Читать книгу Die vrou in die vuur - Riana Scheepers - Страница 10

Оглавление

Dom koei

Die groepie mense in die takkerige skaduwee onder die doringbome het ’n lustelose gelatenheid oor hulle. Hulle sit buitekant die kliniek, enigste mediese hulpsentrum in die omgewing, en wag sonder haas hulle beurt af om by die deur in te skuifel en die suster te sien. Daar is vroue met huilende babas op die rug vasgewoel, kaal kleuters wat in die stof rondkruip, ou, blinde mans wie se dun bene onder flenterkomberse uitsteek.

Die meeste vroue wat onder die bome wag, het gekom om blikmelk vir die babas te kom haal, om kleuters te laat inent, of om die inspuiting te kry. Die siekes kom vir salwe wat aan oopgebarste swere gesmeer moet word, verbande en pille, slukgoed wat die duiwels uit die maag moet jaag, of botteltjies oogdruppels om in smetterige oë te gooi.

Pasiënte wat meer dramatiese siektes het, gaan na die sendinghospitaal 12 kilometer verder.

Die siekes en die wagtendes het hulle op die grond in die effense koelte tuisgemaak, gereed vir ’n wag wat die hele dag in die Afrika-son gaan duur.

Die student wat by die kliniek werk, staan in die buitedeur. Sy tel die mense wat alreeds onder die bome sit. Hoeveel van hulle regtig pasiënte is, kan sy nie sê nie; elke pasiënt word vergesel van sy belangrikste familielede. Deur die dag sal die getal wel nog aangroei.

Die kliniekgebou en die aangrensende buitegeboue is ’n witgekalkte gehuggie op ’n oopgetrapte stuk rooigrond. Die werf is omhein met ’n doringdraad wat plek-plek so slap hang dat dit nog nooit die buurt se bokke en bontbeeste kon uithou nie. Aan die westekant van die oop stuk grond staan die doringbome, amptelike wagplek vir die pasiënte. In die een hoek van die werf is ’n buite-toilet met ’n dik stinklug en ’n sinkplaatdak wat met groot klippe vasgepak is. Die kliniekpersoneel gebruik nie dié toilet nie, dit is daar vir die mense wat onder die bome wag. Aan die sykant van die toilet, teen die muur, is ’n kraan. Die pasiënte gaan drink by die kraan as hulle dors word, hulle lippe slukkende kelke om die kraanmond. Iemand het ’n ou, uitgeduikte emalje-skottel onder die kraan se drup neergesit. Die bont hoenderkuikens wat op die werf rondskrop, kom druk hulle skerp snawels in die vlak skottel en sluk met opgeligte kele en lelle aan die louerige water.

Suster Zinze Ngomezulu is in beheer van die kliniek. Sy regeer met matriargale dissipline. Haar personeel bestaan uit twee swart verpleegsters en ’n wit student wat navorsing vir ’n nagraadse kwalifikasie doen. Die student ondersoek die oorsake van kindersterftes en die voedingspatrone van die Zoeloes in die landelike gebiede van KwaZulu. ’n Jaar lank bly sy in ’n tweevertrekhuisie op ’n godverlate stuk platteland en doen dieetopnames en biometriese toetse by die kliniek.

Sy tel kaal kleuters op haar heup, weeg hulle, meet die omtrek van hul koppies en die lengte van hul lyfies. Sy vee hulle neuse met papiersakdoeke af. Sy maak die vloer skoon waar hulle nat- en vuilgemaak het. Sy druk met haar hand teen opgeswelde magies en vra aan die ma’s wat daar in hulle huise is om te eet. Wat hulle die kinders gee om te eet as daar nie meer geld is vir mieliemeel en suiker nie. Sy vra hoekom hulle nie vir die babas borsmelk gee nie, en word beantwoord met groot, bruin oë wat skaam en met onbegrip vir haar teruglag. Sy vra hoekom so min van hulle die inspuiting vat, en word beantwoord met ’n onskuldige “angazi”, ek weet nie.

Die student is ’n volkekundige, maar sy help die kliniekpersoneel om pasiënte se sere te ontsmet, om meswonde te verbind, om noodvoorraad kos aan ondervoede mense uit te deel. Sy sien wat gebeur as die mans die vroue op die mielielande los om in die myn te gaan werk. Sy sien hoe dit is as ’n mens vooroor moet buk om die tering in jou bors uit te hoes, en hoe dit lyk as ’n assegaai jou in die maag gesteek het.

Die derde of vierde pasiënt van die dag wat haar kantoor binnekom, is nie ’n ma met ’n baba of ’n kleuter op die rug nie. Twee vroue dra ’n jong meisie tussen hulle die kantoor binne. Hulle het die meisie onder die skouerholtes vasgevat en sleep-dra haar by die deur in. Die meisie se bene hang leweloos onder haar. Haar kaal voete skuur willoos oor die linoleumvloer. Haar oë staan wyd oop en stokstyf in haar kop, die vel is styf en bleek oor haar gesig gespan. Die mond met die breë lippe is grynslaggend oopgetrek oor haar tande, maar sy maak nie ’n geluid nie. Agter die drie kom ’n ou man ook ingeskuifel, sy hoed opgefrommel in sy hande. Dit is nie ’n swanger meisie met kraamprobleme nie, kan die student in ’n enkele oogopslag sien. Die meisie se liggaam is jonk en haar maag is plat. Maar dit is duidelik dat sy ’n hoë koors het.

