Читать книгу Kraak - Rouxnette Meiring - Страница 11

Оглавление

5

My gesig is seker rooi soos ’n tamatie. Hoekom kan ek nie soos Shivani lyk as ek landloop doen nie?

En hier’s Kaleb ook nou. Wonderlik.

“Hallo, Ysprinses.”

“Loop sweef, man.”

“Het jy gesien daar’s ’n nuwe meisie in ons klas?” ignoreer hy my slegte bui.

“Ja.”

“Haar naam is die een of ander sterrekonstellasie,” praat hy asof dit regtig ’n goeie tyd is vir geselsies maak.

“En?”

“Sy woon glo alleen in ’n woonstel in Paalstraat.”

“O.”

“Sy moet nageslag van die kapitaliste wees, of wat dink jy, Rooies?”

Nou is my gesig seker nog rooier. Nog ’n bult.

“En ook nie bang die volgende tsoenami kraak die keerwal nie,” dwing Kaleb voort.

“Huh.”

“Jy’s nie baie spraaksaam nie.”

“Ek’s moeg, man.”

“O. Dan gaan ek maar weer.”

En daar gaan hy. Ongeskik.

Ek draf by die plase verby. Die groentetonnels is nogal mooi met lugrankplante toegemaak en alles lyk groen en ruig. Op die mure van die bokmelkery en haasplaas is skyngramme van hoe koeie gelyk het in die tyd toe mense nog in verstommende hoeveelhede vleis geëet het en seker nie bewus was van kweekhuisgasse nie. Die arme wesens het sulke groot, hartseer oë gehad.

“Wat het jy van die uitstalling gedink?” Shivani. Sy hardloop soos iemand wat ballet doen. Sy lyk te tingerig om ’n sterk drawwer te wees, maar klink glad nie moeg nie. Ek kan nie dink as ek moeg is nie.

“Ontstellend. Soos altyd,” kry ek darem uitgehyg. Die stadsraad maak seker ons kry genoeg inligting oor hoe die wêreld gelyk het voor die koepel in 2065 opgerig is. Ons leersentrumklas was op ’n uitstappie na die ||Hui !Gaeb-konvensiesentrum vir ’n uitstalling: “Pre-koepel Kapitalisme en Klimaatsverandering.” Dit het ons voorouers soos kluite laat lyk.

“Meer ontstellend is dat hulle vir ons lieg oor hoe die koepel vir ewig gaan hou. Ek ken iemand by die Geoingenieursgebou wat sê dis net ontwerp om driehonderd jaar te hou,” gaan Shivani voort. Sy ken glo meer volwassenes as kinders en praat altyd van hulle, maar mens ontmoet hulle nooit.

“Sjoe, net nog vyftig jaar?” Ek is te moeg om geskok te klink, sy kon net sowel gesê het hier kom nog ’n bult om uit te draf.

“Wonder jy nie ook watter soort uitstalling daar oor ’n paar honderd jaar sal wees waarna ons nageslag gaan kyk en hulleself afvra hoekom ons so onnosel en kortsigtig was nie?” vra Shivani oor haar skouer, want ek hou nie by nie.

“Nie regtig nie. Nie nou nie.”

“Dalk moet ons begin wonder.” Beskuldigend, asof ek vir alles verantwoordelik gaan wees. En daar gaan sy.

Voor my lê die steilte van Kloofnekstraat. Mense soos Mohlomi is al op pad terug.

“Dit help as jy jou verbeel jy sweef,” sê ’n altstem langs my.

Ja, reg. Nes jy sê, Amber.

“Hoekom dink jy het Mohlomi soveel woede in hom?” vra sy sonder om te hyg.

Ek kreun innerlik. Wat is dit met hierdie mense wat so diep wil dink terwyl elke spier in my liggaam skree en my longe nie meer in my borskas wil inpas nie?

“Ouers,” hyg ek.

“Dis gewoonlik die rede, maar ek dink dis meer as dit.”

“O.”

“Hy baklei teen iets in homself. Ek het hom in die beeldhouklas dopgehou. Hy is ongelooflik kunstig, het regte kunstenaarshande ook, maar hy veg teen sy kunstenaarssiel.”

Amber praat weer baie.

“Dink jy hier is nog genoeg suurstof in die koepel?” blaas ek.

“Die Geo-ingenieurs reguleer alles, Kara, ek dink jy is net onfiks.”

“Dankie.”

“Oor Mohlomi – sy ouers is van Noord-Chinafrika en jy weet hoe min Buitekoepelers hulle ooit hier inlaat.”

“O.”

“Sy ouers was ook in die hospitaal toe hulle begin droom het, maar hulle liggame het verdwyn.”

“Onmoontlik.”

“Dis waar. Ten spyte van die sekuriteit het dit al voorheen gebeur.”

“Amber, ek’s te moeg.”

“O. Jammer. Sien jou netnou by Joga Fisiek.”

“Namaste,” hyg ek.

En daar gaan sy ook. Ek’s seker nou heel agter.

Kan iemand nie iets minder pynlik uitdink om die liggaam fiks te hou en die organisme waarin ons woon vlot te laat werk nie? Dan onthou ek. Daar was sulke goed. Kwantumrekenaars wat die liggaam “gediens” het. Maar ||Hui !Gaeb het dit verbied toe die “terug na die natuur”-filosofie ingestel is. Of dalk is dit weg saam met die kennis wat uitgewis is met die laaste groot wêreldnatuurramp.

My regter-kaalvoetskoen gly op iets slymerigs en amper slaan ek neer – nog ’n vernedering net-net afgeweer. Dit het dalk ontsnap uit die slymkolonies van gister se mikrobiologieklas. Is dit een organisme, of was die aparte amoeba-armpies binne-in die slym individuele organismes? Want hulle bestaan net as hulle ’n funksie vir die slymkolonie moet verrig, dan verdwyn hulle weer as deel van die slym. As dit met die meeste organismes so werk, bestaan ek dalk ook net wanneer ek ’n funksie moet verrig. En wanneer dit kom by landloop, het ek geen bestaansreg nie, kan ek net sowel disintegreer en spiritueel deel word van my spesie. Dalk is dit wat my ma gedoen het …

Kraak

Подняться наверх