Читать книгу Kraak - Rouxnette Meiring - Страница 15

8

Оглавление

Kaleb loop voor teen Seinheuwel uit. Ek sukkel om hom in te haal – hy is belaglik fiks met daai capoeiraklasse en goed wat hy doen. Ons kyk stip voor ons, asof dit sal keer dat iemand ons raaksien. Dit sal ’n groot storie afgee as ons verby die drietalige Geen toegang-bordjies beweeg en iemand sien ons. Mohlomi drentel ’n ent agter Shivani en Amber. Hy lyk of hy nie seker is of hy wou saamkom nie, maar te bang was hy sou iets mis as hy bly.

Die semiwoestyn-landskap verander in groener fynbos soos ons Leeukop nader. Ons loop oor die rug van Seinheuwel verby die ou kramat op pad na die grotterige deel van Leeukop. Dit lyk of die leeu, soos die plat berg, sy eie geheime bron van water het wat dié deel van die stad se plantegroei voed. Veilig uit die stad en tussen die fynbos, gaan Kaleb staan om ons in te wag.

“Wat blaas jy so?” vra hy toe ek by hom kom. Ek voel weer die aantrekking wat sy lyf op my het. Sy sterk, gespierde borskas … en nog baie meer as net sy lyf.

“Ek oefen my joga-asemhaling. Kyk, nou kan ons raak aan al die blomme waarvan ons in die studiesentrum leer.”

“Kyk waar dwaal Amber weer – sy’s in haar eie lugland en die berg praat met haar.”

“Los haar, Kaleb. Dis min genoeg dat ons hier op die berg kom.”

Shivani het ook gaan staan om na ’n regte bergpypie te kyk. Blomme wat so vanself opkom sonder dat mensehande hulle moes paai, is te ongewoon om nie by te gaan staan nie.

“Hoeveel voëls het jy al gesien?” vra Kaleb.

“E … ek het ’n dassie gesien.”

“Nogal vet voëltjies, daai dassies.”

“Kyk daar.” Hy neem my aan die skouers en draai my na waar twee verskillende soorte voëls op ’n ghwarrie-bossie sit. Sy hande op my skouers stuur ’n warm gevoel deur my lyf. “Probeer onthou wat jy sien, want jy gaan dit nie gou weer sien nie.”

“Wat noem ’n mens hulle?”

“Die een is ’n jangroentjie en die ander is ’n kortbek-suikerbekkie. Kan jy sien watter een is watter een?”

“H’m …”

Die geur van grond en fynbos is sterk om ons. Die natuur se reuke laat my veilig voel, deel van iets bekends. En met Kaleb so na aan my voel ek byna gelukkig. Hoe erg moet dit nie wees om soos baie mense heeltyd bo of onder hierdie aarde te woon nie?

“Kom, ons moet verder gaan, almal is nou naby genoeg.”

“So, wat’s jou eintlike konneksie met Amber?” Ek sal so simpel voel as Kaleb moet dink ek’s jaloers.

“Haar ma was ’n siener – jy weet, sy weet goed voor dit gebeur, daai tipe ding. Ons het in dieselfde straat gebly. Haar ma en pa was albei lektore by die universiteit, glo sterrestelsels slimmer as ons gewone ouens, maar so half geheimsinnig en op hulle eie. My ma, toe sy nog geleef het, het nie van die vrou gehou nie. Maar my pa het respek gehad vir Amber se ma. My pa het in ’n ongeluk blind geword, maar hy wou nie dat hulle sy oë regmaak nie. Hy’t gesê daar was dinge wat hy nou beter kon sien as ander mense. Haar ma het eendag kom vra ek moet na Amber kyk as sy en haar man iets oorkom. Ek kon nie nee sê nie, maar ek het nie geweet wáárvoor ek ja sê nie. Om vir Amber te sorg is … Jy weet nooit waar sy is nie – dikwels nie eers in haar lyf nie. My pa is eerste droomhospitaal toe, en toe Amber se ma, toe haar pa.”

Kaleb kyk om – wil dalk seker maak Amber kom nog aan. Ek hoop sy is vir hom net ’n verantwoordelikheid en niks meer nie.

Amber en Mohlomi gesels diep. Ek kan agterkom Kaleb hou nie daarvan dat hulle saam stap nie.

“Los hulle, sy kom met almal reg,” keer ek voor hy dalk iets kwytraak en Mohlomi weer verkeerd opvryf.

“Dis juis wat my pla,” brom hy en pluk ’n suring. Sy oë volg ’n berglyster wat ’n entjie verder op ’n rots gaan sit.

