Читать книгу Die vrou in die vuur - Riana Scheepers - Страница 5
ОглавлениеDie ding in die vuur (1990)
Die ding in die vuur (1990)
Dit klink na ’n voor die hand liggende ding om te sê, maar ’n mens is werklik net een keer in jou lewe ’n debuutskrywer; een wat waansinnig en driftig skryf, aangevuur deur die adrenalien van woord en verhaal, totaal onkundig en onbewus van al die literêre slaggate waarin jy jou kan begewe. As jy ’n beginnerskrywer is, dink jy nie aan jou (toekomstige) plek in die letterkunde of aan kritici en literêre pryse nie, jy dink nie aan geld en roem of literêre poliemieke nie, jy is oorbluf en begeesterd deur dit waarmee jy besig is. Dit is altans hoe dit met my was. Vandag verlang ek soms na daardie algehele oorgawe aan die skryfproses van my beginjare as skrywer, die naïwiteit en onkunde waarmee ek geskryf het.
Ek het begin skryf in ’n tyd lank voordat daar slypskole en opleiding in kreatiewe skryfkuns was. Ek het intuïtief geskryf, sonder enige hulp, asof my lewe daarvan afhang. En miskien hét my lewe daarvan afgehang, want deur my verhale het ek my bestaan gedefinieer. Ek het die manuskrip binne vier maande voltooi en aan Wilna Botha, my vriendin wat by HAUM-Literêr gewerk het, gegee. ’n Maand of wat later het ek gehoor dat dit vir publikasie aanvaar is.
Dit is vrees wat my aan die skryf gesit het. Vrees en verwondering. In die laat tagtigerjare was daar baie dinge in my persoonlike lewe wat verskriklik was. Ek was ’n alleenmoeder wat saam met my twee klein seuntjies in ’n afgeleë kusdorpie in KwaZulu-Natal gewoon het. Ek het pas ’n pos aanvaar as lektor by die Universiteit van Zoeloeland. Ek en my seuns moes oorleef te midde van ’n gespanne tydperk wat gekenmerk is deur politieke geweld en onrus. Ek moes sin maak van my lewe te midde van persoonlike verlies en wantroue in myself. Ek was bevrees vir die veiligheid van my kinders te midde van die politieke kruitvat waarin ons geleef het en die geweld wat ons daagliks aanskou het. Maar meer as die verskrikking van die lewe, was ek verwonderd oor die lewe, die oorleweringsvermoë van mense, die wonderwerk van woorde, die krag van stories. Ek het magtige bondgenote gehad: woorde in al die tale wat ek kon praat en verstaan, Zoeloe en Afrikaans en Engels en Nederlands; die viriliteit van die landskap om my, die wil om ’n verhaal te vertel.
Die een enkele vonk wat my laat besef het dat ek kan skryf, dat ek móét skryf, was die dag toe ek besef het dat ek ’n unieke literatuuropleiding gehad het. Ek het kort tevore my MA-graad behaal en was besig met ’n PhD-graad in Letterkunde, maar dit alles het eers vir my sin gemaak toe ek besef het dat my eintlike literatuuropleiding al jare gelede, toe ek ’n kind was, begin het. As kind het ek saam met die swart kinders van die plaas gewag dat dit donker word (om te keer dat ons nie horings kry as ons in die daglig na stories luister nie). Ons het om die vuur gesit en geluister na die verhale wat die Ugogo vir ons vertel het. Skrikwekkende verhale van bloed en geweld en monsters en mensvreters het sy vertel, wonderlike stories van vrees en en verbeelding . Ek het die oeroue ritueel van die orale vertelling beleef as die Ugogo haar verhale begin het met “Kwesukasukela” (Die begin van die begin). Saam met die kinders het ek “Cosu! Cosu!” gesê; ons hoor, ons luister. En as die storie klaar vertel is, het ek gesien hoe die Ugogo in die vuur spoeg, sodat die geeste van die stories wat sy vertel het, nie in die kinders se koppe intrek en hulle nagmerries gee nie. Saam met die spoeg het alle ongeregtighede in die vuur verbrand en ons is gelaat met slegs die verwondering van ’n verhaalwêreld wat tegelyk fantasties en werklik is.
Ek het ’n Afrika- én Westerse literatuuropvoeding gehad. Ek, van alle mense, moet die verhale van vrees en verwondering skryf.
Die verhale in Die ding in die vuur speel af in die ruimte van soel, tropiese Zoeloeland. Die karakters is die kinders, die vroue, die mense van Zoeloeland; die gebeure is die verskriklike en wonderlike dinge wat met die mense van Zoeloeland gebeur.
Die titel van die bundel is vir my gegee deur André le Roux, wat die verhale in manuskripvorm gelees het.
Die boek het die ATKV-prosaprys (1990) en die FAK-ontspanningsprys (1991) verower.