Читать книгу Die vrou in die vuur - Riana Scheepers - Страница 11
Оглавление’n Kind en ’n vis
Die kind het dit reggekry om ’n vis te vang.
Die hele somer lank het hy die vis in die vlak, modderige water van die Siyayirivier dopgehou. Hy het geweet die vis is daar, want hy kon die groot lyf in die water sien roer. Die vis was ’n donkerder, lui skaduwee tussen die graswortels en palmiete en die sagte modder wat hy met sy vinne opgeskep het. En toe die kind eers weet van die vis, het hy naderhand presies geweet waar om hom te soek tussen die riete en grasse. Die vis het nooit verder geswem as die bog waar die klomp riete gegroei het nie, hy was altyd daar êrens. Hy was die donker ding in die vlak water, wat blitssnel en met ’n skielike warreling van modder kon wegskiet as die kind hom met sy knopkierie probeer steek het. Daar was dowwe kolle op sy lyf wat die kind kon sien as die son hom reg vang.
Die dag toe die kind die vis die eerste keer gesien het, het hy op sy maag teen die biesiekant van die Siyayi gelê en met sy hande in die water gespeel. Hy het alleen agtergebly op die hardgebakte rivierwal toe die ander abantwana van die stat verder met die rivier afgeloop het om voëleiers uit die neste in die rietbos te gaan haal.
Mtethu, jou luiaard, het hulle hom gespot terwyl hulle wegloop.
Pasop vir die krokodille wat jou gaan vang, ons sal jou nie kan help as hulle kom nie, het hulle gelag.
Hy kon hoor hoe hulle al verder wegraak, hoe hulle praat en skree en met stokke die bome se blare loop en afkap. Die brak met die spits ore is ook saam, die kind kon kort-kort sy skerp blafgeluide hoor. Later kon hy nog net die kapgeluide van hulle stokke hoor.
Hy wou nie saam nie. Hy het lekker op die grond gelê, sy kop op sy elmboog gestut en die ander, beweegliker hand in die water. Op die plek waar hy gelê het, was die wal skerp en die water amper reg onder hom, sodat sy hand gerieflik afgehang het. Die son het lekker op sy rug gebak, in sy kopvel ingekriewel. Die water was lou om sy hand, sy vingers vryf drywende wortels van ’n waterplant. Hy het die bewegende skaduwee van die watervlak probeer vang, die sonlig deur sy vingers laat roer.
En toe het die vis hom gebyt.
Die kind het orent geruk en sy hand teruggepluk. Hy was net betyds om te sien hoe die groot vis onder die watervlak, reg voor hom, skerp op sy maag draai en met ’n warreling van vinne en stekels tussen die graswortels en die biesies wegskiet, diepwater toe. Hy kon duidelik sien hóé groot die vis was. Groot.
Hy het horterig begin huil. Nie oor sy vinger seer was nie, maar omdat dit gebyt is. Oor die skrik. Oor die ding in die water.
Terwyl hy na sy vinger kyk, het hy gedink aan die groot, plat bek van die vis. Hy het hom die harde bek om sy hand verbeel, die skerp tande om sy arm, sy skouer, sy hele kop.
Hy wou agter die ander kinders aan hardloop, want die vaak was nou heeltemal uit sy lyf. Maar toe sien hy weer die vis.
Dié het stadig en lui teruggeswem gekom, en weer tussen die plante van die vlakwater in die modder ingesak. Die vis se vinne het skaars geroer. Hy het weggeraak, totdat die kind nog net gewéét het van die vis daar onder.
Die kind was bang vir die vis.
Hy het gedink aan al die kere wat hulle al deur die rivier geswem het, wat hulle mekaar in die vlakwater gejaag het en handevol modder opgeskep het om mekaar te gooi. Hy het gedink aan die groot vis in die modder wat van die kinders weet, en nog altyd daar was as hulle geswem of gespeel het. En aan die stekels op die vis se plat kop.
Toe die ander kinders terugkom, het hy nog steeds daar gesit en afkyk in die water. Hy het nie weer die vis gesien nie. Nie daardie dag nie. Hy het ook nie die ander kinders vertel nie.