Nog ’n hospitaalgeval, dink sy. Sy laat die meisie solank op die smal bedjie lê, en stap uit om die suster te gaan roep.

By die oop deur in die gang kyk sy buitetoe en sien dat daar weer ’n bees deur die drade gekom het. Dit is ’n maer dier met kort horings en heupbene wat skerp teen die swart vel uitstaan. Die dier loop doelloos tussen die geboue rond.

“Wat gaan hier aan?” vra suster Ngomezulu toe sy by die deur inkom en die meisie op die bed sien lê. “Dit is nie ’n hospitaal hierdie nie, ek is nie ’n dokter nie!” raas sy by voorbaat.

Niemand antwoord nie.

Die student gaan staan langs haar, gereed om ontsmettingsmiddel of watte aan te gee.

Een van die vroue wys woordeloos na die meisie op die bed. Sy trek die meisie se rokke effens op oor haar knieë om die suster ’n aanduiding te gee waar die meisie se siekte is.

Suster Ngomezulu trek die lappe rok tot bokant die meisie se heupe op. Die meisie lê met haar kaal onderlyf voor hulle, die knieë dikgeswel en oop, die dye vogtig en ruikend, die mik tussen haar bene ’n onherkenbare pappery van etter en rowe en hare en tot barstens toe geswelde splete vlees.

Die student se asem sak weg in haar bors. Sy het dit nog nooit gesien nie, maar sy wéét wat dit is.

“Uit!” skree suster Ngomezulu vir die drie mense wat nog steeds woordeloos en bewegingloos teen die muur staan.

“Uit hier, julle barbare!” Sy stoot hulle hardhandig in ’n bondel by die deur uit.

“En jy,” skree sy op die student, “gaan roep jy vir nurse Zwane en kom help hier!”

Die student sien dat die suster se skreeuery die skrik in haar eie hart is. Sy hardloop in die kort gangetjie af.

Buite het daar ook ’n kabaal losgebars. Die twee kinders wat die koei moes oppas, probeer om die verdwaalde dier uit die werf te jaag. Die koei hardloop bulkend rond, verby die oop hek, die kinders met uitroepe en stokke en klippe agterna.

Die verpleegster en die student staan aan weerskante van die smal bed. Die meisie se geswelde bene is oopgespalk. Hulle hou elk een van haar warm knieë vas sodat suster Ngomezulu se hande plek het om te werk. Die meisie huil geluidloos, sonder trane. Haar oë is groot en oop, soos ’n dier s’n.

Hulle sien hoe die suster met haar vingers die meisie se stukkende, dikgeswelde skaamlippe van mekaar probeer wegdruk. Met die vingers van haar linkerhand hou sy dit oop, en steek die skerp, dun lemme van die verpleegsterskêr êrens aan die onderkant van die vagina in. Sy knip die stukke tou waarmee die toegroeiende binnelippe vasgewerk is, versigtig los en gooi dit stukkie vir stukkie in ’n staalbakkie wat by haar elmboog staan. Stukke rou weefsel wat soos rowe aan die growwe tou vassit, kom ook los. Die wonde begin bloei. Die suster knip die etterende, vasgekoekte wond oop, tot bo, tot by die ronding waar die meisie se klitoris uitgesny is. Die kind lê roerloos, dit wat tussen haar bene is vir ewig deur rituele kuisheid verwoes.

“Loop jaag die bees en die kinders daarbuite weg,” sê suster Ngomezulu vir die student. Sy kyk nie op van haar werk nie.

Die student staan in die buitedeur en asem groot slukke droë lug in.

Die koei het, die jillende kinders met die stokke al om haar flanke, in die omheining naby die toilet vasgehardloop en met haar agterbene in die slap doringdrade verstrik geraak. Sy staan en skop in die draad sonder om los te kom. Die kinders slaan haar genadeloos oor haar rug en skene sodat sy moet skrik en losruk. Met elke skop sny die metaalpennetjies van die doringdraad dieper in die koei se agterlyf. Die dun vel om die uier en die spene is stukkend en bloederig. Die pasiënte onder die boom sit die petalje met groot belangstelling en dophou.

“Suka!” gil die student op die skreeuende kinders.

Hulle kyk om en sien haar in die deur staan. Hulle gooi die stokke neer en hardloop weg. Die koei staan nog steeds en skop in die draad. Sy loop daarheen.

“Kon julle nie die kinders gehelp het nie?” raas sy met die klompie mense in die koeltes van die bome. Hulle kyk haar doodstil aan.

Sy sak op haar knieë neer en begin die drade om die dier se bene loswoel, koes toe die een been skielik losruk. Sy ruik die beesreuk van die koei se natgeswete lies hier teen haar, sy ruik die reuk wat van die sinktoilet af aangewalm kom. Dit ruik opeens vir haar vars en skoon.

“Jou simpel fokken dom koei!” skel sy op die dier en pluk die laaste drade los.

Die vrou in die vuur

Подняться наверх