Читать книгу Die vrou in die vuur - Riana Scheepers - Страница 8
ОглавлениеDie slot
Die kinders speel klip-klip in die son.
Een van die kinders staan met sy voet bo-op ’n miershoop, spring wankelrig op die ander voet in die rondte en gooi dan ’n klip in enige rigting die veld in. Die res staan in ’n wye sirkel om die gooi-man, reg om te hol om die klip te probeer vang. Hulle moet kyk in watter rigting die gooi-man die klip gaan gooi, en sorg dat hulle daardie kant toe staan. As hulle nie die klip uit die lug kan vang nie, val dit in die rooi suurgras, en dan soek almal op hande en knieë om dit eerste te kry.
Om die speletjie lekkerder en beter te maak, word die gooi-man partykeer met ’n stuk lap of ’n hemp geblinddoek. Dit keer ook dat hy aspris die klip in ’n woeste rigting gooi waar niemand dit kan kry nie. As die gooi-man van die miershoop afval, is hy ’n dooi-man, en dan word hy deur die ander gekarnuffel en uitgejou. Die een wat dit regkry om die klip die meeste kere in ’n dag raak te vang, is die koning van die dag. Die ander kinders moet dan die hele dag vir hom “Nkosi” sê, en doen wat hy hulle aansê. Hulle moet.
Hy maak ook deeglik gebruik van sy koningskap en laat die ander kinders allerhande dinge vir hom doen. Die inkosi van die dag is die volgende dag se gooi-man.
Gewoonlik word die speletjie gespeel met ’n klip wat lekker rond en omtrent so groot soos ’n kind se vuis is. Ander kere gooi hulle met ’n lemoen of ’n lemoenpampoentjie, as hulle dit kan regkry om by die hond verby een uit die baas se groentetuin te steel. Die lekkerste speel nóg was met ’n vuilerige tennisbal. Niemand kan onthou waar die bal vandaan gekom het nie, en op ’n dag het dit weer net so skielik weggeraak.
Maar vandag speel die kinders met die stroois se sleutel.
Die vroue van die stat is almal al vroegdag agter op die mies se bakkie gelaai en dorp toe gevat. Hulle sal lank weg wees, want hulle gaan almal klieniek toe vir die inspuiting wat hulle elke drie maande moet kry om gesond te bly. Die mies het al gister kom sê dat hulle moet regstaan, dis klieniek-dag, sy wil vroeg ry. En almal moet daar wees; Juba die kleinmeid ook. Nie een mag agterbly nie.
Hulle is almal weg, met hulle komberse en hulle kopdoeke, want dit is winter en koud. Die stroois se deur is vir die dag gesluit sodat die tsotsi’s wat in die veld rondloop nie die klere of die kos of die waailess kan steel nie. Die kinders moet buite in die son speel en die sleutel oppas. As hulle teen middagete se tyd honger word, moet hulle eers kyk of daar niemand in die nabyheid is wat dalk by die deur kan inkom nie, die kos uit die stroois gaan haal en die deur weer sluit.
Die sleutel is vir die oudste kind gegee en hy is met die uTokoloshe en die dood gedreig as dit verlore raak of as die tsotsi’s by die stroois inkom.
Die kinders sal later vanmiddag, as die bakkie met die vroue weer deur die plaashek terugkom, elkeen ’n groot, pienk tjiengam by die ma’s kry, en vir ’n week daarna nog oopmond en tongklappend aan’t koue wees. Maar intussen moet hulle buite in die veld speel tussen die gras wat rooierig en dig in hul winterdos oor die heuwels staan.
Die kinders speel klip-klip met die stroois se ronde Viro-sleutel. Dit is lekker lig en klein, en maak nie jou hand so seer soos ’n klip as jy dit vang nie. Dit kan ook nie pap word soos ’n lemoen, of in stukke breek soos ’n pampoentjie of ’n kalbassie nie. Die sleutel flits met ’n koperglans in die son, en die stuk bloudraad wat daaraan vas is, gee lekker vatplek om te vang of te gryp. Die kinders gil van plesier, hulle hol jillend uit al die windrigtings en maal om mekaar om die sleutel eerste uit die lug te gryp of in die gras te kry. Hulle loop mekaar onderstebo, gryp na skurwe elmboë en bene en klou aan mekaar se klere om by die sleutel uit te kom.
Hulle voel nie meer die oggend se koue nie, want die springery en hollery het hulle bloed laat warm word en die laaste stramheid van die nag laat verdwyn. Een het al glad sy oorgrote baadjie, ’n oorskiet van die blanke laerskool op die dorp, uitgetrek en in ’n bondel op die grond neergesit. Hulle het nooit kon raai dat ’n sleutel só lekker kan speel nie.