Die kind het begin om die vis elke oggend te voer. Soggens het hy die laaste brandsels van die vorige aand se pap uit die pot gaan krap, die harde kors met ’n bietjie water natgemaak, en dit dan tussen sy vingers en handpalm gedruk en gedruk totdat dit ’n stywe bol was. Hy het gewag totdat die ouer kinders skool toe geloop het, totdat hy hulle nie meer in die voetpad tussen die heuwels kon sien nie, en dan stilletjies water toe gegaan. Hy en die brak.
Die kind het geweet waar om na die vis te soek. Die vis was gewoonlik die donker kol waar die son tussen die palmiete op die water gebrand het. Hy het die bol pap in stukkies opgebreek en dit naby die vis se lêplek in die water gegooi. Die pap het eers op die water gedryf, wit spikkels wat sag en voos word, en dan onder die oppervlak insak. Die laaste stuk pap het hy altyd vir die brak gebêre. Of as dié veld in was, het hy dit self geëet.
Partykeer het die spikkels pap roerloos in die water weggesak, maar soms, en al hoe meer, kon die kind sien hoe die groot lyf van die vis onder die oppervlak beweeg en hoe die bek die papstukke hap. Dikwels was daar ook die skerp bewegings van kleiner, vlugtiger visse. Maar daar was net een groot vis. Die kind wou die vis vang.
Hy wou die vis gewoond maak aan die pap, en hom dan vang. Hóé het hy nie geweet nie, want hy was te bang om die vis met sy hande te probeer vang. Hy het eers probeer om hom met ’n groot klip kapot te gooi, maar die vis was nog altyd te vinnig. Toe het hy probeer om die vis raak te steek met ’n skerp stok, maar dit was asof die vis gewéét het. Die oomblik wat die skaduwee oor die water val, het hy geswenk en was hy weg.
Die kind was bang vir die vis, en wanneer hy in die middae saam met die abantwana in die rivier geswem het, het hy gesorg dat hy wegbly van die modderige vlakte by die riete. En dan het hy met sy een hand tussen sy bene vasgehou. Hy was ook altyd eerste uit die water, want hy het geweet dat die vis van hulle weet; dat die vis na hulle spelende lywe deur die riete en die modderwater kyk, en sy stekels roer.
Hy was nie bang as hy op die wal gestaan het nie. Dán het hy in die water ingekyk, en probeer uitmaak wat hy alles van die vis tussen die riete kon sien: die bruin val met die ligter kolle, die oë, die vinne wat roerloos hang asof dit die vinne van ’n dooie vis was. Hy het geril, en ’n bietjie van die waterkant af weggeskuif.
Die kind het nie geweet hoe om die vis te vang nie. Tot die dag toe hy die wit mense by die rivier gekry het.
Hy het een oggend, nadat hy die vis gevoer, en die brak die laaste pap van sy hand afgelek het, al langs die rivier geloop. Hy het fluit-fluit die harde lag van die inhlekabafazi in die bome bokant hom nagekoggel. Die brak was agter ’n ding in die veld aan. Toe hy by die platkroon om die draai van die voetpad kom, was die mense skielik daar. Die wit man en ’n seun het daar voor hom op stoeltjies langs die rivier gesit. Agter hulle, ’n bietjie dieper op die wal in die koelte van die bome, het ’n kar sonder ’n dak gestaan. Hy wou eers omdraai en terughardloop, maar hulle het hom nog nie gesien nie, en hy was nuuskierig om te kyk wat hulle daar langs die rivier doen. Hy het suutjies teen die stam van die platkroon gaan sit en hulle dopgehou. Hy was bly dat die brak nie daar was nie, want dan sou hulle hom lankal gesien of gehoor het.
Die man was besig met iets op die grond voor hom. Hy het opgestaan, ’n lang stok uit die gras langs hom opgetel, en met die stok ’n dun lyn met ’n ding aan die voorpunt in die water gegooi. Die stok het kirrr gemaak soos ’n watervoël. Toe het hy dit skuins teen die stoeltjie laat staan, en nog ’n stok opgetel. Die seun het by die man gaan staan. Die man het die stok in die kind se hande gesit, agter hom gaan staan en oor sy hande gevat. Hulle het saam-saam die stok se lyn in die water gegooi. Met ’n plonsgeluid het dit naby die kant van die rivier in die water geval. Hulle het die stok opgelig, en aan die knopkierie-kant gedraai-draai. Die lyn het weer uit die water opgekom, teruggekom na die stok toe.
