Читать книгу Stormkind - Riana Scheepers - Страница 8

4

Оглавление

!X’uri

“Nou ja toe,” sug ouma Lien, “daar het die oudste boom op die plaas toe uiteindelik omgeval. Ek het gewonder of ek dit in my leeftyd sal sien. Daar is mense wat sê die boom was meer as vierhonderd jaar oud, maar hoe sal ons regtig weet? Ek is nogal hartseer; dit was ’n pragtige boom.” Sy kyk na Jana wat by die kombuistafel sit en ’n bakkie hawermoutpap met heuning eet. “Jy bly weg van daardie boom, Jana, my meisiekind, dis gevaarlik. Die takke lê die wêreld vol en daar is slange.”

Ouma Lien dreig altyd met slange as sy vir Jana wil weghou van ’n plek.

Die slange wat Jana al op die plaas gesien het, het haar nog nooit bedreig nie. Hulle het skigtig tussen die fynbos en die blare weggekapel as sy naderkom. Sy was nog nooit bang vir hulle nie. Slange is lieflike diere met geruislose, gladde velle en klinkende name. Nagadder, rinkhals, koperkapel, kobra. Geelslang, glinsterslang, glipslang, weg.

Ouma, ek is nie bang vir slange nie! Maar sy sê dit nie, want dit is nie wat haar ouma wil hoor nie.

En natuurlik bly Jana nie weg van die boom nie. Gelukkig is dit nie nodig vir die werksmense om enige iets op te ruim nie. Die olienhoutbos is ver van die plaas se kragdrade en geboue. Dit het nie ’n skuur se dak of ’n trekker of ’n waterpyp verpletter nie. Die omgevalle stam lê diep vasgestamp in die nat grond en surings. Met die val van die boom het ’n paar kleiner olienhoute naby hom ook in die slag gebly. Later sal ’n paar manne met petrolsae en byle kom en die grootste takke wegsny om die bome oop te maak wat onder die ou boom se stam vasgeknel word.

Die plaas se grootste boom het geval soos die natuur dit voorgeskryf en bepaal het; daar waar hy lê, daar lê hy nou. Vir altyd.

Jana loop vroegoggend terug op haar spore van die nag, Raka die Rooie al om haar hakskene. Daar het van haar voetspore nie veel oorgebly nie; dit is amper weggespoel deur die reën.

Weet Jana dat haar spoor nooit kan wegspoel nie?

Die glinstering van haar rooi hare, daar waar sy gisternag geloop het, blink in die oggendlig, maar sy sien dit nie. ’n Flentertjie rooi lint wapper hier en daar aan ’n wingerdstok, ’n stukkie het onder teen ’n skurwe klip bly lê, aan ’n struik vasgehaak, om die keiappel se dorings vasgeknoop.

Weet StormJana dat sy nooit sal verdwaal nie?

Nee.

Die reën is verby, maar die lug is nog steeds vol waterdruppels. Sy asem dit in. Dit drup soos korreltjies son, verdamp op die fyn gouddraad van Jana se hare. Niemand behalwe haar pa weet dat sy buite was nie. Maar die boom en die uile onthou dit nog.

StormJana loop in haar slaap, dit weet almal op die plaas; sy loop in haar slaap én sy loop as sy wakker is. Gisternag in die storm het niemand haar gesien loop nie. Sy was nie vir die wingerdwerkers ’n grys fantoom uit die ouhuis of vir Ntuli die Zoeloe ’n tokkelos ver van die vuur nie.

Die bos lyk geheel en al anders sonder die boom wat so ’n groot deel van die lugruim gevul het. Die olienhoutbos is nou ’n ander landskap, ’n landskap met ’n oop wond. ’n Gapende spelonk is in die aarde geruk waar die boom se stam geanker was. Die holte onder die boom waar sy gisternag haar klip gekry het, is weg; dit het heeltemal oopgebreek toe die boom omgeval het.

