Читать книгу Kraak - Rouxnette Meiring - Страница 6

Оглавление

Iets beweeg in die mis wat teen die berg afrol. Dit kolk in slierte, lek aan alles, verdwyn weer. Die kind skrik en begin draf. Ver onder, in die some van die berg, op die drumpel van die see, lê die stad. Reuse windskepe dein speelgoed-grootte om die kus naby die koepelpoort. Mis is besig om veldblomme, fynbos en geelhoutbome in te sluk. Die twee bergkwaggas wat oomblikke gelede nog voor ’n rotsskeur gestaan het, het verdwyn.

Iets onbekends roer weer in die newels. Die kind hardloop. Los klippe rol onder voete uit wat beangs en gly-gly afdraand mik na waar die see teen die keerwalle skuim. ’n Massiewe seeperd lig sy kop en verdwyn weer in die diepte. Die donker sak vinnig.

Die kind se asem jaag, die blink meetinstrument aan die nektou swaai wild heen en weer. Nader en nader kom die stad – die skynsel van elektriese busse wat deur die strate gly, gondels se dobberliggies op die gragte. En op die vlakte voor die stad, die verligte planteregte-standbeeld en sonlaaiers wat in die maanlig glim.

Dit word ’n strompelende vlug – voor die mis en die asem van die onbekende ding uit tot by die straatligte van ||Hui !Gaeb.

Kraak

Подняться наверх