Читать книгу Stormkind - Riana Scheepers - Страница 12

8

Оглавление

Katherine Jane

Toe Jana drie jaar oud is, gaan Deidre terug Ierland toe om afskeid te neem van haar ma.

Oud en bleek en met ’n vel soos gerimpelde boombas, maar steeds met ’n kop vlamrooi hare op ’n wit kussing en beneuk soos altyd, lê Katherine Jane O’Donnell in haar antieke eikehoutbed. Sy gaan stadig dood, maar nie saggies nie. Haar slepende siekte gaan gepaard met hoes en spoeg en swakheid wat die opvlieënde vrou van eens tot raserny dryf. Sy kan nie opstaan en loop en skel en hemel en aarde beweeg nie, sy kan niks doen nie. Shyte! spoeg sy in die enemmelslopemmer wat Muriel langs die bed neergesit het. Sy lê kragteloos en kwaad in haar bed wat oorgetrek is met die linne wat sy nog as jong meisie met die hand geborduur en in haar bruidskis gebêre het.

Wat makeer ouma Katherine? Hoe sal Jana weet? Jana is drie jaar oud en bly agter in die sorg van haar pa, ouma Lien en OuStorm. Haar ma klim op die vliegtuig en gaan Dublin toe.

In Dublin klim Deidre op ’n trein wat haar na haar ouerhuis toe vat. Jana se oom, Keegan O’Donnell, kom haal sy suster op die stasie en vat haar na die klein wit huisie met sy grys leiklipdak in Baile Uí Fhiacháin, terug na die rawe en die monnike se spoke en die ou vrou Katherine Jane se sterfbed.

Jana van Stormkloof huil drie nagte oor haar ma wat weg is, sy suig haar duim en slaap snags in ’n warm holtetjie tussen ouma Lien en OuStorm in hul katel. Bedags as sy moeg gespeel is, raak sy aan die slaap teen die blad van Raka die Verskriklike wat haar slaafs oppas. Hy wag geduldig totdat sy wakker word voordat hy opstaan en sy lyf uitrek. Raka die Wraka, wat nooit blaf nie, maar tande wys vir almal wat op die werf kom. Hy grom wanneer iemand naby hom kom, maar nooit vir Jana nie. Sy kan maar aan sy ore trek en op sy rug klim, tussen sy pote deurkruip en in sy bek na sy tong en wrede tande kyk. Hy staan doodstil en laat alles toe wat sy aan hom doen. As sy by hom is, is hy nie Raka die Wraka nie, hy word Raka die Sagte, Raka die Oppasser, Raka die Held.

Jana besef nooit dat haar ma wegraak nie.

Haar ma gaan weg en kom nooit weer terug nie.

Maak nie saak hoe die mense in die Vallei skinder oor die beeldskone Ierse vrou en haar kortstondige huwelik met KleinStorm van Deventer nie, sy bly weg.

Stormkind

Подняться наверх