Читать книгу Stormkind - Riana Scheepers - Страница 14

10

Оглавление

Soek

Toe KleinStorm van Deventer die verskriklike nuus kry, los hy alles net so op Stormkloof. Hy los die plaas in die sorg van OuStorm en die werksmense, sy kind in die sorg van sy ma en Raka, die vreeslike hond, en gaan soek sy vrou, die vrou van sy hart, die ma van sy kind.

Die eerste plek waarheen hy gaan, is Burrishoole Abbey se ruïnes. Sit sy êrens op ’n rots en speel vir die monnike op haar fluit? Sal sy hom sien en na hom terugkom?

Deidre, Deidre, my lief.

Hy klim in die kar wat hy gehuur het en ry die presiese roete wat sy gery het.

Dit maak nie saak hoe lank hy soek en hoe dringend hy vra nie. Op elke dorp en by elke plek waar sy gebly en geëet en betaal het vir haar kamer en haar etes, vra en soek hy. Dit maak nie saak hoeveel nagte hy in Afrikaans en Iers bid en uiteindelik desperaat vloek en reddeloos verlate huil nie. Sy vrou is weg.

Hy bly langer as ’n week op Cushendall. Hy bly in die kamer waar sy vrou kortstondig was. Sy het nooit daar geslaap nie, maar sy was dáár.

Deidre, Deidre, my lief … Praat met my? Wys vir my iets van jouself?

Hy loop kilometers langs die kuslyn af, sy oë speurend en soekend na iets, iets wat hom kan vertel wat met sy vrou gebeur het, waarheen sy gegaan het, maar hy sien niks. Hy luister teen die wind in of hy haar fluit kan hoor. Net drie note, speel vir my nét drie note dat ek jou kan volg, my Deidre … Maar al wat hy hoor, is die wysie van ’n Ierse wind en ’n stormsee wat geen vertroosting bring nie. Hy hoor wat die mense op die dorp skinder en vertel en hy swets op elke donnerse swaan wat hy sien. Hy vra die swane om hom te help soek, maar hulle draai net hul sierlike nekke en swem weg. Maggie McDougal sien hom op die strand loop en weet sy kan hom nie vertel van die faeries nie, hy sal haar nie glo nie. I am sorry for your loss, sê sy vir hom, en hy knik. Dankie. Ook die ander mense van die dorpe sê, I am sorry for your loss, maar niemand kan iets vir hom sê of doen nie.

Sy is weg.

Stormkind

Подняться наверх