Читать книгу Kraak - Rouxnette Meiring - Страница 13

Оглавление

7

Mohlomi en Kaleb is in ’n dodelike stryd gewikkel. Ek ontspan my vuiste toe ek besef my naels sny in my hand in. Die ding is twee keer so groot soos Kaleb en storm met ’n gebulk op hom af. Sy kakebeen beweeg asof hy herkou.

Agter Kaleb staan Mohlomi met ’n grynslag. Hy’t dit reggekry om die ding op sy teenstander af te stuur. Kaleb se fopswaard flits in die vreemde lig van die multidimensionele spel. Die ovaalvormige gedierte hap na hom en sy agt harige pote trap ontstig rond. Kaleb skerm en val aan. Hy probeer met sy skermswaard teen die dopagtige lyf druk, maar dit is so vol haarstekels, dis moeilik om naby genoeg te kom.

“Watse soort ding is dit?” vra iemand langs my. Dis ’n onplaasbare aksent.

Dan sien ek dis die lang, donker meisie wat van vanoggend af in ons skool is. Haar oë het ’n eienaardige trek, sy lyk beslis nie ||Hui !Gaebs nie en sy vra dom goed.

Haar oë is vasgenael op die toeskouerglas wat ons van die speelarea skei en daar is ’n frons tussen haar strepiedun wenkbroue.

“Dis stofmyte. Hulle is normaalweg so klein dat tien op ’n naaldpunt kan pas. Het hulle dan nie mikrowêreld-speletjies by jou vorige skool gehad nie … Vega … dit is mos Vega?”

Ek hou nogal van die nuwe meisie, sy’s anders. As ’n mens met haar praat, is daar elke keer ’n paar oomblikke stilte voor sy antwoord. Ek’t aanvanklik gedink sy hoor nie goed nie, maar dalk hou sy bloot daarvan om te dink oor wat sy wil sê voor sy praat.

“Ons het, maar nie sulkes nie.” Ons kyk nog ’n rukkie in stilte, dan vra sy: “Is dit nie teen julle … teen die wet nie?”

“Dis teen die wet om hulle dood te maak. En hulle moet die spel stop as dit te gevaarlik raak. Daar is ook diereregte-organisasies wat sê die speletjie ontstel die goggas en maak hulle soms seer. Hulle probeer dit nou onwettig maak.”

Vega lag – weer ’n sekonde of wat te laat. “So hulle bekommer hulle oor die gevoelens van mikro-organismes.”

Sy is regtig vreemd. My aandag is terug by Kaleb wat moet spook om nie in die kake van die kolossale stofmyt te beland nie. Iets is nie reg nie. Die spel moes al beëindig gewees het. Mohlomi het agteraf met die spelmeester gekonkel, ek is seker. Sy fopswaard flits weer in die kernlig – ’n tweede stofmyt wat hy op Kaleb wou afstuur, het omgedraai en hom begin aanval.

“Hy hou van baklei.” Vega hou Mohlomi geïnteresseerd dop. “Hy is bly die stof-ding het na hom toe gedraai.”

“Die goggas ruik aggressie,” sê ek ingedagte.

Iets vreet aan Mohlomi, en hy probeer dit op iemand uithaal. Hulle span georganiseerde speletjies en sport in dat ons van ons natuurlike aggressie ontslae kan raak.

En wanneer puberteit intree, is daar pille wat ons in toom hou. Ons kan nie bekostig om deur liggaamsdrange beheer te word nie, sê die stadsraad.

Helder ligte gaan in die speelarea aan. ’n Elektroniese stem sê: “Game over. Phela umdlalo. Spel verby.” Mohlomi en Kaleb lyk vir ’n oomblik verward, en toe geïrriteerd.

“Hei!” skree Mohlomi en kyk in die spelmeester se rigting deur die toeskouerglas.

“Jammer, Mohlomi,” kom dit oor ’n mikrofoon.

“Soveel potensiaal …” ’n Halfbekende vrouestem praat agter my. Ek kyk om. Dis Sophia – die vrou wat ons by die mark kom red het.

In die helder lig lyk haar vel amper deurskynend. Weer die gevoel van kalmte omtrent haar, dít en ’n wysheid wat seker net met ouderdom kom. Hoe oud is die vrou? By haar kalm voorkoms is daar hope energie in die manier waarop sy na Mohlomi en Kaleb aan die ander kant van die skerm kyk.

Amber staan langs haar. Wat is dit met hierdie Sophia-vrou wat oral verskyn waar Amber is? Ek weet nie of ek die vrou kan vertrou nie.

Mohlomi kom verwoed in die gang af, Kaleb agterna. Sy donker wenkbroue is in ’n frons saamgetrek. Hy gaan staan voor Sophia.

“Wie’s jy?” vra hy ongeskik en vee vies met sy hand oor sy kaal kop.

“Ek is iemand wat julle kan help.”

“En wie sê vir jou ons het hulp nodig?”

“Julle is baanbrekers. Alles gebeur eerste met julle. Dit moet moeilik wees. Ek kan help deur te verduidelik.” Sophia praat vinnig en sag. Saaklik, maar strelend, kalmerend.

“Is dit nie teen die kinderhuisreëls om ons met vreemde idees te probeer infiltreer nie?” vra Mohlomi smalend.

Sophia kyk na Vega, wat haar geïnteresseerd dopgehou het, maar nou vinnig wegkyk.

“Jy’s nie van hier nie, is jy?” Die vrou se stem het koud geraak.

Vega kyk stadig op. Ek voel die spanning tussen hulle twee aan. Albei is sterk en vol selfvertroue.

“Ek is,” antwoord Vega en haar katoë trek op skrefies.

Sophia kyk eerste weg, asof sy besluit het om die meisie te ignoreer.

“Ek het ’n uitnodiging vir julle. En bring Shivani saam.” Haar oë rus om die beurt op Amber, my, Mohlomi en Kaleb. Dis duidelik dat Vega nie ingesluit word nie. “Ontmoet my môre na skool op ’n plek waarheen Amber julle sal neem.” Sy raak stil, asof sy nie glo nog aanmoediging is nodig nie, maar ek sien sy gewaar die uitdrukking op Mohlomi se gesig.

“Ek weet meer oor waar julle ouers is as enigiemand anders in ||Hui !Gaeb.” Sy weet dit is die troefkaart.

Aan die ander kant van die glas het die volgende driedimensionele spel reeds begin. ’n Stofmyt storm bulkend op ’n lang, gespierde meisie af en aan haar swaardtegniek kan ’n mens sien sy neem al lank skermlesse. Ons hou die spel in stilte dop.

Kraak

Подняться наверх