“Het jy geweet Sophia en Amber se ouers was kollegas?” vra ek.

“Nee. Ek weet niks van Sophia nie.”

Die leeu van Leeukop troon bo ons uit.

Kaleb wys oor die stad na die rug tussen Duiwelspiek en Tafelberg: “Iewers daar is die oorspronklike Nefertiti-klip. Onthou jy wat hulle ons vertel het van die gesigte van die Egiptiese godinne en die son …”

Mens kan dit nie sien van so ver af nie. Hulle sê ’n argeo-astronoom het lank gelede baie spesifieke merke op klipgesigte in die berg en op Leeukop gekry, en hy kon dit dateer uit die tydperke van die Egiptiese piramides en Stonehenge. En met die wintersonstilstand skyn die son glo op ’n sekere tyd van die dag mooi netjies in die regteroog van ’n Nefertiti-gesig wat uit die klip gekap is.

Nou sien ek skielik hoekom Kaleb van die Nefertiti-klip praat. Voor ons langs ’n rots staan ’n houtafbeelding van die gesig.

Mdisi! Sy’s pragtig, fyn … Egipties.

“Ons is hier,” sê Amber.

Amber, Mohlomi en Shivani is nou langs ons. Dalk verbeel ek my, maar ek kan sweer Mohlomi se gesigsuitdrukking verander, versag effens, die oomblik toe hy die Nefertiti-beeld sien. Ek kyk te laat weg en toe hy sien ek kyk na hom, lyk hy verleë.

“Wat nou? Hier beter darem iets gebeur in ruil vir die moeilikheid wat ons gaan kry as ons uitgevang word,” sê hy skielik aggressief.

“Is jy bang vir moeilikheid?” vra Kaleb skoorsoekend.

Voor Mohlomi daarop kan reageer, is daar ’n skraapgeluid en ’n beweging agter die Nefertiti-beeld. Dis Sophia. Sy dra vandag ’n fynbosgroen grasrok en lyk bekommerd.

“Kom gou, julle word agtervolg.”

Ons kyk geskok om, maar daar’s niemand.

Amber loop na die opening agter die beeld. ’n Natuurlike naat in die rots verdoesel die perfek uitgesnyde klipdeur wat na regs oopskuif. Dis die tweede keer in ’n kort rukkie dat ek my fobie vir donker, ondergrondse plekke sal moet oorkom. Ek wag tot almal in is.

“Kom jy?” vra Sophia. Haar stem is ongeduldig, maar haar blou oë simpatiek. Net voordat ek my moet oorgee aan die donkerte, kyk ek vir oulaas om na die lig. Ek hoor hoe die klipdeur begin toeskuif. Op ’n rots ’n ent onder ons kan ek Vega se profiel uitmaak.

Sophia trek my binnetoe voordat ek deur die klipdeur vergruis kan word. My keel trek toe in die oorweldigende koue, stikdonker klamheid.

Dan is daar lig. Talle fakkels brand teen die wande van die rotssaal, wat lyk of dit oneindig ver strek. My oë soek na uitgange.

Mohlomi, wat meestal verveeld rondhang, lyk half uit die veld geslaan. Kaleb kyk na my en lig sy wenkbroue. Shivani frons. Sy hou nie daarvan om onder iemand anders se beheer te wees nie. Dan gee sy my ’n beskuldigende kyk. Dink sy wraggies dis my skuld dat ons hier is?

Net Amber lyk kalm, asof niks gebeur het wat sy nie verwag het nie.

“Ek is jammer as ek julle laat skrik het,” weerklink Sophia se stem in die grotsaal. “Dit was nie die bedoeling nie, dis net dat dinge … ons tot ’n mate vooruitgeloop het. Darem nie heeltemal onverwags nie.”

“Ek het niemand gesien wat ons volg nie,” sê Mohlomi agterdogtig. Sy oë soek die ingang waardeur ons gekom het, maar dis onmoontlik om die deur in die rotswand te sien.

“Ek het.” Ek voel verplig om Sophia te verdedig. “Dit was daardie nuwe meisie – Vega.”

“Dis onbelangrik wie dit is,” sê Sophia. “Wat belangrik is, is dat julle hier is.”

“Waarom kan Vega nie ook inkom nie? Ek hou van haar.” Shivani lig haar ken uitdagend. “Ons is vriende.”

So gou? Ek onderdruk die onredelike gevoel dat Shivani my bitter vinnig vir ’n nuwe vriendin ingeruil het.

“Dit mag wees,” antwoord die vrou rustig. “En jy kan vriende wees met wie jy wil. Maar dit neem langer om te weet of jy iemand regtig kan vertrou, veral as jou intuïsie nog nie sterk genoeg ontwikkel is nie.”

