Читать книгу Die vrou in die vuur - Riana Scheepers - Страница 13
ОглавлениеAbantu oNgoye
1 Indaba – Abantu oNgoye
Die storie, volgens oorlewering, is dat Verwoerd saam met die amptelike legate en gesante van sy Departement van Bantoe-onderwys eendag, lank, lank gelede oor die land gevlieg het. En toe hulle oor Zoeloeland vlieg, het die groot staatshoof afgekyk op die heuwels en gesê: “Kyk, daar groei fôkol. Bou dáár ’n swart universiteit.”
Dié storie is natuurlik nie waar nie.
(Dit is ook nie vir kinders se ore bedoel nie.)
2 “Indaba – Abantu oNgoye”: ’n mooi storie vir soet kinders
Die ugogo kloek die kinders nader.
Sy het einde ten laaste klaar geëet, die laaste stukkies frummelpap met rukkerige lippe en met suiggeluide in haar hol mond ingewerk. Die kos wat die los onderlip nie kon raakvat nie, en wat op haar ken bly lê het, is met die vingers in die mond gedruk. Toe het sy lank en met slukkerige asemstote uit die kalbas gedrink wat een van die vroue voor haar mond gehou het.
Die kinders sit al lankal uiloog vir haar en kyk. Hulle mae is dik van die pap en die boontjies wat hulle uit die plat houtbak geëet het, en die suur van die koel dikmelk lê nog in die mond om te proe.
Hulle wag vir die ugogo om klaar te eet, vir die son om heeltemal weg te sak, vir die hut om heeltemal donker te word, vir die vlamme van die vuur om rokerig en grys te word.
Hulle wag vir die Ding wat vir kinders horings gee as hulle na stories in die dag luister, om heeltemal weg te gaan saam met die lig.
Met die vingerpunte druk hulle voel-voel tussen die kroeserige hare op hul koppe om seker te maak dat daar nie dalk knoppiesrige horinkies uitkom nie.
Hulle wag vir die nag.
Hulle wag vir hulle storie.
Die ugogo is nou nog net besig om met ’n bietjie wit vuur-as wat een van die kinders vir haar gebring het, haar tandvleise in te smeer. Haar vinger vryf en vryf tussen die beweeglike lippe en die paar losserige tande in.
“Kwesukasukela,” sê die ugogo. Uiteindelik.
“Cosu, cosu!” antwoord die kinders in een stem.
Hulle swart oë blink in die vuurlig en hulle skuif hulle boude reg op die grasmat wat op die vloer van die hut oopgesprei lê. Die amantombazane vou hulle bene skuins onder die onderlyf in, sit met die een hand teen die grond gestut. Die abafana het wydsbeen teruggesak op hulle hurke, die stertrieme netjies teruggevou om die geslag toe te maak.
Hulle kyk op na die ugogo.
“Indaba,” sê die ugogo. “Indaba – Abantu oNgoye.”
“Soyipheka ngogozwana,” sê die kinders met hulle hoë stemme in die eeu-oue ritueel van stories vertel.
Die ugogo sit doodstil. Sy het vergeet van die kinders en kyk blinderig teen die swart latwerk van die hut vas. Haar oë is rokerig soos die vuur.
Die kinders wag. Ongeduldig, maar sonder om ’n woord te sê. Hulle weet dat haar siel eers moet saampraat met die mense en die dinge van die storie voordat sy kan begin.
“Kwesukela. Kwakukhona ...” sê die ugogo.
“Daar was eendag ’n land met die naam oNgoye. Dit was ’n mooi land met baie bome en riviere met diep kuile en wilde voëls en bokke. In die vrugtebome het die inhlekabafazi met hulle horingbekke gesit en lag terwyl hulle aan die ryp vrugte pik. Die wildsbokke het sku onder die bome gestaan sodat die skaduwee van die takke ook die strepe en kolle op hulle velle was. Daar was luiperds wat in die klipskeure tussen die groot granietrotse gebly het, en daar was krokodille wat soos droë blare in die rivier gedryf het. Die heuwels van hierdie land, oNgoyeheuwels, het soos ’n opgekrulde slang gelê met sy stertpunt in die groot, blou see.
