Читать книгу Kraak - Rouxnette Meiring - Страница 9

Оглавление

3

Die markmense kyk verskrik op, die blou lig flikker, die trilling word sterker. Amber draai om en kyk reguit na waar ek en Kaleb in die donker wegkruip.

’n Stem agter my laat my ruk van die skrik: “Amber! Kom, vinnig, hierdie een is die ergste nog!”

Dis ’n fyn blonde vrou in ’n wit wolrok. Waar kom sy vandaan? Al haar aandag is op Amber.

Amber lyk nie verbaas om ons te sien nie. “Dit is my vriende, Sophia, hulle moet saamkom.”

Sophia. Ek ken die naam, het al gehoor van haar. Sy was die direkteur van die Sentrum vir Spirituele Ontwikkeling en raadslid Lohengrin haat haar. Sophia kyk ons ’n oomblik lank deurdringend aan, amper asof sy ’n skerp soeklig dwarsdeur ons stuur. Dan sê sy kortaf: “Ja, hulle kom saam.”

Ons volg haar ’n entjie terug in die donker gang af, dan skakel sy haar foslig aan. Agter ons begin die stemme van markmense in die gang af bondel.

Net om die eerste hoek blaas Sophia teen die muur en ’n deur swaai oop. Daar is ’n hyser met outydse laevolt-ligte in werkende toestand.

Toe ek huiwer, sê Sophia: “Maak asseblief gou, die kanse is goed dat die hele tonnel inmekaar gaan val.”

“Maar wat van al die ander mense?” Ek dink aan die meisie met die groen syrok – sy is nog so jonk, dis ’n vreemde land vir haar …

“Dis nie vir my moontlik om almal te red nie. Elkeen van hulle het ’n eie missie,” antwoord Sophia asof sy seker is van alles.

Daar is net een knoppie in die hyser, en ek maak my oë toe voor sy dit druk – bang ons gaan verder ondertoe. Ons gaan op. Die hysbak ruk gevaarlik en ek gryp Kaleb se arm om nie om te val nie.

Sophia sit haar arm beskermend om Amber en ek wens Kaleb wil dit met my doen.

Die vrou se vel is lig en sonder plooie en sy’t vinnig en rats beweeg. Tog kry ek die gevoel dat sy baie oud is.

Ek dink ons het minstens vyf verdiepings ver beweeg toe die hyser rukkerig stop. Die deur gaan oop en ons stap langs die ou klipkerk op die plein tussen Waal- en Adderleystraat uit.

Toe die hyser toegaan, lyk dit weer presies soos deel van die klipmuur. Die trilling is steeds daar en die straat is vol bang mense.

’n Skyngram van een van die stadspremiers hang so groot soos ’n gebou bokant die stadsplein by Lieflingstraat. Sy roep almal na die veiligheid van die oop stuk grond voor die stadsaal.

“Gou – maak soos hulle sê!” sê Sophia. Baie mense volg die skyngram en dis ’n stormloop.

Teen die tyd dat ons daar kom, het die aardbewing opgehou. Hier en daar het van die ou geboue inmekaargeval. Die kasteel staan nog, die stadsaal het slegs ’n stoeppilaartjie verloor en die nuwe, hoë glas- en houtgeboue lyk in die maanlig asof niks gebeur het nie.

Maar jy kan amper vat aan die mense se angs.

“Die tweede aardbewing in een aand – die koepel gaan kraak, ons moet na ons nuwe eiland gaan!” fluister ’n vrou agter my.

“En wat van die mense wat begin droom en dan nie terugkom nie? Dis alles tekens van die bose invloede van buite!” mompel ’n ou man, kromgetrek van vrees vir die lewe.

“En almal sien nie meer dieselfde goed nie … niks is meer soos dit was nie!” prewel ’n vrou met wilde oë.

“Onsin! Dis alles onsin!” Die mense raak stil. Dis Lohengrin, steeds sy histeriese self. Sy praatjies met die hoof was dus nie so lank nie, of ek het dalk my begrip van tyd verloor onder in daai tonnel. “Luister na my, mense. Luister! Dis die feit dat ons nog bly glo in ons wetenskap, in ons liefde vir die aarde, in ons skoon en vrugbare stad, wat maak dat ons veilig is! Moenie julle geloof verloor nie, die nuwe eiland wat uit die see uit gekom het, is dalk net nog ’n valstrik van die luglande. Klou vas aan dit wat julle ken! Moenie toegee aan die vrees nie … moenie toegee nie!”

