Читать книгу Katvoet - Riana Scheepers - Страница 4

Kris

Оглавление

Vir die eerste keer in haar lewe het die vrou met hartstog en plesierigheid ’n man lief.

Sy kry hom lief sonder wroeging, skuldgevoelens, agterdog of jaloesie. Of angs.

Veral sonder angs.

Toe hy haar die eerste keer in sy arms optel en bed toe dra, laat sy sonder skugterheid toe dat hy haar rok met een haal oor haar kop trek. Haar borste is klein in sy ruwe hande. Sy wonder nie wat hy dink van haar onbeholpe ledemate, die klein mispels van haar lyf nie, haar tepels kom hom vanself tegemoet.

Hy staan op sy knieë voor haar toe hy haar broekie uittrek.

Sy laat hom toe om haar oop te vou en te soen, waar sy nog niemand anders kon toelaat nie.

Hy druk haar stadig terug tot op die houtbed agter haar. Met een hand trek hy die deken en die wit linnelakens weg, laat haar tussen die kussings lê.

Buite is dit winter, die noordwestewind woed ’n storm oor die see op en laat die bome skeef buig aarde toe. Al is die vensters almal dig, is die kamer vol flakkerende kerslig.

Hy kom orent, trek sy jas uit en begin sy hempsknope losknoop. Sy sit regop, vou haar arms om haar knieë, kyk na hom.

Sy kry ’n man lief sonder voorbehoud, sonder om begaan te wees oor haar eie liggaam, dit is na hóm wat sy kyk, haar verlangste is na hóm.

Hy is verskriklik, verskriklik mooi; sy skouers, sy bors, sy lang bene.

Hy trek al sy klere uit.

En toe gooi hy met ’n argelose gebaar die kris langs haar op die bed neer.

Wat is dit? vra sy nuuskierig en tel dit op.

Pasop, waarsku hy, pasop, dit is nie ’n speelding nie.

Sy haal die mes, nog in sy leerskede, versigtig uit. Dit lê swaar en blink en koud in haar handpalms.

Pasop, waarsku hy weer, dit is vlymskerp.

Hy neem dit versigtig uit haar hande. En toe vertel hy haar van die mes. Om ’n man geluidloos dood te maak, het jy ’n goeie mes nodig. In Maleisië en die omliggende eilandesee is dit ’n tradisionele wapen, hierdie mes, die kris. Dit word elke dag gedra, en op feesdae as ’n versiering, deur mans én vrouens. ’n Kris wat eerbaar gebruik word en deur eeue aangegee word van vader na seun, sal die draer daarvan beskerm. Harmonie tussen die eienaar en sy kris is noodsaaklik, want die lem van ’n kris is lewend, dit luister na jou hart.

Soms sal ’n man ’n snoer van jasmynbloeisels vleg en dit om die kris se hef hang.

Die man vertel haar dat hy dit op al sy swerftogte saamdra, deur al die woestyne, al die ver paaie van hierdie land wat hy liefhet.

Hy sit dit op die grond langs hulle neer. En toe buig hy oor haar.

Dit is die wind wat die vrou later in die nag wakker maak, die swiep van die bome se takke buite. Langs haar slaap die man wat sy liefhet, sy een hand nog swaar op haar bors. Van al die kerse wat sy vroeër die nag aangesteek het, brand daar nog twee, die res het gesmelt, lou in hul uitgebrande pitte gesmoor.

Sy tel versigtig sy arm op en vou langs hom neer. Sy kan hoor hoe die wind aan haar huis pluk, hoe die reën teen die ruite slaan.

Sy dink aan die letsels van die liefde wat sy reeds aan haar dra.

Hoe kan ek my teen hierdie liefde verweer? wonder sy. Hoe kan ek hierdie man aan my vasmaak sonder om hom vas te hou? Hoe kan ek die letsels wat hierdie liefde op my gaan laat, besweer?

En toe weet sy.

Toe die man in die nanag wakker word, trek hy die vrou weer in sy arms. Hy verstyf ’n oomblik. Die kris lê in die ronding van haar borste, vlymkoud en hard tussen hulle.

Hy skrik.

Maak met my liefde, vra sy saggies. Maak met my liefde, en sny my met jou kris.

Hy sit regop. In die donker kan sy sien hoe hy na haar kyk.

Asseblief, vra sy.

Sy voel hoe haar lende en dye nat word, sy verlang na hom, sy begeer hom soos sy nog nooit ’n man begeer het nie.

Ek kan nie, ek sal jou seermaak.

Asseblief? Haar hande beweeg oor sy heupe, sy kan voel hoe dringend hy teen haar beur. Sy weet hoe die gedagte aan die mes hom opwen én beangs maak.

Hy neem die mes uit haar hande. En toe, met die punt van die koue lem teen haar borste, buk hy oor en begin haar saggies soen.

Sy asem brand hortend oor haar. Sy lig haar gesig na hom, laat toe dat sy mond oor haar hals en skouers gly. Die kris se punt druk teen haar, sy kan voel hoe die lem ’n dieper keep maak, maar sonder om deur die vel te sny.

Sy wag vir die soet, skerp sny, die reuk van bloed, die seer wat sy sal voel. Haar heupe begin vanself wieg, sy stoot haar bekken uit na die man se lyf.

En toe lig hy die kris op. Hy laat gly die lem stadig oor haar borste, tussen die rondings deur, af na haar maag. Hy druk met die snykant teen haar vel; sy voel die brandspoor van die lem. Bokant die klein heuwel tussen haar heupbene stop hy.

En toe draai hy die kris om, neem die lem in sy hande.

Saggies, baie saggies druk hy haar knieë van mekaar weg. Sy voel hoe hy die hef van die kris in haar indruk, hoe die ekstase stadig en warm uit haar bekken, uit haar rugmurg na boontoe kom.

Van jou sal ek die mooiste letsels dra, weet die vrou.

Katvoet

Подняться наверх