Toe hulle weer die sleutel vir die gooi-man wil aangee, kom hulle agter dat die houdraad los is. Êrens in die stoeiery en trekkery het die draad losgeknoop en oopgetrek.
Die seuntjie wat die vorige gooi gewen het, staan met die kaal draad in sy hande. Die kinders is skielik baie stil. Die sleutel lê êrens in die gras.
“Cinga!” sê die vorige dag se inkosi. Die kinders sak almal op hulle hande en knieë neer en begin die grashalms om hulle bene wegdruk.
Hulle soek op die plek waar hulle laas vir die sleutel gestoei het. Hulle soek in die rigting waar die gooi-man die sleutel gegooi het. Hulle soek om die miershoop en blindelings in die gras. Dan begin hulle weer naby die miershoop en soek dieper en dieper die rooi suurgras in. Hulle probeer onthou of die sleutel in die gooi losgekom en deur die lug getrek het. Het iemand die sleutel deur die lug sien trek? Want dan sou dit ver in die gras lê en nie naby die miershoop, die enigste oopgetrapte kolletjie, nie.
Niemand het gesien nie.
Hulle soek op die grond en in die gras en polle en teen die halms uit. Hulle bind die lang halms vas om die gebied af te baken en probeer stukkie vir stukkie soek.
Die gras staan baie dig en blink rooierig soos die koper van die sleutel.
Hulle soek na ’n klein, blink sleutel, met ’n gaatjie in sy kop, in die onmoontlike grasmied van die veld.
Een van die kleintjies dink aan die suurpap wat in die toe stroois staan, die middag se kos. Hy begin snotterig huil. Twee blink drade loop uit sy neus, oor die harde kors wat alreeds daar lê. Hy huil lank en klaerig.
“Suka!” skree die oudste kind op hom.
Hy huil net harder toe hy die kwaai stem van sy broer hoor. Die oudste seun dink aan die sleutel en die honger en die ma wat terugkom en die pienk tjiengam. Hy dink aan die toe deur en die draad met die twee oop punte en die uTokoloshe. Hy dink aan die gras wat so vreeslik dik en ondeurdringbaar staan, en aan die kopersleutel wat hier êrens in die gras lê.
Nog ’n kind begin huil. Hulle soek nie meer nie, maar sit in die gras, hulle oë hulpsoekend op die oudste broer gerig. Die een wat die baadjie uitgetrek het, trek dit weer aan teen die koue. Hy steek per ongeluk sy hand by ’n gat in die voering van die baadjie in en sukkel om sy arm in die mou te kry.
“Suka, nyoka!” vloek die oudste seun desperaat. Die kinders huil net harder. Die sleutel is weg.
Hy los die ander kinders in die veld en hardloop terug na die stroois toe. Hy ruk besluiteloos aan die deur.
Die deur hang blikkerig aan sy skarniere, maar dit is tóé. Hy sal nie kan inkom om te soek of daar dalk ’n ekstra sleutel tussen sy ma se goed is nie. Hy kan ook nie waag om die venster te breek nie, die tsotsi’s sal dit sien en inkom. Hy loop om die stroois. Die swart broeihen kloek verontwaardig en pof haar vere toe hy naby haar sinkhokkie verbyloop. Hy loop weer om die stroois. Alles is stil en verlate. Selfs die hond is veld in. Hy skop die half uitgebrande stompe wat op die vuurmaakplek lê dieper in die dooie vuur in. Toe kom die ingewing.
Hy draai om en gaan vroetel tussen die dak en die muur van die stroois. Daar is ’n klein holtetjie tussen die sinkplate en die lae muur, wat met die bouery van die stroois gekom het. Die holtetjie is sy ma se spesiale bêreplek. Vir die metsjies.
Sy vingers vat die plat boksie vas wat in die holte ingedruk is. Hy skuif vinnig die twee helftes van mekaar af. Daar is genoeg metsjies in om vuur te maak.
Sy pa het al vir hom gewys hoe jy maak as jy ’n wildsbok uit die gras wil jaag. Jy steek die vlakte aan die brand, en die bok sal uitkom, maak nie saak wáár hy weggekruip het nie. Hy kom uit met die vuur.
Dan wag jy hom in met jou assegaai of met ’n imbemba, en jy hét jou bok. En agterna, die volgende dag, as al die boere van die plase klaar vuurgeslaan het, loop jy tussen die swart polle veld in om te soek vir skilpaaie wat sommer klaar met hulle soet vleis reggekook is in die dop. Dit is die lekkerste vleis van die afgebrande veld, dié van die skilpaaie wat nie kan wegkom nie.
Hy weet dat die baas elke keer as daar ’n vuur was, raas en skree en dreig dat die polieste sal kom om die mense wat vuurmaak tronk toe te vat, maar hulle weet almal dat niemand kan sê waar die vuur vandaan kom nie.