Voor aan die lyn was daar iets vasgemaak, wat die stok effens krom laat buig het. Die man het die stok uit die seun se hande gevat, en alleen die lyn in die water gegooi. Dit het ’n wye boog oor die water gemaak en toe ver, in die middel van die rivier, neergeplons. Hy het die stok vir die seun teruggegee. Toe het hulle het gesit en niksdoen. Partykeer het die seun iets gesê, maar die man het nie gepraat nie.
Die kind het moeg geword om so stil te sit en kyk na niks. Hy het opgestaan en ’n bietjie nader geloop. Hy wou stilletjies agter hulle verbyloop om na die kar te gaan kyk, na die groot wiele. Hy wou deur die vensters loer om te kyk wat daar alles binne-in is, maar toe het hulle hom alreeds gesien. Hulle het op hulle stoeltjies omgedraai en na hom gekyk. Hy het versteen bly staan, te bang om te beweeg.
“Whoza lapa,” het die man na hom geroep, voordat hy kon omdraai om te hol.
Hy wou bly staan, maar die man het hom met sy arm nader gewink en weer geroep.
“Whoza lapa!”
Hy het stadig nader geloop en met sy een voet op die ander een naby hulle gaan staan.
“Sawubona, Mfana,” het die man gesê.
“Yebo,” het hy teruggegroet, sy hand oor sy kop.
“Usaphila na?” het die man gevra.
“Yebo, ngisaphila,” het hy geantwoord.
“Igama lakho?”
“Mthetu,” het hy sy naam vir die man gesê.
“Hlala phansi, Mthetu,” het die man vir hom gesê, en hy het op sy hurke langs die stoeltjie neergesak.
Die kind het onderlangs na die stok in die man se hande geloer en toe na die seun wat aan die anderkant van die man gesit het. Die seun het na hóm gekyk, en hy het vinnig sy oë laat sak. Niemand het verder gepraat nie. Hy het onrustig gewonder wanneer hy weer kon opstaan en loop.
Die volgende oomblik het die man se stok ’n skerp singgeluid gemaak, hy het opgespring, en aan sy stok gepluk. Mthetu, wat gedink het dat die man op hóm gaan spring, het van die skrik omgeval en agteroor in die gras bly lê.
Die seun het begin lag, en toe Mthetu sien dat die man met die stok besig is, het hy ook begin lag, sy skrik vergete.
Die seun het opgestaan, sy stok op die grond neergesit, en naby die man gaan staan. Mthetu het ook opgestaan en gekyk hoe die man by die water aan sy stok draai. En toe het die wonder gebeur.
Voor sy oë het Mthetu gesien hoe die man met die kromgebuigde stok ’n wriemelende, nat vis uit die water lig en wal toe bring. Die vis het met sy bek aan die punt van die lyn gehang. ’n Lewendige, spartelende vis. Die man het dit tot op die grond laat sak en die lyn uit die vis se bek gehaal. Aan die punt van die lyn was daar ’n skerp, blink haak. Die vis het op die grond gelê en flap, maar die seun het dit vinnig teen die grond vasgedruk voordat dit kon wegspring. Dit was nie ’n baie groot vis nie, maar die nat vel het met ’n klomp kleure in die son geblink.
“Hawu, Bakithi!” het Mthetu gesê, sy oogappels wit van verwondering.
Die vis het met ’n hernude geflap onder die seun se hand uitgespring. Mthetu het vinnig vorentoe gespring en na die vis gegryp. Die seun het langs hom kom kniel, en saam het hulle die vis teen die grond gehou totdat die spring en die ruk uit sy lyf was, en net die bek nog oop en toe gegaan het. Die vis se bek was in die een hoek stukkend waar die haak uitgeskeur is, maar daar was nie bloed nie.
Die man het vir die seun iets gesê en hy het die vis gelos, in ’n sak gaan rondsoek en met ’n mes teruggekom. Versigtig het die seun die vis by Mthetu gevat, en hom op sy rug omgekeer. Hy het die mes se skerp punt in die klein kolletjie agter die vis se maagvinne ingesteek en stadig, al met die maag langs op, tussen die vinne deur, tot onder die vis se kop oopgesny. Die mes was skerp, en die binnegoed het rooi in die vis gelê. Die seun het dit met die mes van die vis se borskas losgemaak en op die grond uitgekrap.
