Читать книгу Die vrou in die vuur - Riana Scheepers - Страница 3

Оглавление

Kortwoord

As skrywer het Riana Scheepers al in bykans elke genre gepubliseer, maar die genre waarin sy gedebuteer het, die kortverhaal, bly haar forté. Met die verhale in hierdie versameling word haar liefde, artistieke beheer en intuïtiewe aanvoeling vir die kortverhaal op ’n unieke wyse ten toon gestel. Vir lesers wat die titels uit haar vorige bundels herken, lees die inhoudsopgawe soos ’n reeks vuishoue in die maag. Dit is nie net die verhale waarvoor sy bekendheid verwerf het wat in Die vrou in die vuur opgeneem is nie, maar veral die verhale wat haar ontwikkeling as skrywer markeer.

Ruimtelike plasing en ’n intieme verbintenis met die landskap speel belangrike rolle in Scheepers se skryfwerk, daarom gaan die leser saam het haar op reis deur die landskap van haar verhale: van die geil, soel heuwels van KwaZulu-Natal waar Die ding in die vuur geskryf is, na die landskap van die stad Kaapstad in Dulle Griet, verder as Suid-Afrika na die Europese landskap (’n Huis met drie en ’n half stories en Feeks), tot die uitgestrekte verlatenheid van die Karoo en Namibië, soos dit in Katvoet beskryf word.

Soos die temas van die verhale, is ook die taalgebruik uitdagend, want vir Scheepers is ’n kortverhaal nie net ’n storie nie, dit is ook ’n kunswerk in taal. In sommige verhale is die styl so poëties dat die leser daaraan herinner word dat die kortverhaal ook ’n liriese genre kan wees. Telkemale word die leser verras met die mate waarin sy die kortverhaal se grense stilisties verruim: van die bykans joernalistieke aanslag in haar debuutbundelverhaal “Abantu oNgoye”, tot die sjarme van ’n speelse verhaal soos “Daardie nag met die katte toe ons so brandewyn gedrink en sjokolade geëet het”, tot die broeiende intensiteit van haar erotiese verhale, soos die titelverhaal in Katvoet. Maar of sy gestroop skryf of poëties, deurgaans is daar ’n sensualiteit van styl en inhoud wat kenmerkend van haar oeuvre geword het.

Op tematiese gebied het Riana Scheepers baanbrekerswerk verrig. Haar debuutbundel van 1990 het soos selde vantevore die leef- en kulturele wêreld van die swart vrou uitgebeeld. In die opvolgende bundels is die fassinerende psige van die vrou, maar dan veral die gemarginaliseerde vrou, verruimend voortgesit. Scheepers se vrouekarakters is geskeide vroue, volksvreemde vroue, prostitute, nonne, misdadigers, en selfs Bybelse vroue wat geloofwaardig en onthutsend gestalte kry.

Scheepers is vanweë haar gedurfde uitbeelding van die vrou bekend as ’n feministiese skrywer, maar daar is ander temas wat telkens in al haar bundels terugkeer: die kind, katfigure in allerlei gedaantes, die natuur, en die magiese wisselwerking van siele wat oor eeue heen in kontak met mekaar is.

’n Uitsonderlike aspek van Scheepers se kortverhaalbundels, wat ongelukkig agterweë bly met ’n samestelling soos hierdie, is haar vermoë om deur terugkerende motiewe in afsonderlike verhale ’n bundel tot ’n eenheid te bind. Dit skep ’n binnerym wat aan elke bundel kortverhale ’n romanagtige kwaliteit verleen.

Een van hierdie terugkerende motiewe, iets wat die ondersoekende leser op ’n opwindende speurtog neem, is die vermenging van feit en fiksie. Waar dit met haar debuut amper terloops voorkom, kenmerkend van die postmoderne skrywers van die negentigerjare, word dit later in haar oeuvre ’n meer doelbewuste, selfs slinkse, spel van onthulling en versluiering. Dit bereik ’n hoogtepunt in Katvoet se “Nawoord” wat die leser dwing om sekere gegewens uit die voorafgaande verhale opnuut te interpreteer. Wat Scheepers onderskei van ander postmoderne skrywers, is dat sy nie selfonthullende feite versluier in fiksie nie, maar eerder fiksie grond in selfonthullende feite.

Sedert die publikasie van Die ding in die vuur het haar uitdagende verhale nog altyd konserwatiewe gemoedere laat ontvlam, nie net binne die omslae van haar bundel nie, maar ook daarbuite. Riana Scheepers was nog altyd omstrede. Vele briefwisselings in koerante het ek al met ’n grynslag gevolg. In die laat negentigerjare het ’n kwartaal lange polemiek in die koerante gewoed waarin selfs lede van die kerklike sinode die skrywer in die openbaar verdoem het na die hel se diepste poel van vuur. Haar beleid was nog altyd om dié aanslae te troef met nuwe kreatiewe ywer; vuur word met vuur beveg.

Riana Scheepers ís die vrou in die vuur.

Adriaan Meyer

Augustus 2012

Die vrou in die vuur

Подняться наверх