Dit kan jy weer sê. Sophia moet besef ons ken haar ook sleg, so ons het net so min rede om haar te vertrou.

Shivani kyk nukkerig weg.

“Wie’s hulle?” vra Kaleb en wys met sy vinger na twee figure teen ’n fakkellose wand.

Ek is seker hulle was nie netnou al hier nie, ek het dan die hele grot deurgekyk om te probeer uitmaak hoe groot my ondergrondse nagmerrie regtig is.

Twee mans sit met gekruisde bene buite die ligkol van die verste fakkel, en dit lyk of hulle besig is om te mediteer. Die een is klein en baie skraal en sy kop is kaalgeskeer. Hy dra ’n grondkleurige kleed wat op sy een skouer geknoop is. Van hier af kan ek nie agterkom of sy oë oop of toe is nie. Die ander man is heelwat ronder en sy donker hare hang tot op sy skouers. Iets blink voor hulle en dan besef ek dis ’n ondergrondse poel water. Maar die water is nie stil nie. Dit trek my op ’n manier nader en ek loop soontoe.

Op twee plekke is daar ’n versteuring in die water wat klein golfies veroorsaak. Ek kyk op – daar is twee druipstene van waar water drup. Ek staar byna gehipnotiseer na hoe die golfies uitkring, op mekaar reageer en nuwe patrone maak.

“Dit is Hari en Bhadanta. Moenie hulle steur nie. Hulle is al vir drie dae in diep meditasie. As hulle tot enige relevante insigte kom wat julle raak, sal ek daarvan weet,” vertel Sophia ons.

“Bedoel jy hulle droom?” vra Kaleb.

“Nee, hulle mediteer. Jy weet mos daar is ’n groot verskil. Kry asseblief ’n kussing teen die muur en sit solank.”

Die vrou wys na die rotswand waar ’n klompie kussings aan hake hang. Watse plek is hierdie? Ek besef sy praat met my ook. Behalwe vir ons eie voetval, en water wat drup, is dit doodstil in die grot. Geen geluide van buite bereik ons nie. Ons het nie polsers saamgebring nie, sodat die stadsraad ons nie kan volg nie, en niemand daar buite sal ons ooit hoor roep nie.

“Solank ons nie ook kruisbeen hoef te sit en op ’n golflengte in te zoem nie,” brom Mohlomi.

“Dis jammer dat hulle opgehou het om julle op skool in meditasie te onderrig – selfs julle joga is net fisies. Dis een ding om formele soorte godsdiens te verbied, maar iets anders om vir jongmense spirituele dissipline aan te leer. Veral vir iemand met soveel potensiaal soos jy, Mohlomi.”

Die kyk wat hy haar gee, sou die meeste mense onveilig laat voel het. “Ja, so wat is die verskil, hoekom moes hulle nie jou dissipline ook verbied het nie?” vra Mohlomi.

Hy wil nie regtig weet nie, hy soek net skoor, ek kan dit sien.

“Godsdiens bring verdeeldheid, veroordeling en oorlog. Spirituele dissipline is persoonlik en aanvaar almal – die gees is in jou, nie in ’n boek of ’n gebou nie.”

“Ook nie hier in jou spirituele spelonk nie?”

Sophia ignoreer hom en draai na die res van ons. “Weet julle dat ||Hui !Gaeb amper voortgegaan het met die genetiese manipulasie van die empatie-gene?”

“Ek dog genetiese manipulasie is teen die wet, behalwe om lewens te red?” vra Shivani.

“In die proses van geestelike evolusie het mense in ||Hui!Gaeb soveel empatie met ander begin ervaar dat hulle in depressie verval het. Die stad moes kies – óf hy verander die empatie-gene óf hy sorg dat niemand in die stad ooit armoede of onnodige siekte of lyding ervaar nie. Dis toe kapitalisme ook verbied is.”

Shivani frons. “Dit was tog die regte besluit om lyding te probeer uitwis – wat is jou probleem daarmee?”

“Hulle het dit oorweeg om die mens se empatie-gene te onderdruk om ’n funksionele stad te behou. Hulle kan so iets weer oorweeg as ons optrede hulle bekommer.”

Ons praat nou almal gelyk.

Mohlomi begin aggressief heen en weer loop. “Jy probeer ons opsteek teen die stadsraad wat nog altyd vir ons gesorg het. Hier was geen oorloë of hongersnood of arm mense in ||Hui !Gaeb vir so lank as die meeste mense kan onthou nie. Maar jy wil ons oortuig hulle gaan ons in monsters verander!”

