Читать книгу Stormkind - Riana Scheepers - Страница 17
13
ОглавлениеVuur
’n Dag nadat die groot olienhoutboom omgeval het, begin dit weer reën. Hierdie keer is die reën sag en indringend. Daar is nie rukwinde of donderblitse wat die donkerte skeur nie. Die reën sing soet deur die lang nag en sus vir StormJana in ’n diep slaap. Sy word eers lank ná middernag wakker.
Sy sit regop in haar bed. “!X’uri,” fluister sy.
Raka die Wraka tjank saggies onder haar venster. Hy weet sy is wakker.
“Sjt, Raka, gaan slaap!”
Hy sluip druipstert weg en gaan lê weer skelm op die stoepbank met sy lekker diep kussing waar hy eintlik nie mag slaap nie. Hy slaap alreeds ’n diep hondeslaap toe Jana die vensterraam opskuif en deurklim. Die reën is ligblou, ’n sagte see, ’n diep blom. Sy hardloop kortpad deur die shiraz na die olienhoutbos. Tarsis die spookperd hardloop in die wingerdry net langs haar, net so vinnig soos sy. Sy wit maanhare waai in die wind. StormJana se hare knoop ’n bloedrooi lint agter haar aan. So ver soos sy hardloop, kronkel dit deur die wingerd. Dit knoop hier en daar om ’n skurwe knoets. Af met die voetpaadjie vleg dit aan die struike vas, deur die lang grasse tot in die olienhoutbos.
Uitasem kom sy by die omgevalle boom aan. Haar hare haak om ’n spoelklip uit die berg.
!X’uri sit in die grot onder die boom se wortels. Sy sit by ’n klein vuurtjie, droog en veilig teen die reën, haar hande uitgesteek oor die vlamme.
StormJana klim af in die gat en gaan sit styf teen !X’uri by die vuur. !X’uri lag met skrefiesogies in ’n bruin lemoengesiggie wat opskroef.
“Kry jy koud, !X’uri?”
“Nee, hoekom sal ek koud kry?”
“Jy het ’n vuur aangesteek.”
“Mens steek nie ’n vuur aan omdat jy koud kry nie.”
“Hoekom dan?”
“’n Mens maak ’n vuur om jou kos gaar te maak. As jy klaar geëet het, hou jy die vuur aan die gang om te sing, om hande te klap en te dans. En om te dink.”
“Wat dink jy, !X’uri?”
!X’uri antwoord haar nie.
Hulle sit om die vuur en dink. Na ’n rukkie, toe hul gedagtes soos rook in die lug yl word en wegraak, gaan lê hulle op die grond langs die vuur en raak aan die slaap. ’n Bruin dogtertjie so bruin soos grond. ’n Rooi dogtertjie so rooi soos vuur.