Читать книгу Kraak - Rouxnette Meiring - Страница 7
Оглавление1
Die kinderhuis groei soos ’n lewende ding uit die klip en grond van die stad. Ek verbeel my soms in die nag ek hoor dit asemhaal. Nou hoes dit kinders en oppassers.
Dit lyk of die hele stad buite rondstaan, selfs Buitengrag se gondels is vasgemeer en die passasiers staan bedremmeld op die wal. Daar is energie in die lug, want iets het gebeur om oor te praat: die aardbewing was erger as die vorige, minder erg, het langer aangehou, nie so lank nie. Groot storie. Iemand wys na die Geo-ingenieursgebou waar die ligte nog brand en niemand uitgekom het nie. Almal kyk waar hy wys. Bla-bla-bla.
Dit is die hoeveelste aardbewing in ’n week en elke keer in die aand.
Kaleb trek sy los linnebroek effens op, gaan sit op die boomworteltrappe en ek sak langs hom neer. Hy vryf met sy duim en wysvinger uitgestrek oor sy gesig, van die hoeke van sy donker oë tot by sy neusbrug, soos ek hom dikwels sien doen. Hy het mooi hande, sterk vingers, kort naels. Hy kyk op. “Sy’s weer kaalvoet,” sê hy, ’n glimlag in sy stem.
Amber kom soos ’n slaapwandelaar met haar wit nagrok na ons aangesweef. Sy lyk soos ’n lang, skraal kind van twaalf, al is sy sestien soos ons. Net ’n paar mense in ||Hui !Gaeb het die kombinasie van ’n bruin vel en blonde hare. En daarby haar blou oë – mense kyk na haar. Daar’s nie meer goed soos gekleurde kontaklense en haarkleurmiddels in ||Hui !Gaeb nie …
Soos ’n fluistering, ’n vibrasie, kom sy by ons sit. “Daar’s vanaand ’n Lug-Eurasië mark,” sê sy met haar altstem.
“En?” vra Kaleb.
“Kom ons gaan.” Haar oë is wasig, asof sy regtig nog slaap of droom.
“Die markte is onwettig – hoe weet jy eers daarvan, Amber?” vra ek.
“Ek het my kontakte.”
“Ek hoop nie jy is betrokke by een of ander ondergrondse beweging nie, Amber,” sê Kaleb bekommerd.
“So, wil julle saamkom?” vra Amber en die blou oë begin hulle fokus kry op ons.
Ek kan amper hoor hoe Kaleb dink. Hy sluk. Vat sy lang bruin krulhare vas in ’n bokstert agter sy kop, laat dit weer los.
“Wel … hulle gaan nog ’n hele ruk hier buite staan en praat, niemand gaan agterkom ons is weg nie …” begin hy. Ek kyk vies weg. Sy beheks hom, nou wil hy alles doen wat sy wil.
Amber lees ons reaksies vinnig: “Ons gaan nie gou weer so ’n kans kry nie, Kara. Daar was nog net twee markte op hierdie spesifieke plek en almal dink nou aan die aardbewing.” Haar oë raak helderder. “Wil julle nie weet wat alles anderkant hierdie koepel aangaan nie?”
Ek en Kaleb kyk vir mekaar. Wil ons of nie?
Amber het reeds opgestaan en begin deur die park van die kinderhuisgronde loop, Weeslaan se rigting stad toe.
“Ons kan haar nie alleen laat gaan nie, sy is ’n gevaar vir haarself.” Kaleb wip regop en stof sy broek af asof hy jare lank gesit het. Ek staan halfhartig op. Ek is nie nou lus vir moeilikheid nie.
Daar is ’n beroering onder die mense. Raadslid-prediker Lohengrin kom soos ’n stormwind op die kinderhuiskantoor afgepyl. Sy donker pak flap om sy maer lyf en sy neus lyk nog langer en skerper as gewoonlik. Ek onthou hoe Kaleb kliphard gesê het “Lohengrin” toe ons na die reier in ’n les oor uitgesterfde voëls gekyk het. Hy noem homself glo “Graalsoeker” of “Seun van Parsifal” in sy preke – Shivani het eenkeer vir die grap gaan luister.
“Wat is so snaaks?” vra Kaleb, maar ek skud net my kop.
Iets het Lohengrin ontstel en dit gaan ’n lang gesprek met die kinderhuishoof afgee. Minder toesig, roetines deurmekaar en die personeel se aandag verdeeld. Nou het ek geen verskoning nie.
“Ek kom!” roep ek agter Kaleb aan.
Die verveling en knaende hartseer van die laaste jaar maak plek vir iets tussen opwinding en vrees.