“Op ’n helder dag, as daar baie son was, was die heuwels bont gespikkel met die kleure van baie bome en die sonvlekke wat op die bulte lê. Op die dae wat die son weggekruip het en die mis toegetrek het oor die land, het die heuwels in die dynserigheid verdwyn. Dan het die mis so dig in die klowe gelê dat niemand jou weer sal terugkry as jy eers daar weggeraak het nie,” sê die ugogo.
Die kinders knik instemmend met die koppe.
“Die mense wat in die oNgoyeheuwels gebly het, was gelukkig. Die vroue het baie bier gemaak, en in die landerye teen die skuinste van die heuwels het hulle geskoffel en geplant en vet patats en boontjies en madumbes uit die grond gehaal. Hulle het ook maroelas en koejawels van die bome gepluk. In die aande het almal lekker geëet en tot laat om die vure gedans. Die mans het in die dag gekyk hoe die vroue werk, en hulle het hulle assegaaie geslyp en die samango-ape en tierkatte wat in die klowe was, gejag. Hulle het die lang, wollerige sterte en velle van die apies en die tierkatte aan hulle imitsha vasgewerk, en dit het hulle bene sterker gemaak en hulle beter laat dans en dapperder laat veg as ooit tevore.
“Dit het baie goed gegaan met die mense. Die hoofman het vier vroue gehad wat mooi soos vet geblink het as hulle voor die hutte in die son sit. Die hoofman se seuns het baie om hom gestaan, en in die aande het die bontbeeste met hulle wye horings in die kraal ingekom en gebulk. Die hele stat het geruik na vars beesmis, so baie beeste was daar,” sê die ugogo.
Die kinders sit reg. Reg vir die leeu of die skelm kraai of die trapsuutjies wat die dood in hierdie land moet bring.
“En eendag vlieg daar ’n groot voël oor die heuwels. Dit was ’n oop dag en dit het gelyk asof die voël in die son gaan vasvlieg. Die mans van die stat het almal opgestaan uit die koelte, en die vroue op die lande het almal opgehou met werk om op te kyk na die son en na die wonderlike voël. ’n Umfana wat naby sy ma se skoffelplek onder ’n boom gespeel het, het aan die huil gegaan en na haar toe gehardloop. Hy het aan haar vasgeklou en deur haar bene opgekyk na die ding in die lug. Die voël het diep gegrom en gevlieg sonder om sy vlerke te klap.
“ ‘Hawu, watter voël is dit daardie?” het die mense geroep. Hulle het nog nooit so ’n voël gesien nie.
“Dit was ’n towervoël,” sê die ugogo, “want diep in die voël se maag was daar mense gewees.”
Die kinders se oë rek groot.
Die ugogo bly ’n rukkie stil voordat sy verder praat.
“Die mense in die voël se maag het afgekyk en die land onder hulle gesien. Hulle het die landerye en die ronde hutte en die vet beeste gesien wat soos bosluise op die land se rug was.
“ ‘Dit is so ’n mooi land!’ het die mense gesê. ‘Ons moet ook hier kom bly. Ons sal hier vir ons ’n stat kom bou.’
“En die voël het verbygevlieg, maar hy het weer bokant die heuwels kom draai, soos ’n bruinvalk as hy iets sien roer in die gras. Die mense in die voël se maag praat toe met die towervoël.
“ ‘Gaan sit ons neer in hierdie land,’ het die mense vir hom gesê.
“ ’nee,’ het die towervoël geantwoord, ‘julle moet eers vir my ’n groot kalbas dikmelk gee om te drink.’
“En die mense in sy maag moes hom eers baie kos gee voordat hy na hulle geluister het. Hy het ’n ent verder op die gelykte gaan sit en die mense het gekom en gekom en gekom uit sy maag uit. Hulle het dadelik begin om ’n baie groot stat te bou. Die stat was so groot dat dit oor ’n hele paar van die heuwels gestaan het. Die hutte wat hulle gebou het, het hoog, hoog, hoër as drie bome opmekaar, in die lug gestaan, sodat die mense met lere moes opklim om in hulle hutte te kom as dit nag word. En in die oggende moes hulle weer met die lere afklim om op die grond te kom.”
