Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal - Rina Lamprecht - Страница 14

Leesbegrip

Оглавление

Lees die verhaal weer ’n keer op jou eie deur en beantwoord die vrae.

1. Noem die name van die belangrikste karakters in die verhaal.

2. Wat was die boodskap wat Haas aan die mense moes gee?

3. Watter boodskap het hy uiteindelik aan hulle gegee? Hoe verskil dit van die boodskap wat hy eintlik moes gegee het?

4. Wat dink julle bedoel die verteller as hy sê dat die Maan nie regtig doodgaan nie. Waarna verwys hy?

5. Hoekom dink die maan dat Luis eintlik lui is?

6. Hoe het Haas vir Luis bedrieg (gekul)?

7. Hoekom het Haas vir Luis bedrieg? Wat sou hy daardeur wen?

8. Waarna verwys die titel van hierdie storie?

9. Hoe help die subtitel die leser om die storie beter te verstaan?

10. Hierdie storie verklaar twee dinge: waarom ’n haas ’n gesplete lip het en waarom daar sulke snaakse merke op die maan is. Verduidelik hoe dit gebeur het.

11. Aan wie se kant is jy in hierdie storie? Verduidelik waarom.

12. As jy ’n kleuter van so 100 jaar gelede was wat na grootmense se stories saans om die vuur geluister het – sou jy hierdie storie geglo het? Hoekom/hoekom nie?

Bestudeer In ’n neutedop voordat jy die taalvrae beantwoord. Kyk ook na die Taalgids agter in die boek.


Selfstandige naamwoorde

 Selfstandige naamwoorde het meervoud en verkleining, byvoorbeeld: man – manne, mans, mannetjie; vrou – vroue, vrouens, vroutjies; fanatikus – fanatikusse, fanatici, fanatikussie.

 Selfstandige naamwoorde is onder andere die name van plekke, diere, dinge, mense, plante, houdings en gevoelens, byvoorbeeld: Loftus, hond, sokkerbal, tennis, Gavin, varing, liefde.

 Selfstandige naamwoorde van mense en diere het ook manlike en vroulike geslag, byvoorbeeld: speler – speelster; haan – hen.

 Die lidwoorde ’n en die kan altyd voor ’n selfstandige naamwoord gebruik word, byvoorbeeld: Die seun skop ’n sokkerbal.


Verkleining in Afrikaans word gewoonlik deur die agtervoegsels -tjie, -jie, -pie, -ie, -etjie en -kie aangedui, byvoorbeeld: deuntjie, blommetjie, boompie, rokie, ringetjie, woninkie, ma’tjie, oupatjie. In baie gevalle word die woord “klein” saam met die verkleinwoord gebruik

Meervoude in Afrikaans kom voor by selfstandige naamwoorde. Meervoude word aangedui deur agtervoegsels soos -e, -s, -ere, -ers, -ens, -’s, -te of -de aan te las by die selfstandige naamwoorde. (Onthou dat nie alle selfstandige naamwoorde ’n meervoudsvorm het nie, byvoorbeeld: water, haat, yster, goud.)

Die volgende selfstandige naamwoorde word in Afrikaans onderskei:

 Soortname: My familie, die stad, ’n spotprent, die orkes

 Versamelname: bos blomme, bundel verhale, string pêrels

 Eiename: Frans, Fanie, Esterhuizen, Brittanje

 Abstrakte selfstandige naamwoord beskryf emosies soos liefde, haat, woede, hartseer of toestande soos ongemak, armoede

 Massaname is die name van items wat moeilik getel kan word, byvoorbeeld: uraan, goud.

Byvoeglike naamwoorde

Hierdie woordsoort beskryf ’n selfstandige naamwoord. Ons beskryf byvoorbeeld ’n strokie as ’n oulike strokie. Ons kan ook sê dit is ’n vervelige strokie; ’n kleurryke strokie.

 Die byvoeglike naamwoord kan gebruik word in die intensiewe vorm, byvoorbeeld: baie swart – pikswart, baie koud – yskoud. Intensiewe vorme word altyd as een woord geskryf.

 Trappe van vergelyking word gebruik wanneer twee of meer dinge met mekaar vergelyk word, byvoorbeeld: Victor is moeg, Schalk is moeër, maar Morné is die moegste.

 As twee dinge met mekaar vergelyk word, word die vergelykende trap gebruik (mooier).

 Die oortreffende trap word weer gebruik as meer as twee dinge vergelyk word (die mooiste). Die lidwoord die word altyd saam met die oortreffende trap gebruik.

 Onthou: As die byvoeglike naamwoord op ’n -s eindig, verdubbel die s, byvoorbeeld: Ek is vies, maar hy is die viesste van ons drie.

 Meerlettergrepige woorde wat op ’n -e eindig, kry meer en mees vooraf, byvoorbeeld: Die Kiwi’s is opgewonde, die Italianers is meer opgewonde, maar die Spanjaarde is die mees opgewonde.

 Belangrik: Jy kan nie meer en mees saam met woorde gebruik wat reeds in trappe van vergelyking gebruik is nie. Die volgende is verkeerd: Dit was die mees snaaksste grap wat ek al gehoor het.

 Die byvoeglike naamwoord het dikwels ’n letterlike en figuurlike betekenis. Wanneer ons sê: “Die arme speler het vergeet dat hy ’n wedstryd speel”, beteken die woord “arme” nie dat hy sonder geld sit nie. Dit het hier figuurlike betekenis. Somtyds word ’n byvoeglike naamwoord só gebruik dat die letterlike én figuurlike betekenis van toepassing is.

 Die byvoeglike naamwoord word ook verbuig. Ons sê die busbestuurder is roekeloos, maar ons praat van ’n roekelose busbestuurder. Die Springbokspeler is jonk en die span het ’n jong spanbestuurder.

Beantwoord die volgende taalvrae.

1. Skryf die meervoud van die skuinsgedrukte woorde:

a. Daar was twee verskillende boodskap.

b. Luis het na verskillende takkraal gery.

c. Daar was baie moeilikheid by die kraal.

2. Skryf die verkleining van die skuinsgedrukte woorde neer:

a. Stuur vir my ’n boodskap.

b. Luis het maar dun bene.

c. Hulle het fyn sand oor hom gegooi.

3. Skryf drie eiename neer wat in die verhaal gebruik word.

4. Skryf die regte vorm van die skuinsgedrukte woorde neer:

a) Die/’n diere was b) intensiewe vorm van kwaad vir Haas omdat hy die c) verkeerd boodskap gebring het. Dit was d) baie donker buite en die e) ongelukkig mense het vir f) goed nuus gewag.

Hulle het al baie lank gewag, maar kon nie g) lank wag nie. Dit was die h) lank wat hulle nog gewag het. Hy moes i) intensiewe vorm van vinnig die boodskap vir die mense bring, want ’n man was j) intensiewe vorm van siek.

Uiteindelik het net ’n k) leeg takkraal oorgebly. Haas het ’n l) duur les geleer, want die m) pragtig maan was n) intensiewe vorm van seker dat hy ’n o) moedswillig haas was.


Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal

Подняться наверх