Die mense mompel onder mekaar.

“Die arme man,” fluister Sophia. “Hy wil vasklou aan die verlede en aan sy Kerk van die Wetenskap. Alles is besig om te verander en hy wil dit nie sien nie.” Dan draai sy na Amber. “Jy moet versigtiger wees, die tyd is nog nie reg nie. Jy raak onverantwoordelik.“

“As ons nou kinderhuis toe loop, sal niemand agterkom ons was weg nie. Almal staan seker nou buite,” stel Kaleb voor.

Ek kan sien hy vertrou haar nie. Wonder seker hoe sy geweet het dat Amber by die mark was.

Sophia se oë rus ’n oomblik op hom. “Jy’s reg,” sê sy net.

“Kom.” Kaleb draai om en begin loop.

Ek en Amber drafstap saam met hom met Adderleystraat op en dan regs met die fietspaadjie teen Waalstraat uit, in die rigting van Seinheuwel. Ons kan uit Yusufrylaan links deur die park skiet, agter Lohengrin se Kerk van die Wetenskap verby en ongesiens by die Kinderhuis uitkom. Regs voor ons, waar Paalstraat uit Strandstraat begin, hoor jy die see druis. Die gondels op die gragte links van ons dein onstuimig op en af. Kaleb en Amber loop voor, ek is al weer moeg.

Ek sien die klipgebou op die hoek van Loop en Waalstraat waar ons die marktonnel se ingang gevind het, het inmekaargestort. Ek kon nou daar onder vasgekeer gewees het! Mdisi.

Die strate krioel. Mense is besig om terug te loop na hulle woonplekke, party gesels ontsteld, ander lyk gedisoriënteerd.

Die lugverkeer is besiger as ooit en die lugkoepelpoort wat eintlik ’n kwarantyntonnel tussen koepellug en buitelug vorm – wissel onophoudelik tussen rooi en groen. Ligkolle en -strepe van alle groottes flits elke nou en dan soos meteore deur die lug. Die twee hoë glasgeboue wat die stad se koepelpoortlandingsirkels op hulle dakke het, lyk soos lewende organismes. Die helfte van die geboue beweeg op en die helfte af, gedurig met passasiers en goedere wat vlieg tussen ||Hui !Gaeb en die nuwe eiland, of ||Hui !Gaebse plase aan die suidkus, of die plase in Sentraal-Chinafrika. Die geruislose lugskepe land en styg op met kort tussenposes.

Dan is ons bo-oor die Buitengrag-bruggie en in Yusufrylaan. Regs voor ons staan die son-depot wat krag opvang van die sonpanele hoog om die aarde se wentelbaan. Ek kyk op na die volmaan wat wasig en ryp oor die see hang. Die Suiderkruis wat gerusstellend op die horison skitter. In die verte is die stippellig van die nuwe eiland wat uit die see begin groei het. Daar is sprake dat sommige stadsraadslede besig is om dit gereed te maak om bewoon te word en die laaste ruk kan mens snags lig sien brand. Hulle loop seker met lyfpakke in die toksiese lug op die eiland rond.

Dan is ons by die kinderhuis.

“En toe, waar kom julle nou vandaan?” Vyandig. Ek sien twee hennepstewels voor my. Dan die lang lyf met gelaatstrekke ongewoon in ||Hui !Gaeb. Dis Mohlomi, een van die leiers in die kinderhuis. Sy hare is kort op sy kop afgeskeer en hy dra ’n houtringetjie in sy regteroor. Hy is net so oud soos ons, maar voel altyd vir my ouer. Hy en Kaleb kon mekaar nog nooit vind nie.

Ek raak yskoud. Hy sal nie toelaat dat Kaleb hiermee wegkom nie.

Amber kyk na Mohlomi op daardie manier van haar.

“Ons is mark toe, want ek het die gevoel gekry ek moet gaan,” sê sy uitdagend.

Mohlomi kyk smalend na Kaleb. “Het jy ook ’n gevoelte gekry, broer?”

“En wat doen jý as iets binne-in jou vir jou sê wat die regte ding is om te doen?” vra Amber. “Maak jy of jy nie hoor nie?”

Mohlomi lyk vir ’n oomblik of hy weer iets smalends gaan sê, dan draai hy om en loop.

Ek is verlig en verbaas.

Dis verstommend dat Mohlomi nie vir Amber iets teruggesnou het nie. Dis iets om oor te wonder. Miskien nie so konkreet soos ’n aardbewing nie, maar baie vreemder …

Kraak

Подняться наверх