Читать книгу Stormkind - Riana Scheepers - Страница 7

3

Оглавление

Klip

Jana se pa maak haar wakker met ’n beker rooibostee wat hy vir haar bed toe bring. Hy sien die klam bondeltjie nagrok op die vloer. Hy skud sy kop, glimlag moedeloos.

KleinStorm van Deventer het al lankal opgehou om sy kind in die huis te probeer hou. Hoe hou ’n mens ’n kind binne wat nie binne kan bly nie? Bedags of snags kies sy koers. Sy loop waar sy wil. Hy het al alles probeer: luike wat van buite gegrendel word, deure wat gesluit word, waterkomme voor haar bed met die hoop dat sy in die water sal trap en wakker word, boererate van warm melk met wilde heuning, boegoe wat saans op haar bors en rug ingevryf word. Niks het haar nog gekeer om snags rond te loop nie. Al die gekarring en vermanings maak haar net meer onrustig. En opstandig. Angstig is hy wel oor dié lopery in die nag, snags lê hy ure lank wakker om te hoor of sy uitgaan.

Dit gebeur nie gereeld nie, maar altyd op die onhebbelikste tye, wanneer geen sterfling dit buite sal waag nie. Op stormnagte kan niks die kind binne hou nie.

’n Wilde kastaiing van ’n dogter het hy, ’n nagloopkind, ’n windverwaaide stormkind. Daarmee moet hy vrede maak. Hou haar vas en probeer haar inperk, dan word sy buierig en begin haar duim suig, dan is sy Storm. Los haar uit en laat haar loop, dan is sy gelukkig en vrolik, die duimsuigery vergete, dan is sy Jana.

Sy het nog nooit iets oorgekom as sy so rondloop nie, dank die Vader, maar hoe maak mens só ’n kind groot?

Hy gaan sit by haar op die bed, vou die lappieskombers en lakens weg.

“Jana?”

Jana word wakker en kruip in haar pa se arms in. Hy ruik haar hare, haar warm vel, sien die sproetjies op haar neus. Sy hart krimp ineen.

Hy sit by haar terwyl sy die beker tee in haar twee hande hou en saggies daaroor blaas.

“Waar het jy gisternag oral rondgeloop, Ounooi?”

“Pappa, dit was só mooi, die reën, die wind … die storm het bolmakiesie geslaan oor die plaas!”

“Ek weet. Dit was ’n verskriklike storm. Die plaas lyk bietjie sleg vanmôre, daar lê takke en blare die wêreld vol. Ek moet nog gaan kyk of daar ander skade was. Ek hoop nie ’n boom het op die wingerd omgeval nie.”

Sy begin die tee met klein slurpies drink.

“En dit? Waar kry jy dit?” Storm staan op en tel die klip van die vensterbank af op. Hy draai dit al in die rondte, bekyk dit van alle kante, weeg die klip se gewig in sy hand.

“Dis my boomklip, ek het dit gisternag gekry.”

“Wat is ’n boomklip?”

“Ek het dit gisternag by die boom gekry.”

“Weet jy wat dit is?”

Jana skud haar kop. Dis ’n klip, haar boomklip.

“Dit is baie meer as net ’n klip, Jana, dis ’n klipwerktuig. In die Steentydperk het hier baie mense in die berge om Stormkloof gebly, eers die oermense en toe later ook die Boesmans wat ook dié klippe gebruik het. Hulle was slim genoeg om ’n klip met ’n ander klip net reg te kap en dit te gebruik as ’n mes of ’n skraper of ’n byl. Jy kan maar sê dit was hulle gereedskap. Dis mooi, nè?”

Jana se pa kantel die klip in sy hand en wys vir haar die drie hoeke van die klip. “Kyk hoe het hulle die klip gekap: hier, eers hier, en toe hier, net reg om perfek in jou hand te pas en die skerp kliplemme te kan gebruik.” Hy vat die leë beker uit haar hande en sit dit op die bedtafeltjie neer. Hy vou die klip in haar regterhand toe, die skerp punt na onder.

“Met die dun snykant aan hierdie kant van die klip – voel jy? – kon ’n mens iets sny of skraap, en met die skerp punt hier onder kon jy iets stukkend kap of fynkap.” Hy druk saggies die klip se skerp punt in haar ander handpalm om te wys hoe dit gedoen is. “Jy het ’n waardevolle kunswerk opgetel, Jana! Wat gaan jy daarmee maak?”

“Hou,” sê StormJana. “Dis nie ’n kapklip of ’n snyklip nie, dis my boomklip.”

Toe haar pa uit die kamer loop, lê sy terug in haar bed. Sy druk die klip styf teen haar oor vas, soos mens met ’n skulp maak. StormJana hoor die gesuis van water in die klip se stilte, ’n groot waterval wat van ’n vreeslike afgrond afstort; sy hoor die suising van wind deur die bome.

En die soet, hoë note van ’n fluit.

Stormkind

Подняться наверх