Mthetu het met verwondering gekyk. Die seun het die vis onder ’n sak in die koelte gaan neersit, en sy visstok gaan optel waar hy dit op die rivierbank neergesit het. Mthetu het op sy hurke langs die seun gaan sit en die stokke se punte dopgehou.
Hy wou vir die man vra hoe hy dit reggekry het om die vis so maklik uit die water te haal, maar hy was te bang om te praat. Hy het net gekyk.
Daar het niks verder gebeur nie. Die seun het naderhand opgestaan en sy lyn ingedraai. Daar was niks aan die punt van die lyn nie, net ’n blink haak. Hy het weer in die sak gaan grawe en teruggekom met ’n stuk brood in sy hand. Hy het ’n stukkie afgebreek, dit om die blink haak van die lyn gesit, en dit toe vasgedraai met ’n stukkie wit tou wat lyk asof dit al langer en langer word. Hy het die lyn in die water gegooi, maar die punt van die lyn met die brood het teen die kant in die vlakwater geval. Hy het ingetrek, en weer probeer gooi. Met die gooi het die broodklont afgekom en op die water bly dryf. Die seun het moeg geword vir die gooiery, en sy stok op die grond by sy stoeltjie neergesit.
“Kom,” het hy vir Mthetu gewink, “kom ons loop.”
Mthetu kon nie die taal verstaan nie, maar hy het geweet die seun wil hê dat hy saam met hom moet gaan. Hy het opgestaan, maar bly kyk na die man se stok wat oor die water gestaan het. Hy wou weer sien hoe die man ’n vis uit die water haal, maar die seun het hom aan sy arm beetgekry en saamgetrek.
Hulle het in die platkroon se takke geklim. Die mik van die boom was hoog, maar hulle het mekaar opgestoot en opgetrek totdat albei wydsbeen oor die dik dwarstak gesit het. Onder hulle was die rivier glad en breed. Die seun het met hom gepraat. Die klank in sy stem het vrae geword, en daarom het Mthetu hom vertel van die vis, sy vis, boontoe op in die rivier in die vlak rietbog.
“Dit is ’n baie groter vis as wat jou pa gevang het,” het hy vir die seun gesê. “Jy sal nie weer so ’n groot vis sien nie, dit is die grootste vis in die hele Siyayirivier tot by die see.”
Die seun het vir hom gesê hy is al in standerd twee, en hulle het hier kom vakansie hou, op die plek waar sy pa grootgeword het. “Kan jy hoor dat my pa kan Zoeloe praat?” het die seun gevra.
“Niemand weet van my vis nie,” het Mthetu geantwoord, “net ek en jy. Maar ek gee nie om dat jy weet nie, jy moet net nie vir jou pa daarvan sê nie, want hy sal my vis kom vang as hy net weet hoe groot hy is. En ek wil hom self vang. Ek weet nou hoe ek dit sal regkry.”
Hulle het met hul bene aan die takke gehang, hulle arms regaf ondertoe totdat hulle koppe dronk en vol bloed was. Hulle het weer opgekom, en so ver as moontlik op die tak probeer kruip, tot daar waar dit oor die water hang.
“Ek het tog ’n BMX,” het die seun gesê. “’n Rooie. In ons dorp ry ek sewe blokke ver skool toe. As ons weer teruggaan skool toe, begin ons swem. Ek swem vir die Otters. Hoekom is jy nie in die skool nie? Julle het mos nog nie vakansie nie. Ons het vanoggend gesien hoe die skoolkinders langs die pad loop!”
“Waar het julle die stokke en die haak vir die visse gekry?” vra Mthetu en kyk na die seun se snaakse wit hare. “Ek wil baie graag een hê.”
Hulle het uit die boom geklim en verder met die paadjie afgeloop.
“Whoza, whoza!” het die seun se pa na hulle geroep. Hulle het in die paadjie gaan staan.
“Kom hier, Wikus, kom eet eers iets voordat julle klein bliksems heeltemal verdwyn.”
Hulle het teruggegaan, en Mthetu het gekyk of daar weer ’n vis gevang is terwyl hulle weg was, maar daar was niks. Hy het saam met hulle hul kos geëet. Brood en soet, wit tee. En ’n appel. Hulle het Mthetu se tee in die bottel se kop gegooi. Hy en die seun het onder die boom gaan sit om te eet; die man het teen die kar se wiel geleun.
