Читать книгу Die vrou in die vuur - Riana Scheepers - Страница 15
ОглавлениеPlat hond
Dit is ’n wonder dat daar nog enige honde oor is by die statte langs die pad.
Elke oggend as die vrou deur die groen heuwels ry om werk toe te gaan – suikerrietlande, donker bloekomplantasies, gespikkelde grasheuwels, statte soos vratjies in die glooiings langs die pad – sien sy ’n doodgetrapte hond langs die pad lê. Soms lê hulle nog in die pad. In verskillende stadiums van herkenbaarheid.
Hond: viervoetige, vleisetende, intelligente huisdier wat hom trou aan die mens heg en as bewaker, jagter en/of geselskap aangehou word.
Na elke vragmotor en taxi bly daar minder en minder van die troue geselskap, die bewaker, die jagter, die intelligensie, die vier voete oor, en kom die woue en die kraaie om die vleis van die teerpad op te pik. Hulle vlieg traag, hul bekke vol sagte vleis en murg, van die warm pad af op as daar ’n nuwe voertuig aankom.
Die vrou ry een oggend reeds vóór sewe van haar huis weg om betyds te wees vir die halfagt-periode. Die studente skryf toets, sy wil betyds wees om die toetsboeke voor die begin van die periode uit te deel. In die enkelbaanpad wat deur die bloekombos kronkel, kom sy agter dat daar ’n haastige, ongeduldige motor reg agter haar is. Dit is ’n wit BMW met ’n Durbanse registrasienommer. Die man agter die stuurwiel het ’n vies sakeman-trek op sy gesig. Hy bly kort op haar hakke, sy regterkantse flikkerlig reeds aangeskakel, maar hy kry dit nie reg om in die draaierige, nou pad verby te steek nie. Daar kom, telkens wanneer hy wil uitswaai, ’n groot vragmotor vol suikerriet van voor af aan. Sy versnel onwillekeurig om hom af te skud.
Sy het nie gesien waar die kind vandaan gekom het nie. Hy het, asof uit die niet, blindelings oor die pad gehardloop. Sy het nie gesien nie, sy het gehóór hoe sy hom tref, die geluid van ’n liggaam teen metaal.
Sy trek af en kom in ’n stofwolk langs die pad tot stilstand. Die wit BMW stop met ’n skerp geskreeu van bande langs haar. Die man spring by die deur uit en kom met lang hale na haar toe aangehardloop. Sy motorenjin luier nog, die deur is oop.
“Ry!” sê hy vir haar terwyl sy nog besig is om haar vensterruit af te draai. “Moenie omdraai nie, moenie afklim nie, ry net.”
Sy wil haar mond oopmaak om te protesteer, sy wil skree om die histerie uit haar keel te kry, maar hy beduie haar ongeduldig met sy hande weg.
“Ry! As jy nie ’n necklace om jou wil hê nie, moet jy nóú maak dat jy wegkom!”
Sy kyk in haar truspieëltjie toe sy wegtrek.
En toe weet sy dat sy haar dit alles net verbeel het.
Dit is ’n plat hond wat daar in die pad lê.