“Hawu, Gogo!” giggel die kinders. Hulle probeer dink hoe jy so in die lug kan slaap.
“Maar die snaaksste van hierdie mense was dat hulle nie eens hulle eie beeste gehad het nie. Hulle het ook nie dat die vroue lande maak en mielies plant nie. Hulle het net heeldag in ’n groot hut gesit en gepraat-praat totdat hulle in die aand na hulle slaaphutte toe gaan. En die kos is elke dag vir die mense aangedra sonder dat hulle gewerk het.”
“Hawu, Bakithi!” lag die kinders ongelowig.
“Hoe kan dit gebeur?”
“Waar het die mense dan die kos vandaan gekry, Gogo?”
“Het die towervoël die kos gebring?”
“Thul’ umsindo!” raas die ugogo. Haar oë blits oor die kinders.
Die kinders bly dadelik stil, hulle sit met die koppe afgebuig. As die ugogo nou in die vuur spoeg, hoor hulle nie die einde van die storie nie.
“Die hoofman van die oNgoyeheuwels het sy kop geskud en gekyk en met sy kierie gewys na die bulte en die mense wat gekom het om in daardie groot stat te bly. Hulle het nooit na die hoofman se stat gekom met beeste of bier of mandjies nie, of om by sy mense suurmelk en groente te ruil nie. Hy het gewonder oor die stat en oor die mense. Maar omdat die towervoël hulle gebring het, was hy bang en het hy nie nader gegaan nie. Hy was nie seker of die mense daar dieselfde soort mense as hulle was nie.
“Maar die meeste het hy gewonder oor sy eie mense, want elke dag het hulle op die hoogste klipknop buite die stat gaan sit en probeer kyk wat in die vreemde stat aangaan. Party het selfs so naby die vreemde stat gekom dat hulle die mense se gesigte kon sien. Hulle was so nuuskierig oor die vreemde stat en die snaakse dinge wat daar gebeur het, dat hulle skoon vergeet het om hulle eie werk te doen. Hulle kon nie verstaan wat die mense daar doen nie. Hulle het net gesien dat die mense nooit werk nie. Daar was nie vroue wat mielies gestamp het nie, en die mans het nooit uitgegaan vir die jag nie. Hulle het ook nie gedans of gesing nie. En die mense wat afgekyk het op die vreemde stat het nooit ’n kind gesien nie. Daar was nie eers een kind wat gehuil of gespeel het nie. En die meeste van die mense in die groot stat was jong mense. Daar was maar net ’n paar ou mense wat in lang, swart klere rondgeloop het.
“En toe het die hoofman gedink en gewonder en besluit om die Isangoma te laat kom om te praat oor die vreemde stat en wat die mense daar doen. Die Isangoma het vir sewe dae in die hut gebly wat die hoofman reggesit het, vuur en kruie gebrand en in die nag ingepraat. En toe die Isangoma klaar die dolosse gegooi het, en die bees klaar vir haar geslag het, het sy uit die hut gekom om aan die hoofman te sê wat die voorvaders gepraat het.
“ ‘Wat doen die vreemde mense in die vreemde stad daar onder?’ het die Isangoma aan die hoofman gevra.
“Nee hy weet nie, het die hoofman sy kop geskud.
“ ‘Het hulle die land vir die nuwe stat by die hoofman kom vra?’ het die Isangoma gevra.
“Nee, het die hoofman sy kop geskud.”
Nee, skud die kinders hulle koppe.
“En het hulle die respek met beeste en mandjies en bier kom gee vir die hoofman?”
“ ‘Nee,’ het die hoofman gesê.”
Nee, skud die kinders verontwaardig die koppe.
“ ‘En het ’n vreemde voël hulle hiernatoe aangedra en hier gelos?’ het die Isangoma gevra.
“Ja, het die hoofman geknik.”
Ja, knik die kinders se koppe.
“ ‘En is dit so dat die vrouens van jou eie stat vergeet om bier te maak en die mielies te skoffel omdat hulle oë bly uitkyk na die vreemde stat?’ het die Isangoma gevra.”
Ja, knik die hoofman en die kinders.
“ ‘En weet jy wat om nou te doen?’ het die Isangoma aan die hoofman gevra.”
