Читать книгу Stormkind - Riana Scheepers - Страница 15
11
ОглавлениеNagloop
Skeelpiet Plaatjies is nie Stormkloof se oudste man nie, ook nie die slimste man op die plaas nie, maar sekerlik die man wat die meeste weet van wat op die plaas aangaan. Dit is nou nie so dat hy uitgebreide kennis het van die wingerd se siektes en peste en sy groeie en dinge nie, of die kelder se werkerasies, pompe en parse en perse nie. Skeelpiet se belangstelling lê in die dinge van die plaas wat juis nié met werk te doen het nie. Dit wat gebeur as die kelder se deure op slot en grendel is, dit wat agter die deur van elke huis gepraat en gevloek, gefluister en gevroetel word, dit wat snags in die skaduwees agter die geboue en in die donkerte van die toegegroeide wingerdrye gebeur, dit is Skeelpiet Plaatjies se belangstelling en sy saak.
Skeelpiet weet wat hy weet omdat sy kop varkoor draai vir alles wat gesê en gedink word. Hy weet wat hy weet omdat hy met twee verskillende oë kan kyk na alles wat gebeur en weggesteek word. Moenie dink jy kan iets wegsteek vir my nie, sê Skeelpiet, met my skeel oë kyk ek uit twee verskillende rigtings na alles. Ek kyk twee keer na dieselfde ding, daarom sien ek méér. Maar veral weet Skeelpiet wat hy weet omdat hy snags rondloop. Met twee oop oë en oop ore en voete wat katvoet loop.
Gelukkig vir Skeelpiet is hy nie ’n bang man nie, want hy weet dat die ou plase, soos Stormkloof, dié wat in Jan van Ribbok se tyd uitgegee is aan die wit boere, almal dik loop van die spoke. Wat dit nog erger maak van dié ou plase, is dat dit nie net een soort nasie is wat spook nie. Dis nie net sy eie mense wat snags woelig is nie, maar Slamaaiers en Engelse en Franse en sommer ’n paar Boesmans op die koop toe ook. En dan partykeers nog ’n dier ook, soos einste hier op Stormkloof gebeur.
Dis ’n onrustige plek snags, Stormkloof.
Maar al dié nagtelike gedoentes het nog nooit vir hom wat Skeelpiet is, gestuit nie. Die mense op die plaas is skytbang vir die ouwêreld se spoke, die meeste van hulle bly snags toegesluit binne-in hul huise en eet en kyk TV en slaap en staan eers weer op as dit buite daglig word. Hulle gaan kyk nie eens buite wat aan die gang is as ’n rondloperhond ’n asblik omsmyt of ’n gedierte in ’n hoenderhok snuffel nie; hulle is te bang dit is dalk ietsie anders as ’n rondloperhond of ’n wilde kat.
Maar hy wat Skeelpiet is, laat hom nie bangmaak nie. Hy weet maar te goed van Tarsis, die spookperd van Stormkloof wat in die wingerd begrawe lê en snags deur die druifstokke en in die plaaspad galop. Moenie snags in daardie blok shiraz gaan lê met ’n slap lyf vir ’n slapie om uit te vars nie, moet veral nie in daai stuk wingerd gaan lê met ’n sagte meisiekind van die buurplaas nie. Jy lê nog so en hou jou lyf kapater, dan kom daar uit die niet ’n donderende spookperd met woeste maanhare en blasende neusvleuels op jou afgestorm. Wegkomkans is daar nie van daardie perd nie, kans vir broek oppluk en deurkruip onder die kordondraad na die volgende ry, is daar nie. Daai perd galop bo-oor jou en die meisiekind en trap jou fyn en flenters met sy swaar pote.
