Читать книгу Piekfyn Afrikaans Leerderboek Graad 7 Huistaal - Rina Lamprecht - Страница 17
Groepbespreking
ОглавлениеOns is nie altyd bewus dat die kamera as ’n verteller gebruik kan word nie. Dink aan ’n rolprent wat julle onlangs gesien het. Bespreek die vrae wat volg – een van die groeplede kan notas maak.
Hoe kan ’n kamera die rol van verteller speel?
Wat kan ’n kamera wys of nie wys nie?
Watter klanke beïnvloed die manier waarop jy na ’n rolprent kyk? (Onthou, rolprente is ’n kombinasie van beeld en klank en in hierdie kombinasie lê die betekenis.)
Wat is die verskil tussen ’n regisseur en ’n vervaardiger?
Gebruik ’n etimologiewoordeboek. Slaan die herkoms van die woord “fliek” na.
Elke groep moet terugvoering aan die klas gee.
Meer oor rolprente
Waarom ontleed ons rolprente? Dikwels probeer ’n regisseur om iets te sê en hy gebruik sy rolprent om ’n stelling te maak. Dis ons werk om dit raak te sien en te identifiseer.
’n Regisseur gee die kyker sekere visuele leidrade wat jou oë moet volg. Om die waarheid te sê, dit word dikwels ’n avontuur om hierdie leidrade raak te sien. Maar dan moet jy weet hoe om daardie avontuur te geniet en waarna om te kyk!
Een kamerabeweging wat ’n regisseur gebruik is om op ’n voorwerp of persoon in te zoem. Hier skep die lens die effek asof dit op die persoon of voorwerp in-beweeg.
Die volgende drie raampies wys hoe op ’n voorwerp “ingezoem” word. Kyk daarna en beantwoord dan die volgende paar vrae op jou eie.
1. Bestudeer die kameraskote wat deur middel van die foto’s hierna gedemonstreer word. Watter kameraskote is vir elke foto gebruik?
Kameraskote:
Hoë kamerahoek: ’n Voorwerp of persoon word van bo af gewys. Hierdie skoot dui gewoonlik op afsondering of dien as ’n soort oog wat van buite af na ’n toneel kyk.
Lae kamerahoek: Die persoon of voorwerp word van onder af gewys. Dié skoot verduidelik dat ’n figuur/voorwerp die toneel en skoot oorheers.
Mediumskoot: ’n Karakter se bolyf of ’n voorwerp se besonderhede word ingesluit sodat die kyker na gesigsuitdrukkings, lyftaal of detail kan kyk.
Nabyskoot: Besonderhede word van naby afgeneem.
Tweeskoot: Twee karakters word saam afgeneem.
Vestigingskoot: Hierdie skoot skets die toneel vir wat volgende gaan gebeur met betrekking tot die tyd en plek.
Vol nabyskoot: ’n Karakter of voorwerp word volledig van naby afgeneem. Die fokus is nou op gesigsuitdrukkings en besonderhede.
Wyeskoot/langskoot: Die hele prentjie wys. Hierdie skoot wil veral afstand uitbeeld.
2. Die filmbedryf maak van spesifieke terme gebruik. Kies die omskrywing in Kolom B wat pas by die term in Kolom A.
Kolom A Term | Kolom B Omskrywing |
Draaiboek | Die persoon wat verantwoordelik is vir die opneem van die klankbaan/klankeffekte/dialoog van die rolprent. |
Draaiboekskrywer | ’n Teks wat visueel geskryf word – gewoonlik met kamera-aanwysings. |
Regisseur | Tegniese effekte soos stemme, musiek of beligting. |
Vervaardiger | Die skrywer van die visuele teks. |
Klankeffekte/ byklanke | Wanneer ’n groep (bewegende) beelde saam geplaas word of teenoor mekaar gestel word wat op die oog af niks met mekaar te make het nie. Hierdie beelde sluit tematies by mekaar aan en vorm so ’n betekenisvolle eenheid. |
Klankingenieur | Die persoon wat die regie van die rolprent behartig, wat die storie in beeld na die doek of skerm verplaas. |
Montage | Die lens word verstel sodat ’n voorwerp blitsvinnig na die kameralens toe getrek word, of die kamera beweeg vinnig in op die voorwerp of persoon om aan te dui dat dit ’n belangrike rol in die toneel speel. |
Zoem | Die persoon of instansie/maatskappy/ateljee wat vir die finansiering en die aanmekaarsit van die produksie/film verantwoordelik is. |
Voordat tonele verfilm word, beplan die regisseur elke kameraskoot noukeurig.