As dit winter is, kom die vuur vanself uit die rooigras uit. Of die weerlig slaan die vuur in die gras in.
Maar nou moet die vuur die sleutel uit die gras haal.
Hy hou die boksie met die metsjies in sy hand terwyl hy na die miershoop toe hol. Die droë gras skuur teen sy bene.
Die kinders is nog daar. Hulle sit stil met hulle rûe teen die miershoop. Hulle huil nie meer nie. Hulle wag vir hom om die sleutel se plan te kom maak.
Die oudste seun jaag hulle ongeduldig onder sy voete uit en sak op sy knieë neer. Hy breek ’n handvol grashalms nek-af en maak dit staan in ’n losserige gerfie. Die gras is lank en droog en buig effens onder die gewig van die stywe, ryp saadknoppe. Hier en daar tussen die rooigras is ’n paar groenerige weeluisgrasse. Die weeluise kom los en klou aan die kinders se klere vas.
Hy trek die eerste vuurhoutjie en druk dit tussen die grasse in. Die vuurhoutjie maak ’n vlammetjie en skroei die naaste halms, maar vrek na ’n paar sekondes sonder om die hopie aan die brand te steek. Hy trek ’n tweede vuurhoutjie. Die vlammetjie vrek dadelik. ’n Skielike windvlaag tussen die grasse het dit doodgewaai. Die seun sê die kinders aan om om hom te kom staan, hulle moet kom keer teen die wind. Hy trek weer ’n vuurhoutjie en hulle hurk almal om die desperate vlammetjie.
“Iphepha!” sê die vorige dag se inkosi.
Een van die kleintjies spring weg. Sy swart kroeshaartjies wip skaars bokant die gras uit. Die ander kinders begin solank gras bymekaarmaak om die vuur te stook as dit eers gevat het. Hulle sukkel om die polle uit te trek. Dit klou te vas aan die grond, maar die gras is kurkdroog en bros. Hulle kry dit maklik reg om die halms te knak en af te breek.
Die kleintjie kom terug met ’n groot stuk verflenterde koerantpapier wat hy teen die doringdraad gekry het, daar waar dit deur die wind vasgewaai is.
Die kinders pak die vuur met papier en gras aan. Die oudste seun vat drie vuurhoutjies en steek dit saam aan. Dit maak ’n harde krasgeluid teen die sykant van die dosie en vlam skielik sissend op. Hy druk die vuurhoutjies onder die gefrommelde koerantpapier in. Die papier begin rook, word swart verkool, en slaan dan in helderrooi vlamme uit. Die vuur brand met ’n helder en vinnige papiervlam. Hulle sleutelvuur brand.
Die kinders dra die los grasse aan. So vinnig as wat hulle dit oppak, word die halms verteer en word die vuur groter. Die kinders buig die lang grashalms wat naby die vuur staan, om. As dit rokerig vlamvat, los hulle sodat die brandende halms weer regop spring en op hulle eie brand. Die vuur begin knetter. Hulle hoor hoe die droë sade skietend oopbars. Hulle ruik die gras se brand. Hulle voel die hitte wat uit die gras kom.
Die kinders begin lag, hulle vuur brand. Dit word ’n vreugdevuur. Hulle bokspring om die vlamme. Hulle sal netnou die sleutel kry. As die grond eers oopgebrand is, kan hulle maklik soek.
Ou oom Dalley het nie meer geboer nie. Hy het die grond vir sy kleinseun warm gehou tot dié uit die Landboukollege op Cedara kom. Hy het wel ’n paar skape aangehou. Eintlik het hy net op die plaas aangebly omdat hy in die dorp of in ’n ouetehuis sou doodgaan van ellende. Hy én sy ou vrou.
Oom Dalley het op die groot voorstoep van sy plaashuis gestaan en koffie gedrink toe hy die vuur sien.
Hy het eers die skerp reuk van grasrook geruik, en toe die rookwolk sien aankom oor die vlakte. Hy het op sy kierie omgedraai en al die buurplase in kennis gestel dat die eerste brand van die winter in die veld is. Dat die boere en hulle werkers moet kom vuurslaan. Toe het hy weer op die stoep gaan staan en gesien dat die brand na sy kampie ooie toe aankom.
Die dorpskoerant het later berig dat die ou oom in die doringdraad van sy ooikamp vasgehaak het toe hy probeer wegkom het van die vuur af. Hy was te oud en te swak, en seker te paniekerig ook, om homself uit die doringdraad los te kry. Wat hy in die veld gesoek het, weet niemand nie. Hy kon tog nie ouman-alleen iets aan die vuur doen nie.
Hoe die vuur begin het, kon niemand agterkom nie. As dit winter is, kom die vuur vanself uit die rooigras uit.