Читать книгу Kraak - Rouxnette Meiring - Страница 16

Оглавление

9

Shaka

Wat doen dit aan ’n ou om altyd geheime te hê? Mdisi, hierdie stad is ’n koepel vol vrees. Alles op dié rekenaar is so kripties en ek kan nie onthou waar ek my ou gedagterekords gestoor het nie. Ek’s seker die enigste ou in ||Hui !Gaeb wat gedagteboeke hou. Als danksy Gogo Mkhatywa.

Daar’s hy. 2308. Ek was sewe. Herbeleef.

Ons jaag met ons selfgemaakte vloeiglaskarre tussen die dolosse deur, ons hardloop met ons polsers agter die goed aan.

Net voor ons die laaste stuk doen tot waar ons bote lê, druk ek op die simpo in my sak. My glaskar styg perfek op!

Dit vlieg met vuma tot waar ons bootjies geanker is.

Al my werk aan die simpo-program en sweefmeganisme gisteraand was dit werd!

Hulle het sommer opgehou hardloop, hulle staan en staar almal na my sweefkar.

“Shaka!” Dis Luwazi, maar sy stem is half hees.

Ek voel ek wil lag, maar ek probeer my bes om net soos hulle verbaas te lyk. “Ek sê julle, dit het net gebeur! Dis niks wat ek gedoen het nie … die volgende oomblik toe sê my polser net: ‘Hier gaan ek, broer’ en toe vlieg die ding!”

Ek hoor hoe Gogo agter my stiklag in sy whisky.

Hulle wil my polser-replay sien.

“Meneer Mkhatywa!” Dis ou Koenie, hy’s altyd eerste wat gaan kla.

Asseblief, Gogo, moenie sê nie, nie nou nie!

Gogo waai sy hand, hy wys hy weet niks nie.

Einde van opname. Mdisi, wat’s fout met my dat ek deur my babagoed soek? Ek gaan nooit die oomblik kry waar alles begin het nie. Maar ek kan sweer ek en Gogo kon in ’n stadium sonder woorde met mekaar gesels, al maak hy of hy van niks weet nie.

Sy skuld dat ek nou met wesens uit die see moet gedagtes ruil.

’n Polser fluit voor my deur. Ek’s nie lus vir ou … Twee polsers, so dis nie hy nie.

Rekenaar gesluit, ||Hui !Gaeb-nuusflits teen die muur, ek pols die deur oop.

“Kom in.”

As ek nie gelê het nie, het ek nou op my rug geval. Dis die mooi donkerkopmeisie met die sproete en die oulike neusie, nog laas op pad na haar slapende ma. Wat’s haar naam nou weer? En wie het ons nog hier?

“Hei, Shaka, ek’s Kaleb.”

Nou toe nou. Groot vreugde. Maar ek skud maar die ou se hand.

“Hi, Meermin, het jy van plan verander?” Sy bloos wragtig vir my. Die ou lyk verward, maar ek gaan hom nie uithelp nie.

“Ek’s jammer dat ons so hier inval, maar daar is iets waaroor ons met jou wil praat … e … eintlik iets wat ek wou vra oor wat, e …” O ja, dis haar naam. Kara.

Die kort, gespierde ou met die lokke kyk teen die muur hoe ||Hui !Gaeb voorberei vir die jaarlikse Vryheidsfees, asof dit nie sy idee was om te kom nie. Dink seker ek’s te jonk om hom mee op te hou. Nou laat staan en hakkel hy die meisie hier in my kamer …

Ek gaan lê weer op my bed. Nie nodig om opgewonde te lyk nie. Mdisi, hoekom voel my arms en bene altyd te lank vir my lyf as ek met ’n mooi meisie praat? Plaas dat ek my gedagteopnemer aangehou het. Sou lekker kon lag vir myself oor tien jaar.

“So, waarmee kan ek help?” Ek glo ek klink professioneel, hulpvaardig.

“Ons wou … ek wou jou kom vra oor iets wat jy nou die dag gesê het. Oor die koepel.”

O kloon, ek wou haar net beïndruk, nie hê sy moes met haar speurdervriend op ’n feitebesoek kom nie.

“Herinner my net weer ’n bietjie?” Sy moet darem besef ek praat elke dag met baie mense.

“Jy’t gesê die koepel is besig om te kraak en dat jy eerstehandse kennis daarvan het.” Sy vee hare wat losgekom het uit die vlegsel agter haar ore in en ek kom nou eers agter sy lyk half verwilderd – en is daai gras in haar hare?

Ek moet iets sê. Die gespierde ou kyk nou ook na my. “Dis natuurlik by wyse van spreke dat ek gesê het ‘kraak’. Ek meen, jy weet dis eintlik ’n virtuele koepel en presies hoe dit die atmosfeer reguleer, is gekompliseerd, maar as jy wil hê ek moet dit volledig verduidelik, dan …”

“Dis nie wat ons wil weet nie,” praat die Kaleb-ou nou. “Het jy bewyse dat die koepel nie sy werk gaan doen vir die volgende vyftig jaar nie?”

“Ja, en hoekom steek hulle dit vir ons weg as daar ’n gevaar is?” Kara se oë knip vinnig en ek wens ek kon haar veiliger laat voel. Regtig ’n oulike neusie.

“Die Geo-ing-gebou het ’n inligtingsentrum waar jy al jou vrae kan gaan vra. Hoekom wil julle hierdie goed by my weet?” Altyd beter om ’n vraag met ’n vraag te beantwoord.