Nie lank daarna nie het die man opgestaan en hulle goed bymekaar gemaak. Hy het begin om dit in die kar te laai. Hy het ook die stokke se lyne ingetrek en die vishake se skerp kante aan die stokke vasgemaak.
Mthetu se asem was in sy keel. Die mense was op pad.
“Ek wil ook so ’n stuk lyn hê,” het hy vir die man wat sy taal gepraat het, gesê.
“Uthini?” het die man gevra.
“Ek wil ook so ’n lyn hê,” het hy weer gesê.
“Yini?”
“Ek wil ’n vis vang.”
Die man het gelag, sy kassie oopgemaak en ’n stuk lyn onder uit die kas tussen al die ander goed gehaal. Dit was so gekoek dat dit soos ’n biesiepol gelyk het. Hy het die lyn gegooi; Mthetu het dit raakgevang. Die man het nog rondgekrap, en toe ’n haak ook uitgehaal. Dit was ’n groot haak, groter as die wat hulle aan die lyne gehad het. Dit het nie geblink nie, dit was effens rooierig. Die man het nie die haak vir hom gegooi nie. Hy het dit versigtig aangegee.
“Sala kahle, Mfana,” het hy gegroet.
Die seun het reeds in die kar gesit. “Koebaai, outatjie,” het hy geroep en vir Mthetu gewaai.
Die kar het ’n entjie teruggery, toe skerp gedraai en teen die steilte uitgery.
Mthetu het op sy hurke neergesak met die bondel lyn en die haak in sy hande. Hy het lank na die groot haak gekyk, die skerpte van die omgekrulde punt op sy vinger getoets. En toe het hy begin om die lyn los te torring.
Mthetu het die bol lyn uitmekaar gehaal, elke dag ’n bietjie losser en losser gekarring, terwyl hy op die wal van die rivier by die rivier gesit het. Hy het die vis dopgehou terwyl sy hande gewerk het. Hy het gekyk wat die vis doen, of hy stil lê op die rivierbedding, en of hy tussen die palmiete ronddryf. Die vis was dáár.
Dit het lank gevat om die lyn los te kry, maar toe hy eers ’n los punt in die hoek kry, het dit makliker gegaan. Dit was ’n groot, deurmekaar bol, maar die losgeknoopte stuk lyn het elke dag langer geword. Toe hy uiteindelik die laaste knope losgetorring het, het hy die lyn in lusse om sy vuis gedraai, en dit saam met die haak in die koraalboom se mik gaan sit waar hy dit elke dag weggesteek het.
Dit was sy vis. Niemand moes weet van sy lyn en sy haak nie. Ook nie van sy vis nie.
Hy het een hele oggend gesukkel om die haak aan die lyn vas te kry. Die lyn was sterk, maar glad, en dit wou nie vasknoop soos ’n mens ’n riempie of ’n stuk winkeltou knoop nie. Waar die lyne oorkruis in die knoop bymekaar gekom het, het dit bly gly en lostrek. Hy het toe maar die punt knoop op knoop gegee totdat daar ’n groot knoets groen lyn aan die haak vas was, en hy seker was dat dit nie sal loskom in die water nie. Hy het net die een haak gehad. Dit kon nie wegraak nie.
Alles was reg om die vis te vang. Dit moes net weer oggend word sodat die ander kinders kon skool toe gaan.
Vroegoggend reeds het hy die brandselpap uit die pot gaan krap, en dit in sy hande loop en druk. Hy het op die pap gespoeg, nóg ’n bietjie water bygegooi, en weer gedruk en gedruk. Dit moes ’n pap wees wat aan die haak sal bly sit as dit in die water kom. Dit moes nie ’n pappery word en van die haak afkom nie.
Mthetu het gekyk of daar iemand naby was, en toe by die hut se deur ingeglip en in sy ma se goed gaan krap. Hy het die botteltjie Vaseline onder haar klere gekry en vinnig die blou dekseltjie afgedraai. Hy het met sy voorvinger deur die dik salf geskep, en toe die sloot met sy middelvinger platgesmeer. Hy het sy vinger in die bol pap gesteek en die salf ingewerk totdat dit ’n stywe, beweeglike klont in sy hande was. Toe het hy sy knopkierie gaan haal en al met die oorgroeide voetpad langs begin loop, eers na die boom waar sy lyn en haak in die mik weggesteek was, en toe rivier toe. Die brak het ook saamgedraf.