Ja, knik die kinders nog voordat die hoofman in die storie kan antwoord.
“Die hoofman het sy impies bymekaar geroep. Die krygers het om hom gestaan en hulle knopkieries teen die skildvelle geslaan. Die tierkatvelle en aapsterte het om hul bene geswaai en hulle kwaai gemaak, en hulle het met hulle voete op die grond getrap en gesing en die dans van bloed en oorlog gedans.”
Die kinders se oë blink. Uiteindelik kom daar ’n bietjie aksie in hierdie storie.
“Die manne wat die skilde en die assegaaie gedra het, het die dans van die bloed en die oorwinning gedans. En toe het hulle deur die beeskraal en by die hek van die doringtak-heining uitgedraf, ritmies in gelid, singend, uit, na buite. Die vroue het in die kraal gestaan, hulle hande geklap en in hulle kele gesing totdat hulle nie meer die stof van die krygers se voete kon sien nie.”
“Yebo!” sê die kinders met gretige gesigte na die ugogo opgehef. Hierdie storie word al hoe beter. Hulle verskuif hulle boude en sit nader aan die vuur.
“En toe die krygers by die vreemde stat aankom, en die beeshoring om die kraalhek maak, het hulle gesien dat daar niemand was om die hek op te pas nie. Die hekke van die stat was met getoorde hout toegepak. Die hout was so sterk dat die dapperste kryger dit nie kon oopkry nie. Maar die towerkrag van die hek was nie sterk genoeg vir die impies van oNgoye nie: hulle het net bo-oor die hek geklim, en weer ’n beeshoring van krygers om die grootste hutte, die hutte wat drie bome hoog in die lug ingestaan het, gemaak. Daar het niemand uit die hutte gekom nie, en die dapper impies het ingestorm in die vreemde, betowerde hutte.”
Die kinders sit oopmond en luister. Die vuurlig brand op hulle stralende gesigte. Hulle sien die geveg, hulle skree die krete van die krygers, hulle hardloop saam in die horingformasie, hulle steek saam met die impies die assegaaie in die liggame van die bose vyand in. ’n Klein umfana met ’n loopneus het ’n dringende behoefte om buite te gaan piepie, maar hy wil nie die storie mis nie. Onder sy klein velskort klou hy krampagtig aan sy opgehewe penissie, sy bene skuif onrustig onder hom rond.
“Die krygers het die vreemde mense uit hulle hutte gaan haal, en hulle doodgesteek. Almal wat hulle kon kry!”
“Yebo!” Die kinders lag van trots en genoegdoening.
“Party van die vreemde mense was so bang vir die dapper impies dat hulle bo-op hulle hutte se dak probeer klim het om weg te kom! Maar toe hulle sien dat die krygers hulle daar ook sal afhaal, het hulle sommer afgespring en mors-morsdood ondertoe geval.”
Die kinders skree van die lag. Hulle slaan met hulle handpalms op die knieë van lekkerkry. Die abafana lag so dat hulle agteroor op hulle rugge op die misvloer gaan lê en met hulle bene reguit skop. Die umfana met die piepie kan dit nie meer hou nie; hy kruip by die hut se lae deuropening uit. Met ’n blink straal teken hy die suiderkruis se buitelyne in die hemel terwyl hy probeer om te hoor wat binne met die storie gebeur.
“Wat het toe gebeur, Gogo?”
“Het die impies ál die mense doodgemaak?”
“Staan die groot hut nog daar in die stat?”
“Wat het van die towervoël geword?”
“Het hy weer teruggekom met ander mense?”
“Gogo?”
“Coyi, cosu cosu! Iyaphela,” sê die ou vrou wat voor die vuur skielik kleiner en kleiner word.
Die kinders mag nie meer uitvra nie, maar hulle lag nog oor die mooi storie waarin alles reggekom het.
Die ugogo het baie stil geword. Sy kyk in die vuur in sonder om haar waterige oë te knip. Haar tandelose mond kou-kou aan ’n onsigbare kousel. Sy spoeg ’n skerp straal in die vuur.
Die slymerige vog van haar mond en die towervoël en die groot stat en al die mense van oNgoye verbrand sissend in die wit vuur-as. Nie een van die oNgoyeheuwels se geeste kan nou meer in die kinders wat rondom haar sit, se koppe intrek om vir hulle nagmerries te gee nie.