Sophia glimlag. “Dis moeilik om tot enige insigte te kom met gedagtes wat rondspring soos jong apies. Dis belangrik dat julle stilte leer ken, Mohlomi – stilte maak ’n mens sterk. Kom sit.”

Hy brom iets onhoorbaars, maar gaan sit darem.

“Ek het julle hierheen laat kom omdat ek nodig het om met julle te praat sonder dat daar dalk iemand is wat ons kan hoor. Wat ek wil sê, is belangriker as wat julle op hierdie oomblik sal verstaan. Dit gaan oor meer as die voortbestaan van ||Hui !Gaeb en die koepel. Dit gaan oor die voortbestaan van die mens soos wat hy bedoel was om voort te bestaan binne sy optimale potensiaal. Vir die diere en die plante en die klippe van die aarde het ons nou gedoen wat ons kon. Julle is die werklike graalsoekers, die ontdekkingsreisigers, nie grootmense soos Lohengrin met sy verstokte idees en miskonsepsie dat hy die lig vir die mensdom gaan bring nie.”

“Seker. Jy’t die regte ouens beet – die graalsoekers of watookal. Ons sal jou help, ons met ons apie-breine,” mompel Mohlomi.

“Natuurlik is daar ’n goeie rede waarom ons juis vir julle uit die kinderhuis gekies het. Geneties en andersins het julle al die potensiaal. Ons het natuurlik ons navorsing gedoen en met baie van julle ouers het ek ’n persoonlike band gehad.”

“Wie is ‘ons’ wat gekies het? Jy en Blessie en Haarie?” vra Kaleb en loer na Hari en Bhadanta.

Mohlomi glimlag – hulle kan darem mekaar se humorsin waardeer.

“Dit maak nie nou saak nie. ||Hui !Gaeb gaan haarself vernietig, dalk gouer as wat ek dink. Julle moet gereed wees daarvoor. Julle moet soveel moontlik van die kinderhuiskinders saam met julle neem en na die noorde trek.”

“Noord trek met ’n klomp kleintjies, is jy laf?” Mohlomi spring op. “Wat van die atmosfeer? Ons weet nie eers of ons kan asemhaal buite die koepel nie. Wat van die temperatuur, wat as alles giftig is?” Sy oë soek weer na die uitgang.

“Dalk so ver noord as Egipte.”

Nou staar hy net na haar. Ons het grootgeword met die idee dat die koepel die enigste veilige vesting op aarde is. As jy hier uit beweeg, is niks gewaarborg nie – nie eers suurstof nie.

Vir die eerste keer voel ek nes Mohlomi. “Sophia, dit klink absurd. Verduidelik asseblief vir ons waarvan jy praat. En hoekom ons?”

“Julle het ’n ekstra dimensie, persoonlikhede met ietsie van ’n los atoom. Dit is moeilik om te verduidelik …”

Dit lyk of sy besef sy is nou besig om met haarself te praat, en ek is seker nie een van ons verstaan heeltemal wat sy sê nie.

“Ons is sestien jaar oud, Sophia!” Ek voel soos wanneer ’n som te moeilik is, maar ek weet ek moet dit probeer doen. Weet sy hoe bang is ek vir donker plekke? Weet sy hoe min is Amber se voete op die aarde?

“Maar julle sal jul vrese moet oorkom. Elkeen se vrees is anders. Wees eerlik met jouself. En onthou, dis nog moeiliker as om eerlik te wees met ander mense.”

“Jy sê ons moet die kinderhuiskinders saam met ons vat,” kom dit van Mohlomi. “Noord beteken woestyn-in – net om seker te maak ons is op dieselfde, e … golflengte.”

Sophia se blik verskuif. “Amber sal weet. Volg haar.”

Kaleb sê niks langs my nie, maar ek weet wat hy dink: dat Amber nie eers weet wat om haar aangaan nie.

“Waar gaan jy wees as ||Hui !Gaeb haarself vernietig?” praat Amber vir die eerste keer.

Ek verbeel my ek sien hartseer, of dalk spyt, deur Sophia beweeg. Sy lyk weerloos en ek wonder of sy ’n man of ’n kind het – ek moet tog onthou om Amber te vra.

Maar dalk hét ek my verbeel, want die volgende oomblik is sy weer prakties en in beheer.

“Ek is nie seker of ek deel is van die toekoms nie. My rol sal moontlik uitgedien wees wanneer die groot ontwaking plaasvind.”

Ontwaking?

