Читать книгу Katvoet - Riana Scheepers - Страница 5

Nag

Оглавление

Die vrou se geliefde neem haar vir ’n rukkie weg van haar tuiste en haar vertroude omgewing. Hulle moet ver ry om weg te kom van mens en stad en gedruis, hulle reis deur ’n landstreek wat droef en wyd voor hul uitstrek, maar uiteindelik is hulle daar. Hy bring haar na ’n huis wat alleen op ’n vlakte onder ’n massiewe berg staan, op ’n plek waar ander mense selde kom.

Die huisie is niks meer as ’n leefvertrek en ’n klein badkamertjie nie. Hulle pak hul koffer en ’n mandjie kos en wyn af, sluit die geroeste slot van die voordeur met ’n swaar sleutel oop.

Hulle het gewag vir die skemer, maar toe dit donker word, is dit opeens stikdonker onder die geweldige berghang met sy diep klowe. Die sterre hang in bekende konstellasies bokant hulle, maar met veel méér sterre, veel nader en groter as wat hulle hul dit ooit kan herinner.

Toe die maan opkom, is dit nie ’n volmaan nie, maar alreeds so rond en borstig uitgeswel dat dit bloederig van die berg waaraan dit vasklou, moet losskeur. In verwondering staan hulle buite, die man se arms van agter om haar gevou, en kyk na ’n gebeurtenis wat hom al soveel keer afgespeel het, maar steeds daarin slaag om die mense op die aarde te verwonder.

Sy dink eers die hees steungeluid wat sy hoor, is ’n uil, sommer hier vlak by hulle in die duisternis. Die man tree onwillekeurig terug na die veiligheid van die donker huis agter hulle.

Hulle bly in die oop deur staan en hoor weer die geluid.

Sy weet wat dit is nog voordat hy dit vir haar kan sê.

Is hier nog luiperds in die berge? vra sy.

“Nee,” sê hy, maar trek haar binnetoe, grendel die deur agter hulle stewig met die skuifslot.

Hy steek eers die kerse aan voordat hy die brandhout in die kaggel aan die brand maak. Die eenvoudige huis word lig en warm, met skadu’s wat teen die growwe mure flakker. Hulle drink wyn in die langsteelglase wat sy saamgebring het, berei hul aandete voor; ’n eenvoudige maaltyd van tamaties en vleis en brood.

Terwyl die vuur brand, maak sy haar bo-op die houtkis langs die vuur tuis, haal haar notaboek uit haar handtas. Oor hierdie nag wil sy skryf. Sy wil iets vashou van vuur en stilte, die kleur van ou klipmure, die geur van die groot, wye nag wat in ’n koepel om die huis gehul is. Sy skryf ’n paar sinne, maar laat dit ná ’n rukkie vaar. Dit wat in woorde voor haar lê, is sonder lewe. Oor hierdie nag kan sy nie skryf nie. Nog nie.

Sy sit die boek neer en luister met haar kop op haar opgetrekte knieë na die geluide om haar. Sy spits haar ore om die berg se asemhaling te hoor. Haar ore registreer die donkerte van die nag, die sug teen die ruit.

Later, baie later daardie nag, die duisternis om hulle die kleur van donkerpers pruime, soet en geurig en intens, toe sy reeds in die kring van haar beminde se arms weggesluimer het, hoor die vrou weer die hees gesteun.

Naby.

Sy maak haar oë oop. Die luiperd staan regs langs hulle bed. Sy pels, sy oë, skyn dofglimmend.

Ek droom seker, dink sy. Asof gehipnotiseer bly sy in die luiperd se oë kyk, sy kan die donker grom van sy borskas teen haar vel voel vibreer. Sy ruik die veld se reuk en die geur van grond aan hom. Sy hou haar hande uit na hom, voel die digtheid van sy pels tussen haar vingers toe sy dit in die diep, growwe vag van sy lyf indruk. Asof vanself lig sy haar kop na hom op, laat toe dat hy met ’n skugter, skurwe tong oor haar gesig en toe oë skuur.

Toe sy die volgende oggend wakker word en opstaan, tel sy

die boek waarin sy altyd skryf voor die bed op.

Duidelik is dit daar.

Die voetspoor van ’n groot kat, klam van die grond, en duidelik afgedruk oor ’n spierwit bladsy.

Katvoet

Подняться наверх