Die storie is buitendien nie waar nie.
Die seuntjie wat tussen die sterre in gepiepie het, kom weer gebukkend binne.
3 ONgoye bloodbath
Die koerante se keuse vir ’n opskrif was nie baie moeilik nie. Een treffende kop het die storie vertel: “Bloodbath!”
Blood gushed and spattered on the walls and floors of L Block, a men’s residential building at the University of Zululand, during Saturday’s violence in which five people were killed and over 300 injured.
There was blood just about everywhere one looked when the Zululand Observer was allowed to visit the building. It was in the passages, in rooms, cupboards, toilets, showers, washbasins.
There was a big smear on a floor where someone appeared to have been dragged bleeding into a lift.
There were smears and prints where bleeding or bloodied hands had groped at walls.
Later het die studente kom vertel hoe hulle die deure van hulle koshuiskamers met hulle matrasse, beddens, boeke, tasse en hulle liggame toegedruk het. Hulle het gehoor hoe die hel onder losbars en geluister hoedat dit vloer vir vloer nader aan hulle kom.
Van die studente het, vreesbevange vir ’n ongenadiger dood, by die vensters uitgespring.
“Ek kan my sterre dank dat ek nog lewe,” het een van die studente agterna gesê.
“Julle sê daar is vyf mense dood, maar ons het gesien hoe hulle daar lê. Ek het gebid soos nog nooit tevore nie.”
4 Indaba
Ek sit by die professor van Afrikatale in sy deurmekaar kantoor op die vyfde verdieping van die dosentegebou. Hy sit oorkant my, agter sy standaard-grootte lessenaar wat toegepak is met vraestelle, woordeboeke, ’n handboek oor deiksis in Zoeloe, ’n boek met Nguni-volksverhale.
Buite skyn die son met ’n tropiese hitte op die groen suikerrietheuwels.
Dit is nou al twee weke dat die dosente kuier-kuier rondloop terwyl die studente staak.
Soos die meeste swart mense kan die man wat oorkant my sit vyf, ses swart tale vlot praat. En Engels. En ’n bietjie Afrikaans. Op die kampus groet hy my altyd op my Zoeloenaam wat ek kleintyd al op die plaas gekry het. Ons het uit ons informele gesels agtergekom dat ons van dieselfde dorp in die Natalse platteland kom.
Ek het op ’n plaas in die distrik gebly en op die dorp skoolgegaan en gematrikuleer. Dit was (destyds) die grootste blanke hoërskool in Natal. Hy het in die dorpslokasie gebly en skoolgegaan by die Roomse Sendingskool, ’n paar kilometer buitekant die dorp. Hy is na matriek buiteland toe met studiebeurse van Anglo American en Mobil.
Méér as sy skerp verstand, het sy akademiese redding gelê in sy ouers se Katolieke geloofsoortuiging. Die grenslyne van hierdie land word nie getrek tussen wit en swart nie, sê hy, dit lê tussen dié wat skoolgegaan het, en dié wat nie skoolgegaan het nie.
“Ek hoor jy is besig om die swart volksverhale byeen te bring en neer te skryf?” vra ek.
“Yebo.”
“Vertel vir my een van jou stories?”
Hy lag my uit. “As ek nou vir jou ’n storie vertel sal jy horings kry.”
Ek vat twee potlode uit die pennehouer op sy lessenaar en draai dit bokant my ore in my hare in. “Cosu! Cosu!” spot ek saam.
Die potlode val van my kop af. My hare is nie kroes genoeg om dit vas te hou nie.
“Watter storie wil jy hoor?”
“Wat het gebeur met die oNgoye-massacre op die kampus? Jy was mos hier toe dit gebeur het.”
“Het jy dan nie die koerante gelees nie?” vra hy.
“Die koerante het hulle verlustig in die sensasie van bloed. Ek wil hoor wat regtig gebeur het.”
Die professor in Afrikatale vertel my ’n storie in ’n taal wat ek verstaan, en wat ek gebroke kan praat, maar waarin ek nooit sal kan droom, of huil, of sing, of verhale sal kan vertel nie.