“Dit lyk asof die gedagtewêreld ons fisieke wêreld begin oorneem. Bedoelings, idees en gedagtes raak belangriker as dade. Hulle word stadigaan onlosmaaklik verbind. Dit kom basies daarop neer dat die mens al hoe minder kan wegsteek. Wat jy dink, begin manifesteer.”

Energie volg aandag. Meneer Zeelie het dit in die kwantumfisikaklas gesê.

Ek het soveel vrae dat ek nie weet waar om te begin nie. Die ander voel seker dieselfde, want hulle staar Sophia aan.

Ek maak my keel skoon. “Jy praat van ontwaking. Bedoel jy ons ouers gaan wakker word?”

“Dis nie noodwendig wat ek bedoel nie, Kara, nee.”

Die verwagting wat jy omtrent met ’n mes kon sny, syfer amper sigbaar uit ons uit. Almal kyk weg, of af. Die stilte raak ongemaklik. Nie een van ons is opgewonde oor haar planne nie. Selfs nie Amber nie.

“Wat van die luglande? Is hulle nie aan die voorpunt van evolusie nie?” Ek onthou die perfekte lywe wat ek by die verbode mark gesien het.

“Die mense in Lug-Eurasië het hulself al so geneties gemanipuleer, dit is moeilik om te weet wat nog ‘menslik’ is. En die lugland-koloniste wat daar aangekom het, is nie mense nie. Hulle is ander wesens as ons. Onthou dit. Maar ons tyd raak min.”

“So wanneer is mense ‘mense’?” vra Mohlomi en ek vermoed hy wil weer nie regtig weet nie; hy is net sarkasties.

“Dis die antwoord wat jy hopelik gedurende jou reis sal kry.”

“As ||Hui !Gaeb haarself gaan vernietig, soos jy sê, beteken dit ons ouers se liggame sterf saam met die stad.” Ek hoor my stem bewe. “Ek weet nie of ek dan verder wil lewe nie, wat nog te sê noord trek deur ’n woestyn …”

“Ek verstaan hoe jy voel, Kara. Maar behalwe dat ons simpatie het met julle, het ons ’n praktiese rede om julle ouers lewendig te hou. Dis absoluut noodsaaklik vir ons spirituele navorsing. Daar is reeds planne in plek vir julle ouers, maar dis beter om dit nie met julle te deel nie – die stadsraad mag snuf in die neus kry en julle dwing om te praat. Ons wil julle ouers se liggame na veiligheid neem. Ongelukkig kan ons plan nie julle en die ander kinders insluit nie, dis hoekom julle vir julself moet sorg.”

Almal is ’n ruk lank doodstil. Ek vermoed wat my vriende dink: Ons moet haar maar glo oor ons ouers en hoop dis die waarheid – wat anders kan ons doen?

“Gaan jy vir ons sê waar ons ouers se liggame veilig gehou gaan word?” vra ek.

“Ongelukkig nie. Iemand mag die inligting uit julle kry. Al wat ek kan sê, is dat dit ver noord gaan wees – in die rigting waarin julle moet loop.

“So kry ons geen aanwysers of raad of iets nie – wat van ’n polsskyfie?” vra Kaleb.

“Handleidings word dikwels verkeerd verstaan. Mense lees verskillende goed in dieselfde woorde. En handleidings raak te rigied wanneer tye en situasies verander. Op die ou end is dit die ontberings op jou reis wat die insig bring.”

“So ons moet bietjie pyn en lyding gaan ervaar en jy stuur ons daarheen met wat – niks?” hou Kaleb aan.

“Nie met niks nie, maar met iets wat julle reeds het. Julle hoor almal ’n stem binne julle. ’n Stem wat jou roep of jou waarsku.” Sy kyk na ons, een vir een, asof sy ons wil uitdaag om van haar te verskil.

“En as ons die stem verkeerd verstaan?” Ek moes vra, want hoe ’n mens weet jy is reg of verkeerd, is iets wat my nog altyd gepla het.

“Dan dra jy die gevolge en jy probeer weer.”

Dit help my nie veel nie. “En almal se stem is dieselfde?”

“In beginsel ja, Kara. Want wanneer jou siel gesond is, hoor jy die lied van die lewe. En hierdie planeet vibreer op die frekwensie van lewe.”

Mohlomi lyk of hy weer iets gaan sê, maar Kaleb spring hom voor.

“So jy sê basies om te weet of ’n ou die regte noot beet het, moes hy ’n stemvurkie ingesluk het soos die broers in ou JB se koor?”

“Al wat ek vir julle wil sê, is dat julle enigste rigtingwyser in die toekoms julle interpretasie van daardie stem gaan wees.”

Kraak

Подняться наверх