Читать книгу Die vrou in die vuur - Riana Scheepers - Страница 7
ОглавлениеTweede kind
Here God, skrik die sendeling se vrou.
Die sendeling se vrou gee geboorte aan ’n seun in die warm hospitaalgeboutjie van die sendingstasie op Nongoma. Umngoma. Toordokter. Eertydse blyplek van die Umngoma en Isangoma.
Dit is haar tweede kind wat hier in die sendinghospitaal gebore word. Sy het binne drie uur gekraam nadat haar man haar met die stamperige Ford oor die tweespoorpad daar aangebring het, en in die sorg van die swart verpleegster en die Here gelaat het.
Reeds by die huis het sy haarself sorgvuldig gewas, geskeer en met tussenposes, die kraampyne al hoe skerper, haar hare in vlegsels weggebind. Haar man het haar gehelp. Sy het gewonder of sy hierdie keer meer melk sou hê as met die eerste kind.
Die verpleegster het haar in die bed gesit en gewag. Die Hollandse sendingdokter het betyds vir die geboorte uit die eNdunu-heuwels gekom, waar hy die smetterige ekseem-oë van pasiënte behandel het. Die sendeling het te perd agter hom laat aanstuur.
Die geboorte van die sendelingvrou se seun is sonder komplikasies en makliker as die vorige keer, toe die groot eerstelingkind uit haar gebeur en geruk het.
Die ondervoede meisie se borste was skaars gevorm.
Soos groen mispels het dit nog gelyk, harde knoppies wat nie groter geword het nie, maar net skeef geswel was van die kind in haar. Haar lyf was dun, haar skouerknoppe skerp en maer soos die brakhonde by die stat. Haar bekkenbene onder die gebreide velskort was nog te stokkerig, te nou, te dertienjaar om al ’n kind uit te stoot.
Die sendeling se vrou het gehoor toe die meisie die hospitaal ingebring word. Die verskriklike skreeue. En die opgewonde stemme. Die dokter het die verpleegster uitgestuur om te gaan kyk. Soos ’n kind se angsgille was die geskreeu. Die hospitaalgeboutjie is klein, sy kon dit duidelik hoor. Sy het nog gewonder watter bakleiery dit nou weer was. Watter oopgekapte kop of gesteekte lyf kan dit wees dat die skepsel so skree? Maar sy was self in kraam, en die skreeue het later opgehou.
Jy sal moet opmaak hiervoor, Here, sê die sendeling se vrou.
Die swart verpleegster en twee hospitaalwerkers moes die skreeuende meisie, haar oë wild en draaiend in haar kop, op die hoë hospitaalbed vasdruk. Toe die dokter inkom en die kind se uitgeteerde lyf met die meskerwe op die hoogswanger maag sien, het hy geweet êrens gaan fout kom. Hy het haar ingespuit en sy teater gaan regkry.
Die stat waarin sy grootgeword het, lê hoog op in die heuwels teen die skuinste, aan die sonkant vasgeplak. Vroegoggend en laatmiddag stap die vroue met die kronkelpaadjie af na die spruit om water te skep vir die hutte, hulle heupe wiegend, hulle borste soos armsvol ryp papajas. Die stat is klein, net ’n paar hutte.
Die landjie mielies agter die hutte is reeds afgemaak. Die plante staan skeefgetrek in die son. Daar is twee bokke wat tussen die aalwyne en klippe rondloop en ’n klomp flenterhoenders op die harde werf. En die maer brakke wat hulle eie kos in die veld moet vang. Die bontbees met die krom horings wat hulle gehad het, het een dag by die afgrond afgestort omdat die umfana wat hom moes oppas, verdwaal het in die digte mis wat skielik opgesteek het. Die Isangoma het gekom en die plek gemerk waar die bees te pletter af is. Hy het die umfana ook gemerk.
Die stat se mense kon uit die hoogte van die heuwels die kruis van die kerk op die dorpie sien as dit ’n oop dag is. Maar hulle kom nie by die kerk nie.
Hulle gaan net soms na die winkel waar die wit man in die donkerte agter die toonbank uitkom om te kyk na die hoendereiers in hulle grasmandjies wat hulle ruil vir suiker en tee en lap. Hulle weet ook van die dokter wat naby die kerk bly. Maar hulle sal nie na hom toe gaan nie.
Nie eers die keer toe hy hier by die stat aangekom het met sy perd en sy swart sak, het hulle met hom iets te doen gehad nie. Hulle het hom van ver sien aankom met die voetpad en toe het hulle doodstil in die donker hutte ingegaan en inasem gewag. Selfs die brakke was veld in stil. Hulle het gewag totdat hy opgehou het met roep en ver weg was voordat hulle deur ’n skrefie na buite geloer het. Hulle sal nie naby hom kom nie. Hom nie eens aankyk nie. Nooit.
