het, en dié het sy net so vir Agnes teruggegee. Wat sou sy buitendien met so min kleingeld kon doen?

Die skub lê saam met die munte in Agnes se beursie.

Waar dit hoort.

In een nag reis sy ’n somer binne.

(Vir Aggie, die vrou van Brugge)

Katvoet

Подняться наверх