Читать книгу Stormkind - Riana Scheepers - Страница 10

6

Оглавление

Huwelik

In die somer van dieselfde jaar trou Storm van Deventer met Deidre O’Donnell, die meisie uit Baile Uí Fhiacháin, die dorpie aan die weskus van Ierland waar die rawe nesmaak in die ruïnes van die ou kloosterkerk. Deidre se suster Muriel en haar broer Keegan, beide ouer as sy, kom Boland toe vir die geleentheid.

Deidre se ma kom nie saam nie. Katherine O’Donnell kry te koud en is te sieklik vir die lang reis na ’n vreemde land. Sy het reeds kort ná die verlowing haar eie trourok met die kleur van dik room aan haar dogter gegee en met ’n halfkwaai brom en goedkeurende knik haar kind aan die man uit Suid-Afrika afgegee. In haar oë is hulle reeds getroud.

Op Stormkloof word die groothuis se gastekamers en die jonkershuis se beddens opgemaak met varsgestrykte linne, die ruite gewas, die werf en die stoepe gevee, die glase en die koper gepoets vir almal wat van ver kom, maar veral vir die Ierse familie. Hulle drink die hele tyd vrolik wyn, kyk met groot oë na alles en lag vir alles wat so vreemd en wonderlik is. Hulle is tevrede met die plek waar hul suster gaan bly, gelukkig met die man van haar keuse.

KleinStorm van Deventer beloof sy lewe en trou aan sy Ierse bruid in die klein wit kerkie op die plaas. En sy aan hom, haar bruidegom, met haar eerste woorde in Afrikaans.

Vandag nog praat en skinder die mense oor wat daardie dag in die kerkie op Stormkloof gebeur het. Want nét na die huwelik bevestig is, nog steeds voor die preekstoel, net daar voor die predikant en al die mense, begin Storm die haarnaalde uit sy bruid se kapsel haal en maak haar hare los. Die gaste in die kerk snak saggies na asem, begin senuweeagtig lag en bloos oor die intimiteit van wat voor hul oë gebeur. Deidre se hare kartel soos ’n elektriese storm om haar gesig en sak af tot in haar middel.

Ek het jou lief, sê Storm.

Ek het jou lief, sê Deidre, met haar Ierse aksent. Almal in die kerk sien dit is die waarheid.

Stormkind

Подняться наверх