Ook nie die umfundisi van die kruiskerk nie, al kan hulle soms die welluidende gesing hoor wat opstyg uit die kerkgebou in die vallei.
Die hutte en die heuwels om hulle sien en hoor en weet van die asem van die Isangoma. Die Isangoma sien en hoor en weet van elke asemteug van die stat. Ook van die geil gespeel van die kinders tussen die klippe.
Die sendeling se boodskapper agter die dokter aan het met sy terugkom deur die voetheuwels die meisie in die veld gekry. Hy het die gekerm gehoor en nuuskierig agter die aalwyne gaan kyk.
Sy was alleen en het hurkend gesit, met haar maag tussen haar hande vasgeklou. Haar oë was groot en verwilderd en haar mond oop en droog. Hy het haar groot maag gesien. Hy het die Isangoma se kerfmerke op haar lyf gesien en geskrik. ’n Oomblik lank het hy sy oë met sy hande toegedruk. Hy wou nie na haar kyk nie, hy wou vergeet wat hy gesien het. Hy wou op sy perd klim en weggaan van hierdie plek waar die Isangoma nog vreeslik lewe, maar die gesig van die meisie en haar gekerm het hom laat terugdraai.
Hy het probeer om haar op te trek van die grond af, maar sy het gillend van hom weggeval en met haar dun arms om haar maag bly vasklou. Haar bene en velskorte was nat, die lou reuk van vrugwater en urine en uitwerpsel skerp in sy neus. Hy sou haar nooit op die perd kon kry nie, hy wou haar nie saamvat nie, hy wou nie aan haar raak nie, hy vrees die Isangoma, hy kan haar nie hier los nie, het hy radeloos tussen die perd en die meisie gestaan. Na die stat waar sy vandaan kom, sou hy nie gaan om te sê nie. Nie daardie stat nie. Hy het sy perd gelos en pad toe gehardloop.
Die groepie vroue wat met hul kleipotte op die kop op pad winkel toe was, het saam met hom kom kyk. Hulle het klikkend en wiegend gekyk en ontsteld gepraat, maar wou nie aan haar raak nie. Die boodskapper het sy perd gevat en by die sendingstasie gaan sê.
Die sendeling het die Ford uit die koelteboom se skaduwee getrek en die boodskapper laat saamry. Die Here God is sterker as die duiwelsmag van die Umthakathi en die Isangoma, het hy op pad vir sy gedoopte, huilende lidmaat gesê.
Die Hollandse sendingdokter maak die keisersnit breed oor die meisie se stywe maagvel en dwars oor die littekens van die toordokter se mes. Die lewe daaronder is kloppend sigbaar.
Onder die narkose gaan die meisie dood. Die hospitaal is nie vir sulke operasies ingerig nie. Die grootste nood hier is die swart mense se oogsiektes en hulle tering. Die vroue gee gewoonlik geboorte aan hulle kinders so maklik en natuurlik soos wat hulle in die veld hurk. Selfs al sou sy geleef het, sou sy nie vir die kind melk gehad het nie, dink die dokter. Dit is in elk geval ’n wonder dat die baba leef.
Later die dag kom sê die verpleegster vir die dokter dat die weeskind nie die afgefloude beesmelk in die bottel kan inhou nie.
Ek gee om vir hierdie skepsels, Here, sê die sendeling se vrou. Ek jaag hulle nie weg nie en ek gee kos en plant pampoene en verkondig saam met my man die geloof aan hierdie heidene. Here, hier staan ons kerk. Here, hier staan jou kerk op die plek waar Zoeloeland se toordokters eers almal in hulle grashutte saamgehurk was. Hier staan jou kerk op die slagveld waar Dinizulu en Zibephu mekaar met die assegaaie uitgemoor het.
Ek gee nie om dat my seuns saam met die abantwana van die dorp witboud-swartboud in die modderige riviere swem nie. Ek gee nie om dat my seuns en die abafana saam teen die koeikraal se muur piepie nie. Ek gee nie om as hulle by die strooise speel en na stroois ruik nie. Dat hulle saam uit die swart vuurpot klontjies pap met die vingers vasdruk en eet nie. Here, ek is ’n meisie uit die Hugenote-vallei, maar ek sal hier werk saam met my man. Ek hou van die mis wat in die heuwels se voue intrek en die rokerigheid van die vure. Maar Here God, moet ek dan op só ’n manier hierdie skepsel se ellende deel?
Die sendeling se vrou sien haar man langs haar smal bed staan. Sy weet van die mooi Dexterkoeitjie met die swart vel en die ronde uier, wat in die koeikraal staan en die ryk melk wat sy gee.
Jy moet opmaak hiervoor, Here, sê die sendeling se vrou.
Jy moet nou weet van my kind. Jy moet nou my blonde seun groter en sterker laat groei met die Dexter se melk as wat dit sou wees met my eie.
Noudat ek my borste vir die barbare gegee het.