Читать книгу Die vrou in die vuur - Riana Scheepers - Страница 14
ОглавлениеDulle Griet (1991)
Die soel, misterieuse landskap van KwaZulu-Natal was al vir vele skrywers voor my ’n vrugbare en kreatiewe ruimte. Ek het ná Die ding in die vuur nooit weer ophou skryf nie. Ná die verskyning van my eerste bundel het ek die skalkse bynaam gekry van “die nie-bonkige Zoeloelander”. Dit is ’n verwysing na J.C. Kannemeyer se bynaam vir D. J. Opperman en die titel van sy boek oor dié digter, Die bonkige Zoeloelander. Opperman en ek het albei op Vryheid grootgeword en daar gematrikuleer.
Waar ek in my eerste bundel hoofsaaklik gewerk het met swart karakters in die Zoeloeland-ruimte, het ek in my nuwe versameling verhale doelbewus ’n groter ruimte betrek, juis om weg te kom van die stereotipe wat toe al reeds ontstaan het dat ek ’n skrywer is wat net oor dié landstreek kan skryf. Ek wou my skrywersvlerke wyer sprei. Bowendien het die psige van die lelike vrou, die veragte vrou en die vrou wat nie aan die aanvaarbare sosiale norme voldoen nie, my geïnteresseer. Dié soort vrou is nie ingeperk tot een landstreek nie, sy kom wêreldwyd voor, in elke sosiale sfeer en in elke ouderdomsgroep.
Dulle Griet, die bekende skildery van Pieter Brueghel, is in 1562 geskilder. Dit is ’n oorlogstoneel wat uitgebeeld word. Dulle Griet, ’n lelike vrou met haar voorskoot vol buit en ’n swaard in haar regterhand, loop doodsveragtend voor die bek van die hel verby. Ek het lank gestaan en kyk na die skildery in die Museum Mayer van den Bergh in Antwerpen, en besef dit is die tema en die titel van my verhaalbundel. Wat my veral aangegryp het van dié makabere toneel is die oorlewingsvermoë van die vrou wat in die kunsgeskiedenis beskou word as ’n raserige, inhalige en aggressiewe vrou. Die verhale in Dulle Griet beeld die lewe uit van vroue wat sekerlik nie as “mooi” beskou kan word nie. Daar is prostitute, misdadigers en moordenaars, vroue wat skei en hul mans bedrieg, daar is vroue wat deur hul mans bedrieg en misbruik word, daar is vroue wat verpletter en verneder is. Ten spyte van hul sosiale status en die negatiewe stereotipering wat hulle randfigure van die samelewing maak, oorleef hierdie vroue op kreatiewe wyses wat daarop dui dat hulle nie net slinks en geslepe is nie, maar ook slim en sensitief; Dulle Griete, almal van hulle.
Dulle Griet het die S.A. Akademie vir Wetenskap en Kuns se Eugène Marais-prys (1991) gekry.