Читать книгу Stormkind - Riana Scheepers - Страница 9

5

Оглавление

Deidre O’Donnell

Deidre O’Donnell ontmoet vir KleinStorm van Deventer in Ierland. KleinStorm is deel van ’n Suid-Afrikaanse koorgroep wat eers in die groot stede van Europa, en toe in Ierland gaan sing.

KleinStorm sing nog sy lewe lank. Op skool het die sangjuffrou sy sterk basstem gehoor en besluit hy moet sing. Alleen sou KleinStorm nie sommer sing nie, daarvoor was hy te skaam. Maar toe hy eers besef dat niemand eintlik na hóm kyk nie, hulle kyk na die koor as geheel, het iets wonderliks met hom gebeur: Hy het begin om sonder skaamkry te sing. Hy het koue rillings van lekkerte gekry as hy hoor hoe sy stem baie stemme word. Sy eie diep stem het saamgesmelt met die ander basse, die suiwer tenore, die donker alte, die helder soprane. Hulle het almal saam één stem geword. Ná universiteit, waar hy lid was van die universiteitskoor, het hy weer aangesluit by ’n amateurkoorgroep. Om te sing maak die vreugde in hom los.

Die koorleier van die groep, ’n man met swaaiende hande en ’n bos deurmekaar hare soos Beethoven, het ’n passie vir volksmusiek. Hy is ’n afstammeling van die Iere wat reeds ’n eeu gelede na Suid-Afrika geëmigreer het. Dit is hy wat gesê het geen mens het al gesing as jy nog nie in Ierland gesing het nie. Die Iere, sê hy, sing die groot verlange tot in jou siel.

Deidre is die fluitspeler in die orkes wat die Ierse koor van die provinsie Connacht begelei.

Storm sien haar tussen die ander musikante. Hy kyk na haar hande, haar welige rooi hare, die kurwe van haar nek en skouers as sy haar fluit oplig tot teen haar mond. Soos ’n swaan, dink hy, sy is so mooi soos ’n swaan as sy haar fluit speel. Hy luister na die musiek wat sy maak. Hy luister veral na die klank van haar stem en haar lag toe hulle aan mekaar voorgestel word. Dit is die mooiste geluid wat hy nog ooit gehoor het. Met moeite bedwing hy hom om aan haar hare te vat.

Hy luister ook na sy hart.

“Die mooiste vrou in die hele wêreld het my aangelok met haar fluit, en toe strik sy my in haar hare vas,” sê Storm vir sy ma toe hy weer terug is op die plaas. “Haar naam is Deidre O’Donnell. Ek het my hart verloor, Ma. Sy is die vrou wat ek wil hê.”

“My kind, sy bly baie ver. Hoe sal sy hier by ons aanpas?” probeer sy ma keer.

“Sy sal, Ma, as sy my ook liefhet.”

“Die Iere is nes ons, Storm, hulle is passievolle mense wat met hul bloed aan hulle aarde kleef. Sal sy nie altyd verlang na haar land en haar mense nie?”

“Ons sal haar mense word, ek sal vir haar ’n nuwe land gee.”

KleinStorm werk barstend van onrus en verlange deur die parsseisoen en gaan vroeg in April, toe die wyn veilig in die vate is, terug Ierland toe. Na die klein kusdorpie Baile Uí Fhiacháin, die Plek van die Rawe, daar waar Deidre bly, om die vrou wat hy nie kan vergeet nie, te gaan soek.

Hy kry haar in die dorpie waar sy bly. Hy kuier by haar en leer haar familie ken. Hy en Deidre reis ’n week lank deur Ierland. Hulle loop saans in die stegies al agter die geluid van musiek aan tot hulle die musikante in ’n restaurant of ’n pub kry. Deidre se fluit is altyd by haar. Soms val sy in by die musikante wat met mandolien, viool, kitaar en fluit musiek maak tot lank ná middernag.

Hulle eet in klein restaurantjies van die hawedorpies waar hulle bly, drink Ierse koffie. Deidre bestel haar koffie sonder suiker. Sy eet die dik room op die koffie met ’n teelepel af voordat sy dit drink en lag vir sy geskokte oë.

Ná ’n maand kom Deidre saam met hom terug, ’n jong vrou met vlammende rooi hare en skerp blou oë. Sy bring die fluit saam waarmee sy die onrus en die verlange in Storm se hart gefluister het.