Sy staan lank en kyk na die afgebreekte boomwortels wat soos ’n hand met krom houtvingers in die lug staan. Die reën het die meeste van die los grond tussen die wortels weggespoel, maar tussen die uitsteeksels sit nog steeds grond en ’n paar groot klippe vas. Hoeveel jaar het die wortels kans gehad om sulke groot klippe vas te groei? Driehonderd jaar? Vierhonderd?

As sy gisternag bly sit het waar sy was, sou niks met haar gebeur het nie. Sy sou veilig gewees het, die boom het na die ander kant toe omgeval. As sy bly sit het, sou die stam wat losgeskeur het uit die aarde, haar net opgeskiet en in die lug gegooi het. Baie minder as ’n klip weeg sy, sy sou soos ’n vallende ster deur die lug getrek het. Of soos ’n disselsaad gesweef het, haar nagrok wyd gepof om haar soos ’n valskerm.

Waar sou ek geland het? dink StormJana.

“Presies waar jy nou staan.”

Die klein bruin meisietjie sit bo-op die omgevalle stam, haar knieë tot onder haar ken opgetrek. Sy het net ’n klein gai-velletjie aan haar plankielyf. Dit hang tussen haar opgetrekte bene en maak haar skulpie netjies toe. Haar bolyf is kaal. Sy het ’n stringetjie wit krale om haar nek. StormJana se oë rek. “En wie is jý?”

“Ek is !X’uri. Dit is my boom wat hier geval het.”

“Myne ook,” sê Jana, “ek sit snags onder hierdie boom.”

“Ek weet,” sê !X’uri en skuif effens opsy sodat Jana al met die dik wortels kan opklim en langs haar op die stam kan kom sit.

Raka die Rooie draf tussen die bome weg, snuffelend in die onderbos.

“Ek het van jou gedroom vannag, !X’uri,” sê Jana. “Ek het gedroom jy slaap onder die boom. Ek het gedroom jy word wakker en klim onder die boom uit en kom sit op die boomstam en wag vir my. En ek het ook gedroom ek en jy spring by ’n krans af en vlieg.”

“Ek weet. Dis hoekom ek hier is. Jy is Storm.”

“Ja.”

“Jy het gisternag my klip gevat.”

“Jou klip?”

“My klip wat saam met my onder die boom was.”

“Ek het nie geweet dis jou klip nie.”

!X’uri se gesiggie skroef op in honderde klein plooitjies, sy lag asof iets baie snaaks is.

“Dis my klip. Ek het dit al baie, baie lank. Maar jy kan dit vir ’n rukkie hou, ek gee nie om nie. Ek sal vir my ’n ander klip kry, ek weet waar ek een kan kry. Jy kan saamkom as ek daarheen gaan.”

Jana sien !X’uri se plat neusie, die sagte botterbruin kleur van haar vel, die ogies wat met vriendelike skrefies lag.

“Waar kom jy vandaan, !X’uri?”

“Van onder die boom se wortels af, uit die gat in die grond.”

“Gisternag? Ek was ook hier.”

!X’uri knik. “Ek het geweet jy sal kom.”

“Hoekom het ek jou nog nooit hier gesien nie?”

“Ek het gewag vir die storm. Jy sien my nou.”

“En waar bly jy?”

!X’uri wys met haar hande om haar. “Hier. Ek bly nog altyd hier. En daar.” Sy wys met haar hand na die bergpieke van die Hawekwaberge. “Daar.”

Jana tel die bergpieke wat bokant hulle uittroon en in skerp profiel teen die bewolkte lug uitstaan. Sewe pieke. Die sewe mooi susters van die Hawekwa, soos die mense van die Stormvallei dit noem. Sneeukop, Horlosieberg, en dan die Sewe Susters in ’n halfmaan om Stormkloof.

“Hoekom het jy nou eers gekom?”

“Omdat dit nou tyd is.”

“Vir wat?”

“Om jou ma te soek.”

Stormkind

Подняться наверх