By die rivier het die brak ’n paar vinnige lekke aan die water gegee, en in die koelte gaan lê.
Mthetu het die los punt van die opgerolde lyn aan sy knopkierie vasgemaak, die res van die bondel losgemaak, en die meeste daarvan om die knopkierie se steel gedraai. Hy sou nie ’n lang stuk lyn nodig hê om die vis te vang nie, die water was te vlak. Hy het ’n stuk van die papklont afgebreek en dit styf om die haak vasgedruk. Hy het ’n stukkie van die pap in sy mond gesteek en daaraan gekou. Dit was korrelrig, met ’n branderige smaak. En hy kon die Vaseline proe.
Die pap was taai, dit het styf om die haak geklou. Versigtig het hy dit in die water laat sak, daar, in die sonkolle tussen die palmiete waar hy geweet het die vis sal wees. En toe het hy gewag.
Hy het gewag vir die swaar lyf van die vis wat aan die pap gaan hap, en dan met sy bek aan die haak gaan vassit. Hy het gegril vir die plat bek en die breë kop en die stekels en die kolle op die vis se lyf wat bo die oppervlak van die water gaan verskyn.
Sy arms het styf aan die stok geklou, gereed om te pluk as die vis byt.
Daar het niks gebeur nie. Hy het die knopkierie stadig opgelig, en die haak uit die water getrek. Die pap was alles af.
Teleurgesteld het hy die lyn uit die water getrek en weer ’n klont om die haak vasgedruk.
Twee gestreepte visvangers het in die droë takke van ’n boom naby hom kom sit en lawaai.
Hy het die lyn weer laat sak. En gewag.
Die haak het slap in die water bly hang, daar was nie eens ’n roering van ’n visbek of ’n vin in die water nie. Lank het hy so gesit, sy teleurstelling ál groter. Hy het gedink die vis sal dadelik byt. Toe hy die lyn uittrek was die pap weer af.
Die vis wou nie die pap aan die haak hê nie. Die pap met die Vaseline was nie die regte kos wat die vis aan die haak sou laat byt nie. Hy moes vir die vis lekkerder kos kry. Iets wat aan die haak sal bly vassit. Vleis.
En toe het Mthetu ’n plan gekry.
Hy het die knopkierie met die lyn en die haak versigtig op die wal neergesit en opgestaan om te kyk waar die brak is. Dié het nog steeds in die skaduwee oopbek lê en hyg. Hy het langs die brak gaan sit, en hom met sy lyf teen die grond vasgedruk. Hy kon die dier se ribbes onder hom voel. Die brak het gedweë op sy sy bly lê, sy oor plat teen die grond. Mthetu het met sy een hand tussen die dier se agterbene begin soek. Voel-voel, oor die stywe, reguit spier en die ronde balle, agter onder die stert in, totdat sy hand die sagte hobbels van ’n klomp vasgesuigde bosluise in die holte raakgevat het. Die brak het geruk en met sy bene in die grond gekrap om regop te kom, maar die kind het sy een been ook om die dier se nek gegooi en hom vasgelê.
Versigtig het hy die bosluise afgetrek, gekyk hoe die rooi bloedspikkels op die dun vel uitslaan die oomblik wanneer die bosluis se kop loskom. Hy het aangehou aftrek totdat daar ’n hele bondel rondgesuigde bloubosluise in sy hand was. Dit het gelyk soos ’n handvol blou krale. Hy het sy hand toegemaak, en van die brak afgeklim. Die brak het opgespring en sy lyf geskud.
Mthetu het teruggegaan na sy stok op die wal, en die wriemelende bosluise netjies op ’n hopie voor hom op die grond gegooi. Hulle het op klein pootjies begin roei om weg te kom, en dié wat op hul rugkant te lande gekom het, het hulpeloos op hul uitgeswelde vol lywe bly lê en spook. Hy het hulle versigtig, een vir een, aangekeer en almal op die rugkant omgekeer. En toe het hy die knopkierie nader getrek en begin om die bosluise een vir een aan die haak in te ryg. Die dik bloed het uitgepers oor die skerp punt van die haak, maar daar was nog genoeg bloed in hulle velle oor sodat die vis dit kon proe. Die bosluise sou bly sit. Toe hy klaar was, was sy hande vol van die donker bloed.
Hy het die haak met die bosluise en die swaar bloedreuk versigtig in die water laat sak.