Storm se ma haal die klomp losgoed uit wat in die jonkershuis op Stormkloof staan en pak dit op die solder van die groothuis. Sy maak die huisie van hoek tot kant skoon, laat die vuurherd nuut uitwit en pak ’n stapel stompe vir die winter in ’n groot krat langs die herd. Die klein kombuisie word met mooi ou borde, koppies en messegoed en ’n paar potte en panne toegerus. Die bed word opgemaak en ekstra linne en komberse in die houtkis gepak, alles sodat die meisie uit Ierland haar eie klein huisie kan kry om in te bly tot sy besluit het wat sy wil doen. In die stilligheid wens Lien dat haar skoonma dit vir háár gedoen het in die dae toe sy, ’n plaasmeisie uit die Karoo, skaam en onkundig hier op die plaas aangekom het, toe daar nie vir haar ’n eie huis of genade was nie.

Ouma Lien ontmoet vir Deidre en verstaan waarom haar seun dié vrou gekies het. Deidre kyk haar reguit in die oë. Haar glimlag is warm en spontaan.

“Jy is welkom by ons, Deidre,” sê sy vir die meisie. “Stormkloof sal ook jou plaas word as jy by my seun wil bly. Leer ken die plaas en onse maniere van doen op jou eie tyd. Ek hoop jy is gelukkig hier, my kind.”

Deidre lê snags in die koperkatel en luister na die uile. Sy kyk op na die naglug en sien die Suiderkruis en die Melkweg se miljoene sterre. Sy luister na wat haar hart vir haar sê en sy luister na wat haar verstand sê. Dit sê twee verskillende dinge. Die een sê: Bly; die ander een sê: Jy kan nie bly nie.

Sy sien hoe die druiwe van die vorige parsseisoen wyn word. OuStorm en KleinStorm leer haar wyn proe, hoe om ’n wynproe aan te bied. Sy is nie meer net ’n besoeker nie, sy begin in die kelder werk en laat die besoekers aan die kelderwyn proe en koop. Almal op die plaas raak op haar verlief, op haar oë wat skitter, haar uitspraak, haar hande wanneer sy ’n glas wyn ophou teen die lig, donkerrooi soos robyne.

Sy gee ’n fluituitvoering in ’n klein saaltjie vir die mense op die dorp. Hulle gaan laataand huis toe, maar die hele nag hoor hulle nog die note van haar fluit weerklink, die melancholiese volkswysies uit ’n ander land. Hulle harte klop met die verlange en skoonheid daarvan.

Deidre se wit Ierse vel word bruin in die buitelug terwyl sy saam met Storm op die plaas en in die wingerde loop. Haar hare skroei rooier, ook die sproete op haar neus en arms.

Sy word mooier.

Haar hart en haar verstand begin dieselfde ding sê.

Saans, as sy en Storm voor die vuurherd in die jonkershuis sit, haal sy haar fluit uit en speel vir hom. Soggens, as die dag sonder wind of reën is, stap sy met haar fluit die bergpad uit en gaan sit op ’n rots waar sy Stormkloof en die hele Stormvallei kan sien. Die mense van alle uithoeke in die vallei hoor haar musiek en staan stil om te luister. Sy hou hulle almal in haar web van note vas, selfs dié wat vir KleinStorm spot oor sy uitlandse meisie.

Vyf maande later, toe die akkerbome weer begin bot ná die winter, sê haar hart en haar verstand dieselfde ding.

Sy gaan terug Ierland toe. Vir oulaas, om vir haar mense te gaan sê sy gee haar hart en haar lewe vir die man uit Afrika, sy gaan terugkom na hom toe om met hom te trou.

Storm gaan haal haar weer op haar groen eiland, hierdie keer met álles wat sy wil saamneem uit haar eie land.

Deidre se beneukte ma, Katherine Jane O’Donnell, mor omdat Deidre op 28 jaar nog te jonk is om te trou, dis haar laatlam wat haar op haar oudag moes oppas. Sy kla oor die warm woestyne en die Engelse in Suid-Afrika. Afrika is nie ’n land vir beskaafde mense nie, dit is ’n land van barbare en dorpe waar leeus in die strate rondloop om jou op te vreet, hou sy voet by stuk. Uiteindelik gee sy wel nukkerig en heimlik gelukkig haar toestemming en sluk ’n halwe glas whiskey sonder water weg.

Storm en Deidre raak verloof êrens op die hoë kranse bokant die see, naby die ruïnes van Burrishoole Abbey.

“Ek gaan die spoke van die monnike hier mis,” sê Deidre en huil ’n bietjie teen Storm se bors, “ek speel altyd my fluit vir hulle: hulle luister na my, hulle hou daarvan.”

“Daar is oorgenoeg spoke op Stormkloof wat van jou fluit sal hou,” troos hy.

Weet Deidre dat sy weer vir die spoke van Burrishoole Abbey sal speel?

Nee.

Want Deidre is nou te verloof en te gelukkig.

Stormkind

Подняться наверх