Skeelpiet hét al ’n man gesien met wie dit gebeur het. Dit was Fielie Foefies van Nabygelegen, een nag laat, toe hy lekker gedrink was. Daardie man het die volgende dag nie goed gelyk nie: hy was stukkend. Hy kan bly wees dat hy nog lewendig anderkant uitgekom het. Niemand het hom geglo toe hy van die spookperd beginne praat nie, hulle het gedink die man het seker maar in sy toestand onder ’n motorkar in die pad beland. Maar Fielie was doodseker. Só dronk was hy ook nie. Dit was die spookperd. Hy het kortpad geneem deur Stormkloof se blok shiraz op pad huis toe, toe hy net so ’n rukkie wou sit om die skielike moeg uit sy lyf te kry. Toe donner die perd skielik op hom af, slat hom op sy bors met pote wat hom wil doodkap. Hy kon alles duidelik sien soos die perd oor hom is, het hy gesê. Eers die maanhaar en voorpote, en toe die perd se maag en boude en agterpote – en toe skielik is hy net weg, niks. Fielie het sy hemp uitgepluk en gewys, en wragtie, mens kon duidelik die hoefmerke op sy borskas sien waar die perd se pote hom getrap het. Selfs die merke van die hoefnaels het op sy maer ribbekas ingelê. Vir weke daarna nog. Dit was nie ’n mouterkar se merke daai nie. Of dan was dit ’n mouterkar met voorpote en hoefysters.
Behalwe die spookperd, weet Skeelpiet ook van die mank Engelsman wat na die groothuis se voordeur loop en die deur oopslaan met sy bajonet. Maar daardie Engelse spook is die bekommernis van die groothuis se mense, hy pla niemand anders op die plaas nie. Skeelpiet het gehoor dat dit in die regtige lewe wel gebeur het. In die Engelse Oorlog het ’n Kakie helder oordag op die plaas aangekom. Hy het nie ordentlik aangeklop by die voordeur nie, hy het die deur net met sy bajonet oopgestamp en ingestap. Die voordeur van die huis het twee panele van geelhout gehad. Die slag van die bajonet het ’n yslike gat in die een paneel gedruk en die hout dwarsdeur laat bars tot in die ander paneel. Die paneel met die gat het die oumense later uitgehaal en nuwe hout ingesit, maar die paneel met die bars het hulle gehou net soos dit is, sodat die nageslag kan sien waffer skollies die Engelse was. Die Engelse het glo die mense van Stormkloof verdink dat hulle spioene is, dat hulle vir die Boere in die Transvaal geheime briewe skryf om te vertel van die Engelse se doene en late.
Of daardie storie waar is of nie, dit sal Skeelpiet nie kan sê nie, maar dat die Engelse spook nog steeds vir Stormkloof se mense kwaad is, is duidelik. Mevrou Lien het hom al vertel, sy en OuStorm sal nog so lekker in die voorhuis sit met ’n glasie wyn, nie ’n windjie wat waai of ’n luggie wat trek nie, dan bars die voordeur oop met ’n harde slag. Hulle steur hulle nie meer aan die dooie man se gedoentes nie, sê Mevrou, hulle sê maar net kliphard in die leë lug, kom in, Engelsman, kan ons vir jou ’n glasie skink? Nee, die spook wil nooit ietsie drink nie, hy sê niks. En dan maak hulle maar weer die deur toe.
Skeelpiet weet ook van die spooklopery van antie Anna, die voorvrou van die plaas. Almal sê sy loop snags oor die plaas om te kyk of die werk op haar plaas ordentlik gedoen word, maar vir haar het hy sweerlik helder oordag op die plaas gesien. Wie ánders kon die vreemde vrou met die ouwêreldse klere aan haar lyf gewees het? Sy het in die pure sonskyn met die plaaspad afgeloop – hy het haar gesien met twee oop oë en van twee kante af, en dit sonder ’n druppel wyn in sy lyf. Sy het onder die twee hemelhoë palmbome kom staan en na hulle opgekyk asof sy hulle selwers geplant het. Dit was einste sy, antie Anna, daarvoor sal hy sy laaste sente gee.
En dan nog die bruin spokie, die oulike meisietjie met die kappie wat altoos met ’n enemmelbeker vol water loop en vra of die mense wat in die blok steendruiwe naby die braamsloot werk, nie bietjie water wil hê nie. Hoeffel mense al dié storie vir Skeelpiet kom vertel het, mense wat water aangebied is uit daardie meisiekind se eie hand, dit kan hy nie eens meer onthou nie. Maar van al die mense wat by haar water kon kry, het nie een man nog van dié lekker aanbod gebruik gemaak nie.
Skeelpiet wonder hoeka waarom die goeie gawe nog nie met hom gebeur het nie. Hy sal nogals nie omgee om ’n slukkie te proe van dié water nie. Al is dit dan net om uit te vind of dit regte water is. Dalk word die water in jou mond pure wind, die ene spookasem, as jy dit sluk. Maar eintlik wil hy net hoor hoe sy praat. Die manne wat haar al teëgekom het, sê sy praat so ewe ouderwets en deftig Hooghollangs, ou Jan van Ribbok se taal, jy kan sommer hoor sy is nie van hier nie.