Dit het gewerk.
Mthetu was nie voorbereid op die krag van die vis se pluk aan die lyn nie. Hy het die kierie net met een hand vasgehou, met die lyn nog tussen die vingers van sy ander hand. Die lyn het in sy hand geruk en skerp in sy vingers ingesny. Hy het vervaard met albei hande na die kierie gegryp en vasgeklou. Sy vingers het gepyn. Die vis het probeer wegswem, diepwater toe, maar die lyn was te kort. Mthetu het op sy boude gaan sit en bly klou aan die swaar kierie wat uit sy hande wou trek. Die vis het met sy vinne en die wriemels van sy lyf aan die modder probeer vasklou, hy het met die gewig van sy lyf in die modder probeer wegsak, wegswem, wegkom, maar hy kon nie.
Die skrik in Mthetu se vleis het stadig weggesak, maar sy hele liggaam het nog gebewe. Hy het stywer aan die knopkierie geklou, dit tussen sy bors en sy opgetrekte bene vasgedruk. Vir ’n kort oomblik het hy gedink dat die vis losgekom het, of dat die lyn uit die hoek losgetrek het, want dit het skielik slap gehang, maar die volgende oomblik het dit weer geruk, styf gespan en die knopkierie amper uit sy hande gepluk. Mthetu kon net aan die stok klou, hy was nie sterk genoeg om die vis in te trek nie. Aan die ander kant van die lyn het die vis weer begin wegswem. Mthetu het gevoel hoe die lyn hom water toe trek. Hy het aan die stok geklou asof sy lewe daarvan afhang.
En toe het hy stadig op sy boude agtertoe begin skuif. Die lyn het skietgegee, gekom, en weer styf gespan. Hy het al verder agtertoe geskuif, sy kop teen sy knieë, die knopkierie in sy nek vasgedruk. Hy het nie gevoel hoe die stywe lyn in sy wang insny nie, hy het nie gevoel hoe sy hande brand nie, hy het net gedink aan die vasklou.
Mthetu se kop was nog steeds teen sy knieë vasgedruk toe die vis se plat kop bo die water verskyn. Hy het nie gesien hoe die vis se bek in die lug ooprek nie. Hy het nie gesien hoe die vinne op die droë grond roei en die lyf wild rondswaai nie. Dit was eers toe die brak skerp begin tjank dat hy sy oë oopmaak en sy kop opgetel het. Die brak het naby die rivier op die wateroewer gestaan, en op skrikkerige bene vir die ding geblaf. Die vis het op die grond gelê, sy stert nog in die water, sy bek oop, sy vislyf ’n sparteling van vinne en modder en water. Hy het vir ’n oomblik stil gelê. Mthetu was seker dat hy stip na hom gekyk het.
Dit was die lelikste ding wat hy nog in sy lewe gesien het. Leliker as die uTokoloshe, óf die Impundulu waarvan sy ugogo hom in die aande vertel het. Hierdie ding met die stekels om die bek en die dik, bruin lyf en die skerp rugvin. En die oë wat vir hom kyk. Die vis was mooier in die water.
Hy het opgestaan en die vis met die knopkierie verder opgetrek, tot in die koelte onder die bome. Dit was swaar. Hy het die knopkierie om ’n boomstam gedraai sodat die vis nie kon loskom en teruggaan water toe nie. Dit het nog lank daar gelê en flap. Mthetu kon dit hoor. Die brak het naby die vis gestaan, sy kop op sy voorpote, sy agterbene regop en stokstyf. Met elke ruk van die vis se lyf het die brak geblaf.
Mthetu het nie geweet wat om met die vis te maak, noudat hy dit gevang het nie, want hy wou nie met sy hande aan die vis raak nie.
Later, toe die vis heeltemal stil lê, het hy versigtig, met die punte van sy vinger, die haak uit die vis se bek gaan skeur. Hy het ’n iCheckers wat daar naby teen ’n bos vasgewaai het, gaan haal, en die vis kop eerste daarin gedruk. Die sak was te klein; die vis se stert het nog uitgehang, en ’n stuk van sy rugvin het deur die plastiek gesteek.
Mthetu het by die waterkant gaan sit en afgekyk in die troebel water. Hy het bly kyk of hy nie dalk ’n donkerder skaduwee tussen die palmietwortels kon sien wegsak nie.