“Ons weet almal hulle sê net wat die stadsraad wil hê ons moet weet. Kara sê jy word toegelaat om self met ’n rekenaargids te werk en jy word nie deur ||Hui !Gaeb se netwerk geblokkeer nie. Is dit so?” Lyk my Lokke het bygekom en besef hy is nie net spiere nie.

“Dis net vir so lank as wat ek nie dom goed sê om meisies te beïndruk nie.” Daar’s hy, dis uit. Diepe eerlikheid – dit beïndruk mense. En dit lyk of dit werk. Sy kom sit op my bed en ek kan die sproete duidelik sien. Besonderse oë. Wat noem jy dit? Chartreuse in wêreldtaal; geelgroen soos ’n wilde bokkie voor Chinafrika …

“Ek verstaan jy mag nie daaroor praat nie. En ek belowe jou …” Sy sit haar hand op my boarm en ek voel die haartjies rys. Sy kyk in my oë. “Niemand wat jou in die moeilikheid kan bring, gaan hiervan hoor nie. Dis net … ons het ook van ’n … bron gehoor dat die ondergrondse watookal wat die aardbewings veroorsaak, die koepel begin beskadig.”

Sy lyk regtig of sy gaan riw. Wat is dit met hierdie bang stad? Ek was net so bang voor ek meer daarvan uitgevind het. Miskien is dit oor haar ma wat nie hier kan uit nie. Ek moet maar eerlik wees.

“Hoekom is julle so bang vir alles buite hierdie koepel? Daar’s lewe daar buite, alles is nie soos die stadsraad julle vertel nie! ’n Mens kan asemhaal, jy kan goed kry om te eet … Dis nie ’n wonder mense raak aan die slaap nie, hulle is verveeld! Kara, ek’t jou gesê ek’s besig om ’n seeboot reg te maak.”

Ja, goed, nou het ek weer te ver gegaan …

“Jy weet hulle gaan jou nooit hier uitlaat met jou seeboot nie.” Dis nou Kaleb. Lyk my Kara het hom klaar gesê van die seeboot en hy’t lekker gelag daaroor. Dis wat gebeur as ’n ou mense probeer beïndruk.

“Hoe ek gaan uitkom, is my saak. Al wat ek vir julle kan sê,” en ek sien weer die Vryheidsfees se voorbereidings teen die muur en dit irriteer my nogmaals, “is hierdie stad vier sy vryheid van godsdiens, van kapitalisme en als wat hulle dink onnatuurlik is, maar kyk waar sit ons! In ’n deurskynende hok! Bang vir als wat kan insypel en ons terugvat na die Klimaatverwoestings-era. Dis verby, dias! Dis verby, ouens! Ons gaan nie terug soontoe nie. Niemand is meer so dom nie, dis tyd dat ons uit ons gate kruip!”

Die twee lyk verbaas oor my uitbarsting en gevloek en Kara staan van my bed af op. Seker nie gedink ek kan ’n sterk opinie van my eie hê nie.

“Dis nie net die verlede waarmee die stadsraad ons bang maak nie, dis die toekoms ook, Shaka! Die mense wat so aan die slaap raak – en jy weet my ma is een van hulle – maak die stadsraad op hulle beurt baie bang, want hulle verstaan dit nie en kan dit nie beheer nie!” Haar wange is rooi, ek dink sy’s kwaad oor wat ek van die slapende mense gesê het, ek’s regtig ’n kik.

Ek sal iets moet sê wat my minder na een laat klink. “Dis seker swaar om jou ouers te verloor. Ek was te klein, kan hulle nie eers onthou nie, en hulle het mos … fisiek verdwyn.”

Sy sê niks, kyk net na haar vingernaels.

“Is dit waar dat jy toegang het tot die aardnet?” Nou dís ’n goeie vraag, Kaleb. Een van die min sedert julle hier aangekom het.

“Ek het toegang, maar hoe ek dit doen, kan ek julle nie sê nie.”

“Ons hoef nie te weet nie, sê ons net dít: Wat gaan ons nodig hê om buite die koepel te oorleef? Ons sal dalk ook moet reis. Ver reis.”

“Hoekom ver?”

Die twee kyk na mekaar. Nou moet hulle seker besluit of hulle hul geheimpies met my ook kan deel en of dit net ’n eenrigting-gunsie gaan wees dié.

“Iemand met baie wysheid – spirituele wysheid, nie slimheid nie – dink ons gaan antwoorde op die pad tot in Egipte kry. Antwoorde oor wat ons moet doen om ons ouers wakker te kry. En onsself, as dit met ons begin gebeur. Insig deur die ontberings van die reis of so iets.” Kara kyk nog na haar vingernaels terwyl sy praat. Ek beter iets sê om haar op te beur.

“Goed, ek sal ’n bietjie dink en soek en jou laat weet. Maar ons kan nie pols nie, dis gevaarlik. Ons sal mekaar weer fisiek moet sien.” Ek kyk reguit na haar, hoop sy verstaan ek verkies dat dit net ek en sy is.

Maar dis Kaleb wat antwoord. “Dankie, ons sal weer hier kom inloer oor ’n dag of wat.” Hy stuur Kara aan haar skouers deur toe. Sy lyk of sy wil huil. Dis hoekom ek liewer telepaties moet gesels. My mond sê altyd die verkeerde goed.

Kraak

Подняться наверх