Skeelpiet weet van Stormkloof se geeste, maar dit pla hom nie, hulle soek hom nie uit nie. Hy loop sy lope in die nag net waar hy wil en hoe dit hom smaak.
Tot die nag toe alles vir hom verander het.
’n Laat somersnag met wolke wat laag op die aarde begin saamborrel. ’n Volmaan wat so nou en dan deur die skeure in die dik wolke kom.
Skeelpiet het teruggekom van sy pel Jantjie Klaas se huis onderkant Horlosiekop. Hy en Jantjie het die nag laat gekuier en ’n kannetjie soet Jaloersbokkie leeggemaak. Oorslaap is nie vir hom nie. Hy kruip elke nag agter sy Kaatjie se rug in, daarom het hy teruggeloop Stormkloof toe, al het sy voete bietjie hoog getrap. Die nag was donker, die wind het al hoe kwaaier begin waai, maar sy voete was lig en die lewe goed. Stormkloof was die mooiste plaas in die hele wêreld. Hy het geloop soos die baas van die plaas, die plaas en die nag was syne, elke wingerdstok, elke gebou, elke vat wyn in die kelder, alles syne.
En toe.
Die klein wit spokie het oor die werf aangesweef gekom, reguit na hom toe, die ogies wawyd oop en stokstyf, die een handjie so ewe uitgesteek na hom asof sy uit die dode iets van hom vra.
Skeelpiet Plaatjies het nooit gevoel hoe hy sy broek natmaak nie, hy het eers later agtergekom dit het gebeur. Hy het stokstyf bly staan, sy bene kon niks doen nie, sy ruggraat was ’n slap string jellie, sy hele lyf ’n stuk gemors, jirretjie, ag jirretjie tog, dit is my laaste dag, sy hét my.
Die spokie het ’n entjie van hom bly staan, reguit na hom gekyk. Sy het alles gesien, hoeveel hy gesuip het, waffer nonsens hy en Jantjie die hele nag lank gepraat het, dat hy met warm oë na die plukspan se jong meisies kyk, dat hy nog nooit sy Kaatjie verneuk het nie maar baie keer wóú, van al sy wynstelery uit die kelder en die mooi plan wat hy bedink het om die sleutel in die hande te kry … Alles, dit alles het sy gesien. Hy het in haar oë gesien dat sy dit alles weet.
Hy het nie geweet of hy met haar moet praat nie, of hy op sy knieë moet val om vir haar of die Here om vergifnis te smeek nie. Hy het net bly staan en bewe.
Sy het doodstil gestaan en vir hom gekyk, en toe skielik weggedraai en verder geloop, sonder beentjies oor die aarde gesweef in ’n lang wit rokkie, haar hare ’n rooi wolkie om haar skouers. Dis eers toe hy die spokie se rooi kop sien dat hy besef het dit is nie ’n gees nie, dis die meisiekindjie, Jana. En dat sy loop soos iemand wat in sy slaap loop. Maar só seker was hy ook nie dat sy nié ’n regte gees is nie, want waar is daardie vreeslike rooi hond wat alewig om haar is en haar so dag en nag oppas? Dit is terwyl hy nog so tjoepstil gestaan en skielik besef het dat sy hele broek warm en nat is, dat hy die wilde runnik van ’n perd uit die wingerd gehoor het.
Skeelpiet het nie bly staan om te kyk of die kind in die spookperd van Stormkloof vasgeloop het en of sy dalk hulp nodig het nie. Die spoke moes hulle daardie nag maar self uitsorteer. Die lewe het in sy lyf teruggekeer en hy het begin hardloop, huis toe. Soos nog nooit in sy lewe nie het hy gehardloop, asof al die blou duiwels uit die hel op sy hakke is.
Dit is seker maar goed dat Skeelpiet nie omgekyk het nie. Want dan sou hy uit twee rigtings gesien het hoe Jana bo-op Tarsis, die spookperd van Stormkloof, se rug klim en deur die wingerd galop.
En élke stormnag daarna.
Want dit was daardie stormnag dat StormJana die eerste keer wakker geword het en geweet het sy moet úit. Uit in die storm. Sy het haar ma hoor roep.